Skip to content

Weer sal die Suide die ander wang moet draai

April 21, 2010

Op Vrydag, 26 Maart was die Suid-Koreaanse fregat, Cheonan, met ‘n bemanning van 104 matrose, omstreeks 21:00 op ‘n roetine-patrollie naby die eiland van Baengnyeong in die Wes-See. Hier word deurentyd patrollies gedoen, aangesien die ongedurige see-grens tussen Noord-en Suid-Korea, genaamd die Noordelike Limietlyn (NLL), hierlangs loop. Uit die aard van die saak ‘n gevaarlike gebied waar skermutselings tussen die twee Koreas se vlote in 1999, 2002 en so onlangs as November 2009 plaasgevind het. Net na 21:00 ruk ‘n ontploffing die agterste deel van die skip en minute later verdwyn die oorlogskip onder die water. Die Koreaanse vloot slaag daarin om 58 bemanningslede te red, maar 38 sterf en 8 matrose is steeds vermis, vermoedelik ook dood.

100419 p05 1

Uit die aard van die saak word hierdie voorval as ‘n nasionale tragedie gesien. Die afgelope weke is hierdie gebeurtenis hoofnuus in Suid-Korea. Nie net die feit dat die skip gesink het en die gepaardgaande verlies aan menselewens nie, maar veral die spekulasie oor die rede agter die ontploffing. Kort na die voorval het die Suid-Koreaanse regering kalmte gevra en gemaan dat daar nie voortydige gevolgtrekkings gemaak moet word nie (met spesifieke verwysing na moontlike Noord-Koreaanse betrokkenheid). Die hipoteses het gewissel van rotsriwwe tot stresfakture in die skeepstruktuur; van seemyne tot ‘n Noord-Koreaanse torpedo-aanval. Daar kon egter nie ‘n finale gevolgtrekking gemaak word alvorens die gesonke fregat van die seebodem gelig word nie.

Nou, sowat drie weke later is die agterste deel van die fregat met tydrowende moeite gevind en uit die see gelig. Die Amerikaanse vloot het hulp verskaf en deskundiges van Australië en Swede het in Suid-Korea gearriveer om te help met die ondersoek. Dit was nie lank voor bepaal is dat die ontploffing van buite af gekom het en nie van binne die skip nie. Op impak het die bakboordkant na binne gebuig en die stuurboordkant na buite. Die voorstewe van die skip moet nog gelig word en die ondersoek is steeds aan die gang, maar reeds dui bevindinge daarop dat die fregat deur of ‘n seemyn, of ‘n torpedo gesink is. Die volgende afleiding is redelik eenvoudig.

100416 2p02 photo

Die Suid-Koreaanse President, Lee Myung Bak, het reeds verskeie kere die bevolking oor radio en op televisie toegespreek. Waar hy kort na die voorval gemaan het teen voortydige gevolgtrekkings, het hy gister in ‘n aangedane toespraak gesê dat Suid-Korea die nodige stappe sal doen teen wie-ookal verantwoordelik was vir die tragedie. Mens kan bloot tussen die lyne lees om te weet dat daar net een verdagte party is en dis nie Al-Qaida nie.

Reeds voor Lee se toespraak, met verwysing na uitsprake deur Suid-Koreaanse regeringsamptenare, het die Noorde verantwoordelikheid ontken en die Suide daarvan beskuldig dat hulle die hele voorval gefabriseer het om Noord-Korea in ‘n swak lig te stel. En daarmee saam die gewone swael-en-vuur oorlogsretoriek.

100329 p03 photo

Maar beteken dit nou dat ons op die vooraand staan staan van ‘n internasionale krisis; die hervatting van die Koreaanse oorlog (wat tegnies steeds woed )? Beswaarlik.

Die kort en lank van die storie is eintlik eenvoudig. Indien Suid-Korea militêr of selfs klandestien reageer, sal dit ‘n volskaalse oorlog tot gevolg hê tussen twee van die grootste weermagte op die planeet. Noord-Korea sal nie die ander wang draai nie en sal boonop die Suide as aggressor etiketteer. In so ‘n oorlog het Suid-Korea alles om te verloor (50 jaar se fenomenale ekonomiese groei) en Noord-Korea byna niks. Boonop sal Suid-Korea geen bondgenoot (waarvan die VSA by verre die grootste is) se steun kry vir ‘n militêre aksie nie, asook nie die VN Veiligheidsraad se mandaat nie. Voorts sal die Suide betrekkinge met Sjina (die Noorde se vernaamste en effe onwillige bondgenoot) erg vertroebel.

Dus, watter opsies het Suid-Korea? Verdere ekonomiese sanksies? Geen rys vir die gewone honger burgers van die Noorde nie? Verbale aggressie? Miskien die beëindiging van ekonomiese samewerking by die Gaesong industriële kompleks in die Noorde? Noord-Korea se skorsing uit die Wêreldbeker-sokkertoernooi?

korea vlagkimkorea vlag

Ek is bevrees dat geen van bogenoemde aksies enige indruk gaan maak op die geslote regime van Kim Jung Il nie. Hoewel sommige Suid-Koreaanse burgers en meer konserwatiewe politici reeds aandring op wraak, is dit nie ‘n lewensvatbare opsie nie. ‘n Uitstekende bewys dat een wat niks het om te verloor nie deur die bank altyd die gevaarlikste opponent en aggressor bly. Noord-Korea bly haas onaantasbaar en ‘n knaende, herhalende kopseer vir nie net Suid-Korea, maar die internasionale gemeenskap as geheel. ‘n Onaangename, totalitêre, kwasi-monargiese, kwasi-kommunistiese, persoonlikheidskultus-gedrewe kluisenaarsregime wat in die verlede reeds telkemale geleer het dat niemand dit ooit gaan waag om hulle militêr of klandestien aan te vat nie. Van die vorige voorvalle van aggressie wat Suid-Korea wraakplanne laat beraam het, maar deur omstandighede en verskeie rolspelers verhoed is om op te tree, sluit in:

  • Die sink van ‘n Suid-Koreaanse patrollieboot in die Oos-See in 1967.
  • ‘n Infiltrasie van ‘n groep Noord-Koreaanse soldate met die doel om die Suid-Koreaanse president om die lewe te bring in 1968.
  • ‘n Mislukte sluipmoord-aanval op die Suid-Koreaanse president in 1983
  • ‘n Bomaanval op ‘n Koreaanse passasiersvliegtuig in 1987, waarin 115 passasiers die lewe gelaat het.

Elke keer moes Suid-Korea die ander wang draai en ek is bevrees dit gaan noodgedwonge weer moet gebeur. Persoonlik het ek ook geen antwoorde of alternatiewe nie, maar moenie verbaas wees as die Noord-Koreaanse regime, reeds van binne verrot, sommer net op ‘n dag totaal ineenstort nie. En ek glo nie daardie dag is meer ver nie.

Foto’s en grafika met erkenning aan die Korea Times

16 Kommentaar leave one →
  1. April 21, 2010 2:37 nm

    Dis hartseer ja, want soos jy uitlig is die Suide stuck tussen die boom en die bas… en die Noorde weet dit ook seker baie goed.

  2. April 21, 2010 10:10 nm

    Die Noorde speel sleg rond met die Suide. Ek weet nie of ek dit sou kon handle as iemand my die heeltyd so tart nie, maar soos jy se, die Suide kan niks doen nie, want hulle het alles om te verloor. Ek wonder net of daar ‘n dag gaan kom wat die Suide besluit, bogger dit, dan verloor ons als, maar ons vee julle van die aardbol af!? Dit sal my glad nie verbaas as liewe Kim so stilletjie verdwyn nie…

    • April 22, 2010 1:18 vm

      Het gesien. Ai tog. Kry al hoe meer die indruk dat die Noorde soos ‘n kat op ‘n warm plaat is. Ek dink regtig nie meer dis so lank nie. Ongelooflik hoe onverantwoordelik ‘n regering kan optree as hulle nie ‘n flenter omgee wat hulle internasionale beeld is nie en nog minder vir die lydende burgers van hulle eie land.

  3. April 21, 2010 11:59 nm

    Nes jy sê: NK kan wegkom met moord en SK moet maar terug sit en dit vat soos ‘n ajussi.

    Gesinkte skepe, sluipmoordenaars, daardie marine skietvoorval van ‘n maar maande gelede. Dit wil amper vir my lyk asof NK meer aktief-aggressief is deesdae. Ek wonder wat die rede daar agter is. Is dit dalk ‘n vreemde manier om die seun wat as opvolger geroskam word as kragdadig voor te stel?

    http://rokdrop.com/2010/04/20/is-this-a-picture-of-kim-jong-ils-son-kim-jong-un/

    Vir wat dit werd is, ek hou baie meer van Kim Jong-un (indien dit inderdaad hy in die foto is) se klerestyl as Kim Jong-il sin. Hopenlik is Kim Jong-un meer invoeling met die tye as sy pa.

    • April 22, 2010 1:23 vm

      Ek glo dit het baie te doen met die agteruitgang van Kim se gesondheid en die feit dat die Noorde hulself kragdadig wil projekteer tydens die tyd van oorgang. Hulle lei ook die aandag af van kritiese interne probleme, waaronder ‘n stille, maar groeiende verset teen die regime, veral na die rampspoedige verlaging van hulle geldeenheid se waarde.

  4. April 23, 2010 4:34 vm

    Ai tog, die klein mannetjies met hulle groot ego’s. Sal daar dan nooit `n wêreld wees sonder diktators nie? Kyk na die klein mannetjie van Iran, tog so vol bravade, net soos Hitler. En tog kan hulle die wêreld vernietig, want hulle gee nie om nie.
    Dis sad.

  5. luthien permalink
    April 26, 2010 5:53 vm

    Boer ek wil net se soos meeste van jou lesers dink ek jou blog en skrywes is uitstekend! Ek wens jy kon in Engels ook skryf, ek het sopas op die Korean Times ‘n artikel gelees van een of ander baie “slim” westerling wat hierdie situasie probeer beskryf en ontleed, maar jou skrywe hier bo is in ‘n ander klas as sy paar woorde wat hy rondgooi. Jy het waarlik ‘n gawe om die “gist” van die situasie vas te vat en te beskryf sodat ander dit ook kan verstaan. Dink jy kan gerus vir die Korea Times ‘n paar artikels skryf!

    http://www.koreatimes.co.kr/www/news/opinon/2010/04/162_64808.html

    • April 26, 2010 10:12 nm

      Dankie vir die positiewe terugvoer, luthien!🙂
      Soos jy kan agterkom, is ek baie lief vir Afrikaans en verkies ek om in Afrikaans te blog, hoewel ek terselfdertyd besef dat die lesersmark baie beperk is. Ek het al oorweeg om ‘n parallelle Engelse blog te skep, maar het net nie die tyd om twee blogs te onderhou nie – iewers sal kwaliteit die onderspit delf. Miskien eendag…
      Ek het die knaap se artikel gelees – hy voer omtrent ‘n oorlogdans uit sonder om helder te dink oor die implikasies.

  6. April 26, 2010 8:35 vm

    Tereg. Patience over power was nog altyd die Suide se wagwoord. Maar wat gaan die koste wees vir die Suide as die Noorde eendag ineenstort? Die Suide sal sekerlik hul “menslike” plig uitvoer en so veel as moontlik doen om die Noorde te help as samesmelting gaan plaasvind. Maar dis nie Oos and Wes-Duitsland nie! Is Suid-Korea finansieel sterk genoeg om die Noorde te inkorporeer? Of hoe sal so ’n samesmelting lyk? En wat as die Noorde se nuwe leier besluit Suid Korea is so finansieel aantreklik en die kans gaan vat dat die VSA nie betrokke sal wil raak nie en die Suide inval? (Die VSA kan nie nog ’n oorlog bekostig nie en die nuus van die sinking het skaars ’n rimpeling in die nuus in die VSA veroorsaak en ook net op een dag se nuusberig.) Meer vrae as antwoorde.

    • April 26, 2010 10:19 nm

      Tereg soos jy opmerk. Om die Engelse spreuk te gebruik: “There is no silver bullet“. Die oorspronklike idee van die vorige Suid-Koreaanse regerings se sg. Sonskynbeleid was juis om deur groeiende ekonomiese investering die Noorde in ‘n beter finansiele posisie te plaas alvorens hereniging plaasvind. Die beleid le nou aan skerwe en hoewel Suid-Koreane nostalgies is oor hereniging, dink ek al hoe meer Suid-Koreane besef die realiteite en dat hereniging moontlike rampspoed inhou vir die Suide. En soos jy noem: Korea is nie Duitsland nie – Noord-Korea is baie, baie verder agter as wat Oos-Duitsland destyds was. Sonder substantiewe internasionale finansiele hulp, is hereniging nie ‘n realistiese alternatief op hierdie stadium nie. Wat die situasie verder kompliseer, is dat Sjina graag die status quo wil behou en nie hereniging wil sien nie.

  7. April 26, 2010 8:29 nm

    http://www.koreatimes.co.kr/www/news/nation/2010/04/113_63909.html

    As hulle Gaesong “vat” is hulle mos die nasie wat die meeste gaan suffer…ek verstaan nie heeltemal hoe die lot se koppe werk nie. Of dalk is dit bloot net ‘n manier om die Suide te verhoed om voort te gaan met enige herenigingspraatjies, want dit maak dat die Noorde se ekonomie nog swakker word en ek dink nie die Suide sien kans om huleself so ver af te trek as die grense oopgegooi sou word nie.

    • April 26, 2010 10:28 nm

      Ek het hierdie gesien en kan ook maar net my kop skud. Binne hulle denkraamwerk tree hulle rasioneel op, wat aandui hoe ver heen Kim se regime reeds is. Daar is nogal vir my ooreekomste tussen die Noorde se mentaliteit en die sg. selfmoordbommers. Om jouself te vernietig net om skade aan ‘n ander aan te rig. Ek dink die sleutel bly Sjina – as Sjina hulle steun volledig aan Kim onttrek, is Noord-Korea se internasionale isolasie volledig. Maar ook dit is dalk ‘n slegte opsie, want dit sal Noord-Korea miskien nog meer desperaat en onnverantwoordelik laat optree. Mens kan maar net hoop dat die Noord-Koreaanse regime van binne-af ineenstort en selfs dit sal ‘n gemors wees. Jammer om te se, maar ek dink met Noord-Korea is daar nie werklik ‘n “high road” scenario nie.

  8. Mei 7, 2010 11:06 nm

    Die ondersoekspan het nou bevestig dat dit wel ‘n torpedo was. Die skuldige is duidelik, maar nou moet daar bewyse gekry word en dit terwyl die klein, snaakse mannetjie reeds weer met rooi hakskene na die Sjinese vry.

    http://www.koreatimes.co.kr/www/news/nation/2010/05/116_65519.html

Trackbacks

  1. Hierdie land wat ek liefhet « Boer in Ballingskap
  2. Die verdeelde skiereiland: ‘n Perspektief op die voortslepende spanning tussen Noord en Suid « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: