Skip to content

2010 FIFA Wêreldbeker: ‘n Volledige vooruitskouing: Die spanne, spelers en hul kanse op sukses in Suid Afrika

April 24, 2010

500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555

Vrywaring

Hierdie inskrywing gaan nie oor die haalbaarheid van ‘n suksesvolle Wêreldbeker sokkertoernooi in Suid-Afrika, die ekonomiese impak daarvan en die vraag of dit sonder voorval sal verloop nie. Die inskrywing fokus bloot op die sport sokker en is nie geskryf om enige van die voorafgaande knelvrae aan te spreek nie.

Ek is nie eintlik ‘n sokkerliefhebber nie en nog minder ‘n sokkerkenner. Maar elke vier jaar kom die beste spanne ter wêreld byeen in die tweede grootste sportskouspel op aarde. En elke vier jaar word ek vir ‘n maand lank ‘n sokkerverslaafde en dan sommer ook ‘n kenner daarby. Om die room van talent in die wêreld in enige sportsoort te sien kragte meet, is vir my ‘n baie lekker lekker. Daar is min toernooie wat kom by die drama, die spanning, die skouspel en talent wat tentoongestel word in die Wêreldbeker-eindtoernooi. Dit is die verhoog waarop legendes soos Michel Platini, Diego Maradona, Pele, Zinedine Zidane en Gerd Muller hulle name verewig het. Hoewel die rugby- en krieket-wêreldbeker sekerlik ook sodanige elemente bevat, maak die omvang van sokker se wêreldbeker dit net soveel interessanter. Omdat sokker so ‘n groot wêreldsport is, is daar net eenvoudig vir soveel meer lande ‘n geleentheid om te presteer en die kans op verrassings en onverwagte wendings is groot.

Hierdie dus nou my mymeringe oor die groepe, die spanne, die spelers en hulle kanse in Suid-Afrika. Vir diegene wat belangstel in sokker, diegene wat nie werklik belangstel nie, maar meer oor die wêreldbeker wil weet en selfs diegene wat glad nie belangstel nie, maar tog nuuskierig is.

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

FRA RSA1 URU1 MEX1

GROEP A: Kan Bafana die berg klim?

Die vraag op baie se lippe is natuurlik of Suid-Afrika vanuit ‘n baie kompeterende groep die uitkloprondtes kan haal. In aanloop tot die Wêreldbeker het Bafana Bafana nie veel gedoen om die ondersteuners opgewonde te maak nie. Om die waarheid te sê gee min mense vir hulle ‘n kans. Maklik gaan dit nie wees nie, maar ek glo die tuisvoordeel en die fanatiese vuvuzela-ondersteuners kan dalk net die knoop vir Bafana deurhaak. Voeg hierby die onbesproke talent van Steven Pienaar in die middelveld en ‘n inspirerende verdediger soos Matthew Booth. En voeg daarby die feit dat geen gasheerland nog ooit in die eerste rondte vasgeval het nie en die feit dat die teenstanders heel moontlik Bafana gaan onderskat en ek sien Parreira se manne olv Aaron Mokoena moontlik in die uitkloprondtes. Dit opsigself sal reeds vir Bafana sukses beteken, maar ‘n moontlike plek in die kwarteindrondte sal hulle wildste drome oortref. Op die oomblik lyk die horison donker, maar niks is onmoontlik nie…en Suid-Afrika het helde nodig.

  • Deelnames aan eindtoernooie: 2; Beste vertoning: Eerste rondte

Bafana se teenstanders gaan dit vir hulle baie moeilik maak om die onmoontlike te verrig. Die vernaamste teenstanders is sekerlik Raymond Domenech se Franse span wat hierdie keer slegs met die hulp van Thierry Henry se hand tkv Ierland die eindtoernooi kon haal. Frankryk se kanse word hierdie jaar nie so hoog gereken nie, want ten spyte van verskeie sterspelers (die uitstekende Franck Ribery et al) was Les Blues gedurende die uitspeelrondtes soos flou teewater. Hulle mis duidelik die briljante Zinedine Zidane geweldig baie en ek dink nie Henry se kapteinskap is in dieselfde klas nie. Maar dan ook, met die Franse weet mens nooit. In 2006 (onder die einste Domenech ) is daar ook nie veel van hulle verwag nie, maar nogtans het dit ‘n briljante Italiaanse span gekos om hulle opmars te stuit. Hierdie keer behoort Frankryk genoeg te doen om eerste in die groep te eindig en die moontlikheid van ‘n kwarteindstryd is nie uitgesluit nie…maar Frankryk kan ook ‘n skok-slagoffer wees in die eerste rondte indien hulle nie hulle spel aansienlik lig nie.

  • Deelnames aan eindtoernooie: 12; Beste vertoning: Wenners (1998)

Die ander spanne in die groep is Meksiko en Uruguay . Laasgenoemde span het miskien die reputasie as tweemalige Wêreldbeker wenners, maar dit was ‘n leeftyd gelede. Tog gaan hulle alles uithaal om die gloriejare te laat herleef. In die kwalifiserende rondtes en hulle opwarmingswedstryde het hulle gewys hulle kan nie te ligtelik opgeneem word nie en Bafana sal moet uithaal en wys en ook Frankryk sal op hulle hoede moet wees. Hierdie is ‘n moelike span en moenie verras wees om Uruguay in die uitspeelrondtes te sien nie. Hou gerus Diego Forlan en hulle doelmasjien, Luis Suarez , dop. Hulle gaan ‘n sentrale rol speel.

  • Deelnames aan eindtoernooie: 10; Beste vertoning: Wenners (1930, 1950)

Meksiko is bekend vir hulle onderprestering in wêreldbekertoernooie en ek glo nie 2010 gaan ‘n uitsondering wees nie. Ook ‘n span wat gewoonlik goed vaar in die kwalifiserende rondtes, maar in die eindtoernooi nie hulle potensiaal verwesenlik nie. Hulle het die afgelope vier wêreldbekertoernooie na die uitkloprondtes deurgedring en hoop om dit weer te doen met die hulp van die veteraan, Cuauhtemoc Blanco. As hulle Bafana goed klop, kan hulle dit doen, maar my geld is op Bafana .

  • Deelnames aan eindtoernooie: 13; Beste vertoning: Kwarteindrondte (1970, 1986)

Wedstryd om te kyk: Die openingswedstryd tussen Suid-Afrika en Meksiko sal grotendeels Bafana se lot bepaal. (11 Junie, Soccer City, Johannesburg)

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

ARG1 KOR1 NGA1 GRE1

GROEP B: Maradona se swanesang en die Rooi Duiwels

Na my eie subjektiewe oordeel is Diego Maradona baie dinge, maar ‘n goeie afrigter is nie een van hulle nie. Daarvoor is hy bloot te temperamenteel en emosioneel. Die Argentyne kort ‘n koelkop in die Wêreldbeker en nie ‘n Mara(prima)dona . Argentinië het sukkel-sukkel gekwalifiseer en was so byna nie eers in Suid-Afrika nie. Aanvanklik het ek gedink dat dit een van die skokke van die toernooi kan wees dat die Argentyne na die eerste rondte dalk net hul goedjies moet pak. Dis egter vir my haas ondenkbaar dat dit kan gebeur met Lionel Messi in hulle midde, debatteerbaar tans die beste sokkerspeler ter wereld. Dan is daar ook spelers soos Carlos Tevez, opwindende nuweling Gonzalo Higuain en die ervare kaptein, Javier Mascherano . Hulle het egter nie die regte afrigter nie en kan ‘n duur prys daarvoor betaal in die uitkloprondtes.

  • Deelnames aan eindtoernooie: 14; Beste vertoning: Wenners (1978, 1986)

Suid-Korea se Rooi Duiwels het tydens die 2002 Wêreldbeker die wereld aan hulle voete gehad toe hulle teen alle verwagting in die halfeindrondte gehaal het. In 2006 kon hulle nie verder as die eerste rondte vorder nie, maar hulle is geensins verneder nie. Vanjaar kan hulle egter verbeter op 2006 se vertoning, indien hulle Nigerië kan klop. In Huh Jung Moo het hulle koelkop afrigter, in Park Ji Sung ‘n gerespekteerde leier en uitstekende speler en in voorspeler Park Chu Young ‘n ster in wording. Verwag dat hulle gaan verras, maar dalk nie op dieselfde skaal as in 2002 nie. Die uitkloprondtes wink.

  • Deelnames aan eindtoernooie: 7; Beste vertoning: Halfeindrondte (2002)

Die ander twee spanne in die groep, is Griekeland en die Super Arende van Nigerië . Nigerië is ‘n trotse span en verwag dat die feit dat die toernooi in Afrika gehou word vir hulle ekstra impetus gaan bied. Hulle het nou wel nie so goed gevaar in die onlangse Afrika-beker nie en hulle afrigter is ter elfder ure in die pad gesteek, maar tog glo ek hulle gaan ‘n moeilike span wees om te klop. Mens sal moet sien of die nuwe afrigter, Lars Lagerback, ‘n verskil kan maak in tandem met begaafde spelers soos oa Obafemi Martins en Yakubu Aiyegbeni .

  • Deelnames aan eindtoernooie: 3; Beste vertoning: Rondte van 16 (1994, 1998)

Griekeland kon nog net eenkeer vir die eindtoernooi kwalifiseer (1994) en hulle kon nie verder as die eerste rondte vorder nie. Hierdie jaar gaan hulle dit moontlik ook nie regkry nie. Nie ‘n slegte span nie, maar ook nie ‘n span wat die verbeelding aangryp nie, ondanks die teenwoordigheid van die kwaliteitspeler en kaptein, Georgios Karagounis .

  • Deelnames aan eindtoernooie: 1; Beste vertoning: Eerste Rondte

Wedstryd om te kyk: Die brute fisieke krag van Nigerië teen die vinnige, vlugvoetige Koreane. (22 Junie, Durban)

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

ENG1 USA1 ALG SVN1

GROEP C: Anglo-Saksiese dominansie

Van al die groepe was dit vir my die maklikste om die gunstelinge in hierdie groep te kies, nl. Engeland en die VSA. Om die waarheid te sê is Engeland in my oorwoë mening een van die gunstelinge om die eindstryd te haal en selfs die toernooi te wen. Die span het alles: die temperament, die spelers, die afrigter (Fabio Capello), die motivering, die talent, die spangees (John Terry se onlangse bedanking as kaptein en gepaardgaande omstredenheid ten spyt). Kyk na die spelers: Wayne Rooney, Frank Lampard, Steven Gerrard, Peter Crouch, Rio Ferdinand et al (ek glo nie die feit dat David Beckham agv ‘n besering die toernooi gaan mis, belemmer hulle kanse nie, inteendeel…). Engeland het ‘n baie realistiese kans om die eerste keer sedert 1966 se glorie (en die tweede keer ooit) die beker omhoog te hou of ten minste baie naby daaraan te kom. Hulle het die kwalifiserende rondtes met gesag gedomineer en verwag ook dat hulle hierdie groep gaan domineer. ‘n Eindstryd op die horison.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 12; Beste vertoning: Wenners (1966)

Die span wat heel moontlik tweede sal eindig, is die VSA. Die VSA het ‘n hegte span, saamgesnoer onder die ervare en inspirerende leierskap van die talentvolle Landon Donovan . Hoewel die VSA nie oor veel individuele supersterre beskik nie, is daar min spanne wat as so ‘n hegte eenheid saamspeel as die VSA. Die VSA gaan in elke liewe wedstryd die teenstanders laat bloedsweet en behoort tot die uitkloprondtes te vorder.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 8; Beste vertoning: Halfeindstryd (1930)

Algerië het op die nippertjie vir die eindtoernooi gekwalifiseer tkv die eventuele Afrika-kampioene, Egipte. Gedurende die Afrika-bekertoernooi het die Farao’s egter die vloer met hulle gevee. Algerië het nie ‘n swak span nie en ‘n paar goeie spelers, soos oa Karim Ziani . In hierdie groep gaan hulle egter sukkel om nie laaste te eindig nie. Hulle was miskien effe gelukkig om te kwalifiseer.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 2; Beste vertoning: Eerste Rondte

Slowenië is die buiteperd van die groep. In die kwalifiserende rondtes het hulle verras deur sokkerkragte soos Pole en Rusland te laat les opsê, met die opwindende Milivoje Novakovic aan die voorpunt. Die VSA en Engeland sal dit nie maklik hê teen die Sloweniërs nie, maar ek glo nie Slowenië is bestem om verder as die eerste rondte te vorder nie.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 10 (9 as deel van Joegoe-Slawië en 1 as onafhanklike land); Beste vertoning (as deel van Joegoe-Slawië): Halfeindrondte (1930, 1962)

Wedstryd om te kyk: Engeland teen die VSA gaan ‘n naelbytstryd wees en sal bepaal wie eerste in die groep eindig. (12 Junie, Rustenburg)

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

GER1 SRB1 AUS1 GHA1

GROEP D: Teutoniese doeltreffendheid en Aussie hardnekkigheid

As Groep G in die Wêreldbeker die Groep van die Dood is, is hierdie die groep van die dood in die kleine. Duitsland het een van die beste rekords in die wêreldbekertoernooie en spog met drie trofees en ‘n bykomende agt halfeindstryde. Dit is een van die spanne wat telkens hulle beste vir die wêreldbeker bêre. In byna elke toernooi is Duitsland een van die gunstelinge en so ook hierdie jaar. Met hope ervaring, teutoniese doeltreffendheid en spelers soos Miroslav Klose, Michael Ballack, Philipp Lahm, Bastian Schweinsteiger en Lukas Podolski, gaan hierdie span nie net die groep domineer nie, maar al die pad na die halfeind marsjeer. Die Duitse masjien gaan net eenvoudig een te veel wees vir menige spanne. Hulle kanse om die beker te wen is enige dag net so goed soos die van Brasilië, Engeland of Spanje.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 16; Beste vertoning: Wenners (1954, 1974, 1990)

Australië se Socceroos is lankal nie meer ‘n span wat ligtelik opgeneem kan word nie. Die span se spel toon ‘n sterk opwaartse kurwe en dit gaan spanne duur te staan kom wat hulle enigsins onderskat. Soos die VSA, is die span nie gelaai met veel individuele sterre nie. Hulle besit egter oor die tipiese Ozzie hardnekkigheid en daardie kanniedood-houding wat Australië altyd mededingend maak op die sportveld. Hierdie span staan ‘n baie goeie kans om die uitkloprondtes te haal, maar eers sal hulle die Serwiërs moet trotseer en dit gaan geen maklike taak wees nie. Hiervoor sal hulle swaar moet leun op Tim Cahill in die middelveld en hulle rotsvaste doelwagter, Mark Schwarzer .

  • Deelnames aan eindtoernooi: 2; Beste vertoning: Rondte van 16 (2006)

Serwië is die tipe span wat die Aussies se drome van die Rondte van 16 aan flarde kan speel. In die aanloop na die eindrondte het hulle goed vertoon en hulle spel het verder verbeter in die opwarmingswedstryde. Wanneer hulle die dag na hulle potensiaal speel, kan hulle met spelskeppers soos Milan Jovanovic en Nemanja Vidic verwoestend wees. As hulle met die Aussies kan afreken en Ghana kan tem, is hulle deur na die uitkloprondtes en daarna is enigiets moontlik. Hierdie span kan een van die verrassings van die toernooi wees.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 10 (9 as deel van Joegoe-Slawië en 1 as onafhanklike land); Beste vertoning (as deel van Joegoe-Slawië): Halfeindrondte (1930, 1962)

Die Swart Sterre van Ghana sal baie moed skep uit hulle inspirerende vertoning in die Afrika-beker. Verwag dat hulle met hart en rou emosie gaan speel en goed rekenskap gaan gee van hulleself. Hou gerus die talent van spelers soos Michael Essien dop. Die Afrika-beker is egter nie die wêreldbeker nie en hulle gaan sukkel om vanuit hierdie moeilike groep te kwalifiseer. Soos die Ivoorkus, het hulle nie ‘n goeie loting gekry nie. Tog het hulle beïndruk in 2006 deur na die uitspeelrondtes deur te dring en kan hulle vir ‘n verrassing sorg. My geld is egter op Serwië.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 1; Beste vertoning: Rondte van 16 (2006)

Wedstryd om te kyk : Australië teen Serwië (23 Junie, Nelspruit) kan heel moontlik die bepalende wedstryd in hierdie groep wees, maar die wedstryd tussen Serwië en Ghana behoort meer vuurwerke te verskaf. (13 Junie, Pretoria)

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

NED1 DEN1 CMR1 JPN1

GROEP E: Hup, Holland, Hup!

Saam met Spanje, kwalifiseer Nederland as die beste sokkerspan wat nog nooit die wêreldbeker kon wen nie. Elke vier jaar is Nederland een van die gunstelinge uit die blokke, maar daar word gewoonlik oor die laaste hekkie of twee gestruikel. Vanjaar neem Nederland weer ‘n poel van uitstekende spelers wêreldbeker toe. Met spelers soos Arjen Robben, Dirk Kuyt, Wesley Sneijder en doelskieter Klaas “The Hunter” Huntelaar , asook ‘n hegte spaneenheid, lyk Nederland ten minste bestem vir die kwarteindrondte, indien nie die halfeind nie. Verwag dat hulle hierdie groep sal oorheers. Opdatering: Doelskieter Robin van Persie, is bo Klaas Huntelaar verkies in die aanvanklike Wêreldbeker-oefengroep wat onlangs aangekondig is.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 8; Beste vertoning: Eindstryd (1974, 1978)

Denemarke het ‘n goeie aanloop gehad tot die eindrondte met ‘n hoë spelpeil. Met oa Nicklas Bendtner en kaptein Jon Dahl Tomasson in hulle midde, behoort hulle goed genoeg te wees om deur te dring na die uitspeelrondtes en ten minste vir Nederland op te dreun in die mededinging vir eerste plek in die groep. Maar ek glo nie Denemarke gaan reuse neervel nie en dit sal my verbaas as hulle die kwarteindrondte haal.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 3; Beste vertoning: Kwarteindrondte (1998)

Kameroen het ietwat teleurstellend vertoon in die onlangse Afrika-beker toernooi en hulle sal sake graag wil regstel in die Wêreldbeker. Hulle is die Afrika-span met die beste historiese rekord in die eindtoernooi (5 toernooie en een kwarteindrondte) en hulle sal nie maklike teenstanders wees nie. Samuel Eto’o is hulle sterspeler, maar juis die dominerende rol wat hy in die span speel en afhanklikheid van hom, kan teen hulle tel. Hulle sal moet uithaal en wys as hulle nie reeds in die groepsfase wil vasval nie. Die wedstryd teen Denemarke sal deurslaggewend wees.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 5; Beste vertoning: Kwarteindrondte (1990)

Japan is nie ‘n slegte span nie en behoort nie onderskat te word nie Ondanks die talent van spelers soos Shunsuke Nakamura en opwindende nuweling Shinji Okazaki , weet ek egter nie of hulle hond haar-af gaan maak in hierdie groep nie.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 3; Beste vertoning: Rondte van 16 (2002)

Wedstryd om te kyk: Die wedstryd tussen Denemarke en Kameroen (19 Junie, Pretoria) gaan bepaal wie tweede eindig in die groep.

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

ITA1 PAR1 SVK1 NZL1

GROEP F: Verdedigende kampioene het maklike pad

Italië is die verdedigende kampioene en was baie in die skik met hulle loting in Groep F. Dis ook te verstane, want die groep bied hulle maklike mededinging en hulle behoort nie veel te sukkel om eerste te eindig nie. Om die waarheid te sê, die Italianers se loting bied vir hulle ‘n redelike maklike pad tot en met die kwarteindrondte. Hulle het ‘n ervare span en dieselfde enigmatiese afrigter (Marcello Lippi) wat hulle 4 jaar terug na glorie gelei het. Die span het verander, maar heelparty van die 2006 veterane gaan weer ‘n sentrale rol speel in hulle veldtog. Van die veterane, is die legendariese doelwagter Gianluigi Buffon sekerlik een van die Azzuri se grootste troefkaarte. Dan speel hulle onder die bekwame leierskap van kaptein, Fabio Cannavaro en in die middelveld is Gennaro Gattuso die spil waarom alles draai. Voeg hierby die akkurate stewel van die doelskieter, Alberto Gilardino, spelskepper Andrea Pirlo en die uitstekende verdediging van Giorgio Chiellini en jy het ‘n span wat weer ernstig gaan aanspraak maak op die trofee. Hulle lyk bestem vir die kwarteindrondte en ‘n moontlik epiese stryd met Spanje. As hulle weer die beker omhoog hou, sal dit ‘n geweldige prestasie wees. Maar is hulle so honger soos 4 jaar gelede?

  • Deelnames aan eindtoernooi: 16; Beste vertoning: Wenners (1934, 1938, 1982, 2006)

Paraguay is ‘n omgesukkelde Suid-Amerikaanse span en in elke wêreldbeker ‘n moeilike neut om te kraak. In die kwalifiserende rondtes het Paraguay net agter Brasilië en Chili geëindig in die Suid-Amerikaanse groep. Die spelers om dop te hou, is Roque Santa Cruz,  Nelson Valdez en doelwagter, Justo Villar . En baie belangrik – hulle het selfgeloof. Dit sal my glad nie verbaas as hulle (weer eens) die uitspeelrondtes haal nie. Met ‘n opskudding of twee het hierdie span selfs wat dit verg om tot en met die kwarteind mededingend te wees. Hou hierdie span dop.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 7; Beste vertoning: Rondte van 16 (1986, 1998, 2002)

Slowakye is ‘n donker perd, maar ek weet nie of hulle die ander spanne (buiten Nieu-Seeland) slapelose nagte gaan besorg nie. Die spelers waarop hulle staatmaak, is Marek Hamsik, Robert Vittek en Stanislav Sestak . Hulle gaan nie doele verniet weggee nie, maar ek het ‘n gevoel hulle gaan dit met die Kiwi’s uitspook om die houtlepel in hierdie groep.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 8 (as deel van Tsjeggo-Slowakye); Beste vertoning (as deel van Tsjeggo-Slowakye): Eindstryd (1934, 1962)

Nieu-Seeland se blote teenwoordigheid in die Wêreldbeker-eindtoernooi is reeds ‘n oorwinning. Dis maar hulle tweede eindtoernooi ooit. Hulle gaan hulle bes probeer en sal poog om nie te ver te verloor nie en so min doele as moontlik af te staan. Hulle gaan egter sukkel om nie laaste in die groep te eindig nie. Kaptein, Ryan Nelsen en doelskieter Shane Smeltz sal die sentrale spelers wees tydens hulle veldtog.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 1; Beste vertoning: Eerste Rondte

Wedstryd om te kyk: Die vonke kan spat tussen ‘n parmantige Paraguay en ‘n gevestigde Italiaanse span. (14 Junie, Kaapstad)

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

BRA1 POR1 CIV1 PRK1

GROEP G: Samba en ‘n moontlike skok

Geen span is so suksesvol as wat Brasilië reeds was in die Wêreldbeker-eindtoernooi nie. Hulle is die enigste span wat vir elke wêreldbeker sedert die ontstaan van die toernooi in 1930 kon kwalifiseer. Hulle rekord spreek vanself: Uit 18 deelnames het Basilie 10 keer die halfeindrondte gehaal, 7 keer die eindstryd en was hulle die 5 keer kampioene. Elke vier jaar daag die span op as ‘n noodwendige gunsteling. Dis asof hierdie span geslag na geslag spesiaal ontwerp is om goed te speel wanneer dit saak maak. Hulle het die sterre (Julio Cesar, Luis Fabiano, Dani Alves, Maicon en Lucio om enkeles te noem), die geskiedenis, die tradisie, die ervaring en die fanatiese ondersteuners. Kortom hulle versinnebeeld sokker. Hulle gaan heel moontlik skoonskip maak in hierdie Groep van die Dood en hulle pad oopspeel tot ten minste die halfeindstryd, moontlike eindstryd en dalk ‘n sesde trofee. Dis ‘n genot om hulle dop te hou en is definitief een van die spanne om te volg.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 18; Beste vertoning: Wenners (1958, 1962, 1970, 1994, 2002)

Ondanks die feit dat Portugal oor die dienste beskik van een van die beste en hoogsbetaalde spelers in die wêreld, nl. Christiano Ronaldo, asook ander sterre soos veteraan Deco en Simao, het Portugal soos ‘n moeë ou man na die eindtoernooi gestruikel. In die opwarmingswedstryde het hulle beter vertoon, maar dis steeds asof die passie van 4 jaar terug kort. Portugal bly ‘n gunsteling, maar binne hierdie groep kan Portugal moontlik ook ‘n skokslagoffer wees van die Eerste Rondte. Selfs al dring Portugal deur, weet ek nie of die span ver gaan vorder nie. Indien hulle egter my eie voorspelling aan skerwe speel, sal daar net een persoon wees om te bedank: Christiano Ronaldo .

  • Deelnames aan eindtoernooi: 4; Beste vertoning: Halfeindstryd (1966, 2006)

Die span wat heel moontlik die meeste kan baat by Portugal se swak vorm, is die Ivoorkus. Tot so net na die Afrika-beker toernooi, was my oorwoë mening dat Ivoorkus die Afrika-span is wat die grootste impak op die toernooi kan hê. Ivoorkus het egter hulle afrigter in die pad gesteek en onlangs die dienste bekom van Sven-Goran Eriksson. Of die ervare (maar histories onsuksesvolle) Sweed ‘n groot verskil gaan maak, sal mens moet sien. Ek dink dit is en bly ‘n fatale fout om so kort voor die toernooi, nes Nigerië, van afrigter te verander. Verder is dit ongelukkig dat dit juis die Ivoorkus is wat in hierdie uiters mededingende groep geloot is. Ten spyte van die probleme, glo ek dat die span, met die magiese Didier Drogba aan die voorpunt, steeds ‘n goeie kans staan om deur te dring na die uitspeelrondtes, maar dit gaan ‘n opdraande stryd wees.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 1; Beste vertoning: Eerste Rondte

Wat my bring by die span van Noord-Korea. Met Suid-Afrika se eie sport-isolasie van die apartheidsjare in gedagte, vind ek dit uiters vreemd dat die span van Noord-Korea enigsins toegelaat word om aan die Wêreldbeker deel te neem. Maar hulle gaan in Suid-Afrika wees en hulle blote kwalifisering was ‘n verrassing. Dit is maar die tweede keer wat hulle kwalifiseer vir die eindtoernooi. Die eerste keer was in 1966 toe hulle vriend en vyand verras het deur na die kwarteindrondte te vorder. Ek dink Engeland se kanse is baie beter om die beker die eerste keer weer te wen sedert 1966, as wat die Noord-Koreane ‘n kans het om weer die kwarteind te haal. Saam met Suid-Afrika en Nieu-Seeland, is Noord-Korea sekerlik die span waarvan die minste verwag word. Juis dit kan die Noord-Koreane ‘n gevaarlike span maak wat vir ‘n skok kan sorg. Nie veel sterre in hulle span nie, maar hulle beste spelers is Jong Tae Se en doelskieter Jong Chol Min .

  • Deelnames aan eindtoernooi: 1; Beste vertoning: Kwarteindstryd (1966)

Wedstryd om te kyk: Portugal vs Brasilië (25 Junie, Durban) gaan moontlik ‘n klassieke wedstryd wees, maar die stryd tussen Portugal en die Ivoorkus behoort bepalend te wees. (15 Junie, Port Elizabeth)

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

ESP1 CHI1 SUI1 HON

GROEP H: Is dit Spanje se beurt?

Spanje dra ongelukkig die etiket van onderpresteerders in wêreldbeker-eindtoernooie. Hoeveel keer was hierdie talentvolle krag in wêreldsokker nie al ‘n gunsteling in die wêreldbekertoernooi nie…net om elke keer maar weer dweepstert tuis te keer. Om die waarheid te sê, Spaanse sokkerondersteuners het al gewoond geraak daaraan, maar tog…tog hoop hulle elke 4 jaar dat dit gaan anders wees en dat Spanje ten einde laas hul potensiaal sal verwesenlik. Dis eintlik ongelooflik dat Spanje uit 12 probeerslae nog net een enkele keer ‘n halfeindstryd kon haal. Nou, met hierdie prentjie in gedagte, wil ek noem dat ek in die wet van gemiddeldes glo. En volgens die wet van gemiddeldes moet ‘n talentvolle span een of ander tyd die wêreldbeker wen…en daar is altyd ‘n eerste keer. Hulle is tans in verwoestende vorm en was een van die beste spanne in aanloop tot die eindrondte. Daar is ‘n moontlikheid dat sterspeler, Cesc Fabregas, nie betyds van ‘n besering gaan herstel vir die wêreldbeker nie, maar hulle het steeds oorgenoeg kwaliteit spelers: Xavi en Andres Iniesta as generaals in die middelveld; die fenomenaal akkurate doelskieters David Villa en Fernando “El Niño” Torres; een van die beste doelwagters in die wêreld, Iker Casillas; opwindende nuweling Gerard Pique en charismatiese veteraan Carles Puyol op verdediging. Hulle behoort ook oorgenoeg motivering te hê. Spanje is een van my gunstelinge om die wêreldbeker te wen en gedurende hierdie toernooi is beide my geld en hoop op hulle. Ek sal so ver gaan om te sê dat as Spanje nie hierdie wêreldbeker wen nie, hulle dit nooit sal doen nie. Spanje behoort heel gerieflik eerste in hierdie groep te eindig, terwyl die ander kwalifiserende plek tussen Switserland en Chili beslis sal word. Ongelukkig vir die span wat tweede eindig, sal hulle heel moontlik teen Brasilië moet speel in die volgende rondte. Opdatering: Fernando Torres herstel nog na ‘n onlangse beseringsverwante operasie en dit wil voorkom asof hy dalk nie wedstrydfiks gaan wees vir Spanje se openingswedstryd teen Switserland nie.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 12; Beste vertoning: Halfeindrondte (1950)

Chili was een van die verrassings van die kwalifiserende rondtes en het baie sterk, slegs na Brasilië, geëindig in die Suid-Amerikaanse groep. Hoewel individuele briljantheid dalk kortkom (met respek aan doelskieter, Humberto Suazo ), is dit ‘n hegte span met baie selfvertroue. Hulle gaan hulle bes doen om die 1962 halfeindrondte-glorie te herhaal, toe hulle derde geëindig het. Ek glo dat Chili selfs dink dat hulle dalk Spanje die loef kan afsteek om eerste in die groep te eindig. Realisties gesproke behoort Chili tweede in die groep te eindig, maar daarna nie veel verder te vorder as miskien die Rondte van 16 nie. Maar snaakser dinge het ook al gebeur…

  • Deelnames aan eindtoernooi: 7; Beste vertoning: Halfeindrondte (1962)

Natuurlik sal Chili eers met Switserland moet afreken. Die Switsers is ‘n moeilike span wat daarop uit is om te bewys dat hulle ook saam met die groot honde kan blaf. Hulle het sterk vertoon in die kwalifiserende rondtes en gaan daarop uit wees om kritici verkeerd te bewys. Hulle kan moontlik Chili verras en tweede eindig, maar ek glo amper nie. Kaptein en doelskieter Alexander Frei is by verre hulle beste speler.

  • Deelnames aan eindtoernooi: 8; Beste vertoning: Kwarteindrondte (1934, 1938, 1954)

Van Honduras weet ek eerlik nie veel nie, behalwe vir die feit dat hulle politiek baie onstabiel is. Geoordeel aan hulle huidige vorm, wil ek egter voorspel dat niemand net oor hulle gaan loop nie. Ek kan egter nie sien dat hulle deurdring nie en ek vermoed hulle neem die houtlepel huis toe. Die spil waarom die span draai, is die veteraan Carlos Pavon .

  • Deelnames aan eindtoernooi: 1; Beste vertoning: Eerste Rondte

Wedstryd om te kyk: ‘n Bepalende wedstryd gaan die wees tussen Switserland en Chili (21 Junie, Port Elizabeth), maar die hardste en mees aanskoulike stryd gaan verseker die een wees tussen Spanje en Chili. (25 Junie, Pretoria)

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

As ek dalk daarvan beskuldig word dat ek deur hierdie inskrywing nie direkte voorspellings waag nie, wil ek dit tog, opsommenderwys, duidelik stel dat ek glo die volgende vier spanne die halfeindstryd gaan haal:
Duitsland, Engeland, Brasilië en Spanje

Enige vier van hierdie spanne kan die beker huis toe neem. Ek moet egter ‘n volgende vier spanne byvoeg wat ek glo die potensiaal het om die spreekwoordelike appelkar om te keer, nl. Suid-Afrika, Uruguay, Serwië en Suid-Korea. Ek kan natuurlik heeltemal in die kol wees of vreeslik verkeerd. Wat ek wel met sekerheid kan sê, is dat daar wel ‘n paar verrassings gaan wees, soos met elke Wêreldbeker die geval is.

feca7 adidas-fifa-jabulani-ball-1

Vlugtige feite:

  • Vyf van die deelnemende spanne kon nog nooit verder vorder as die eerste rondte nie, nl. Suid-Afrika, Ivoorkus, Honduras, Nieu-Seeland en Griekeland.
  • ‘n Gasheerland het nog nooit in die Eerste Rondte van ‘n eindtoernooi vasgeval nie.
  • ‘n Europese span het nog nooit buite Europa daarin kon slaag om die Wêreldbeker te wen nie.
  • Brasilië hou die rekord vir 1) die span wat al in meeste eindtoernooie verskyn het (18); 2) die span wat al meeste kere die trofee kon wen (5) en 3) die span met die meeste doele in eindtoernooie (201).
  • Italië (1934, 1938) en Brasilië (1958, 1962) is die enigste spanne wat al ooit daarin kon slaag om die trofee suksesvol te verdedig.
  • Die kontinente van Suid-Amerika en Europa is die enigste kontinente wat sedert die instelling van die Wêreldbeker, wenners kon lewer. Slegs 2 spanne van ander kontinente kon nog ooit daarin slaag om die laaste vier te haal, nl die VSA (1930) en Suid-Korea (2002).
  • Die beste vertoning ooit deur ‘n Afrika-span is die kwarteindrondte (Kameroen in 1990; Senegal in 2002).
  • Van al die spanne wat al 10 keer of meer aan die eindtoernooi deelgeneem het, het Meksiko die swakste rekord.
  • Van al die spanne wat al minder as 10 keer aan die eindtoernooi deelgeneem het, het Nederland die beste rekord.

Maar nou het ek genoeg geskryf, geanaliseer en gespekuleer. Al is die Wêreldbeker nog etlike weke weg, kan ek nie wag nie en lek ek reeds my lippe af.

Laat die skouspel begin!

500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555

Advertisements
18 Kommentaar leave one →
  1. Laurence permalink
    April 24, 2010 3:29 nm

    Maggies – maar dit is ‘n handige opsomming. Nou kan ‘n totale leek soos ek ook bietjie weet wat aangaan en begin deelneem aan die skouspel. BiB, jy het ‘n talent om inligting in te samel en te verwerk in ‘n verteerbare vorm!

  2. April 24, 2010 7:35 nm

    Ek sien ook nou al uit – genoeg om my te motiveer om my TV reg te kry voor die toernooi begin. Van jou 4 gunstelinge Duitsland, Engeland, Brasilië en Spanje hoop ek vir Brasilie, en tweedens Duitsland.

    • April 28, 2010 11:05 nm

      Ek hoop jou TV is 100% voor die afskop. As Spanje vasval (wat ek nie glo nie), is Duitsland my tweede keuse.

  3. April 26, 2010 8:04 vm

    Ek hoop dis Engeland se beurt. Hulle het die spelers en afrigter om dit te maak. Andersins Spanje. Ek kan nie wag vir die toernooi nie. Maar hoe baie ek gekyk gaan kry is ‘n ander saak vanwee die tydzone.

    • April 28, 2010 11:02 nm

      Soos ek geskryf het, glo ek Engeland staan ‘n goeie kans, maar niks sal vir my meer genot verskaf as hulle gestuit word nie. Volgens my eie scenario, is Serwie net die span om dit te doen in die uitkloprondtes.

  4. April 27, 2010 11:09 nm

    Dankie vir die inskrywing, as ‘n totale leek het ek dit reggekry om elke liewe kaartjie waarvoor ek aansoek gedoen het te kry, so ek gaan 7 wedstryde kyk (oops!), nou het ek darem ‘n paar name om te skree!

  5. April 28, 2010 11:04 nm

    😯 En ek het gedink die kaartjies is so skaars soos hoendertande! Hoe het jy dit reggekry (en by wie het jy geld geleen?. 🙂 Het jy ook in daardie chaotiese rye gaan staan/slaap of het jy ‘n geheime webtuiste gebruik?

    • April 28, 2010 11:12 nm

      Dis juis die ding Bib – ek het geraai die goed is skaars, aansoek gedoen (deur 100% normale kanale) vir my toegelate hoeveelheid omdat ek gedink het ek sal dan miskien 1 of 2 of 3 kaartjies kry en toe kry ek 7, wou omtrent huil toe my bank my bel en beleefd vra of ek deel is van ‘n phishing scam aangesien daar so groot bedrag van my kredietkaart afgaan! Plaas ek met daai skoot geluk ‘n Lotto kaartjie gaan koop het.

      • April 30, 2010 11:15 nm

        Uiters vreemd…maar as jy dit nou dalk herverkoop net voor die wereldbeker, gaan jou bankbestuurder breed glimlag.

  6. Mei 1, 2010 4:50 vm

    Ek sal natuurlik Argentinie moet volg/opvolg want by my skool gaan die Y7’s ‘n hele dag se “kurrikulum” aktiwiteite he wat net oor verskillende lande/spanne gaan. Ongelukkig het Robyn klaar SA gekies voordat ek kon -my mede kollega van SA – glo my ek was minder beindruk met haar 🙂 – maar ja, my volgende gunsteling was nog altyd Argentinie gewees. Ek moet juis o.a. die naweek inligting oor hulle insamel vir die aktiwiteite. Net jammer jy het nie die verskillende kosse/musiek/kleredrag ens hier nie…lol! jy sou my baie tyd gespaar het. 🙂

  7. Mei 5, 2010 8:14 nm

    Genade, dit moet die titel kry as die langste artikel ooit oor sokker wat in Afrikaans geskryf is! Goeie stukkie werk!

Trackbacks

  1. Sewe maande in die Suidland « Boer in Ballingskap
  2. Maak vrede met die halwe glas (of nie?) « Boer in Ballingskap
  3. Die 2011 Rugby Wêreldbeker in Nieu-Seeland: Die geskiedenis, statistiek, spelers, spanne, en enkele voorspellings « Boer in Ballingskap
  4. Waarnemings vanuit my leunstoel: Die 2011 Rugby Wêreldbeker: Week 1 « Boer in Ballingskap
  5. Weer Spanje? « Boer in Ballingskap
  6. Die 2014 FIFA Wêreldbeker: ‘n Sokkerfees in die land van Samba | Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: