Skip to content

Hierdie land wat ek liefhet

Mei 8, 2010

P5010072

Dus, as die lente uiteindelik in die seisoen se volheid breek en jy raak op ‘n pragtige bloulug-Saterdag wakker, waarheen vat die pad jou? Wat sal jy sien? Waar sal jy vandag gaan om jou onversadigbare drang na visuele stimulasie te bevredig?

P5010004P5010007

Eerstens neem jy die bus uit die stad, sit rustig terug en drink die kleurvolle tonele buite die venster in, wyl die bus skommel-skommel deur die verkeer ‘n pad vind. Uit met die pad na die kusdorpie van Gampo , deur die veelkleurige berge en heuwels, waar bont bloeiselbome en die verskillende skakerings van groen reeds die belofte bevestig wat die dag inhou.

P5010013P5010014

Kort voor Churyeong Tonnel (omdat sowat 70% van die land beberg is, het Korea ongelooflik baie tonnels), klim jy af en stap vir ‘n stywe entjie met die Churyeong Pas op. Maar jy gee nie om vir die opdraande nie. Die lug is skoon en blou, dis al lekker warm en oral verras die kleurskakerings jou. Daar is eekhorinkies wat rats tussen die bome dartel, die kenmerkende groot Koreaanse langstertkraaie en klein swart-en-grys mese wat luid van boom tot boom fladder.

P5010017P5010046

P5010044P5010015

Jy kom uiteindelik by Baek Nyong ChaJip (“Honderdjaar Teehuis”) uit – ‘n baie ou en bekende tradisionele teehuis, hier buite die rumoer van die stad, soos ‘n welkome oase tussen die heuwels. Dadelik daal daar ‘n rustigheid wanneer jy oor die bruggies stap en die water hoor murmel. Binne word jy begroet met die ‘n mengsel van pruttende geure wat uitlokkend in die lug hang. Die Oosterse meditasiemusiek dra nie min by tot die rustigheid.

P5010038P5010042

P5010041P5010048

P5010192P5010057

Alles is in Koreaans (geen toeristetrekpleister nie, maar waar die Koreane self verkies om te gaan) en jy kies avontuurlik die tee wat jy dink drinkbaar sal wees. Op hierdie punt moet ek net noem dat die Verre-Oosterse lande enige teeliefhebber se droom is. Dis so deel van die kultuur hier soos boeretroos en beskuit. Hoofsaaklik talle variasies van groentee, maar ook tee gemaak van elke denkbare blom, blaar, bessie, neut, spesery, krui, wortel of vrug waaraan jy kan dink. Op die spesifieke dag probeer ek ‘n baie sterk tee wat na molasse en ster-anys smaak. Wat verder daarin is, weet ek nie, maar dis verseker ‘n aangeleerde smaak en die maag weet nie dadelik wat om met die vloeistof te doen nie. Daarna ‘n baie aangename soet-suur bokbunja (Koreaanse bergbessie) tee om die erge anys-smaak uit die mond te kry.

P5010170P5010176

P5010198P5010117

Vandaar weer na die busstop om die bus te neem na Wolseongpark , waar die veld ‘n geel see van die blomme is. Die bye baljaar en hier en daar fladder ander vlieënde wesens. Daar is ook vele ander blomme, waarvan ek meeste nie die name ken nie, behalwe vir die vygies wat oopblaar en behaaglik hul gesigte na die son draai. Geel, pers, rooi, blou, wit…

P5010160P5010139

P5010150P5010167

En die Koreane het uit hulle winterhibernering wakker geskrik en orals word daar tussen die blomme ingeduik en foto’s vir ‘n vale geneem. Die kinders is in hulle element, vlieërs word gevlieg en daar word piekniek gehou. ‘n Streslose, kleurvolle lentedag wat mens kalmeer en die natuur se wondere laat waardeer. Daar is soveel mooi om te sien en ervaar waar ek is en elke seisoen is dit ‘n nuwe ervaring. En jy sien die mense hulself sorgvry geniet in die netjiese en veilige openbare ruimtes.

P5010156P5010159

P5010157P5010129

Wat ‘n pragtige dag, wat ‘n lekker gevoel, wat ‘n voorreg om hier te woon. Maar ook ‘n hartseer wat onwillekeurig in my opwel omdat ek besef dat ek binnekort hierdie stad, hierdie sorgvrye Saterdae, hierdie land en sy besonderse mense tydelik of dalk permanent gaan verlaat. Hierdie land wie se hartseer ook my hartseer geword het, wie se vreugde, ook my vreugde geword het. Hierdie aanneemland wat ook my land geword het. Hierdie land wat ek liefhet.

P5010094

31 Kommentaar leave one →
  1. Mei 8, 2010 5:27 vm

    Hey. Ek vertoef nou al n wyle tussen die lyne van hierdie post. My hart wil comment maar my kop wil nie die woorde reg formuleer nie. Asof my siel die eintlike sondebok is wat tussen die twee staan en net so bietjie langer aan die inhoud wil vashou.

    Hierdie is n baie, baie mooi post. Een van daai waar die ore sien en die oë luister. Vir n wyle ontvoer jy my weg van die koue kus van winter buite my glasruit hier in die Kaap. En kan ek my net terug-verlang na die kleurpallet van lente terwyl my sintuie in die aroma verlore raak.

    Boer In Ballingskap. Hmm, dink party van ons is suining om óns boer met soveel ander te deel, want ons wil glo jou wortels le hier. En tog, dink ek daardie selfde groep van ons, wat jou sien groei het in Korea, is so trots op jou dat ons jou daar wil hou en spog met een van ons eie.

    Ek weet nie watter kant toe die vurk in die pad jou gaan lei nie. Maar mag jou voete vir jou hart gaan vrede vind en jy nooit vergeet om jou siel in jou menswees-tassie in te pak nie. Want ongeag waar jy ookal gaan, neem jy n unieke en erg talentvolle persoon met jou saam, wat altyd soek vir die positiewe in elke situasie.

    En dit sal ek altyd van jou onthou. Vir elke negatief vind jy twee substitute positiewe. Ek is seker Korea is net so lief vir jou, op haar manier. Beslis n post wat ek vir lank gaan onthou.

    • Mei 10, 2010 5:54 nm

      Elf (jy wat self met woorde toor), baie dankie vir jou kommentaar, wense en woorde. Ek waardeer dit meer as wat jy miskien dink.

  2. luthien permalink
    Mei 8, 2010 6:31 vm

    … Korea het die kuns volmaak om baie baie stadig, sonder dat mens dit agterkom diep diep in mens se hart in te kruip en nes te maak. Jou woorde beskryf ook my laaste gevoelens voor die weggaan.

    Ten spyte van ‘n half suksesvolle, stadige en lang losmaakproses van my wortels wat so diep gegroei het in die land van die oggend stilte voel ek nog altyd die leemte van hierdie aanneemland. . .

    Sterkte boer, kom drink maar ‘n koppie groen tee hier by my dan praat ons oor 4 seisoene, spicy kosse, snaakse boy/girl band liedjies en nog meer as die gemis te veel raak.

    • Mei 10, 2010 5:56 nm

      Ek sal verseker kom gesig wys, luthien. Kyk, eerlikwaar is groen tee nie regtigwaar my afdeling nie, maar as jy nou net so bietjie kimchi iewers in die hande kan kry!🙂

  3. Mei 8, 2010 10:14 vm

    Ek het nie woorde nie…al wat ek gaan se is dat daai swart tee soos drop geproe het en dit was glad nie my “cup of tea” nie!

    Om afskeid te neem is nooit maklik nie, of dit nou van mense of ‘n plek is, maar mens kan gaan met die wete dat jy dit altyd in jou hart kan saamdra.
    Weet dat jy ook gemis gaan word, veral op ons ekspedisies! Ek sal maar vir jou ‘n eg Koreaanse pakkie pos as die verlang te groot word!

    • Mei 10, 2010 5:59 nm

      Die belofte van afskeid is ‘n (hopelik spoedige) weersiens. Dankie vir jou komentaar en al die gedeelde ervarings. Sterk staan en onthou om vir die Rooi Duiwels in 3D te skree!

      NS: Ek sal my bestellings plaas! 8)

  4. Mei 8, 2010 5:53 nm

    Pragtige pos oor ‘n pragtige land deur ‘n pragtige pen (eh…vinger?).

  5. Mei 8, 2010 10:21 nm

    Baie mooi foto’s/inskrywing Boer! Ek hou van jou kleure waarmee jy so rondspeel….het jy blogdesk gebruik vir die inskrywing?

  6. flippiefanus permalink
    Mei 10, 2010 12:16 vm

    Bib jy het altyd die pragtiste foto’s en jy doen soveel moeite met die inskrywings. Dankie.

  7. Mei 10, 2010 6:01 nm

    Dankie FF. Sonder gereelde lesers soos jy, sal dit ook nie soveel pret wees nie.

  8. Rene permalink
    Mei 10, 2010 11:36 nm

    Ek kry nou sommer ‘n knop in my keel! Hul verlies is ons wins! Gelukkig kan NIEMAND die mooi herinneringe van jou wegneem nie! Baie spesiale inskrywing dié! Pragtig! xx

  9. Mei 11, 2010 12:27 vm

    Ek hoop regtig jy’s besig met ‘n koffietafelboek oor Suid-Korea?!! In die amper 3 jaar wat ek jou blog lees, het ek dit so geniet om die land deur jou oe te leer ken. Weereens fantastiese mooi foto’s en vertelling! Ek is sommer hartseer vir jou part dat jy daar moet weggaan! 😦

    • Mei 20, 2010 6:49 nm

      Thea, as ek daai koffietafelboek doen, dan het ek ten minste een leser!😉 Sal nog sien hoe lank ek gaan wegbly van Korea af…

  10. Marina permalink
    Mei 11, 2010 9:37 nm

    Pragtig…Pragtig….Pragtig!!!

  11. Mei 14, 2010 1:38 nm

    Nadat ek hiedie geskrewe gelees het, ELF se kommentaar gelees het en toe weer die post deurgegaan het, het ek eers selfsugtige denke gehad vanwee die moontlikheid dat die pad vorentoe en jou volgende bestemming dalk mag beteken dat gereelde lesers soos ek blog-loos en boer-loos kan wees. Nie dat ek dink jy sal ooit ophou skryf nie. Gelukkig is daardie gevoellose en baatsugtige gedagtes ontmiddelike vervang met vreugdevolle en kleuryke herinneringe van interessante vertellings en raak observasies in pragtige Afrikaans.

    Na jare van studie in Engels, werk vir Engelse maatskappye tot met my uiteindelike vestiging in Amerika het ek grootendeels my moedertaal van Afrikaans verstoot. Ek kan met opregtheid en in alle eerlikheid sê dat my herontwaaking van skryf in Afrikaans baie te doen het met die ontdekking van die Boer in Ballingskap blog.

    ’n Opregte skrywer en ywerige ontdekker, hoe vlietend sy skoene ook al onder ’n vreemde bed mag staan, raak altyd geheg of neem altyd ’n klein stukkie van die tydelike saam met hom of haar as ’n permanente herinnering van ’n spesifieke tyd en plek. Alhoewel ons nooit Korea kon ervaar het in reuk, klank en vlees soos jy nie, het jy dit tog reggekry om ons mee te sleur in woord en beeld en soms selfs in klank.

    Dankie vir die geselsies van vreugde en hartseer, vir die beskrywings van klanke, kleure en gebeure, vir die geproe en geure van kosse en wyne, vir die lekker lees van omswerweringe en frustrasies van verlore tasse en bittere koues, en, mag ek egoisties wees, dankie vir jou bydra tot my herontdekking van Afrikaans. God bless the road you may have to take.

    • René Boshoff permalink
      Mei 14, 2010 4:58 nm

      Dis mooi (en baie waar) woorde “blougrassies”!

      Dis hoe ons ons Boertjie ken! Ek hou ook maar asem op dat hy nie moet ophou blog as hy terug is in SA nie! Maar ek weet hy sal nie – hy sal ons te veel mis!!🙂

    • Mei 20, 2010 6:45 nm

      Bluegrass, na hierdie komentaar van jou, het ek nie regtig woorde nie. Ek is effe oorbluf. Ek kan ook maar net dankie se vir lesers soos jy. Dit is vir my inspirerend dat ek met my woorde en beelde iets vir my moedertaal kan beteken.

    • September 24, 2010 4:26 vm

      Het dit al gese, Bluegrass en ek se dit weer: Dankie vir hierdie inspirerende kommentaar!

  12. woorde permalink
    Mei 20, 2010 1:31 vm

    Pragtige fotos… mooi beskrywings… dankie!

  13. Mei 21, 2010 7:57 nm

    Goeie dag, ek wil myself net kom voorstel, ek is nuut in die blog-wêreld.

    Elke inloer, kommentaar en ook opbouende kritiek, oor jy wou en nie moes nie, sal baie waardeer word.

    http://andrinie.wordpress.com/

  14. Mei 26, 2010 7:29 nm

    Sjoe BiB, vertel ons bietjie nou van die gevoelente daar noudat N Korea bande met S korea gebreek het?

    • Junie 4, 2010 3:16 vm

      demoerin, dis maar ‘n kwessie van die “big, bad wolf” wat aanmekaar dreig om die Suid-Koreaanse huisie weg te blaas en die 3 varkies wat moet bontstaan. Persoonlik glo ek egter ten diepste dat daar nie oorlog sal wees nie en dat retoriek die hele situasie erger laat klink as wat dit is. Bygese, bly dit gespanne en hoop ‘n mense die Noorde speel nie weer aggressor nie. Want dit klink my die Suide is nou moeg die ander wang gedraai…

      • Junie 4, 2010 2:09 nm

        Dis sad. En altyd is dit maar die mooi land en die gewone man op straat wat ly. Ek hou duime vas dat dit alles net kwaadstook is.

  15. Mei 27, 2010 1:54 vm

    Ek het so pas ‘n artikel gelees oor die moontlike hongersnood in Noord-Korea. – is dit so erg? [die naweek ‘n stuk gesien oor die “sinkende skip”]

  16. Junie 4, 2010 3:18 vm

    Nikita, dit is so erg…die Noorde se burgers kry bitter-bitter swaar, maar die totaal omvattende breinspoeling en propaganda waaraan hulle onderworpe is verhoed burgerlike opstand…vir hoe lank nog, weet ek nie.

  17. Junie 21, 2010 2:18 vm

    Dankie Boer, Jy doen die skrywery en die foto’s so dem goed, ek dink ook daardie koffietafelboek is `n blink idee.
    Iemand soos jy sal altyd op enige plek die mooiste en beste gaan uitsnuffel, afneem em beskryf. Dis pragtig gedoen.
    Kom jy regtig terug na hierdie bemoerde land?
    Miskien het ons jou nodig om weer vir ons die mooi en die goed te kom wys, dis nou as hulle jou nie oor die kop slaan en jou toerusting steel nog voor jy by die lughawe uit is nie.

  18. Junie 24, 2010 6:45 vm

    Ek weet nog nie of ek permanent wil terugkeer nie en dink amper nie so nie. Ek is die heeltyd opsoek na die mooi en die goed hier….en vind dit meestal in die natuur.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: