Skip to content

Die laaste 16

Junie 26, 2010

500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555

Sover was die Wêreldbeker-sokkertoernooi ‘n reuse sukses, baie interessant en vol verrassings. Die gees in Suid-Afrika is ongelooflik en dit is ‘n voorreg vir my om dit te kan meemaak. Die vlae word geswaai en die vuvuzelas word luidkeels geblaas. Almal praat sokker en almal stel belang. Ek het my vuvuzela luidkeels vir Bafana geblaas tot op die laaste en dit was bitter jammer dat hulle skande gemaak het deur Suid-Afrika die enigste gasheerland ooit te maak wat nie kon deurdring na die uitkloprondtes nie. Tydens die 2002 sokkertoernooi (Korea/Japan) het hulle presies dieselfde vertoning gelewer (1 gewen, 1 gelykop en 1 verloor). In retrospek was hulle vertoning 8 jaar terug ‘n baie beter vertoning, aangesien hulle destyds nie tuisveld-voordeel gehad het nie. In hulle eie toernooi, op hulle eie velde was hulle middelmatig en (soos ek reeds genoem het) verdien hulle nie die lof wat die media hulle toeswaai nie.  Maar dit tersyde. Die laaste 16 spanne tree van more af aan om sake uit te spook in valbyl-wedstryde waar daar ‘n wenner moet wees. ‘n Fees van opwindende wedstryde lê voor.

URU1    KOR1

Saterdag, 26 Junie (16:00): Uruguay teen Suid-Korea

Soos ek voorheen voorspel het, vertoon Uruguay bo verwagting goed en is hulle die enigste van 2 spanne wat tot dusver nog nie een, enkele doel afgestaan het nie. Hulle lyk na ‘n span wat moontlik op pad is na ‘n halfeindstryd. My hart sal by my span van Suid-Korea wees, maar my kop sê vir my dat Uruguay net te veel skietgoed het. Suid-Korea kon ook nog nooit voorheen vir Uruguay klop nie.

USA1    GHA1

Saterdag, 26 Junie (20:30): VSA teen Ghana

Ghana het Afrika se eer gered deur die enigste span van die kontinent te word wat kon deurdring na die uitkloprondtes. Die VSA het op die nippertjie deurgedring deur ‘n doel in beseringstyd aan te teken. Hierdie gaan ‘n naelbyter wees. Ek wil-wil Ghana die voordeel van die twyfel gee, maar met ‘n veggees soos die van die VSA, is hierdie ‘n baie moeilike uitslag om te voorspel. Hierdie twee spanne het nog net eenkeer vantevore kragte gemeet en toe was Ghana koning.

ENG1    GER1 

Sondag, 27 Junie (16:00): Engeland teen Duitsland

Nou-ja, niemand het gedink hierdie twee ou vyande gaan reeds in die Rondte van 16 mekaar die stryd aansê nie. Ekself het vermoed dat hulle dalk in die halfeindstryd sou speel. Voor die toernooi, het ek gereken Engeland is een van die groot gunstelinge, maar hulle powere spel tot dusver, bewys die teendeel. Met die nodige dissipline, struktuur en opportunisme, behoort Duitsland die Engelse die loef af te steek, maar maklik gaan dit nie wees nie. Nog ‘n naelbyter.

   ARG1    MEX1

Sondag, 27 Junie (20:30): Meksiko teen Argintinië

Argentinië het my tot dusver verbaas. Hulle is een van slegs twee spanne wat al hul wedstryde kon wen en op huidige vorm, gaan dit baie moeilik wees vir Meksiko om die Argentyne te klop. Dit gaan ‘n lewendige wedstryd wees, maar ek dink Argentinië het net te veel vernuf en skietgoed.

NED1     SVK1 

Maandag, 28 Junie (16:00): Slowakye teen Nederland

Sover is Nederland baie bestendig en het hulle teenstanders oorkom met geduldige, gestruktureerde spel, sonder enige flambojante vuurwerke. Hulle het ook al drie hul wedstryde gewen. Slowakye het met ongelooflike hart gespeel en verras om die uitkloprondtes te haal. Dis ook ‘n plesier om Slowakye te sien speel. Hier kan ‘n hele paar doele in hierdie wedstryd wees, maar ek dink Nederland behoort die pyp te rook. Dit gaan egter baie naby wees. In hulle vorige nege kragmetings was Slowakye ses keer baas.

BRA1     CHI1

Maandag, 28 Junie (20:30): Brasilië teen Chili

Die Brasiliane speel van die beste sokker in die toernooi, terwyl die Chilene reeds aangetoon het dat hulle vir niemand hoef terug te staan nie. Op papier het Brasilië net te veel talent vir Chili, maar sokkerwedstryde word nie op papier gespeel nie. Ek voorspel ‘n wedstryd wat baie, baie naby gaan wees. Dit gaan ‘n skok wees as Brasilië verloor, maar dit sal my nie verbaas as die Chilene te regkry nie. Hulle sal egter veel meer gedissiplineerd moet speel as in hul ander wedstryde, as hulle dit wil vermag. Uit 65 vorige kragmetings, kon Chili slegs sewe keer wen.

 POR1    ESP1

Dinsdag, 29 Junie (20:30: Portugal teen Spanje

Portugal se opwindende spel tot dusver het my verbaas en Spanje is stadigaan besig om hulle ritme te vind. Die wedstryd gaan soos ‘n eindstryd in die kleine wees. Portugal het nog nie ‘n enkele doel afgestaan nie, maar dis onmoontlik om ‘n wenner te voorspel, want die spanne is bitter gelyk. Definitief ‘n wedstryd om te kyk. Hierdie wedstryd gaan jou op die punt van jou stoel hou. En vir die rekord: ek skree vir Spanje. Uit die vorige 32 kragmetings, kon Portugal vir Spanje slegs vyf keer troef.

 PAR1    JPN1

Dinsdag, 29 Junie (16:00): Paraguay teen Japan

Voorheen sou ek gese het dat Paraguay (wat duidelik op vorm is) maklik met Japan sal afreken. Japan se vertoning teen Denemarke en verrassende kwalifisering vir die Rondte van 16, het my egter van gedagte laat verander. Dit gaan ‘n riller wees en dis nie uitgesluit dat Japan, met die tipe spel wat hulle tans lewer, ook vir Paraguay kan skok nie. Hulle het nog net drie keer vantevore teen mekaar gespeel, waarvan Paraguay twee gewen het.

Ek sien baie uit na hierdie smorgasbord van sokker wat nou voorlê. Skop jou skoene uit, skink ‘n glasie wyn en blaas daai vuvuzela!!!!

500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555500px-2010 FIFA World Cup logo555

10 Kommentaar leave one →
  1. Junie 26, 2010 2:06 nm

    Is jy tans hier in onse land of blaas jy jou vuvuzela van oor die waters? As jy hier is moet ek jou dalk opspoor sodat jy my Sommelier kan teken:mrgreen: Die volgende klompie wedstryde gaan seker almal naelbyters wees en ek sal nie eers probeer raai wie gaan wen nie. Ek persoonlike hou duim vas vir Uruguay.

  2. Junie 26, 2010 8:32 nm

    Boer, kyk, dis seker anders as jy “daar” is en jy tussen almal met jou vuvu is en dit blaas. Met alle respek, ek geniet glad nie die kyk van die sokker op tv met daardie eentonige gehum nie. Dit spoil letterlik als. Jy hoor nie die skare as daar ‘n goal is nie, daardie gejuig verleen tog “iets” aan die game. Jy hoor nie die “aaaahhh” as daar ‘n goal gemis word nie. Dit als maak die spel “lewendig” vir die kyker en ag, ek is seker ‘n moaner, maar ek hou net niks van daardie humming-geluid nie. Dis eentonig en klink nie goed op die tv nie. Ek voel heeltyd ek wil die kanaal net oorinstel om daarvan ontslae te raak. Ek moet darem se, op Loftus is daar heelwat minder [gisteraand se spel bv] en was dit so MOOI!!! om die mense te hoor SING! Blaas jou vuvu – en geniet dit!🙂

  3. Junie 27, 2010 5:03 vm

    Ek kan nie wag vir 3 Julie en Groenpunt Stadion nie!

  4. Junie 27, 2010 7:06 nm

    Ai, ek is so teleurgesteld dat Korea dit nie gemaak het nie! Hulle het so goed gespeel, maar soveel kanse vermors. More gaan ‘n lang depressiewe dag by die werk wees.

  5. Laurence permalink
    Junie 29, 2010 1:54 vm

    Ek wil nie die onderwerp sleep in die rigting van ‘n vuvu debat nie, maar ek het Sondag met iemand gesels wat ‘n wedstryd in Kaapstad bygewoon het en hy rapporteer dat die vuvu baie minder steurend is vir die toeskouers. Hy het die teorie voorgestel dat die TV mikrofone almal in die middel van die veld sit waarheen al die vuvus blaas, terwyl as jy op die pawiljoen sit blaas die rondom jou weg en dus is dit glad nie so erg nie. Ek kry die idee dat die vuvus ‘n SA identiteit (signature) gegee het en dat dit eintlik baie positief is.

    Terug na die toernooi self: Ek is baie bly dat ek nie vir enige spesifieke span duimvas hou nie, want my senuwees sou dit nie kon hanteer nie. Die spanning is reeds oorgenoeg. Vir my tot dusver het die toernooi ‘n baie positiewe invloed – dit is oorwegend positief (baie) en dit kan vir die Suid Afrikaanse psige nie in geld getel word nie. Die feit dat Bafana se sokker standaard nie daarbo is nie, is eintlik ‘n bysaak – trouens hulle se dieselfde van Frankryk, Italie en nou Engeland so ten minste is ons in goeie geselskap!

  6. Junie 29, 2010 2:26 vm

    Ek wou die VSA wen, maar Ghana was die sterker span. Die wedstryd was regtig goed! Duitsland teen Engeland was nie so goed nie. Ek voel jammer vir Engeland.

  7. Junie 29, 2010 12:56 nm

    Uitstekende toernooi tot dusver. Amper verslawend! Wens eintlik ek kon in SA gewees het om deel te geneem het aan die groot party.

  8. Junie 30, 2010 5:18 vm

    Yay, bly om weer lewe hier te sien! Ek HET begin wonder of jy dalk die wêreldbeker hier bywoon.

    Dis regtig ongelooflik hoe die gees mens gevang het, selfs vir my wat nie eintlik in sport belang stel nie. Goed, ek het nog nie een wedstryd heel van voor tot agter gesit en kyk nie, maar het darem by die werk die begin van die heel eerste wedstryd bygewoon en saam met my kollegas ‘n vuvuzela geblaas – ek dink ek kan beaam wat Laurence sê – al was dit nou nie in ‘n stadion nie. Selfs ook my eie vlag vir die geleentheid gemaak.

    Dis net vir my jammer om nou agter te kom dat sokker nog nooit wakkergeskrik het wat tegnologie aanbetref nie, want nou blyk dit dat Engeland dalk kon wen en mens begin oor Bafana Bafana se uitslae ook wonder.

    Ek is darem net baie bly oor die lof wat S.A. kry oor die aanbieding van die aanbieding van die toernooi – ek dink dit alles, ook met die groot rugby wat in Soweto gespeel is, doen net wondere vir ons nasietrots.

  9. Junie 30, 2010 8:43 nm

    Sover het ek meeste van die wedstryde gekyk en ek moet sê ek geniet al die opwinding!! Jinne, wat gaan ons met onsself aanvang as die sokker verby is?? Ek sien baie uit na die wedstryd tussen Brasilië en Chili!

  10. Julie 1, 2010 3:41 nm

    Ek het nog maar min sokker gekyk in my lewe, maar saans maak ons ‘n vuurtjie in die stofie, eet ‘n peuseldingetjie en kyk sokker! Die kinders raak gewoonlik op die bank aan die slaap. Pla my maar min dat Bafana nie deurgedring het nie – ek het nie verwag dat hulle sal nie. Nogtans ‘n lekker ondervinding om mee te maak, al is dit op TV.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: