Slaan oor na inhoud

Met dank aan ABSA bank

September 24, 2010

Ek is baie dankbaar teenoor ABSA bank, met spesifieke vermelding van Louis von Zeuner en sy mede kripvreters kruipers, wat my uit my blogslaap gewek het.

Kameraad Meneer Von Zeuner het ‘n wyle terug dit goed gedink (onder aansporing van Baas Ramos?) om die Suid-Afrikaanse Rugbyraad (SARU) aan te spreek oor die gebrek aan “transformasie” (demografiese determinisme) in die provinsiale rugbyspanne wat aan die Curriebeker-reeks deelneem. In hierdie inmenging van ABSA was daar subtiel, maar tog ferm, die bedekte dreigement dat ABSA sy borgskap van die Curriebeker-reeks sal heroorweeg.

Nou kyk, ‘n besigheid het die volste reg om borgskappe te heroorweeg of terug te trek, sou die besigheid se beeld skade ly deur die optrede of standpunt van die span of persoon wat geborg word. In hierdie verband dien General Motors se kansellering van Tiger Woods se borgskap weens laasgenoemde se sekskapades, as goeie voorbeeld. Enige besigheid het ‘n beeld om na om te sien. Wat egter onheilspellend is, is wanneer ‘n besigheid bloot uit politieke gedienstigheid ‘n mondstuk raak van die regerende party.

Hoewel ABSA, as besigheidsentiteit, die volste reg het om sy eie borgskappe te oordeel en te heroorweeg, glo ek nie ABSA moet homself bruikbaar stel as instrument van die ANC regering om laasgenoemde se ras-behepte beleid in die openbaar te bevorder nie. Bloot gesien as geisoleerde voorval, lyk dit miskien nie so ernstig nie, maar as mens nou hierdie voorval in tandem lees met vandag se koerant, raak die tendens kommerwekkend. Ek haal aan uit vandag se Burger:

Pres. Jacob Zuma het gister hier verklaar die ANC en Suid-Afrika se groot besighede is “saam” en het ’n “wonderlike verhouding”. “Politiek en sake loop saam. Dit gaan báie goed wanneer besigheid nader aan die regerende party beweeg,” het Zuma gesê…

Ek sou graag wou glo dat President Zuma verkeerd aangehaal is, maar ek is bevrees dit is heel moontlik nie die geval nie. Hierdie is sekerlik een van die mees kommerwekkende uitsprake wat ek al ooit uit Zuma se mond gehoor het.

Vir groot besighede gaan dit slegs oor geld en niks, maar niks anders nie. Selfs al sou dit beteken hulle moet met die duiwel self in die bed klim, sal dit hulle min skeel. Want, sien, daar is geen standhoudende beginsel of morele kode nie. Daar word bloot gevry na wie ookal die politieke mag het om sodoende die bes moontlike finansiele gewin te verseker vir die Von Zeuners van hierdie wereld. Die onderduimse geheulery was aan die orde van die dag in die ou apartheidsdae, toe groot besighede maar te gretig was om op goeie voet met die Nasionale Party te wees. Verder terug in die geskiedenis sien mens presies dieselfde patroon in Nazi-Duitsland en meer resent in George W Bush se korporatiewe Amerika.  Sou mens verder soek, sal mens dit sekerlik in verskeie ander lande vind, soos oa Putin se Rusland.

Lank reeds het die Weste besluit om ‘n duidelike lyn te trek tussen kerk en staat en elkeen as afsonderlike entiteit te erken. Vandag word dit redelik algemeen aanvaar as ‘n nodige demokratiese beginsel. Nou wanneer tog gaan iemand uiteindelik erken dat die onsmaaklike geheulery tussen die staat en die groot besighede ‘n euwel is wat demokrasie afwater? Die volmaakte fusie van mag en geld, sonder enige rigtinggewende beginsels, verantwoordbaarheid of moraliteit. Ons het dit reeds in Suid-Afrika se groot wapentransaksies gesien en sedertdien keer op keer op keer, met die mees onlangse voorbeeld die van ArcelorMittal. Solank die rande rol, is groot besighede bereid om te kruip voor die ANC regering en gebruik te word as handige mondstuk om die ANC regering se beleid van demografiese determinisme te implementeer en te volvloer.

Hierdie onheilige fusie tussen mag en geld maak my nie soseer kwaad, as wat dit my hartseer maak nie. Dit doen afbreuk aan demokrasie en skep ‘n elite-klas wat mekaar warmvry en in werklikheid fokkol (ja, ek het dit geskryf, julle lees reg!) omgee vir sosiale geregtigheid, gekleurde rugbyspelers, die omgewing, die agtergeblewenes, die armes en die gewone sukkelaar op straat wat dag na dag net probeer oorleef. Dit gaan oor mag en rykdom en het in der waarheid bitter, bitter min met rugby of enigiets anders te make.

Ek is vanaand net oor twee dinge bly, nl. 1) dat ek nie ‘n ABSA-rekeninghouer is nie en 2) dat ek nie Louis van Zeuner is wat elke oggend in die spieël homself in die oë moet kyk nie.

13 Kommentaar leave one →
  1. Adam permalink
    September 24, 2010 4:03 vm

    Verstrak het ek nou hier gesit en lees. Ek dink dis komerwekkend, ek dink dis grensend aan komunisme.

  2. September 24, 2010 4:08 vm

    Ek het op Twitter so pas ook mense se negatiewe kommentaar gelees, baie kommerwekkend en manlief s’n is by Absa. Absa gaan beslis kliente verloop…dit hoop ek veral.

  3. September 24, 2010 4:50 vm

    Fokkit 😈 dis lekker om jou weer raak te lees. Al is dit dan nou ook oor so ‘n kommerwekkende onderwerp. Ek is al JARE lank anti-ABSA.

  4. September 24, 2010 5:43 nm

    “Once business gets closer to a ruling party, you must know that things are going very well in the country” – Jacob Zuma

    http://www.timeslive.co.za/local/article672601.ece/Business-and-ANC-like-peas-in-a-pod—Zuma

    Wat ABSA betref, dis ‘n voortsetting van Steve Booysen se dinge – jy sal nog dit onthou, die storie met die PSL.

    • Oktober 2, 2010 1:09 vm

      Ek onthou die Booysen-storie.
      Maar terselfdertyd verkeer ek onder geen illusie dat ander banke en besighede maar nie dieselfde spel speel nie.

  5. September 26, 2010 9:28 nm

    “Fascism should more appropriately be called Corporatism because it is a merger of state and corporate power” — Benito Mussolini.

    Dis nie Kommunisme wat ons hier sien nie, nes wat tans in Amerika gebeur nie Sosialisme onder Obama is nie. Dis inderdaad Fascisme waar reuse besighede en die politieke elite ‘n oligargie smee, die middelklas uitwis en die armes steeds armer word.

    Ongelukkig is ek ‘n ABSA-kliënt. Eens ek weer terug in Suid-Afrika is mag ek dit moontlik verander.

    • Oktober 2, 2010 1:07 vm

      Skryfblok, ek kan maar net “Amen!” se. En om net so ietsie by te voeg uit The Hitler Conspiracies van Prof David Welch:

      “In his final drive for power, Hitler had considerable backing from the German business world. German business in the years 1930-33 provided the Nazis with millions of marks with which to pay for the day-to-day running of the Party and for election expenses.”

  6. September 27, 2010 4:59 vm

    In Rapport is vandag breedvoerig berig oor waarom sokker nie oor dieselfde kam geskeer mag word nie. Hulle transformeer glo al van iets soos Jan v Riebeeck se tyd as ek reg verstaan! Nou wonder ek, is ek kleurblind of was ons spannetjie nou annerdag op die WB totaal swart?

    • Oktober 2, 2010 1:20 vm

      Die rasgedrewe ideologie van demografiese determinisme ontken in totaliteit dat enige bevolkingsgroepe/etniese groepe vrywilliglik sekere sportsoorte bo ander verkies of uitblink op sekere gebiede en ander nie. So binne hierdie raamwerk is dit inderdaad vreemd dat ons sokkerspanne oorwegend uit Afrikane bestaan.

  7. shiningfire permalink
    September 28, 2010 6:04 nm

    ek is nog lief vir ABSA! lol 😉

  8. Oktober 20, 2010 11:26 vm

    Die sokker span se beeld was net so donker soos sy spel maar geen remoer is gehoor oor die gebrek aan bleek gesigte nie. Rugby is kultureel wit in Suid Afrika. Dit beteken nie swart mense kan nie suksesvol wees in rugby nie, maar dit beteken ook nie spanne moet rasregstellend gekies word om die professie en spel te benadeel nie. Maar dis juis daarom, die wit-heid, dat rugby so ‘n doring in die vlees van die ANC sal bly.

    BTW welkom terug in die blog wereld!

Trackbacks

  1. Sewe maande in die Suidland « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar op Skryfblok Kanselleer antwoord