Skip to content

Tussen Ryslande, Berge en ‘n Bevrore Rivier

Januarie 26, 2011

Ek was bevoorreg om vir ‘n hele paar jaar in die baie historiese stad, Gyeongju, te woon, maar met my onlangse terugkeer na Korea, het ek verhuis na ‘n klein plattelandse dorpie, genaamd Uiryeong. Maar moenie eers die moeite doen om hierdie dorpie op Google Earth te gaan soek nie. Dis klein – in Koreaanse terme baie klein, met ‘n inwonertal van omtrent 20 000 mense. Hierdie is 100% platteland! Maar moet ook nou nie ‘n sjarmante Karoo-of Bolandse dorpie verwag nie. Die Koreaanse platteland is nie die Suid-Afrikaanse platteland nie.

P1202772

In Suid-Afrika dui die term “platteland” op ‘n sekere mate van afsondering met die onderliggende aanname dat mens “ver van alles is”. Wel, in Korea is mens nooit “ver van alles” nie, want die “alles” is oral. Dus, al is jy in die platteland, is jy maar net so ‘n halfuur van die naaste groot stad en 5 minute vanaf die volgende plattelandse dorpie. Want tussen die berge, lê die plattelandse dorpies geryg soos krale aan ‘n halssnoer. Ongeveer 70% van Korea is beberg, so die mense het geen ander keuse as om op mekaar te woon nie. Mens moet besef dat Suid-Korea 10 keer kleiner is as Suid-Afrika, maar met dieselfde bevolkingstal as Suid-Afrika.

P1022605

Nou wat sal ek sê van Uiryeong? Dit is maar ‘n tipiese Koreaanse plattelandse dorpie waar moderne Korea nog nie heeltemal inslag gevind het nie. Die nedersetting lê genestel tussen die berge, met die rivier wat tussendeur kronkel. Dus, opsommend, is dit ‘n rivier (wat natuurlik hierdie tyd van die jaar solied bevrore is), berge en ryslande. Ek glo dat dit pragtig gaan wees in die somer met al die groen landerye, maar tans is dit lelik, vaal en koud, sonder eers ‘n bietjie sneeu vir afwisseling.

P1202751PC182327

P1202754PC182323

Dis ‘n boerdery gemeenskap, met plase wat die dorp omring. Plastiektonnels (vir die kweek van groente) staan soos bo-maanse strukture die wêreld vol, soms so ver as die oog kan sien. In die dorpie self, sien mens nog talle beelde van ou Korea, met gedateerde en soms vervalle huisies wat ‘n groot deel van die dorp uitmaak. Oral is daar hierdie nou stegies tussen die ou huise (vreeslik op mekaar), wat nogal herinner aan die hutongs van ou Beijing. Vele van die huisies sou hulle plek met trots kon volstaan in ‘n Suid-Afrikaanse township!

P1202779P1202788

P1202776P1202765

Maar terselfdertyd staan die relatief moderne en oënskynlik duurder en groter huise sy aan sy met die afgeleefde ou Koreaanse huisies. Nuwe huise en woonstelle word orals opgerig en dui ontwikkeling aan. Nou moet ek net se dat die effe arrige gevoel van die ou huisies en stegies mens nie moet flous nie. Hier is geen misdaad nie en oor die algemeen is dit ordentlike mense wat ‘n bestaan maak, maar net effe armer is of nie omgee oor hoe dit lyk waar hulle bly nie. Let ook op hoe skoon dit is. Hoewel nie regtig ‘n lus vir die oog, maak al die stegies en huisies die dorpie interessant en skep goeie foto-geleenthede.

P1082708P1202760

P1202798P1202787

P1022616

Mens voel darem nie vasgevang hier nie en soos meeste plekke in Korea is daar oorgenoeg geleentheid vir stap en verken. As jy vars lug of oefening soek, stap jy langs die rivier af en verwonder jou aan al die kinders se pret op die spierwit-bevrore water. Dan stap jy oor die baie imposante en moderne loopbrug oor die rivier. Die brug is indrukwekkend en dui weer eens aan hoe die Koreane die beperkte ontspanningspasie wat hulle het, so goed as moontlik benut ter voordeel van die burgers. Dis ‘n brug wat relatief onlangs gebou is, is ook ‘n teken van die voortdurende modernisering en ontwikkeling van die platteland.

P1022533P1022606

P1022613

P1022594P1022601

Aan die anderkant van die brug, pak jy die styl paadjie teen die berg uit. Jy kom af op die gebruiklike Boeddhistiese tempel en verder op die grasgrafte, wat so ‘n integrale deel van Korea se geskiedenis is. Dan al die pad op na die klein pawiljoentjie bo-op die berg vanwaar mens kan afkyk op Uiryeong en die ryslande. Daar kan mens sit in die doodse stilte en na die voëllewe luister. Tydens my eerste tog teen die berg op, het ek ‘n nuwe voëlspesie gewaar, wat helderkleurig uitgestaan het tussen die vaalkaal winterbome. Mens kan ook verder deur die berg stap om nog te verken, sou jou energievlakke dit toelaat.

P1212811P1212819

P1212832P1212829

Eintlik besef ek nou, daar is nog so baie wat ek oor Uiryeong kan skryf. Ek kan nog vertel van Generaal Gwak Jae Woo se heroïese militêre dade; van Uiryeong se jaarlikse toutrek-kompetisie wat die grootste tou ter wêreld gebruik; van Uiryeong se tradisionele kosdisse soos mangeaetteok en seogogi gukbap en van die tradisionele bulgevegte in Uiryeong se arena. Die dorpie spog ook dat hulle die lekkerste waatlemoene suid van die 38ste parallel kweek, maar daarvoor sal ek moet wag tot die somer. Wat my laat dink, hier is selfs ‘n waatlemoen-museum wat ek kan besoek!

P1212803

Veral in Korea, het ek geleer dat dit nie gaan oor waar jy woon nie, maar hoe gretig jy is om te ontdek. Na ‘n paar jaar in die vreemde, raak dit moeilik om jou aanvanklike verwondering en nuuskierigheid te behou. Daarom raak dit ‘n uitdaging om elke keer met nuwe oë te kyk en nog moeiliker om nuwe dinge te ontdek wat jy nog nie gesien of ervaar het nie. En wanneer jy op ‘n plattelandse plekkie soos Uiryeong land, raak die uitdaging des te groter. Maar dis die moeite werd om aan te hou te verken, te ondersoek, te ontdek en mettertyd te leer dat elke klein plekkie – hoe onaansienlik ook al – wel iets het om te bied.

Advertisements
22 Kommentaar leave one →
  1. Januarie 27, 2011 3:27 vm

    Op die ou einde van die dag bied hierdie klein plattelandse dorpies baie meer itv ontdekking as die groot stede. Ek verlang baie terug na Korea, maar ten minste kan ek hier kom lees as die verlang te groot word.
    Dankie vir die deel…

  2. Januarie 27, 2011 5:32 vm

    Daardie een stegie met die klipmure en die hout huisie in Oosterse styl lyk so middel-eeus. Lekker! Se my, die plastiektonnels, verwarm en verlig hule dit vir winter groeiery of is dit net vir vroeg lente om die plantjies ‘n headstart te gee vir die somer?

    • Januarie 28, 2011 12:02 vm

      Ja, dele van ou Korea kan inderdaad Middeleeus voorkom. Ek is nie 100% seker oor die plastiektonnels nie, maar soos ek dit verstaan doen hulle dit spesifiek vir die groei van groente in die winter.

  3. Januarie 27, 2011 2:31 nm

    Baie interessant!

  4. ShiningFire permalink
    Januarie 27, 2011 3:53 nm

    Nuuskierig om te sien hoe dit sal lyk in die lente/somer. Dis mos lente in April, ne Boer? 😉

  5. Januarie 27, 2011 5:44 nm

    Ek sien nie rommel nie. Kyk ek verkeerd, of sien ek nie rommel nie? Deesdae in SA, al ry jy waar, is daar pampiere en blikke oral. Maak my hartsnare pap.

    • Januarie 28, 2011 12:04 vm

      Jy kyk nie verkeerd nie, Skoor….daar is nie rommel nie.

      Weer eens vir daardie lekker wyne wat jy my gegee tydens my besoek aan SA. Het dit baie waardeer en geniet! 🙂

  6. Januarie 29, 2011 12:31 vm

    Sjoe, dis interessant!!

  7. Januarie 29, 2011 5:41 nm

    Nou is ek so nuuskierig dat ek eers ‘n bietjie Korea toe gaan toer op Google Earth.

  8. Januarie 29, 2011 6:11 nm

    Uiryeong is toe op GE te vinde en dit lyk werklik na ‘n interessante omgewing (net jammer dat dit bekendheid verwerf het deur iemand soos Woo Bum-kon). Ek sien wat jy bedoel met bergagtig en dat die dorpies so naby aan mekaar is. Ek dink nogal ek sal lekker daar kan leef siende dat ek uit en uit ‘n berg-mens is.

  9. Thea permalink
    Februarie 3, 2011 11:03 nm

    Baie interessant om ook bietjie meer oor die lewe op die Koreaanse platteland te leer. Ek sien sommer al klaar dat dit ‘n lekker ontdekkingsreis gaan wees om die dorpie en omgewing verder deur jou oë te leer ken.

  10. Februarie 7, 2011 9:25 vm

    Welkom terug in jou tuisland nr.2!

Trackbacks

  1. Wie is die man op die perd? « Boer in Ballingskap
  2. Die Bodhisattva van Medeleye, bontkleur lanterns en ‘n gevoel van vrede « Boer in Ballingskap
  3. Vanaand vas ek « Boer in Ballingskap
  4. Bul teen Bul « Boer in Ballingskap
  5. Oor feestelikhede en ‘n reuse tou « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: