Skip to content

‘n Kykie na die komende Krieket Wêreldbeker

Februarie 15, 2011

2011-world-cup-cricket-logo2011-world-cup-cricket-logo2011-world-cup-cricket-logo2011-world-cup-cricket-logo2011-world-cup-cricket-logo

slide0001 image004

Verlede jaar kon sportgeesdriftiges hulself verlustig in die Sokker Wêreldbeker. Vanjaar is dit die beurt van Krieket en Rugby. Om die waarheid te sê, die Krieket Wêreldbeker is op ons en begin reeds komende Saterdag met die openingswedstryd tussen Indië en Bangladesj. Die skouspel word gesamentlik aangebied deur Indië, Sri Lanka en Bangladesj en sal tot 2 April duur, wanneer die eindstryd in Moembaai plaasvind.

Anders as met sokker, is daar slegs ‘n handjievol spanne wat ‘n realistiese kans staan om die Krieket Wêreldbeker te wen. Daar neem soveel as 14 spanne deel, maar slegs 8 van die spanne staan werklik ‘n kans, wyl slegs 9 spanne (soos in bg diagram aangedui) al ooit so ver as die halfeindstryd kon vorder. Maar kom ons kyk na die spanne en hulle kanse:

GROEP A

australia

Australië, al vir baie jare ‘n krieketkrag, is die mees suksesvolste span in Wêreldbeker-geskiedenis. Die span het die wêreldbeker al ‘n allemintige vier keer verower (2 keer meer as enige ander span) en het die ondervinding van 6 eindstryde en 6 halfeindstryde. Hulle is ook tans eerste op die Internasionale Krieketraad (IKR) se Eendag-ranglys. Ek beskou Australië egter nie as ‘n noodwendige gunsteling nie en ek glo nie die Aussies sal daarin slaag om vir ‘n ongelooflike vierde agtereenvolgende keer die beker te verower nie. Hulle het ook ‘n terugslag beleef toe Mike Hussey weens ‘n besering hom aan die span moes onttrek. Maar speel, gaan die Aussies speel. Ricky Ponting kan steeds ‘n faktor wees met die kolf, saam met Michael Clarke, Cameron White en die veelsydige en talentvolle Shane Watson. Met bal in die hand kan Shaun Tait, Brett Lee en Doug Bollinger gevaarlik wees, maar mens wonder of die kolfblaaie in die gasheerlande hulle boulwerk gaan help. Australië gaan moontlik eerste of tweede in die groep eindig, maar kan verrassend reeds voor die halfeindstryd in die stof byt.

srilankaSri Lanka was verrassend die kampioene in 1996, maar as Sri Lanka vanjaar as kampioen gekroon word, kan daar min verbasing wees. Sedert daardie eerste glorie, het Sri Lanka hulself gevestig as een van die top eendagspanne in internasionale krieket. Hoewel tans 3de op die IKR se ranglys, maak die kwaliteit van Sri Lanka se spelers, saam met die feit dat hulle in bekende toestande speel, hulle een van die gunstelinge. Ek dink ook hulle kan eerste in hierdie groep eindig. Kumar Sangakarra is die inspirerende kaptein en met die kolf is Mahela Jayawardene en Tillakaratne Dilshan lopievrate. Voeg die legendariese draaibouler, Muttiah Muralitharan, Ajantha Mendis en Nuwan Kulasekara by en jy het ‘n resep vir Wêreldbeker-sukses. In Wêreldbeker krieket het hulle altesaam in 2 eindstryde en in 3 halfeindstryde gespeel.

newzealandNieu-Seeland is die aspoestertjie van Wêreldbeker Krieket. Nieu-Seeland het reeds in 5 halfeindstryde gespeel, maar kon nog nooit so ver as die eindstryd vorder nie. Elke toernooi gee die Swart Pette uitstekend rekening van hulself en sorg altyd vir ‘n verrassing of twee. Dis egter elke keer oor die voorlaaste hekkie wat hulle struikel. Ek glo hulle sal weer mededingend wees, maar dis te betwyfel of hulle so ver as die halfeindstryd sal vorder. Die veelsydige speler en veteraan, Daniel Vettori, is die kaptein wat altyd sy kant bring en verder sal Nieu-Seeland swaar steun op die kolf-en boulwerk van die Samoaan Ross Taylor en paaltjiewagter Brendon McCullum. Met die bal sal vertrou word op Kyle Mills en die ervare Jacob Oram. Nieu-Seeland is tans 7de op die IKR se ranglys en ek glo nie hulle posisie gaan veel verbeter nie.

pakistanArme Pakistan. Agv politieke onstabiliteit en ‘n voortslepende oorlog met ekstremiste, is die land die voorreg ontneem om die Wêreldbeker aan te bied. Boonop is die krieketspan self voete in die lug agv die skorsing van sleutelspelers weens wedstrydknoeiery vroeg voor die Wêreldbeker. Die span se vorm die afgelope paar seisoene was nie op standaard nie en dit wil voorkom of die voormalige kampioene die pad byster geraak het. Hulle het steeds die spelers in Younis Khan, Shahid Afridi, Shoaib Akhtar, Abdul Razzaq en die Akmal-broers (Kamran en Umar). Ondanks hulle ervaring (2 eindstryde en 5 halfeindstryde) sal ek verbaas wees om hulle vanjaar in die halfeind te sien. Hulle is tans in die 6de posisie op die IKR-ranglys.

log kenyaKenia is ‘n span wat al geruime tyd baie goeie vordering maak in internasionale krieket en in die 2007 Wêreldbeker het hulle vriend en vyand verras deur na die halfeindstryd deur te dring. Vanjaar gaan hulle eerste doel wees om vanuit die groepfase te kwalifiseer, indien hulle Pakistan of dalk Nieu-Seeland in die stof kan laat byt. Die manne gaan hulle hart uitspeel, maar ek glo nie in die sub-kontinent se speeltoestande sal hulle weer die halfeind haal nie. Hulle is tans heel laaste op die IKR se ranglys nie en sal op ervare spelers soos Steve Tikolo en Thomas Odoyo moet vertrou om te sorg dat hulle nie in die groepfase vasval nie.

zimbabweZimbabwe is bekend vir die verrassings wat hulle al in Wêreldbeker Krieket gelewer het. Verseker sal die span hulle spreekwoordelike hart uitspeel en dit nie maklik maak vir die ander spanne nie, maar enige vordering na die kwarteindstryd is wensdenkery, veral met Kenia ook in hierdie groep. Hulle het goeie spelers in kaptein Elton Chigumbura, Charles Coventry, Brendan Taylor, paaltjiewagter/kolwer Tatenda Taibu en Ray Price met die bal, maar ek glo nie hulle gaan hond-haaraf maak nie. Zimbabwe is tans 11de op die IKR ranglys.

canadaWat is ‘n lekker Afrikaanse woord vir “whipping boys”? Kanada word nie op die IKR se ranglys aangedui nie en hoort glad nie in hierdie geselskap nie. Hulle deelname bied dalk die geleentheid vir nuwe rekords wat teen hulle opgestel gaan word. Glo dit, as jy wil, maar hierdie is reeds hulle 4de Wêreldbeker! Hulle kon egter nog net een wedstryd wen in hulle vorige 3 deelnames. Ek glo nie die statistiek gaan verander nie. Hulle sterspeler is die kolwer en deeltydse draaibalbouler, John Davison.

Wedstryde om nie te mis:

  • 23 Februarie: Kenia vs Pakistan
  • 25 Februarie: Australië vs Nieu-Seeland
  • 5 Maart: Australië vs Sri Lanka
  • 8 Maart: Nieu-Seeland vs Pakistan
  • 18 Maart: Sri Lanka vs Nieu-Seeland

GROEP B

indiaSachin Tendulkar, Sachin Tendulkar, Sachin Tendulkar. Hoef ek meer te sê? Ja, ek moet seker. Indië sit met, argumenteerbaar, die beste kolwer van alle tye in hulle midde. Hy is op vorm en ‘n inspirasie vir die span. O, ja, maar dan vergeet ek van ander uitstekende spelers, onder wie Virat Kohli, Virender Sehwag, Yuvraj Singh en die boulers Harbhajan Singh en Zaheer Khan. Dan is daar die uitgeslape Mahendar Dhoni as sterkolwer, paaltjiewagter en kaptein. En Gary Kirsten wat besig is om diep spore as afrigter te trap. O ja! Daar’s ook die bekende speeltoestande en die fanatiese tuisskare. En hulle is tans in die nommer 2 posisie op die IKR-ranglys vir eendagwedstryde en in die eerste posisie vir meerdaagse toetskrieket. Kyk, druk gaan hierdie manne hê, maar saam met miljoene Indiese ondersteuners gaan ek verbaas wees as dit nie Indië is wat die trofee op 2 April omhoog hou nie. Indië was eenkeer vantevore die kampioen en het die ondervinding van 2 eindstryde en 4 halfeindstryde.

southafricaSoos met Nieu-Seeland in die Rugby Wêreldbeker, het Suid-Afrika se Proteas ongelukkig in die Krieket Wêreldbeker die naam van “chokers” gekry. Mens kan maar net na die diagram aan die begin van die inskrywing loer om te sien dat die Proteas sekerlik die onderpresteerders van Wêreldbeker Krieket genoem kan word. Vir ‘n span wat deurgaans onder die top spanne in eendagkrieket is, is dit haas ondenkbaar dat Suid-Afrika, ondanks 3 pogings, nog nooit die eindstryd van die skouspel kon haal nie, wat nog te se die trofee huis toe neem. Dit was al amper, daar was al drama op drama, maar elke keer het Suid-Afrika nog gestruikel. Kan dit vanjaar anders wees? Die Proteas het ‘n goeie span gebalanseer tussen jeug en ervaring. Daar is die ervare kaptein, Graeme Smith en sy breë kolf, daar is die soliede Jacques Kallis wat, soos wyn, net beter word met die ouderdom. Met die kolf kan Suid-Afrika nie vir beter vra as die uitstekende Hashim Amla en AB de Villiers nie. Met die bal is Dale Steyn in ‘n klas van sy eie. Lonwabo Tsotobe is besig is om net beter en beter te boul en die veelsydige Morne Morkel bly ‘n faktor. Faf du Plessis is relatief onervare, maar sy talent onbesproke en ek dink Corrie van Zyl is ‘n onderskatte afrigter. Niks sal my groter genot verskaf as Suid-Afrika die Wêreldbeker huis toe neem nie, maar as hulle net hierdie keer darem die eindstryd kan haal, is ek reeds tevrede. Dit gaan egter moeilik wees. Die Proteas is tans 4de op die IKR-ranglys.

englandEngeland het ‘n ervare en soliede span en dit lyk of hulle die regte tyd op vorm is om ‘n impak in die Wêreldbeker te maak. Hulle was reeds betrokke in 5 halfeindstryde en 3 eindstryde maar kon nog nooit die trofee huis toe neem nie. Omrede die toernooi op die sub-kontinent plaasvind en hulle heel moontlik Sri Lanka en Indië sal moet oorkom om as kampioen gekroon te word, twyfel ek of hulle vanjaar dit die eerste keer gaan regkry. Speel, gaan hulle egter speel en dit gaan ‘n taai stryd wees tussen Suid-Afrika, Indië en Engeland om eerste in die groep te eindig. Engeland was ongelukkig om die oud-Ier en eendagster, Eoin Morgan, kort voor die toernooi aan ‘n besering te verloor. Hulle het egter genoeg ander kwaliteitspelers. Andrew Strauss het ontpop as ‘n uitgeslape kaptein en Kevin Pietersen bly ‘n troefkaart met sy kolf. Die kolforde is gelukkig om ook op die dienste van kwaliteitspelers soos Paul Collingwood en Jonathan Trott staat te maak. En met bal in die hand, gaan James Anderson en Graeme Swann moeilike kalante wees. Ek weet egter nie of Engeland, gegewe die strawwe teenstand, die eindstryd gaan haal nie. Hulle kan selfs nog verrassend vasval voor die halfeindstryd. Engeland is tans 5de op die IKR-ranglys

bangladeshBangladesj is mede-aanbieders van die toernooi en dit sal my nie verras as die Tiere sover as die halfeindstryd vorder nie. Bangladesj is lank nie meer die stiefkind van internasionale krieket nie en hulle spel het met rasseskrede vooruitgegaan sedert hulle eerste deelname in 1999. Hulle is nou wel maar 8ste op die IKR-ranglys, maar ek glo dat bekende speeltoestande en tuisveldvoordeel baie kan bydra tot hulle sukses. En moenie die spelers weggooi nie. As jy nog nie weet wie Shakib Al Hasan, Tamim Iqbal, Junaid Siddique of Abdur Razzak is nie, gaan jy heel moontlik na die toernooi hulle name goed ken. Ek glo hulle kan in hierdie groep Wes-Indië laat struikel en met ‘n bietjie geluk selfs die halfeindstryd vir die eerste keer haal. Hou hulle dop.

westindiesSoveel soos spanne soos Bangladesj en Kenia vordering gemaak het in internasionale krieket, soveel het die eens briljante span van Wes-Indië agteruitgegaan. Die Karibiese eilande wat legendes soos (Sir) Gary Sobers en Brian Lara opgelewer het, is nou slegs ‘n skadu van die krieketmag wat hulle eens was. Hulle is nou wel, naas Australië, die suksesvolste span in Wêreldbeker-geskiedenis (2 keer wenners, 3 eindstryde en 4 halfeindstryde), maar hulle sukses was in die sewentigerjare. Hier gaan ek nie die redes bespreek vir hulle agteruitgang nie, maar hulle sal ‘n besondere poging moet aanwend om nie verdere skandes te maak nie. Hulle kan vasval teen Bangladesj en moet op hulle pasoppens wees vir Ierland en Nederland, snaaks soos dit mag klink. Hulle sal swaar steun op veterane Chris Gayle en Shivnarine Chanderpaul om te sorg dat hulle ten minste die kwarteindstryd haal. Hulle is tans 9de op die IKR-ranglys.

irelandIerland het in 2007 hulle Wêreldbeker-debuut gemaak en verras deur beide Bangladesj en Pakistan te verslaan en die uitkloprondtes te haal. Vanjaar gaan hulle hul bes doen om die prestasie van 4 jaar gelede te herhaal. Hulle gaan egter ‘n opdraande stryd hê en dit heel moontlik nie maak nie. Daar skort niks met hulle veggees nie en hulle kan vir opwindende wedstryde sorg. Hulle sterspelers is kaptein en kolwer William Porterfield, die kolwer Paul Stirling, veelsydige speler, Trent Johnston en bouler Boyd Rankin. Interessant genoeg is daar ook twee Afrikaners in die span, nl Albert van der Merwe en Andre Botha. Ierland is op die oomblik 10de op die IKR-ranglys.

Netherlands1Moeilik om te glo dat hierdie reeds die span van Nederland se 4de Wêreldbeker-kriekettoernooi is. In hulle vorige 3 toernooie, kon hulle egter slegs 2 wedstryde wen. Hulle gaan hulle bes doen, maar hulle gaan sukkel om nie laaste in hierdie groep te eindig nie. Hulle is tans voorlaaste op die IKR-ranglys, maar hulle sterspeler, Ryan ten Doeschate, pronk op die IKR se top tien lys van veelsydige eendagspelers. Die ander noemenswaardige talent, is die Australies-gebore kolwer Tom Cooper.

Wedsryde om nie te mis:

  • 19 Februarie: Indië vs Bangladesj (openingswedstryd)
  • 27 Februarie: Indië vs Engeland
  • 4 Maart: Bangladesj vs Wes-Indië
  • 6 Maart: Suid-Afrika vs Engeland
  • 12 Maart: Indië vs Suid-Afrika

Opsommenderwys, glo ek Indië gaan die trofee wen, wyl Suid-Afrika en Sri Lanka die halfeindstryd gaan haal. Bangladesj kan die verrassingspakket wees om ook die halfeindstryd te haal…maar moenie Australië te vroeg afskryf nie.

Weet nie van julle nie, maar ek kan nie wag nie!

istockphoto 4695909-white-cricket-ball-and-bails

 

Vlugtige feite:


  • Meeste lopies in Wêreldbeker Krieket: Sachin Tendulkar (1796)
  • Hoogste telling in ‘n individuele beurt: Gary Kirsten (188*nun)
  • Beste kolfgemiddelde: Shane Watson (145)
  • Vinnigste vyftigtal: Brendon McCullum (20 balle)
  • Vinnigste honderdtal: Matthew Hayden (66 balle)
  • Hoogste vennootskap: Rahul Dravid en Sourav Ganguly (318)
  • Beste boulsyfers in ‘n enkele wedstryd: Glenn McGrath (7/15)
  • Meeste paaltjies: Glenn McGrath (71)
  • Meeste vangskote: Ricky Ponting (25)
  • Hoogste telling in ‘n wedstryd: Indië (413)
  • Laagste telling in ‘n wedstryd: Kanada (36)
  • Hoogste wentelling deur span wat tweede kolf: Sri Lanka (313)

2011-world-cup-cricket-logo2011-world-cup-cricket-logo2011-world-cup-cricket-logo2011-world-cup-cricket-logo2011-world-cup-cricket-logo

15 Kommentaar leave one →
  1. Februarie 15, 2011 10:48 nm

    Sal maar op die Internet moet lees wat aangaan. How exciting? Ons kry mos geen krieket in the VSA te sien nie. En nou dat Rugbyzone/Mediazone ook die rugby regte verloor het en Fox, wat dit gekoop het net ‘n handjievol wedstryde gaan wys, het ons hier regtig sport-arm geword.

    • Februarie 17, 2011 7:21 nm

      Ek sit in dieselfde bootjie hier in die Ooste. Al krieket wat hulle hier ken, is die ding wat spring en in Sjina ge-eet word!🙂 Sal maar die internet fynkam om te sien of daar nie een of ander plek is waar ek kan roofkyk nie.

  2. Mary Jane permalink
    Februarie 16, 2011 5:14 nm

    Dankie vir die omvattende kommentaar. Ek dink egter Engeland het nogals ‘n goeie kans. Hulle het ‘n geweldige boost gekry met die wen van die ashes en hulle gemoed is baie goed op die oomblik en ek dink dit speel ‘n baie groot rol. Maar ja, ons sal maar sien. My geld is egter maar op Indië of Sri Lanka. SA sal sit darem seker maak tot by die kwarteind.

    • Februarie 17, 2011 7:22 nm

      MJ, ek hoor jou oor Engeland. Ons sal sien…..ek dink SA kan dalk sover as die eindstryd vorder as hulle net hulle koppe kan regkry.

  3. Alta permalink
    Februarie 17, 2011 6:52 nm

    Goeie dag. Ek vra net toestemming om jou besondere gedigte te druk en weer te lees. Ek het lank laas iets gelees wat my so ongelooflik geraak het.

    • Februarie 17, 2011 7:22 nm

      Hallo, Alta en welkom hier! Jy is welkom om dit te druk. En baie dankie vir jou kommentaar.

  4. Alta permalink
    Februarie 17, 2011 8:14 nm

    Bie dankie ek sal dit graag vir my pa wil wys wat nie internet toegang het nie. Is daar nie nog iewers in die binnelaaie nie?

  5. Februarie 17, 2011 11:24 nm

    Geniet dit

  6. Maart 30, 2011 3:47 vm

    Ja toe! Daar is SA, Engeland Australie en NZ uit! Al die lande wat nogal goed speel…haha…

  7. April 1, 2011 4:23 nm

    Ja, ek was verkeerd oor SA en Bangladesh, maar ten minste in die kol met Indie en Sri Lanka. Ek dink Indie gaan wen, maar ek skree vir Sri Lanka.

Trackbacks

  1. Daar was van die begin af net een span « Boer in Ballingskap
  2. Die 2011 Rugby Wêreldbeker in Nieu-Seeland: Die geskiedenis, statistiek, spelers, spanne, en enkele voorspellings « Boer in Ballingskap
  3. Faf du Plessis: ‘n Legende word gebore « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: