Skip to content

Oor sneeu, ski en sneeuplankry

Februarie 28, 2011

P2033303

Dus, wat doen mens in die middel van die Koreaanse winter as ‘n 5-dag langnaweek soos ‘n ryp vrug in jou skoot val? Met die temperature meestal onder vriespunt en die wêreld wit van die sneeu, is daar nie soveel opsies nie. Om die waarheid te sê, daar is hoofsaaklik net 2 verwante opsies, nl ski of sneeuplankry. Met talle goeie kwaliteit ski-oorde is dit nie moeilik om by die wit adrenalien-hellings uit te kom nie.
Nou is dit so dat Korea nie eerste in jou gedagtes opkom as daar oor ski-bestemmings gepraat word nie. Maar mense sal verbaas staan oor die uitstekende ski-toestande en- fasiliteite waaroor Korea besit. Wintersport is baie gewild in Korea en die land doen ook elke 4 jaar baie goed in die Olimpiese Winterspele. Ek is taamlik seker dat Pyeongchang die bod vir 2018 se Olimpiese Winterspele sal ontvang, nadat hulle die afgelope 2 kere elke keer naelskraaps verloor het om die Spele in 2010 en 2014 aan te bied.

P2033140P2033196

Copy of P2033220P2033211

Ekself het egter nie sover as Pyeongchang gereis nie (dis in die noorde van die land), maar het besluit om weer die pragtige Muju ski-oord in die Deokyusan Nasionale Park te besoek. Die oulike klein dorpie binne die nasionale park, Gucheondong het my gelok. Gucheondong is ‘n sjarmante vakansiedorpie so ongeveer 10 km buite die ski-oord self. Om by die hotelle in die ski-oord self te gaan bly, moet jy redelike dik rolle van daardie groen goed hê, dus bied Gucheondong ‘n bekostigbare en aangename afspringplek vir ‘n ski-naweek, aangesien daar daagliks gratis busse loop tussen Gucheondong en Muju ski-oord.

P2033251

Ek was gelukkig dat, hoewel dit koud was en die wêreld wit, die naweek gevul was met mooi sonskyndae. Omdat ek ook graag ‘n bietjie wou gaan stap in die Nasionale Park, het ek die eerste dag nie geski nie, maar die kabelkarretjie (ter plaatse bekend as ‘n “gondola”) bergop geneem en daar verder gestap tot bo-op Hyangjeokbong – teen 1614 m, die hoogste piek in die Deokyusan berge en die vierde hoogste in Suid-Korea. Dit was ‘n wonderlike ervaring om so van bo af op die wêreld af te kyk, waar die lug soeter proe en jy opnuut dankbaar is dat jy met sig geseën is. Die Deokyusan berge lê om jou uitgestrek en die vistas is pragtig.

P2033298P2033307

Hoewel die gladde sneeu die styl stap na die piek, ‘n senutergende en gevaarlike oefening maak, het die sneeu ook gesorg vir ‘n pragtige legkaartprentjie wêreld, waarin ekself vry, vol vrede en geborge voel. Wat bygedra het tot hierdie gevoel, is die feit dat ek myself skielik stoksielalleen bevind het bo-op die piek, met slegs ‘n paar swart kraaie as geselskap. Die stilte en vrede was oorverdowend en dit was ‘n ervaring om die paadjie af (gly-gly) aan te durf in slegs my eie geselskap. Die ski-hellings was skielik ook sonder siel. Vir ‘n land soos Korea waar jy nêrens en nooit werklik alleen in die natuur kan wees sonder ander mense nie, was dit vir my ‘n seldsame en welkome voorreg en ‘n half surrealistiese ervaring.

P2033300P2033291

P2033283P2033314

Natuurlik het ek myself nie afgevra wat hierdie skielike wegraping tot gevolg gehad het nie….eers toe ek die onvriendelike gesigte van die een of twee Koreane in amptelike oord-drag sien, het ek besef dat die kabelkarretjies ‘n sekere tyd ophou loop. In geen onsekere Koreaans het hulle my meegedeel wat hulle van my swak tydbestuur dink. Ek kon maar net verleë glimlag, om verskoning vra en nederig wees. Want ek wou nie die nag bo-op die berg spandeer nie, kon nie afski nie en het geredeneer die siele moet tog sekerlik ook weer na onder reis. Met ‘n gemompel en gekerm het hulle toe vir my spesiaal ‘n karretjie laat opkom en verlig kon ek na onder reis. Maar in nabetragting is ek glad nie spyt dat ek die kabelkar verpas het nie. Want dit het my die geleentheid gebied om ‘n rare oomblik van salige enigheid bo-op die berg te geniet.

P2033263P2033280

Dus, wat nou van die ski-ervaring, sou julle wou vra? Wel die volgende oggend was ek daar met my uitrusting, net om totaal die teenoorgestelde ervaring van die vorige dag te beleef. Dit was die dag na Seollal en van vroegoggend af het dit voorgekom asof die hele Koreaanse volk en masse opgeruk het Muju toe. En uit die aard van die saak het dit die hele ski-ervaring minder aangenaam gemaak as wat dit kon wees. Orals waar jy kyk was daar mense en jy moes letterlik ure wag om net met die ski-karretjies die hellings op te gaan. Vir ‘n minder ervare skier soos die uwe, was dit ook ‘n senutergende ervaring om behoorlik te probeer ski op hellings wat gewemel het van mense. Op die ou-end het ek dit egter geniet en bly dit ‘n lekker adrenalien-gedrewe ervaring.

P2033237P2033252

P2033321P2033316

Maar ‘n paar dinge het ek opnuut besef en die eerste is dat ek nie ‘n natuurlike aanleg vir ski ontvang het nie. 🙂 Die volgende dag se seer lyf en blou kolle kon hiervan getuig. Moenie ‘n fout maak nie, ek kom reg op my manier en het by hoe hellings afgegaan, maar die fynere kunsies (soos om heeltyd regop te bly) ontglip my heeltemal.

P2033147P2033180

Die ander ding wat ek besef het, is dat dit skielik skynbaar outyds geraak het om te ski, want oral waar ek om my gekyk het, het mense sneeuplank gery. Om die waarheid te sê, hoewel ek geen empiriese studie gedoen het nie, kan ek getuig dat daar meer mense was wat sneeuplank gery het, as wat daar skiërs was. Dit was ook opmerklik dat die jonger generasie sneeuplank onder die arms gehad het en die ouer mense ski’s aan hulle voete. En toe besef ek ook dat die sneeuplankry skynbaar deel is van ‘n modestelling, want om sneeuplank te ry, moet jy reg lyk…en dit beteken die helderste, bontste uitrustings wat jy jou kan verbeel en ‘n losse sneeubaadjie wat omtrent tot op jou knieë hang. Ek het ook die indruk gekry dat die sneeuplankry soms baie meer daaroor gaan oor hoe jy lyk, as wat dit nou werklik gaan oor die sport self. Maar hoe dit ook al sy, elkeen het sy plesiertjie en as jou sport vereis dat jy moet aantrek soos ‘n verkleurmannetjie wat in bont verf geval het, dan doen jy dit maar seker.

P2033233

Ewenwel, soos James Bond sal ek seker nooit kan ski nie, maar ek geniet dit steeds en sal graag wil terugkeer na die ski-hellings vir nog ‘n probeerslag. En miskien moet ek tog volgende keer so bont as moontlik aantrek, ‘n baadjie op my knieë laat hang en op ‘n sneeuplank klim…

Maar nou is dit eers totsiens aan Muju

captioner2082e3fe24565de776b5b88e04c3b6386fbb4498

Advertisements
6 Kommentaar leave one →
  1. Alta permalink
    Februarie 28, 2011 9:31 nm

    Ek sou ook die stilte alleen op die berg geniet het hoor!

  2. Februarie 28, 2011 10:07 nm

    Klink darem of jy dit geniet het. Blou kolle of te nie.

  3. ShiningFire permalink
    Maart 1, 2011 2:34 vm

    Og jinne Boer, klink of ons vir jou Deep Heat moet pos 🙂

  4. Maart 6, 2011 7:17 nm

    Pragtige foto’s, lyk kompleet uit ‘n ‘fantasie-film’.

  5. Maart 12, 2011 3:20 vm

    Jou foto’s is baie mooi!! Ek bewonder altyd hierdie skiërs wat so grasieus teen die hellings af ski maar ja, ek dink dit lyk makliker as wat dit is. Ons kyk uit vir jou in jou bont uitrusting volgende jaar! 😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: