Skip to content

Côtes du Rhône

Maart 8, 2011

Die Rhône Vallei is geleë in die suidooste van Frankryk en kronkel al langs die Rhône rivier vir ongeveer 200km rofweg tussen die stede van Lyon en Avignon. In geheel vorm hierdie area die wynstreek, bekend as Côtes du Rhône. Dit is een van Frankryk se bekendste wynstreke en lewer internasionaal gesogte wyne soos ondermeer Châteauneuf-du-Pape, Condrieu, Côte-Rôtie, Crozes-Hermitage, Gigondas en Saint Joseph.

croppedimage455464-rhone-wine-region-map-by-nicolas

Côtes du Rhône wyne is oor die algemeen bekend vir hulle speseryagtige karakter en dis g’n wonder nie, want meeste van die versnitwyne gebruik Shiraz (rooi) en Viognier (wit) as fondament. Die ander kultivars wat ‘n belangrike rol in die streek speel is Grenache, Carignan, en Mourvèdre (rooi) en Marsanne, Roussanne, en Viognier (wit). Van die wit kultivars (meestal Viognier) word ook in rooi versnitwyne gebruik om ekstra karakter en kompleksiteit aan die wyn te verleen.

P2263494

Ek is baie lief vir Rhône wyne, hoewel ek selde oor die nodige fondse beskik om dit te beproef. Die top wyne is onbekostigbaar en nog meer so in Korea. Daarom moet ek tevrede bly om af en toe ‘n generiese Côtes du Rhône te probeer. Onlangs het ek Paul Jaboulet (‘n groot negociant* firma in die Rhône Streek) se Parallele 45 2008 aangetree – ‘n versnit van 60% Grenache en 40% Shiraz.

Daar is niks fout met die kleur nie. Dit is deurdringend rooi met nog effe pers op die rante. Die neus van die wyn is nie baie uitgesproke nie, maar vertoon tog geure van kruie, peper en ‘n rokerige vleisagtigheid, amper soos die van gebraaide vleis.

Op die palaat oorheers die vleisagtige karakter en dit laat my aan Marmite dink. Dis egter ‘n liggewig wyntjie hierdie. Die nasmaak is amper in totaliteit afwesig en die tanniene is ook merkbaar nie teenwoordig nie (geen hout hier gebruik). Daar is ook ‘n effe bitterheid in die mond, wat dalk aantoon dat die druiwe nie met baie respek behandel is nie. Miskien ‘n lekker alledaagse drinkwyn wat goed sal afgaan saam met boerewors, maar nou nie heeltemal wat ek van ‘n Côtes du Rhône verwag nie.

Teen die ekwivalent van R142 regtig nie goeie waarde vir geld nie. Maar nou ja, vir ‘n goeie kwaliteit Côtes du Rhône gaan jy hier ter plaatse baie meer betaal….sug.

Rhône-styl versnitwyne het die afgelope paar jaar baie gewild geraak in Suid-Afrika en al hoe meer wynplase wend hulle tot sodanige versnitte. Sekerlik die beste waarde vir geld Rhône-styl wyne is die van Fairview, soos oa Goats do Roam en Goat Roti (slim naamspelings op die oorspronklike Franse name). Ook aan die bekostigbare kant van die skaal, is Boekenhoutskloof se Wolf Trap. As jy bereid is om meer geld uit te haal is Guardian Peak se SMG of Spier se SMV goeie kopies. En as jy nou heeltemal te veel geld het, kan jy gerus Eben Sadie se Sequillo probeer of Saronsberg se Full Circle. Laasgenoemde wyn is ‘n openbaring!

* ‘n negociant is ‘n wynhandelaar wat wyn of druiwe van enige plek binne die streek aankoop en dan die wyne maak, versny en bemark

12 Kommentaar leave one →
  1. Maart 9, 2011 2:17 nm

    Nice inskrywing & jammer oor die dud wyn wat jy gekoop het😉

  2. ShiningFire permalink
    Maart 10, 2011 4:44 vm

    Jy sal ons maar moet nooi om te kom proe…😉

  3. Maart 10, 2011 5:22 vm

    Cotes du Rhone wyne is heerlik en deesdae van my gunstelinge. Die pepperige smaak van die Shiraz maak die wyn. Jy moet maar vir jou ‘n werk in die Suide van Frankryk probeer kry. Ek is seker daarvan dáár is die sommer lokale, klein dorpie wyne beter en goedkoper.

  4. Maart 12, 2011 3:07 vm

    Man, hoe maak jy my nou lus vir ‘n glasie rooies en om nie eers te praat van daai streek waar hierdie wyn vandaan kom nie! Eendag, eendag… as my droom bewaarheid word om Provence ordentlik te gaan bekyk, gaan ek seker maak dat ons ‘n bottel van hierdie Rhone wyn op die proef stel!

  5. Maart 14, 2011 2:56 vm

    Ek hou van daardie neus en palaat van gebraaide vleis! Dit kan mens mos nou sommer ‘n klomp moeite spaar. Of is dit net onttrekkingsimptome wat jou nou al sulke “vergesigte” laat ruik en proe?

  6. Cijferkes permalink
    Mei 31, 2011 1:25 vm

    Aha… Fairview… Interessante plek! Ek was daar in mei 2009. Het nog ‘n botteltjie Bored Doe (het jy hom?) in my kelder en dink ek gaan daai bottel een van die dae “slag” jong🙂

    • Junie 1, 2011 6:39 nm

      Charles Back se wyne is baie lekker, hoewel ek spesifiek nie die Bored Doe ken nie. Was wel ‘n rukkie terug baie in my skik om ‘n botteltjie Goats do Roam hier raak te loop. Maar hy’s al lankal geslag!🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: