Skip to content

Maak vrede met die halwe glas (of nie?)

April 1, 2011

Hierdie stuk het ek verlede jaar geskryf ten tyde van my besoek aan Suid-Afrika.

Op een van my gereelde besoeke aan my bejaarde moeder in die ouetehuis, tref ek ‘n verpleegster wat ek nou al goed ken, in ‘n ontstelde toestand aan. Vertel sy my sy’s baie bekommerd oor haar kind. Hoe so? Nee, die spesifieke laerskool se onderwysers het besluit om nie te staak nie, maar is omring deur skole waar onderwysers wel staak. Nou het die stakende onderwysers die skool beset en ontwrig die klasse van die nie-stakende onderwysers. Haar seuntjie is nog klein en sy het haar man gevra om te kyk of hy kan afkry by sy werk om asseblief die kind te gaan optel, want “…o, jirre, as die kind nou iets moet oorkom…!”.

Een van my diaspora-vriende Skype my uit die buiteland en vra my wat nou weer in Suid-Afrika aangaan. Huh? Nee, op CNN het hulle gewys dis chaos met die stakings en die polisie moes op stakers skiet en dit lyk baie sleg. Ooooo….dit! Ja, ek weet van die staking, maar waar ek hier voor die rekenaar sit, lê die see vandag soos ‘n spieël, die berge is blousel mooi en alles rustig. CNN oordryf seker maar weer. “Ek glo nie, jy moes dit gesien het!”

Ek loop toevallig my niggie raak met haar 8 maande oue baba op haar arm. Sy is redelik ontsteld. Hoekom? Die Spar waar hulle altyd gaan inkopies doen (met seuntjie in die waentjie natuurlik) het vanoggend deurgeloop onder ‘n gewapende roof. Die winkelbestuurder (wat ek heel toevallig ken) is op die koop toe ontvoer. Daar was onlangs ook ander sulke gevalle in die omgewing. Sy sien nie meer kans om haar kind in die land groot te maak nie. “Wanneer gaan dit stop?”

‘n Ou vriendin uit Johannesburg stuur vir my haar gebruiklike jaarlikse “hoe gaan dit nog?” e-pos. Nee, goed, self? Nee, met haarself goed, maar haar bejaarde ouers is verlede week geweldig getraumatiseer en beseer in ‘n gewapende huisroof. “Gelukkig het die Here hulle bewaar”.

Dit is nou skaars ‘n maand terug wat Suid-Afrika se grootste openbare betrekkinge sukses tot nog toe aan ‘n einde gekom het in die vorm van die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Ek dink die algemene gevoel onder Suid-Afrikaners was (tereg) trots en ‘n nuwe optimisme oor die moontlikheid om voort te bou in dieselfde gees. Binne ‘n maand het die hoop egter beskaam. Die vrolike mombakkies is af en nou wys Suid-Afrika weer ‘n gesig vol vratte.

  • Daar is ‘n duidelik skakering van nepotisme te sien in die seun van President Jacob Zuma se betrokkenheid by die groot bemagtingstransaksie van ArcelorMittal.
  • Die land en koerantkolomme gons oor ‘n voorgestelde wet wat klaarblyklik media vryheid sal inperk, ondanks Zuma se versugting dat dit nie die doel is van die wetgewing nie. Selfs internasionaal word die wenkbroue gelig.
  • Stakings is ‘n internasionale fenomeen, maar die intimidering, chaos en geweld wat met stakings in Suid-Afrika gepaardgaan, maak dit uiters onsmaaklik. Mense sterf.
  • Gewelddadige misdaad duur onverstoord voort.

So praat ek met my sus (wat al self voorheen ‘n teiken was van geweldsmisdaad) oor al die aangeleenthede en sy vra my waarvoor die mense in Suid-Korea bang is (ek gee al vir etlike jare daar skool) en op dieselfde trant noem ‘n ander vriend vir my dat die Suid-Koreane seker in konstante vrees leef vir Noord-Korea. ‘n Ander kennis sê vir my dat dinge “darem baie sleg lyk daar in Korea”.

Nee, Suid-Koreane leef nie in vrees nie. Op die oomblik is daar meer spanning as gewoonlik tussen die twee stiefbroers, maar die Suid-Koreane leef reeds meer as ‘n halwe eeu met die swaard oor hulle kop. Hulle gaan eenvoudig aan met hulle lewe en toekoms en steur hulle grotendeels nie meer aan die swael-en-vuur retoriek van die Noorde nie. So eenkeer ‘n maand gaan die skreeuende openbare alarms nog af in die stede en almal is dan veronderstel om binne te bly, wyl die vegvliegtuie van die naaste lugmagbasis met monstergeraas deur die lug skeur. Maar deesdae bly die mense nie eers meer binne nie. Die vegvliegtuie wat taamlik gereeld simulasie-oefeninge doen, is ook lank reeds nie meer ‘n nuutjie vir die kinders nie en hulle storm nie vensters toe nie.

Nee, in Suid-Korea het ek baie dinge gesien en beleef, maar die emosie van vrees het ek eerlikwaar die enigste keer beleef ten tyde van die H1N1 (sogenaamde varkgriep) krisis. By verre is angstigheid onder die gemiddelde man of vrou op straat afwesig. Nooit het ek ‘n Koreaan hoor sê dat hy of sy hulle kinders in ‘n ander land wil grootmaak nie.

Koreane droom nog oor hereniging, maar meeste Koreane het al so vrede gemaak met die verdeelde skiereiland en die tegniese staat van oorlog met die Noorde, dat dit hulle min traak. Hulle ken reeds die retoriek, is bewus daarvan dat daar altyd spanning is en sporadiese skermutselings voorkom. Hulle aanvaar die status quo en gaan eenvoudig aan met hulle dagtaak.

Nou wonder ek…

Het dit nie dalk tyd geword vir Suid-Afrikaners (en veral die van Europese afkoms) om die status quo te aanvaar nie? Om vrede te maak met hulle geboorteland, vratte en al? Om te aanvaar dat daar niks gaan gebeur wat nie reeds in ons land se onstuimige geskiedenis gebeur het nie. Om te aanvaar dat ons nie in ‘n stukkie Europa woon nie, maar in Afrika. En hoekom nou gedurig die valse verwagting koester dat Suid-Afrika dramaties anders daarna moet uitsien as ander lande op die kontinent? Miskien moet die ontnugtering nou end kry. Diegene wat gedink het ‘n utopia gaan na 1994 ontvou, was in elk geval bitter naïef.

  • Die staking gaan nie verewig duur nie.
  • Die Spar gaan nie elke dag beroof word nie.
  • Die voorgestelde media-wetgewing gaan tien-teen-een nie die paal haal nie.
  • Jy gaan nie elke dag aan ‘n huisroof onderwerp word nie.
    Nepotisme en korrupsie is deel van die magspolitiek en gaan nie die land se ekonomie ontspoor nie.
  • Aanvaar Suid-Afrika vandag vir die land wat dit is: Bloot nog ‘n middelmatige Afrika-land. Net nog ‘n aweregse adolessent binne die globale familie van statery.

Soms lyk die glas half vol en meeste kere half leeg.
Maar maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, die glas bly half.

Kom ons maak vrede daarmee.

Naskrif: Noudat ek weer hierdie stuk ‘n paar keer deurgelees het, besef ek my argument is op een vlak (maar nie in geheel) ‘n drogredenasie: Koreane leef nie elke dag in vrees nie, want die moontlikheid van gewelddadige barbaarsheid vorm nie deel van hulle dag-tot-dag bestaan nie – dit bly ‘n veraf, vae moontlikheid. In Suid-Afrika is dit vir baie mense so dikwels ‘n daaglikse werklikheid. Die somtotaal van menslike tragedie en trauma in Suid-Afrika is bloot net nie vergelykbaar met ‘n land soos Suid-Korea nie. En dit is die verskil – ‘n kardinale verskil! In Korea weet jy presies wie die vyand is en waar hy vandaan kom…in Suid-Afrika weet jy nooit en word jy genoop om altyd op jou hoede te wees – ‘n senutergende en totaal abnormale bestaan.

Advertisements
23 Kommentaar leave one →
  1. April 1, 2011 10:01 nm

    Daar was ‘n tyd wat ek seker was dat ek sou emigreer. Snaaks hoe dinge verander, want nou is dit nie eintlik meer ‘n kwessie nie (ek sal seker altyd my opsies oophou). Ek is heel gelukkig war ek is. Dit voel egter vir my of ek in ‘n bubble leef hier in die Kaap. Ja, ek weet hier is ook misdaad, maar dit voel nie of dit die atmosfeer oorheers nie. Ek lees nou die dag op News24 dat 50% van SA se misdaad glo in Gauteng plaasvind.

    Oor die algemeen werk alles (wel as daar nou nie ‘n skroef los is by Koeberg nie), die paaie is nie vol gate nie, water en ligte is uitgesorteer ens. Maar ek dink mens moet ook maar ‘n wilsbesluit neem in terme van waarvoor jy kans sien. En dan moet jy dit laat werk vir jou.

    Daai aanhaling wat jy van de Botton geplaas het, is vir my baie relevant, ook in terme van leef in SA. Ek het net die een lewe. En dit is baie kort. Ek gaan dit nie omwroeg nie en op die negatiewe in SA fokus nie. Ja, daar is genoeg daarvan om my ‘n hele lewe lank daarmee besig te hou. Maar daar is ook mooi. Solank ek dit kan raaksien, sal ek bly.

    • April 2, 2011 3:53 vm

      Baie dankie George. Dis PRESIES hoe ek ook voel. Ek weet hier is dele van die land waar dit verskriklik erg gaan. As ek so in sekere dele van die land toer, sê ek aanmekaar dat ek nie daar wil bly nie. Ek besef dat dinge kan vererger. Maar hier waar ek bly is ek gelukkig en voel veilig. En solank dit so bly, sal ek graag hier wil bly. Maar ek is nie onrealisties nie en weet ek woon in Afrika.

    • April 3, 2011 6:16 nm

      “Ek het net die een lewe. En dit is baie kort. Ek gaan dit nie omwroeg nie en op die negatiewe in SA fokus nie. Ja, daar is genoeg daarvan om my ‘n hele lewe lank daarmee besig te hou. Maar daar is ook mooi. Solank ek dit kan raaksien, sal ek bly.”

      Ek dink as mens die besluit maak om in SA te bly, is dit die regte houding. Maar om daardie houding te handhaaf, is dalk makliker in die mooiste Kaap. 😉

      • April 11, 2011 12:33 vm

        Ek hoop net die Kaap gaan nog lank so mooi en relatief veilig bly!

  2. arnaud permalink
    April 2, 2011 2:44 vm

    Probleem is dat die glas gekraak is, en hy voortdurend opgevul moet word om halfvol te bly. Of die probleem is dat almal verskillende glase het waaruit hulle drink, en ons is of jaloers op die buurman se nuwe bekertjie of hy is jaloers op my ou glasie…
    Beste sal wees om maar van weggooi bekertjies ipv. glase gebruik te maak, vat dit soos dit kom
    Minder teleurstellings as jy die dinge dag vir dag vat, en bly is oor die bietjie sopie wat darem in jou gebreekte glasie beland

    • April 2, 2011 7:08 vm

      Ek hou van hierdie beskrywing. Baie ‘kreatief’. Dis gerusstellend om te weet mense IN SA is positief en voel ‘veilig’ – wat ‘n relatiewe begrip vir baie op die oomblik is. Met die leiers wat ons nou het, moet ons maar aanvaar [daar is geen keuse nie] dat dit nie die OU SA is nie en seker nooit weer dieselfde sal wees nie. Ek probeer van nuus sites wegbly [wat nie moontlik is nie] om positief te bly/dink – en sekere sites ook, maar dan kom die emails van familie/vriende en dan’s jy weer ‘down’ en voel jy jy wens dat jy net ‘n towerstaffie kon swaai en van al die ‘gemors’ kon ontslae raak en net die mooi oorhou. – gelukkig kan mens darem nog jou herinneringe opbring – was dit Paul Kruger wat gese het dat jy die goeie van die verlede moet behou en daarop voort moet bou? [ maar hoe gemaak met die Zuma-gespuis. – ‘ignoreer’ en aangaan?]

    • April 3, 2011 6:18 nm

      arnaud, baie verras om jou hier te sien! Lekker om jou kommentaar te lees. Die glas is inderdaad vol krake….maar ek dink jy’s reg. Mens moet dit maar dag vir dag vat.

  3. Sammi permalink
    April 2, 2011 5:48 nm

    Verlede week moes ek my ou woonplek gaan inspekteer en is ek toe aan jou herinner dmv daardie foto wat jy my destyds deurgestuur het vir n “mural”. Gewonder hoe dit met jou gaan en besluit om te kom inloer waar ons destyds almal so lekker “saamgekuier” het. Baie geluk ook met jou debuutroman Gerrie!

    Ek reken ek kan met gesag se dat (soos ek destyds ook geskryf het) : Mens se gemoedstoestand hang af van waar jy bly. Want oor die laaste tien jaar het ek in drie provinsies gebly. Gauteng, KZN en die Wes-Kaap. Die absolute waarheid is dat wanneer mens net kan aangaan met jou lewe (sonder vrees en frustrasie) jou gemoed beslis nie vashak by die negatiewe nie.

    In Gauteng: Daar is vrees. Daar is wesenlike agressie. Daar is beslis meer geweldadige misdaad. Dis duurder. Die verkeer is belaglik. Inwoners se strate is nie hul eie nie. Waar ons gebly het, was daar vier gewapende aanvalle en moord in ons straat oor ‘n periode van 6 maande. Niemand kan my vertel dit is iets wat mens net moet aanvaar nie. Juis omrede mens die beste vir jouself en jou kinders wil he, het ons besluit om n beter plek te gaan soek, wat ons gelei het na:

    KZN – laer Suidkus: God se paradys. Lowerryk. Vir my nogsteeds die mooiste plek in SA. Dienste was beter as Gauteng. Omrede dit nie n wel af gebied is nie, was daar die minimum misdaad. Totdat die ANC gewen het, toe begin dienste soos handomkeer verswak. Paaie val uitmekaar en sypaadjies word nie meer versorg nie. Ons was geweldig hard getref vir amper 4 maande lank “power-outages”. Aan vir 2 en halfuur, af vir 2 en halfuur. Elke dag. Verkeersligte, winkels, huishoudings was totaal ontwrig. Niks is so ontstellend en depressief soos die gevoel dat mens voel asof jy in die middel van donker Afrika bly nie. Op hierdie punt wou ek met alle geweld land verlaat. Wat onder andere weer gelei het na die soeke van n beter plek:

    Wes-Kaap (Somerset-Wes) Na net oor die twee jaar hier, kan ek begryp hoekom mense soos Emil nooit werklik kon verstaan van frustrasies nie. Want soos George vertel; ons bly in n “bubble”. Alles werk. Die geweldadige misdaad is nie meer as in ander lande nie. Die kleurlinge is ons mense. Klink soos ons, redeneer soos ons. Om die waarheid te se, ek dink baie dae, hulle is wyser as ons. Ag, ek geniet dit om net weer mens te kan wees. Geen vrees en geen frustrasies nie.

    So ja, tensy mens nie self aan buite-die-norm blootgestel word nie, kan mens doodeenvoudig nie verstaan waaroor ander se vrese en frustrasies gaan nie.

    Laat almal van ons wat besluit het om aan te bly in SA, die insig sal he dat dit nie oral Utopia is nie. Inteendeel.

    Nouja, my koerantskrywery is lankal verby. Goedgaan met jou Boer, en met jou Nikita – ek sal altyd se dat dit geweldige baie “guts” vat om agter te laat wat bekend is en n nuwe lewe elders gaan bou.

    • April 3, 2011 6:21 nm

      Sammi! Stem uit die verlede! Lekker om jou weer raak te lees! Ek dink jou analise van die verskillende dele van SA is baie korrek. Ek is self van Somerset-Wes en stem volmondig saam – dis maar ‘n “bubble”-wereld ivm ander dele van die land. En daar is nog baie sulke borrels waar mense bly en waar dit makliker is om jouself positief te hou.

  4. April 2, 2011 6:30 nm

    Dankie Sammi! Dis waar wat jy se, ek dink nie as jy self so iets gedoen het nie, dat jy sal besef het watse omkeer dit werklik vir ‘n mens is nie, – vir een persoon [dalk sal Boer meer kan se hieroor] is dit dalk baie makliker, maar vir ‘n gesin soveel meer – jy het kinders en dis waaroor dit gegaan het, maar jyself is ook ‘in’ die proses. Dis verblydend om te lees wat jy skryf, want my familie [naaste] bly in Gauteng – ek het baie in die Kaap – wyd verspreid oor groot areas van die Kaap – en het nie daardie direkte kontak met hulle tans nie. Op die nuuswebsites lees mens ook nou nie die heel positiefste dinge oor die land nie- wat jou neerdrukkend maak en voel dinge gaan so reg oor die land. Gelukkig gaan ons hierdie jaar bietjie kuier en sien geweldig uit daarna! -veral ek wat laas in 2007 daar was!

  5. Sammi permalink
    April 2, 2011 7:04 nm

    Is so Nikita – dat dit oor die kinders gaan. En dit is natuurlik nog ‘n frustrasie. Tensy ouers ‘n besigheid het wat hulle aan die kinders kan oorlaat of nalaat, (moet net nie baie goed doen nie, want dan is BEE ook ‘n issue) kry ons kinders werklik swaarder as wat ons gekry het. Ons het tenminste vrye keuses oor beroepe gehad. Vandag se seuns veral, moet met die ekstra bekommernis saamleef dat hulle nie regverdige kanse gegun word nie. En dit alleen, ten spyte van misdaad en swak dienslewering, bly nonsens.

    Beide my seuns is passievol oor hierdie land (mos grootgeword in die politiek) maar ek spoor hulle aan om te gaan verken waar almal gelyke kanse gegun word. Soos jy weet, is my oudste al jare daar anderkant en my wens is dat die jongste in sy voetspore sal volg.

    Dis soos George bo gemeld het; die lewe is doodeenvoudig te kort om dit te moet sweet as mens nie te hoef nie.

    • April 2, 2011 7:42 nm

      My een kind wil Australie toe en die ander SA toe! [alhoewel beide positief is oor SA]. Hy was kleinerig toe ons hierheen gekom het en onthou hoe lekker die daar was. Hy wil baie graag teruggaan en glo dis ‘sy’ land waar hy gaan bly. As dit die geval is, goed en wel, [AS hy daar ‘n werk kan kry na hy homself darem eers hier kwalifiseer]. Dan’s hy groot/oud genoeg om self dinge uit te werk/besluite te neem ens. Dit was nogal vir my lekker om te weet dat darem iemand in die familie wil teruggaan en positief is-ten spyte van al die Malemas waarmee ons sit.

    • April 3, 2011 6:24 nm

      Ek dink dis baie makliker vir ‘n enkellopende (of ten minste ‘n paartjie sonder kinders) om die pad te vat en te gaan waar hulle wil. Net so dink ek dis dalk makliker om jouself te dwing om positief te bly in SA as jy nie kinders het nie.

  6. April 4, 2011 9:01 nm

    Om terug te wees in SA na 3 jaar in Korea is ‘n helse aanpassing en ja mens is meer op jou hoede hier as in die Ooste, maar die enigste manier om hier te kan bly sonder om van jou kop af te gaan is om te aanvaar hoe dinge in die land gaan en dat dit nie maklik sal verander nie. Mens moet dit maar embrace en die beste van jou lewe hier maak. Dit is baie makliker in Korea soos jy sal weet, maar op een of ander stadium moet mens seker die realiteit van SA face en maar eenvoudig net aangaan soos altyd, as jy besluit om terug te kom.

    • April 7, 2011 9:42 nm

      kaalvoet….ja, in wese stem ek saam met jou. As mens besluit om in SA te bly, moet mens maar seker vrede maak (met die halwe glas). Gaan maar – soos als in die lewe – oor die veranderlikes van keuse en geleentheid.

  7. April 5, 2011 4:04 vm

    Goed geskrewe Bib. Kan nie saampraat oor die huidige toestand in SA nie, maar ek kan dit se (nagelang van trek of nie trek gesprek): Meeste eerste-geslag Suid-Afrikaners wat die land verlaat het, kinders of te not, en veral as ‘n mens ouer as 30 jaar is (veralgemening) verloor nooit werklik jou Suid-Afrikanerheid nie (weet nie of dit werklik ‘n woord is nie) en word ook nooit werklik deel van die nuwe land se mense nie. Jy staan altyd uit, veral as jy nog ‘n aksent ook het. Dit laat jou altyd in die middel van twee nasies. Dis iets wat min mense aan dink voordat jy die land verlaat.

    • April 7, 2011 9:45 nm

      bluegrass, ek dink dit is die dilemma van immigrante-gemeenskappe deur die eeue heen. Kyk maar net hoe immigrante in SA self (Portugese, Duitsers, Sjinese, Koreane ens.) aan hulle herkoms klou.

  8. April 6, 2011 10:36 nm

    Is dit regverdig om na die Kaap te verwys as ‘n bubble? ‘n Dorp, miskien – selfs ‘n munisipaliteit – kan met reg een genoem word, maar ‘n provinsie werk nie heeltemal vir my nie.

  9. April 7, 2011 10:46 nm

    Johan, goed om jou gesig en kitaar weer hier te sien. 😉

    Ek het dit gelyk met jou – mens kan dit nie op ‘n hele provinsie van toepassing maak nie. Feit is net dat daar baie dorpe in die Wes-Kaap is wat aan die “borrel”-kriteria voldoen – moontlik meer so as enige ander provinsie.

  10. ShiningFire permalink
    April 9, 2011 2:56 vm

    Goeie inskrywing Boer! 🙂

  11. Lou-Lou permalink
    April 14, 2011 12:37 vm

    Dankie vir jou skrifsel, Boerinballingskap. Miskien moet ons maar blom waar ons geplant is…. die halfvol glas sien, bietjie sonskyn bring en ‘n glimlag. Jy maak in elk geval my dag. Mooi bly, Boertjie!

    • April 14, 2011 7:06 nm

      Bly ek kan jou dag maak! 🙂 Ja, mens moet maar die beste maak van elke situasie. Daar is in werklikheid geen ander keuse nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: