Skip to content

Afrikaans het nog nooit so fantasties geklink nie

Mei 7, 2011

wilder pack shot

Soms ervaar, sien, hoor mens iets en jy kry daardie gevoel dat mens dit bloot net nie vir jouself kan hou nie. So was my eerste (en tweede en derde en vierde…) luister van Die Heuwels Fantasties se nuwe album, Wilder as die Wildtuin, wat ek onlangs deur ‘n weldoener bekom het.

Dit is een van daardie ervarings wat mens na byvoeglike naamwoorde laat gryp, net om agter te kom dat ook die verskeidenheid van byvoeglike naamwoorde in Afrikaans maar beperk is. Maar ek gaan probeer.

Professioneel, professioneel, professioneel en nogmaals professioneel. Volwasse, gesofistikeerd, afgerond, indrukwekkend, tydloos, en so, so luisterbaar! Hierdie album van Die Heuwels bewys vir eens en vir altyd dat met mens nie in die rioolslote hoef rond te sloert om kwaliteit en moderne Afrikaanse musiek te maak nie. Snaaks tog dat as daar werklike talent teenwoordig is, elke tweede woord nie met ‘n “f” hoef te begin nie…Terselfdertyd toon die album dat daar tog ‘n uitstekende alternatief is vir die populêre, maar hoofsaaklik sinnelose, doef-doef soentjie-en-drukkie-ek-lief-jou-baby musiek.

Die album is ‘n kragtoer wat duidelik aandui dat toonaangewende Suid-Afrikaanse pop/rock nie ‘n duim hoef terug te staan vir enige ander soortgelyke internasionale musiek nie. Inteendeel die album is in vele opsigte ver verhewe bo die middelmatige Amerikaanse rock waarmee Afrikaners gekondisioneer word. Suid-Afrikaners hoef bloot net nie verder te soek vir kwaliteit Afrikaanse musiek nie – vaar net Die Heuwels in.

Die titelsnit, Wilder as die Wildtuin, is verfrissend, kragtig, tog wonderlik melodieus. In kort. Indrukwekkend, om die minste te sê.

Soos vele snitte op die album, is Verlore Stilte ‘n nostalgiese hunkering na ‘n eenvoudiger verlede. Die lied eggo volksanger Koos du Plessis se hartseer woorde: Elke spoor wat ek verloor/laat my met een minder oor/. En die lirieke bevat juwele soos: die plastieksade is geplant/onder Tupperware (let wel die Afrikaanse uitspraak) bome is ons groot gemaak/.

Heel te mal is ‘n donkerder lied met ‘n sterker rock-inslag waarin Die Heuwels die nag se kloue voel.

Waar die Hel uitkom, borduur voort op ‘n donkerder tema en kan amper as Afrikaanse noir beskryf word, met gepaardgaande sosiale kommentaar oor die grootwordjare van Afrikanerkinders.

In en Uit is sekerlik een van my gunsteling songs op die album, want dit borrel uitbundig met ritme en lewe. Ek hou net geweldig baie van die klank en stemme wat afwissel tussen klimaks en kalmte. Fantastiese song!

Verwag my Terug, saam met Ryk Benade (van die groep Kidofdoom) is ‘n openlik hartseer en nostalgiese teruggryp na die verlore liefde uit die verlede en dit waarna verlang word, maar wat nou vir altyd verby is. Die trane val uit my blou oë/as ek onthou dat ek het jou hand vas wou hou/verwag my terug/ek wil nog ‘n kans kry/.

Nog ‘n jaar hel meer oor na die genre van suiwer pop, maar dis ‘n wysie wat jou vasvang. Dit gaan oor die vinnige verloop van tyd en hoe mens dit moet besef en elke oomblik moet aangryp. Voor jy jou oë kon uitvee/het ons nog ‘n jaar kafgedraf/.

Op Modus Operandi voeg Die Heuwels die suiwer stem van Inge Beekman by vir ‘n treffende rock-lied met aansteeklike ritme. Ons gee nie werklik om nie/maar ons wil/….wat beteken modus operandi/plan van aksie.

Buitenste Ruimte is een van die treffendste songs op die album en is ‘n amperse melankoliese terugblik na die grootwordjare van die kinders uit die Afrikaner bourgeoisie en die soet en suur van ‘n tyd wat verby is en nooit weer herhaal sal word nie. die laaste bedryf waarin ek die hoofrol speel/ek gee my beste net partykeer……/geen bestemming dis mos ekke/.

Los my uit is ‘n harde rock-song in tandem met Francois van Coke (Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel). Die oorspronklike protes van Fokofpolisiekar slaan duidelik deur in hierdie song. Vryheid los my uit/wanneer is genoeg ooit genoeg/?

Wind en Weer is ‘n pragtige kort ballade oor die hartseer van ‘n verlore liefde. Ek het jou vergeet by die agterdeur/jou weer opgetel toe ek arriveer/al die garing wat jou aanmekaar hou losgetorring/te hard hanteer/my blinkoog lappop gelos om buite te slaap tussen wind en weer/.

Mangemaak word gesing saam met Frieda van den Heever en lewer sosiale kommentaar, wyl die terughunkering na die jeug weer aanwesig is. ek wens nou ek was nie ‘n grootmens nie/ek kan nie meer nie.

Kudos vir Die Heuwels dat hulle vir die veteraan, Coenie de Villiers (met sy stem soos verouderde edel-oes), nadergetrek het vir die positiewe Wonder bo Wonder. Dis ‘n kragtige lied en ‘n lus vir die oor.

In opsomming, is daar nie een lied wat afsteek of plekloos is nie. ‘n Indrukwekkende album waarop Die Heuwels met reg trots kan wees. Geluk aan Hunter Kennedy, Pierre Greeff, Johnny de Ridder en Phillip Erasmus.

Dit is van begin tot einde ‘n plesier om na te luister. Nog nooit het Afrikaans so fantasties geklink nie!

Advertisements
14 Kommentaar leave one →
  1. Mei 9, 2011 12:26 vm

    BAIE baie mooi! Dankie!

  2. ShiningFire permalink
    Mei 9, 2011 2:20 vm

    Bela Bela! 🙂

    • Mei 10, 2011 5:02 nm

      Bela Bela….? Is dit nie Warmbad se nuwe naam nie? 🙂

      • ShiningFire permalink
        Mei 14, 2011 3:09 vm

        Nee Boer, dit beteken “beautiful beautiful” in Spaans! 😉

  3. Mei 9, 2011 10:33 vm

    Musikaal briljant en Afrikaanse pop/rock op sy beste.

  4. Andy permalink
    Mei 9, 2011 7:24 nm

    Ek wil Heuwels se eerste album ook ten sterkste aanbeveel. As jy van Wilder as die Wildtuin hou, behoort die eerste ene ook in jou smaak te val.

  5. Mei 9, 2011 9:04 nm

    DHF is werklik fantasties, ek hou ook van die Straatligkinders, wonderlik om te sien dat plaaslike musiek so goed doen.

  6. Mei 9, 2011 11:35 nm

    Ek het nou al mooi probeer luister na beide hulle albums, maar om een of ander rede doen dit nie die ding vir my nie. My seun aan die ander kant is mal oor hulle!

  7. Mei 10, 2011 4:35 vm

    Het die uittreksel van hul musiek op jou inskrywing baie geniet! Ek gaan defnitief hul album soek…

  8. ShiningFire permalink
    Mei 14, 2011 3:11 vm

    “Wonder bo Wonder” is my gunsteling. Ek kry hoendervleis elke keer as ek daarna luister!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: