Skip to content

Somer in jou mond

Mei 13, 2011

Danie de Wet is ‘n doyen in die Kaapse wynbedryf en een van die oorspronklike baanbrekers in die ontwikkeling van kwaliteit wyn in die Robertsonstreek. Hy was van die eerste persoon om Chardonnay (stokkies vanaf Frankryk ingesmokkel) in die Kaap aan te plant en die potensiaal van Chardonnay in die alluviale kalksteen grond van Robertson raak te sien. Hy was voorts die eerste wynmaker wat die stap geneem het om ‘n ongehoute Chardonnay te maak. Deur die jare het hy deur die vervaardiging van kwaliteit wyne en innovering, ‘n baie goeie reputasie vir De Wetshof gevestig. Dis dan veral vir hulle reeks van Chardonnays waarvoor De Wetshof deur die jare bekend geword het.

P5034301

Die Danie de Wet Limestone Hill 2010 is geen uitsondering nie. ‘n Wyle terug het ek dit dan ook as een van my gunsteling Kaapse Chardonnays aangedui. In die glas het die wyn ‘n pragtige helder strooi tot goue kleur wat vlekloos briljant vertoon. Die neus is ‘n kardoes vol geure. Prominente geure op die neus wat my dadelik bygeval het, was die van lanolien, byewas, heuning, varsgesnyde lemmetjie en kastaiing. Hierby kan mens sekerlik voeg ander geure van groen appel en perske, maar hoe dit ookal sy, die neus is wonderlik oop en alles behalwe skaam.

Wat ‘n wonderlike, wonderlike mondvol wyn, met sitrusgeure in oorvloed en ‘n lemmetjie-agtige suur wat die wyn perfekte balans gee en kraakvars maak in jou mond. Dit is mondvulled en sweempie van ryp pynappel is identifiseerbaar op die palaat. Dis soos somer wat deur jou mond spoel en laat jou hunker na nog. Die nasmaak is verfrissend en talm in die mond. Wonderlik om so die Chardonnay se vars, suiwer karakter te proe, sonder enige aantasting van hout. Vir seker my gunsteling ongehoute Chardonnay!

P5034308

Kop op ‘n Blok het die Limestone Hill saam met ‘n geelstert-op-die-kole probeer en die wyn baie geniet. Ek dink ook nie die wyn sal teleurstel saam met ‘n lekker gebraaide snoek, soesji of sasjimi nie. Probeer gerus!

Die wyn is beskibaar by meeste gespesialiseerde wynwinkels, asook in supermarkte, waaronder Woolworths. Ek is egter nie op hoogte van wat die wyn se huidige prys is nie. Verwag egter om dalk hier by die R70 ‘n bottel te betaal.

Behalwe vir hulle reeks van Chardonnays, hou ek ook baie van die Danie de Wet Naissance Cabernet Sauvignon. Dus, as jy ooit die motor se neus in die rigting van Robertson draai, doen gerus aan by De Wetshof.

NS: ‘n BAIE groot dankie aand die weldoener wat my hierdie bottel laat bekom het!

8 Kommentaar leave one →
  1. ShiningFire permalink
    Mei 13, 2011 8:06 nm

    Die wyn is beskikbaar by Woollies @ R60.00. 😉

  2. Mei 13, 2011 9:26 nm

    Gelukkig is die wat ‘n Woollies naby hulle het. Klink na ‘n heerlik mondvol.

  3. Mei 14, 2011 2:03 nm

    Ek sien ook nog by Makro vir R60.00. Gepraat van Makro – ek hou mos niks van ‘n skroefprop op ‘n bottel wyn nie, die uittrek van die prop is vi r my deel van die romantiek van wyn. Ek gaan onlangs een Saterdag Makro toe om vir my ‘n karton Chardonnay teen ‘n billike prys te soek. Een van die vereistes natuurlik – kurk of sintetiese kurkprop. Nou staan die enkel bottels op ‘n rak met die kartonne net daaronder. Eers is daar toe ‘n dame in die gangetjie wat ‘n sekere minder bekende landgoed se wyn aan my wil verkwansel. Ek sê toe laat ek kyk – nee dankie, hulle gebruik ook skroefproppe. Maar dis eintlik beter, was haar kommentaar. My antwoord: miskien sal julle eendag toegee: the customer is always right! Ek soek toe maar verder en besluit op Savanah se Chardonnay, wat ek 99% seker is ‘n kurkprop gehad het. By die huis gekom maak ek die karton oop en jou waarlik – dis skroefproppe! Ek laai dit toe die Maandag in die kar en gaan terug, maar voor ek by Customer Services ‘n draai maak, gaan kyk ek eers weer op die rak. Skroefproppe. Ek moes toe maar druipstert omdraai en die bottel maar net kggggk laat maak en drink.

    ‘n Paar weke later gaan ek toe op ‘n rooiwyntoer Checkers toe en terwyl ek daar is loer ek deur hulle wit wyne. En daar staan dieselfde Savanah Chardonnay 2010 met ‘n kurkprop! So wat is die taktiek dus? Botteleer ‘n klein hoeveelheid met kurkproppe, en Saterdae as die kartonkoppers opdaag, word dit as enkel bottels uitgestal!

    Ondanks die skroefprop op die Limestone Hill was dit baie lekker saam met die vis. Ek het onlangs my goedkoop-maak ketelbraai (daar uit jou geweste Boer!) weer mooi stewig reggemaak en ek dink dis tyd dat hy ingewy word!

    • Mei 16, 2011 7:13 nm

      Ek het ook altyd kurke verkies, maar ek dink ek het lankal die kopskuif gemaak oor die skroefproppe en vind dit baie gebruikersvriendelik. Maar ek verstaan wat jy se oor die romantiek. Sal nou nie ‘n top rooiwyn met ‘n skroefdop wil sien nie. Ek verkies egter definitief die skroefproppe bo sintetiese kurk of die lae graad gekompakteerde kurk.

  4. Mei 14, 2011 6:46 nm

    Ek sal ‘n glasie rooiwyn saam met julle klink, ek weet nie waarom nie, maar ek kon nog nooit hou van witwyn nie [en witwyn gee my kopseer…weet ook nie waarom nie.😉 selfs wit sjampanje ook.] Die naaste wat ek aan wit ‘wyn’ kan kom is Druiwesap.

  5. Mei 16, 2011 7:09 nm

    Dankie SF en Kop vir die prysregstelling. Lyk my ek loop inflasie vooruit!🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: