Skip to content

‘n Eenvoudige statistiese oefening om die ooreenkoms tussen die DA en die Japannese rugbyspan te bepaal

Mei 21, 2011

Die 2011 munisipale verkiesings is nou iets van die verlede en Helen Zille dans omtrent die riel oor die DA se vertoning. Naspers koerante voer verder die hef aan en kan nie uitgepraat raak oor die DA se vertoning nie. Beide die koerante en die DA glo dat die party nou vir eens en altyd deur die swart politieke plafon gebreek het en besig is om tradisionele swart stemme van die ANC af te rokkel. Voorts wil dit voorkom asof die DA sy steun onder die Kleurling deel van die bevolking gekonsolideer het. Maar wat vertel die werklike statistiek?

Ek het die uitslae van die 2006 en die afgelope 2011 munisipale verkiesings geneem en dit gepaar met die uitslae van die 2009 algemene verkiesing, asook die jongste beskikbare bevolkingsyfers vir Suid-Afrika. Ek het dit afgebreek volgens die nege provinsies en die prentjie lyk soos volg:

Limp

Mpum

NW

Gaut

KZN

ovs

Okaap

Nkaap

Wkaap

  • Die eerste duidelike afleiding uit die grafiese voorstellings is dat Suid-Afrikaners nog oorwegend volgens etniese skeidslyne stem. In die 3 provinsies waar Afrikane dus ‘n kleiner persentasie van die bevolking uitmaak as in die ander 6 (Gauteng, die Wes-Kaap en die Noord-Kaap), geniet die DA verreweg die meeste steun. In die ander 6 provinsies is die ANC se steun onaanvegbaar. In 5 van hierdie 6 provinsies groei die DA se steun buite hul tradisionele steunbasis (Blank en Kleurling), maar weglaatbaar min. In KwaZulu-Natal is die DA se steun stagnant.
  • In die Noord-Kaap en Wes-Kaap groei die DA se steun beduidend, maar eerder ten koste van ander, kleiner opposisiepartye as ten koste van die ANC. Ondanks sodanige aansprake, is dit ook duidelik uit die grafieke dat die DA in hierdie twee provinsies nie daarin slaag om buite hulle tradisionele steunbasis te groei nie. Die DA is bloot slegs besig om binne die limiete van hulle tradisionele basis te groei. Die statistiek toon verder aan dat, terwyl die DA se steun dramaties toeneem in die Wes-Kaap en Noord-Kaap, die ANC se steun in werklikheid stabiel is. Die Noord-Kaap is ook die een provinsie waar die ANC steeds aansienlike steun geniet buite sy tradisionele steunbasis (Afrikane).
  • Gauteng blyk die enigste provinsie te wees waar die DA besig is om buite hulle tradisionele steunbasis te groei ten koste van die ANC, hoewel marginaal. Ek glo dit kan toegeskryf word aan die feit dat Gauteng die mees verstedelikte provinsie is, waar die gemiddelde swart kieser (en ANC ondersteuner) waarskynlik polities beter opgevoed is en ook in ‘n hoër sosio-ekonomiese klas beweeg.
  • Hoewel dit duidelik is dat die ANC se steun nie groei nie, is dit terselfdertyd duidelik dat die ANC se steun ook nie beduidend aan die taan is nie. Die ANC se steun blyk veral besonder stabiel te wees in Limpopo, die Noordwes, Mpumalanga, die Oos-Kaap, Noord-Kaap en die Wes-Kaap. Maar in geen van die provinsies neem die ANC se steun noemenswaardig af nie.

Ter opsomming:

In aggenome die ANC uiters swak rekord van munisipale bestuur en gepaardgaande gebrek aan dienslewering die afgelope paar jaar, kan die ANC in werklikheid baie trots wees op sy vertoning in die 2011 munisipale verkiesing. Ek dink bitter min politieke partye in die wêreld sal daarin slaag om in sulke omstandighede op hierdie wyse steun te behou. Dit is in werklikheid ‘n ongelooflike vertoning deur die ANC in enige taal!

Die DA is trots daarop dat hulle daarin geslaag het om steun uit te brei, maar verkeer om een of ander rede onder die indruk dat hulle nuut gewonne steun ten koste van die ANC is. Miskien weet hulle iets wat ek nie weet nie, maar dis duidelik uit die statistiek dat die DA se toename in steun grootliks ten koste van ander kleiner opposisiepartye geskied. Vir eens moet ek dus saam met die rassistiese Julius Malema stem as hy, met verwysing na Helen Zille, verklaar: “Sy is goed daarmee om kleiner partye dood te maak“.

Ek niks teen die DA nie. Die DA is ‘n party wat baie hard werk aan verkiesings en Helen Zille is duidelik ‘n baie entoesiastiese leier. Ek dink ook dis ‘n party met baie bekwame mense wat ‘n verskil maak op plaaslike regeringsvlak. Maar telkens met verkiesings laat die DA my nogal baie dink aan ‘n rugbyspan soos Japan wat hul daarop sal roem as hulle die dag nie met 100-3 teen die All Blacks (by wyse van spreke) verloor nie, maar met 50-3…

10 Kommentaar leave one →
  1. Mei 22, 2011 3:16 vm

    Ek stem nie heeltemal met jou saam nie. Op die oomblik is die ANC vir my baie soos ‘Rome brand en die keiser hou partytjie.’ Ja, hulle het nasionaal gewen, maar die DA het nie NET kleiner partye ingesluk nie. En selfs as hulle het, dan het hulle nie mense met ontslape voorvaders gedreig om vir hulle te stem nie. En hulle het nie verbeter van 100-3 na 50-3 nie. Dalk meer iets soos van 100-3 na 65-30. Dit beteken hulle het gescore EN ook die ander span gekeer om te score😉

    Die mense is moeg vir die ANC se lee beloftes. Die ANC se eie mense. Die boodskap aan die ANC is duidelik: Shape up! En natuurlik… Die Kaap was nog nooit SO blou nie😈

  2. Mei 22, 2011 5:38 nm

    Ek is net bly dat meer van ‘hulle’ nou hul breins begin gebruik as hulle gaan stem, die persentasie is nog klein, maar dit groei stadig en volgende keer sal dit nog beter lyk. ‘Education! education! education!’ – wie het dit nou weer [in die lang historiese verlede] gese? [geskree]

  3. Marieta permalink
    Mei 23, 2011 1:51 vm

    Ek het baie respek vir Helen Zille en die manier waarop sy veg. Ek dink dat die DA se waarde daarin lê dat hulle ‘n pad begin van meer demokraties dink. Elke 5 % tel; maak nie saak of sy dit by klein of groot partye kry nie. Stadig maar seker sal die DA die skip omdraai; deur integriteit, visie en die uitvoering van beloftes.
    Onthou ook dat die kaders van die ANC begin ouer raak en die erfenis van die struggle gaan vervaag. “Hy wat nie in wonderwerke glo. is nie ‘n realis nie”- ala Anton Rupert.

  4. Mei 23, 2011 4:29 nm

    Statisties gesproke kan ek nie fout vind met wat jy geskryf het nie. MAAR. Ek wil my stem voeg by die ander dat mens jou nie moet blindstaar teen die statistieke alleen nie. Ek dink daar het wel iets groters in die verkiesing gebeur:

    1) Om DA en swart te wees vandag, is soos om in die kas te wees. Dit is nie iets wat jy regtig vir jou vriende en familie kan / wil vertel nie. In die verkiesing het die DA egter ‘n daadwerklike poging aangewend om geloofbare swart leiers na vore te laat tree in sy midde. In die media het ons begin kennis neem van swartes wat die DA ondersteun. Alhoewel die DA se steun nog beperk is, is die swart DA stem nie langer meer net ‘n mitiese figuur waarvan jy net hoor nie. Dit maak saak, want al hoe meer sal swart DA ondersteuners uit die kas kan klim en debat en gesprek in die swart gemeenskap stimuleer.

    2) Die DA het in die verkiesing werklik begin beweeg na ‘n nie-rassige, inklusiewe party. Dit is noodsaaklik vir toekomstige groei. Wie weet of die DA ooit sal kan regeer? Ek dink wel dit is besig om ‘n stewige fondasie te lê vir ‘n nie-rassige opposisie en kan dalk die voorloper van ‘n nuwe opposisie wees.

    3) Dalk sal die DA of enige ander opposisie nie die ouer ANC garde ooit kan oortuig nie. Ek dink wel dat die jonger (veral stedelike) geslag nie die lojaliteit wat hul ouers vir die ANC het deel nie. Dus sal die ANC nie maar net altyd die swart stem as ‘n gegewe kan aanvaar nie. Namate jong, dinamiese, swart leiers in die DA na vore tree, gaan die ANC dit moeiliker vind om aanhoudend die rassekaart te speel.

    Die verkiesing was belangrik en gee my hoop, juis omdat die DA begin het om van ras weg te beweeg. En dit is iets wat ons in SA nodig het, sodat ons op die issues kan fokus.

  5. Mei 23, 2011 9:09 nm

    Jou vergelyking met die Japanese rugbyspan blyk nogals akkuraat te wees (en is skreeusnaaks!). Wat ek geniet van Japanese rugby is hulle kamakazi-taktiek. Hopenlik gebruik die DA ‘n beter strategie.

  6. Mei 25, 2011 6:48 nm

    Julle maak geldige punte oor die DA hierbo. George, ek dink veral jou analogie oor DA-ondersteuners wat uit die “kas” klim is uitstekend en verbeeldingryk. Baie goeie beskrywing. En wat julle se is dat daar verandering besig is om te gebeur, wat nie in die statistieke weerspieel word nie. Dit mag so wees, maar ek byt (nog) nie daaraan nie. Al hoop ek julle is reg…

    Ek herhaal myself, maar dit bly vir my kommerwekkend dat ‘n party wat so swak munisipaal (en nasionaal) regeer en letterlik honderde gevalle van diensleweringsprotes en ongelukkigheid ontlok het, dit steeds regkry om soveel steun te behou. Ek mag verkeerd wees, maar dit wil ook vir my voorkom asof die DA letterlik ALLES in hulle veldtog ingestoot het en dalk dubbel soveel geld as die ANC spandeer het? En die ANC wen nog steeds so gemaklik? Mens verloor ook uit die oog dat die DA, ondanks al die gespog, nog nie die steunvlakke van die NP (ja, die ou apartheidsparty!) in 1994 kon bereik nie.

    As ek die rugny-analogie verder kan voer: Hoewel die ANC in alle fasette oorheers het en gemaklik gewen het, het die DA weer moedig probeer en hulle hart uitgespeel. Weer se ek: ek haal my hoed af vir die DA en alles wat hulle insit, maar ek dink op die langtermyn (en solank die ANC nie skeur nie), is hulle besig met ‘n verloorstryd. Dat hulle wel steun ontvang, is belangrik en toename in steun is vir my bemoedigend. Dit irriteer my maar net dat hulle elke keer op propagandistiese wyse ‘n volslae nederlaag as ‘n tipe oorwinning skilder en nie wil erken waar die meeste van hulle nuwe steun werklik vandaan kom nie.

    2014 is nog ver op die horison en baie, baie water kan nog in die see loop, maar ek wil nou reeds voorspel dat die nasionale verkiesingsuitslae oor 3 jaar nie veel gaan verskil van die afgelope munisipale uitslae nie. Met die voorbehoud dat die ANC beter gaan doen op nasionale vlak.

    As Suid-Afrika in die hartjie van Europa of in Noord-Amerika of selfs die Ooste was, sou ek die teorie koop dat die verandering stadig besig is om te gebeur en ‘n aanduider is van wat kom (soos George baie goed bewoord). Maar Afrika-politiek werk so bietjie anders….

    • Mei 26, 2011 9:57 nm

      Dankie, Son! Is interessant, hoewel ek dink die gemiddelde Suid-Afrikaner dink nie soos Kadalie nie…maar wat veral vir my interessant was, was die mense se kommentaar onderaan die artikel. Kyk, ek kan nie anders as om te wonder oor die IK van die persone wat so kommentaar op die Net lewer op die Naspers se koerantartikels nie. Een van die kommentators verwys selfs na die ANC as ‘n “antichristiese” party!!! Ai, red die volk!

  7. Doortjie permalink
    Mei 27, 2011 4:21 vm

    Bravo vir Helen Zille en kie…. wat die moed het om die reuse ANC goliat met soveel vasberadenheid, visie en harde werk aan te vat terwyl andere kritiseer, lag, mopper, skouers laat hang of sommer net vlug.

    Ek weet nie of ek half skeel lees nie, maar ek het nie die indruk in die pers gekry dat die DA voorgee hulle het ‘n groot deurbraak gemaak met die swart steun wat hulle getrek het nie, maar dat hulle wel die keer aanwysbare swart steun kon wen, al is dit bitterlik min in vergelyking met die massas wat nog die ANC steun.. Hulle mag maar bly wees en bietjie spog. Die DA het oral verbeter op hulle vorige vertonings. Geen ander party kan daarop roem nie.

    Statistieke of te niet, dis tog ‘n besondere prestasie om Klipfontein in die hart van Soweto vir die DA te wen. Hou maar dop, die aarde draai, dekades stap aan, nuwe geslagte word groot in ‘n nuwe eeu. Dalk was dit die kleine dag van grote dinge…..al is ‘n moontlike positiewe verandering op die ou einde nie eers meer in die naam van die DA nie. Ek dink nie hulle sal omgee nie.

    • Mei 27, 2011 8:20 nm

      Doortjie, dankie vir jou bydrae. Niks wat ek nou gaan skryf gaan jou geesdrif demp nie, so ek sal maar net se ek staan by my oorspronklike skrywe.😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: