Skip to content

Vanaand vas ek

Mei 26, 2011

Ek is gewoond daaraan dat die gemiddelde Koreaan baie gaaf en mededeelsaam is as dit by kos kom, veral teenoor buitelanders soos die uwe. Kyk, wildvreemdes dink net mooi niks daarvan om met ‘n groot glimlag vir jou van hulle kos of versnaperings aan te bied nie. As dit nie die ou tannie op die bus is wat haar dwergtamaties (‘n gewilde eetding ter plaatse) met jou deel nie, dan is dit die man langs jou wat vir jou ‘n nartjie aanbied, of sommer die vrou op die trein wat ryskoekies met jou deel. En as jy jou in ‘n restaurant bevind, kan jy sommer vinnig die slagoffer word van ‘n glasie of twee soju (Koreaanse vuurwater) wat met groot gemoedelikheid jou aangebied word.

In supermarkte en ander winkels is die verkoopspersoneel ook altyd baie vrygewig en mens kry dikwels toegevoegde waarde by jou inkopies sonder dat jy daarvoor vra. Koreane noem dit “service” (uitgespreek “siewies“). Om die waarheid te se strek die “siewies” baie verder as bloot inkope. As jy byvoorbeeld ‘n skootrekenaar sou koop, word daar gewoonlik ‘n netjiese drasak en muis ingesluit, indien nie meer toebehore nie. Dieselfde geld vir kameras en ander ware.

Dis dan ook die gebruik hier dat jy die aalmoese nie moet weier nie en op die plek moet verorber om aan hulle te toon dat jy die mededeelsaamheid waardeer. Om dit te weier word allerweë as beledigend beskou. Meeste kere is dit egter ‘n aangename ervaring, behalwe vir die kere wat ‘n gedroogde seekatpoot of twee na jou uitgehou word! Maar jy kou maar en spoel na die tyd die smaak met so bietjie koeldrank uit jou mond.

Vandag was egter ‘n besonderse snaakse dag vir my, aangesien ek die hele dag kos aangebied is. In so ‘n mate, dat ek begin dink het ek lyk honger! Eerstens agtermiddag by die skool word ek meegedeel: “Come eat Korean pizza!” (dit is nou natuurlik na die gebruiklike ruim middagete by die skool). Maar dadelik weet ek dat “Korean pizza” nie pizza is nie, maar eintlik Koreaanse pannekoek, of te wel pajeon. “In Korea we eat pajeon when it rains!” Glad nie veel anders as in Suid-Afrika nie, deel ek hulle mee.

S7300221

En daar gaat ons na die klein personeelkombuisie, waar van die personeel ywerig besig is om pajeon te bak. Nou kyk, pajeon is nie ouma se tradisionele kaneel-en-suiker pannekoek nie. Dis deeg gevul met sprietuie en stukkies pylinkvis- en/of seekatpoot, met soms ook ander bestanddele soos garnale en dies meer. Maar dit word nes ‘n pannekoek in ‘n dikbodem pan gebak en kompleet in die lug gegooi om te draai. En ek is baie lief vir pajeon, want dis werklik heerlik saam met ‘n titseltjie sojasous. Dus lê ek behoorlik weg aan die vars pajeon en sit sommer hand by met die bakslag, want kyk gooi kan ek ‘n pannekoek gooi! Heerlik, maar na ‘n tydjie voel ek regtig versadig.

Na skool, gaan koop ek gou ‘n paar goedjies by die plaaslike supermark. Soos gewoonlik koop ek brood by die bakery-afdeling en terstond word ek ‘n redelike ruim stuk roomkoek in die hand gestop. Ek “gamsa hamnida” (dankie) en hoewel ek nie juis ‘n soettand het nie, word ek gepor om dit te eet. En af in my keel is die roomkoek. Regte ryk room en ek is eintlik spyt ek het dit ook nog geëet. Ek drentel aan na die vleis-afdeling en daar kom ‘n ander tannie aangehardloop met vleisies op ‘n tandestokkie. “Proe!” beveel sy my in Koreaans. Hmmmm….mashiseyo (lekker)…

S73F0181

Ek maak my inkopies gou klaar (voor iemand nog ‘n eetgeskenkie in my mond stop) en skud my kop, want kyk, my maag voel hy is vol! Op pad woonstel toe gaan ek gou by die poskantoor in, want ek wil een van hulle groot koeverte koop. Wel hier gaan ek sekerlik nie ook gevoer word nie, dink ek skalks. Dame agter die toonbank is heel vriendelik en ek betaal. Volgende oomblik glip haar hand onder die toonbank in en plaas sy twee stukkies mangeatteok in my hande en glimlag breed. Nouja, mangaetteok is ‘n tipe ryskoekie, gemaak van rysdeeg, met ‘n vulsel van soet rooiboontjie en toegedraai in blare. Dit lyk kompleet soos die kokon van ‘n spinnekop so tussen die blare en dis nie een van my gunstelinge nie. Dis een van my dorpie, Uiryeong, se kulinêre spesialiteite en dis reeds vele kere in my mond gedruk.

Ek gamsa hamnida toe maar weer, druk die een in my mond en plaas die ander een subtiel in die inkopiesak. En toe’s ek daar uit en vinnig woonstel toe, ingeval nog ‘n Koreaan dink ek lyk honger!

Dit was ‘n interessante dag, maar vanaand vas ek.

Advertisements
8 Kommentaar leave one →
  1. ShiningFire permalink
    Mei 26, 2011 10:12 nm

    Lol Boer :-), so loop ek my toe vas met die omie in die Ginseng winkel, ek moes net oë toemaak en sluk!

    • Mei 27, 2011 8:24 nm

      😆 En hoe was die smaak vir jou? Meeste westerlinge wat ek ken kan nie die smaak uitstaan nie.

      • ShiningFire permalink
        Mei 31, 2011 8:16 nm

        Ginseng het vir my ‘n oorweldigende pekanneut smaak.

        But that’s just me 🙂

        SF

      • Junie 1, 2011 6:37 nm

        Interessant…nog nooit so aan die smaak van die wonderwortel gedink nie!

  2. Mei 26, 2011 11:27 nm

    Die Koreaane op die platteland is aansienlik meer mededeelsaam en gasvry as hier in die stad. Soms sal ek ook sulke geskenkies kry hier, maar nog elke keer wat ek in die platteland was, kon ek baie duidelik die (positiewe) andersheid agterkom. Die stad in aansienlik meer “stuck up.” Partykeer pas dit my, want ek is nie altyd lus vir mense wat hulle neuse in my besigheid steek nie, maar soms laat die stadskilheid ‘n slegte smaak in die mond.

    • Mei 27, 2011 8:26 nm

      Dis waar. Ek dink dis maar deel van ‘n universele tendens, die tussen die plattelanders en die stedelinge. Maar ek is heel gelukkig hier in die platteland.

  3. Mei 27, 2011 12:00 vm

    “In so ‘n mate, dat ek begin dink het ek lyk honger!”. Dit het my laat glimlag. Die “pizza” lyk heerlik. Ek kan my die soutigheid voorstel. Die blare-gereg wonder ek darem oor. Maar dan, ek’s mal oor Griekse Dolmas wat ook maar net rys en speserye is in druiweblare. Ten minste dit is ‘n soutigheid ipv iets soet.

  4. Mei 27, 2011 3:18 vm

    Hier het hulle net pannekoek op ‘pannekoekdag’ – en dan hardloop die kinders resies met die pannekoeke! http://www.woodlands-junior.kent.sch.uk/customs/shrove.html sien die link!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: