Slaan oor na inhoud

Ter ere aan die konings

Junie 1, 2011

P4294208

Jongmyo in Seoul is die amptelike Heilige Plek van die Koninklike Voorvaders van die Joseon Dinastie (1392-1910), as mens nou die korrekte naam en beskrywing aan die plek wil toevoeg. Dit is ‘n pragtige park waar die amptelike herinneringstablette van 83 konings en koninginne van die Joseon Dinastie in twee tradisionele geboue bewaar word.

P4294215

Die grootste en oudste gebou is genaamd Jeongjeon (Hoofsaal) wat in 1395 voltooi is op bevel van die eerste koning van Joseon, Koning Taejo (geheers van 1392-1398). Die tweede is genaamd Yeongnyeongjeon (Saal van Ewige Vrede) en is in 1421 voltooi. Hierdie gebou is opgerig omdat die eerste nie meer spasie gehad het nie. Gedurende 1592 is die geboue deur die Japannese inval vernietig en teen 1608 volledig herbou. Albei geboue moes egter later verskeie kere uitgebrei word, wat twee baie lang, lineêre geboue tot gevolg het – ietwat vreemd vir Korea. Vandag is Jeongjeon ongeveer die lengte van ‘n rugbyveld, om nou ‘n tipiese Afrikaanse vergelyking te benut. Behalwe vir die twee genoemde geboue, is daar verskeie ander geboue in die area wat meestal aangewend word wanneer die herdenkingsrites voorberei word. So heilig word Jongmyo beskou dat toeriste deesdae ook slegs met begeleide toere Jongmyo kan besoek.

P4294211

Die spesifieke herinneringstablette van die koninklikes in Jongmyo, is van hout gemaak, met ses ronde gate daarin, asook die betrokke koninklike se naam. Elke tablet word in ‘n spesiale houtkissie toegesluit en agter ‘n geel gordyn en swaar houtdeure bewaar. Eenmaal ‘n jaar, sedert die 14de eeu, word die deure oopgemaak, gordyne weggeskuif en die tablette tevoorskyn gebring, wanneer die herdenkingseremonie vir die afgestorwe konings gehou word.

P4294217P4294221

Hierdie omvangryke en luisterryke seremonie is genaamd Jongmyo jerye en dis ‘n geweldige formele en gewyde seremonie, bestaande uit Confuciaanse rituele musiek, danse en oordenking. Hierdie eg Confuciaanse rites word beskou as die belangrikste historiese rite in Korea en word voltrek volgens streng volgens voorskrifte. Ter verklaring: Tydens die Joseon Dinastie was Korea beskou as die strengste, mees Confuciaanse samelewing in die wêreld. Tot vandag toe speel Confucianisme ‘n geweldige belangrike rol in die Koreaanse psige. En volgens Confuciaanse tradisie moet die gestorwenes vir geslagte daarna gedenk word en gereeld eer aan hulle gebring word. In Confucianisme word die dooies nie net eenvoudig vergeet nie.

P4294225

Die hele seremonie is daarop gerig om die geestesteenwoordigheid van die koninklikes van weleer te gedenk. Behalwe vir musiek, danse en resitasies, speel spys en drank ook ‘n integrale rol. Daar is spesiale koperware wat aangewend word vir die bring van die offerkosse aan die gestorwenes, wat dan deur die spesifieke aangewysde nakomelinge in hul teenwoordigheid gebruik word. Al die deelnemers aan die seremonie dra ook tradisionele klere streng volgens Confuciaanse aanwysing.

P4294223

Wat mens dadelik opval van Jongmyo, is dat die geboue, in kontras met die veelkleurige paleise in Seoul, redelik vaal vertoon. Die geboue is slegs in twee kleure geverf, naamlik donkergroen en vaalpienk. Die tuine is pragtig, maar die dammetjies is kleiner en baie eenvoudiger as by die paleise. Met opset is dit so gedoen, juis omdat Jongmyo die plek is waar die dooies rus en die lewe nie gevier word nie. Daar is ‘n bepaalde rustigheid hier by Jongmyo en die tuine se mooi is ‘n anderste, rustige mooi. Wou voorkom asof selfs die voëls hier minder luid is as in die paleistuine en natuurlik is hier ook geen Mandarynse eende nie.

P4294213

‘n Plek vir rus, stilwees en bepeinsing…

Nota: Gedurende 1995 is Jongmyo tot ‘n UNESCO Erfenisgebied verklaar en in 2001 is die Jongmyo jerye verklaar tot ‘n UNESCO Mondelinge en Ontasbare Kultuurskat.

5 Kommentaar leave one →
  1. Junie 2, 2011 3:10 vm

    Jou sephia behandeling van die fotos verleen uitstekende karakter aan die antieke geboue en die storielyn. Genotvol!

  2. ShiningFire permalink
    Junie 2, 2011 5:11 vm

    Oggggg jinne, die geeste moet tog net onthou om die geel gordyn van hulle houtkas toe te trek as hulle klaar by mense gespook het! 😉

Lewer kommentaar