Skip to content

Tussen die ore van die perd

Junie 17, 2011
tags:

Maisan Provinsiale Park, naby die klein dorpie van Jinan (waar hondvleis nog ‘n baie gewilde delikatessen blyk te wees) is een van Korea se kleinste natuurparke.Volgens my oorwoë mening is dit egter ook een van Korea se mooiste bergparke. Hier is dit dalk nodig om ter verduideliking te noem dat, weens die land se topografie, alle natuurparke in Korea of bergparke, of maritieme parke is. Vlaktes is nou een ding wat jy glad nie hier aantref nie.

P6055646

Maar ewenwel, hierdie juweel van ‘n park, dra die naam van die twee onmisbare prominente klipkoppe wat van ver af op die horison sigbaar is. Behalwe vir die omliggende landskap, herinner die koppe nie min aan die Spitskoppe van Namibië nie. Die gesamentlike naam van die twee koppe, is Maisan, of te wel, Berg Mai, wat letterlik vertaal as “die ore van die perd”. Uit die gepaardgaande beelde is dit duidelik hoe die Koreane op hierdie naam gekom het. Altwee koppe troon ongeveer so 700m die lug in. En wat sal ‘n berg in Korea tog nie wees sonder ‘n historiese mite nie.

P6055539

Die mite van Maisan het twee hoofkarakters, nl. ‘n god en ‘n godin. Die tweetjies het millenniums terug besluit om op die aarde te kom woon en onder andere ‘n kind ryker geword in die proses. Tog het hulle op ‘n dag besluit om weer die aardse woning te verlaat, maar soos hulle in die proses van opvaar na die hemele was, het ‘n vrou hulle gewaar. Die gevolg was dat hulle saam met die kleinding op die aarde vasgevang is en oombliklik in twee steenbeelde verander het. Behalwe dat die twee koppe soos die ore van ‘n perd lyk, verteenwoordig die pieke dus in ook die yin en die yang, of in eenvoudige Afrikaans, die manlike en vroulike.

P6055538

Die wêreld rondom hierdie twee pieke is werklik fotonemenswaardig. Die staproete lei van die suide, verby Tapyeongje meer, pragtig geleë met Maisan wat majestueus, amper asof digitaal bygevoeg, in die agtergrond troon. Die roete neem jou langs pragtige natuurtonele, somerblomme en inseklewe, tussendeur die twee pieke na die noorde van Maisan en die dorpie Jinan.

P6055619

P6055612

In die stapproses, word daar ook verskeie tempels aangetref. Die eerste, is Gumdangsa, wat nogal vreemd vertoon met ‘n goue dak – iets wat ek nog nie vantevore op die skiereiland aangetref het nie.

P6055519

Dit herinner baie aan die tempels van Suidoos-Asië waar goud die oorwegende kleur is. ‘n Goue Boeddha-beeld waak ook oor ‘n dammetjie met pragtige lotusblomme. ‘n Ander tempel, Eunsansa lê weer aan die noordekant, pragtig geëts teen die reuse rots.

P6055515

P6055629

Die tempel waarvoor die berg egter nasionale bekendheid verwerf het, is sprokiesmooi genestel reg tussen die ore van die perd en is genaamd Tapsa, wat direk vertaal as “toringtempel“. Nouja, dis nie moeilik om te sien hoekom hierdie unieke tempel “toringtempel” heet nie, want die tempelgeboue is omring deur letterlik tientalle kliptorings van verskillende grotes, hoogtes en vorms. Bo teen die voet van die koppe, agter die tempel se hoofsaal, staan die grootste twee torings wat die twee klipkoppe van Maisan spieëlbeeld en simbolies is van die yin en yang.

P6055549

Die storie agter die toringtempel, is egter geen mite nie. ‘n Boeddhistiese monnik, genaamd Lee Gap Young (1860-1957) het op 25-jarige leeftyd beweer hy het ‘n openbaring van Bo ontvang om die torings rondom die tempel te bou om die balans van die heelal (lees weer yin en yang) uit te beeld. Hy het in 1885 met die taak begin en vir 30 jaar die torings met sy eie hande gebou. Daar was blykbaar oorspronklik 120 torings waarvan vandag nog 80 staande is.

P6055587

Hy het alleen gewoon tussen die pieke en het na bewering slegs van dennenaalde geleef (ek weet nie so mooi van die deel van die storie…miskien het hy af en toe in Jinan gaan inloer vir ‘n stukkie hondvleis). Maar hoe dit ook al sy, sy dieet het gehelp dat hy tot die rype ouderdom van 97 geleef het. Sy standbeeld staan vandag voor die tempel en dit lyk voorwaar of hy ‘n wyse ou man was.

P6055562

Met hierdie verhaal as agtergrond word Maisan se misterie versterk deur die feit dat, gedurende winter, as jy daar ‘n bakkie water neersit, die yskeël na bo reik en so die pieke en die talle torings om die tempel weerspieël. Dit kan blykbaar nie verklaar word nie, maar ek is geen wetenskaplike. Miskien is daar iemand wat hier lees, wat ‘n logiese verklaring daarvoor het.

P6055610

Opsommenderwys, is Maisan Park een van die mooiste plekke wat ek al in Korea besoek het en is dit ‘n plek waar mens werklik weer jou batterye kan gaan herlaai en jou kan verwonder aan die natuurskoon. Definitief die reis werd.

16 Kommentaar leave one →
  1. Junie 17, 2011 9:52 nm

    Pragtige foto’s, maar net so tussen my en jou – daai ore lyk vir my meer soos die ore van ‘n kat😆

    • Junie 19, 2011 5:34 nm

      Eintlik stem ek saam met jou!🙂 Ek dink die Koreane besef dit ook. Maar in Korea het katte nie ‘n goeie reputasie nie en daarom kies hulle toe maar seker ‘n perd!

  2. Junie 17, 2011 9:57 nm

    Dankie vir die interessante stukkie oor die mooi natuurpark daar by jou Gerrie.
    Groete en goeie wense.
    Jopie

  3. Junie 17, 2011 11:54 nm

    Baie interessant!

  4. Junie 18, 2011 3:37 vm

    Pragtig. Is nou Somer by julle?
    Dit lyk asof Buddhisme nog springlewendig is in Korea?
    Die parke en dorpe lyk pragtig skoon en netjies. Geen plastieksakke en papier of bierbottels wat die plek vol lê nie.
    Groete uit `n baie koue (en vuil) RSA

    • Junie 19, 2011 5:37 nm

      Ja, die humiede somer is met ons, Louwie. Om jou vraag oor Boeddhisme te antwoord: ek sou nie se dis ‘n groeiende geloof hier nie, maar so helfte van die gelowiges is steeds Bhoeddiste en die ander helfte Christene.

      NS: Mens kry ook maar vuiler areas hier maar oor die algemeen doen die Koreane baie moeite om hulle openbare areas en natuurparke skoon te hou.

  5. Junie 19, 2011 5:26 nm

    Stunnig fotos!

  6. Junie 20, 2011 8:39 nm

    Ek het die nou baie geniet. Jou foto’s en beskrywings is great!

  7. Anoniem permalink
    Junie 21, 2011 6:42 nm

    Gits, wat ‘n pragtige plek, met baie interessante geskiedenis wat daarmee saamgaan. Jou foto’s is altyd besonders mooi.

    Ek dink nou: Dis opvallend dat volke wat respek toon vir hul natuur-erfenis en ook hul geskiedenis, oor die algemeen baie suksesvol is in die skepping van welvaart. Korea is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

  8. kyker permalink
    Junie 21, 2011 6:44 nm

    ‘Skuus Boer, dit was my kommentaar hierbo.

    • Junie 21, 2011 7:15 nm

      Dankie, kyker. Nogal iets baie interessant wat jy nou hier noem. Het nog nooit spesifiek so daaraan gedink nie…

  9. Junie 22, 2011 10:00 vm

    Lyk vir my ook meer na ‘n kat se kop as ‘n perd sin. Maar dis mooi wereld.

  10. Junie 26, 2011 8:35 nm

    Mooi foto’s Boer! – soos altyd. Ek hou daarvan as kulture ‘n legende/mite koppel aan die nutuur. Dit maak dit soveel meer interessanter – en ‘lewendiger’ – veral vir kinders wat sulke plekke as ‘boring’ sou beskou. [nou praat ek as dit kom by storie-skryf – jy sal weet waarvan ek praat. ]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: