Skip to content

Oor skuldgevoelens en skaamte

Julie 8, 2011

Die afgelope tyd lug menige politieke meningsvormers hulle opinies oor die Afrikaner in Suid-Afrika en die wenslikheid, al dan nie, van ‘n aangaande kollektiewe Euro-Afrikaanse* skuldgevoel vis-a-vis Afrikane in Suid-Afrika.

Ek is nie seker nie, maar ek dink die nuutste hoofstuk in die verhaal van die Afrikaner se eksistensiële vraagstuk in Suid-Afrika, het moontlik begin met ‘n stuk deur Dr Samantha Vice van Rhodes Universiteit. Dit is ‘n lang artikel, maar, in kort, argumenteer sy dat Euro-Afrikane in Suid-Afrika steeds moet besef dat hulle in ‘n onverdiende bevoorregte posisie is en daarom nie aan die openbare debat behoort deel te neem nie. Euro-Afrikane behoort eerder in nederigheid stilte te handhaaf, want die verlede ontneem hulle van legitimiteit om oordeel te fel oor Afrikane en die manier hoe hulle die land regeer. Sy argumenteer dat Euro-Afrikane daarna moet streef om skuldgevoelens te hê, om skaam te wees en om selfverwyt te koester. Om haar aan te haal:

My argument for the appropriateness of feeling shame and of responding to it with silence and humility depends not on some ancient wrong done in our name, but of our own ongoing wrongdoings and their visible effects. Once again, then, the best moral response is accept shame as both appropriate and troubling, and to turn one’s attention to
the self with silence and if possible, humility
.”

Soos te verwagte, laat Eusubius Mckaiser in die Mail & Guardian homself nie twee keer nooi om met trompetgeskal Vice se wyshede aan te prys nie. Mckaiser raak oa die volgende juweeltjie kwyt:

Vice’s reflections should resonate with whites in general. But they will not. Shame and regret are difficult emotions to own up to. It is easier to focus attention on others, like pointing out how corrupt this “black government” is or how difficult it was for Johan, the neighbour’s son, to get a job despite having an engineering degree. Confronting your own self, and being ashamed of benefiting unjustly from your whiteness, is too painful for many to manage.”

Max du Preez reageer ook direk op Vice in ‘n meningstuk en wys baie korrek daarop dat Vice heeltemal die dam onder die eend uitruk en dat skaamwees en skuldgevoelens verlammende emosies is en Euro-Afrikane verhoed om ‘n bydrae tot die land te lewer. Onverstaanbaar egter, maak Du Preez die volgende uitspraak in ‘n onverwante meningstuk wat daarop wys dat sy kritiek teenoor Vice miskien nie so opreg was nie. Dis eerder asof hy so ‘n bietjie van Julius Malema se donder wil steel:

I sometimes think white South Africans deserve a revolution. Too many of them live in complete denial, as if nothing had changed since the comfortable days when they were what Malema and Co now want to become. Too many whites fooled themselves into thinking putting black faces in government and parliament would be the extent of their “sacrifice” after apartheid. Their racism, although mostly uttered privately or anonymously, matches that of the new breed of black racists. They need a rude wake-up call, or there will be a revolution and they will be its first victims.”

Die gerespekteerde Prof Anton van Niekerk van Stellenbosch het ook ‘n eiertjie te lê. Hy vat die joernalis Leopold Scholtz aan, asook Flip Buys van Solidariteit en raak oa die volgende kwyt:

Dit help nie om die ‘geskiedenis terug te vat’ deur dit te laat buikspreek in terme van die vrese en obsessies van die hede nie. As wit mense sit ons met enorme skuld ten opsigte van die verlede. Ek stem met haar (Vice) saam ten opsigte van nederigheid: As wit mense het ons geen onwrikbare morele locus standi van waar ons links en regs oor ander kan oordeel nie. Ek verskil egter van haar ten opsigte van stilte, selfs al is dit so dat die stilte wat sy bepleit nie ‘n passiewe oorgawe is nie, maar ‘n aktiewe luister en ‘n stille werksaamheid om reg te stel waar moontlik.”

Ten laaste, skryf Cobus onlangs by die ander kant oor Steve Hofmeyr se gewraakte lied, Ons sal dit oorleef. Cobus vat Hofmeyr se bondige interpretasie van die Afrikanergeskiedenis aan en redeneer dat Hofmeyr nie eerlik met die geskiedenis omgaan nie. In die stuk (terloops ‘n baie goed beredeneerde opiniestuk wat andere soos mnre. Mckaiser en Du Preez se redenasies in die skadu stel), skryf hy oa die volgende:

Maar vir Christene glo ek het ons ‘n groter verantwoordelikheid om die ongeregtighede waarvoor ons verantwoordelik was te onthou as die ongeregtighede wat ons beleef het. Oor dit wat ons beleef het, moet ons ‘n openheid hê om te versoen, te vergewe, en te vergeet (hierdie deel vra baie langer verduideliking wat ek nie nou op ingaan nie). Oor dit wat ons veroorsaak het, het ons die verantwoordelikheid om te onthou sodat ons kan werk vir herstel (dink Saggeus in Lukas as hierdie vir jou vreemd klink). Dit beteken nie dat ons nooit ongeregtigheid wat ons beleef het moet onthou nie, dit moet inderdaad onthou word in ons stryd om geregtigheid, ek sê net dat ons eerste verantwoordelikheid is om die ongeregtigheid waarvoor ons skuld dra te onthou.”

As ek al bogenoemde redenasies bondig kan saamvat, kom dit my voor asof die meningsvormers die volgende sê:

  • Euro-Afrikane moet skuldgevoelens en skaamte koester en meer nog – in der waarheid hierdie gevoelens nastreef.
  • Euro-Afrikane se sosio-ekonomiese bevoorregte posisie in Suid-Afrika is onverdiend en slegs die produk van rasgedrewe bevoordeling onder die vorige bedeling.
  • Euro-Afrikane is per definisie rassisties en verdien om die slagoffers te wees van rewolusie.
  • Vir baie Euro-Afrikane het niks verander sedert 1994 nie (!). Hulle leef soos nog altyd hul bevoorregte lewens.
  • Afrikaners moet nederig wees en nie oor Afrikane en die manier hoe hulle die land bestuur oordeel nie.
  • Euro-Afrikane moet liewers nie veel praat nie, maar eerder luister.
  • Afrikaners moet fokus op die ongeregtighede waarvoor hulle verantwoordelik was en dit deurgaans onthou.

Nou, waarom nou al hierdie moeite om bogenoemde argumente weer te gee? Wel, vir bloot die eenvoudige rede om te kan sê dat al bogenoemde meningsvormers, hoe goed of minder goed hul ook al hulle standpunte stel, kritieke denkfoute begaan. Om mee te begin, weet hulle klaarblyklik nie veel van die sielkunde nie. Nie dat ekself ‘n sielkundige is nie, maar ek het tog so bietjie gaan oplees oor wat sielkundiges en ander kopdokters se mening is oor emosies soos skuldgevoelens en skaamte. En daar is algemene konsensus oor die volgende:

  • Om skuldgevoelens te koester vernietig emosionele energie.
  • Om skuldgevoelens te koester breek jou selfrespek af.
  • Skuldgevoelens inhibeer beide jou kreatiwiteit en produktiwiteit.
  • Skuldgevoelens en sy bedmaat, selfhaat, verhoed dat jy normale verhoudinge met ander kan handhaaf.
  • Om skuldgevoelens te bly koester, vergroot jou kanse om weer presies dieselfde foute te herhaal.
  • Skuldgevoelens maak nie van jou ‘n beter mens nie.
  • Skuldgevoelens is nie toekomsgerig nie en veroorsaak dat jy in die verlede vasval.
  • Skaamte werk gevoelens van depressie, angs, waardeloosheid, mislukking, magteloosheid en minderwaardigheid in die hand.
  • Skaamte immobiliseer jou en maak jou passief omdat jy die heeltyd vrees dat jou optrede verkeerd kan wees.
  • In opsomming: Skuldgevoelens en skaamte verlam jou hele wese.

Nou-ja, ek dink dis vanselfsprekend wat die aangehaalde meningsvormers se wense dus vir Afrikaners spesifiek en vir Euro-Afrikane in die breë is. Hulle het duidelik nie gaan opleeswerk doen oor wat die implikasies van hulle argumente in die praktyk beteken nie. Want wat hulle in der waarheid sê, is dat boetedoening en selfgeseling die enigste rol is wat Euro-Afrikane nog oor het om te speel in Suid-Afrika.

Maar dit is nie al leemte in Vice et al se argumente nie. Hulle trap ook vierkantig in die slaggat van konvensionele wysheid. Hulle redenasies is gebou op die aanname dat, indien daar nie apartheid (en kolonialisme) was nie, Afrikane en Euro-Afrikane vandag op gelyke voet sou gestaan het in Suid-Afrika. Die sportspanne sou oorwegend swart (en uitmuntend) gewees, Afrikane sou ‘n suksesvolle landbousektor gelei het en die meeste groot korporasies sou onder die suksesvolle bestuur van Afrikane gestaan het. Daar sou min ongelykhede gewees het en Afrikane en Euro-Afrikane sou in broederskap geleef het.

Dis moontlik te wyte aan die gebrek aan vergelykende geskiedkundige studie wat bogenoemde meningsvormers so diep in hierdie slaggat trap. Hulle kyk net na Suid-Afrika en nie veel wyer as dit nie. Hulle vergeet van talle lande – hoofsaaklik in Afrika – waar daar geen apartheid was nie, waar die ongelykhede veel groter is as in Suid-Afrika. Onnatuurlik eng vir mense van hulle ondervinding en aansien oorweeg hulle glad nie die alternatief nie – die feit dat die klasverskille tussen Euro-Afrikane en Afrikane in Suid-Afrika miskien nie veel anders daaruit sou sien, indien daar nie apartheid was nie (die klasverskille het vir alle praktiese doeleindes reeds voor 1652 bestaan). Ek wil selfs dit waag om aan hulle die ongemaklike vraag te stel: Is dit agv apartheid of ten spyte van apartheid dat Suid-Afrika vandag die mees ontwikkelde staat op die vasteland van Afrika is?

Voorts vat hulle geslagte Afrikaners in die gesig deur te impliseer dat Euro-Afrikane (en by implikasie Afrikaners) nie hard gewerk het en ontberinge beleef het om te kom waar hulle is nie. Asof Euro-Afrikane se bevoorregte posisie bloot uit die lug geval het en uitsluitlik die produk van rasgedrewe bevoordeling is. Dit is eintlik haas onbegrypbaar dat al die genoemde meningsvormers die geskiedenis so kan oorvereenvoudig. Mens sal dit veral nie verwag van iemand met die intellek van Prof. Van Niekerk nie.

Om die waarheid te sê, as mens tussen die lyne lees, maak die meningsvormers ‘n saak daarvoor dat armoede onder (hoofsaaklik) Afrikane en vele ander probleme in Suid-Afrika voor die deur van Euro-Afrikane gelê kan word. Behalwe miskien Mckaiser, is ek verbaas oor die kortsigtigheid wat in die genoemde meningsvormers se argumente na vore kom. Dit is duidelik dat hulle nie die kompleksiteit van die geskiedenis en die vele veranderlikes verantwoordelik vir Suid-Afrika se problematiek begryp of selfs probeer begryp nie. Kortom, is hulle argumente intellektueel besonder arm daaraantoe.

Dit is vir my onrusbarend en hartseer om te sien hoe die openbare debat in Suid-Afrika al hoe meer gerig is daarop om Euro-Afrikane – en spesifiek die Afrikaner – tot swartskaap te doem vir al die euwels van hedendaagse Suid-Afrika. En diegene wat nie bloot wil omrol en dood speel nie, word gerieflikheidshalwe gebrandmerk as rassisties en onboetvaardig. En ons almal weet wat die uiteinde is as ‘n etniese groep eksklusief verantwoordelik gehou word vir ‘n land se probleme. Dit hoef ek sekerlik nie uit te spel nie…

NS: Ek het nie genoemde meningsvormers se argumente individueel aangevat nie, maar tog wil ek vir Cobus daaraan herinner dat Jesus juis gekom het om ons te verlos van skuldgevoelens, skaamte en ander negatiewe emosies. Soos ek die Evangelie verstaan, wil Jesus se Evangelie juis ons van die verlede verlos. Skryf Paulus nie dat ons ons moet losmaak van wat agter ons is nie? Maar nou-ja, ek is ook geen teoloog nie.

*Ek gebrek die term Euro-Afrikane in stede van “blankes” of “wittes” omdat laasgenoemde terme eksklusief op velkleur fokus, wyl die term “Euro-Afrikaan” meer korrek op afkoms fokus.

Advertisements
27 Kommentaar leave one →
  1. Julie 8, 2011 9:21 nm

    Boer, siende dat jy my die eer van ‘n naskrif gee, sal ek maar reageer, maar slegs op die naskrif, want in die res is ek nie duidelik watter kritiek op wie van toepassing is nie, en sal dit nogals vreemd wees as alles wat jy aan hierdie “groep” toedig ook in my kort skrywe voorkom.
    Ek glo nie my gebruik van die woord “skuld” het met “skuldgevoelens” te make nie. Ek stem met Vice slegs saam as haar argument ‘n tydelike voorstel is: daarmee bedoel ek, ek dink alle wittes moet iewers deur die krisis wat Vice beskryf beweeg, maar hulle moet deur beweeg. Om McKaiser so bietjie uit konteks te gebruik, Vice se siening is inderdaad ongelukkig raar. Te min wittes het al ooit beleef wat sy beskryf. Dus, al dink ek sy is verkeerd, dink ek sy is vir die oomblik reg.
    Maar, sover ek die saak sien is die belewenis van skuld is nie wat tot verandering lei nie, dus, wanneer ek na skuld verwys dan is dit eties. Ek werk met ‘n groep, en sê dat die groep skuld dra. Dis ‘n historiese stelling, en dit word geskryf in die konteks van reflekse op geheue, en vanuit ‘n Christelike kyk probeer ek daarmee uitwys waarvoor ons verantwoordelikheid moet neem om te onthou.
    Het Jesus gekom om ons van skuld te bevry? Ek dink inderdaad so, maar ek dink nie Jesus het gekom om ons te help om te vergeet waar ons skuldig is nie. My kort verwysing na Saggeus dra hierdie siening (alhoewel ek erken dat dit verduideliking kort), in Saggeus se ontmoeting met Jesus beleef hy vir die eerste keer skuldgevoelens (ek lees dit in die teks in), hy onthou waar hy skuldig was in die verlede, waar hy verryk is ten koste van ander, en hy gaan maak dit reg. In hierdie ontmoeting raak Saggeus inderdaad van skuld ontslae, maar dit gebeur nie deurdat Jesus sy skuldgevoelens wegneem nie.
    Ek hoop darem dit kom een stukkie duidelikheid net uitbring.

    • Julie 11, 2011 7:50 nm

      cobus, dankie vir jou repliek. Miskien moes ek jou nie by hierdie skrywe betrek het nie, maar die trant van jou inskrywing was vir my in ‘n mate dieselfde trant wat in die ander skrywes voorkom. Ek stem saam met jou dat mens nie jou eie swakhede en fout uit die verlede moet vergeet nie. Mens moet tog die heeltyd bewus wees dat jy vol foute is en ook ander te na gekom het. Maar ek glo nie dit is enigsins produktief vir mens om te bly fokus op jou eie foute van die verlede nie. Terwyl mens bewus te hoort te bly van jou eie tekortkominge en misstappe, glo ek mens moet fokus op dit wat positief is uit die verlede. Want dit skep positiewe energie vir die toekoms en die pad vorentoe. In dieselfde opsig glo ek dat dit ook Jesus se wens vir ons lewens is. Ons het ‘n verantwoordelikheid om te onthou, beide die goeie en slegte, maar vir ‘n konstruktiewe toekoms is ons verantwoordelikheid om te bou om die positiewe uit ons verlede, nie die negatiewe nie.

      • Julie 13, 2011 10:06 nm

        Dit klink nice, en as ek Volf (op wie ek gebou het, so ek hou maar by hom vir nou) moet volg sou ek moet saamstem, dat ons taak uiteindelik is om die positiewe te onthou en die negatiewe nie-aan-te-dink-nie. Maar daar is ‘n voorwaarde voor ons eerlik mag sê dat ons nie-aan-dit-dink-nie, en dit is dat dit reggestel moet word. Dus onthou ons nie bloot net omdat onthou onthou is nie, ons onthou sodat ons kan regstel en dan kan ophou-onthou. Daar kan ander perspektiewe wees, maar vanuit ‘n Christelike tradisie sou ek sê dat beide om te te vergeet voordat ongeregtighede reggestel is, asook om te sê dat ons nooit mag vergeet nie verkeerd sou wees.

  2. Julie 8, 2011 9:39 nm

    Baie goeie artikel en verwoord baie van die gedagtes wat ek self oor die onderwerp gehad het.

    Ja, so Euro-Afrikane is bevoordeel as gevolg van uitbuiting in die verlede, en nou moet ons klaarblyklik daarvoor boet.

    Die vraag is, tot watter mate is die hedendaagse welstand wat Euro-Afrikane besit, afkomstig vanaf Apartheid/uitbuiting teenoor eie harde werk en inisiatief.

    Hoe meer mens met ‘n vergrootglas na hierdie dinge kyk, hoe gryser en dowwer word die skeidslyne tussen reg en verkeerd, tussen steel en geskep/opgebou.

    As ons Euro-Afrikane in ‘n onbevolkte land inbeweeg het, sou ons waarskynlik steeds tot ‘n vergelykbare vlak van welvaart gegroei het. Oftewel met minder bediendes en tuinboys.

    Hoeveel van ons huidige welvaart kan dus eksklusief voor die deur van Apartheid gestel word?

    Ek onken nie dat daar wel uitbuiting en bevoordeling was nie. Dis egter so duidelik soos modder tot watter mate ons in die verlede en vandag nog daaruit voordeel trek en dus hoe veel ons daarvoor moet boet.

    • Julie 11, 2011 7:54 nm

      Jan-Carel, welkom hier en dankie vir jou kommentaar. Ek het dit eens met jou oor die troebele waters van waar die waarheid nou eintlik le. Hulle se retrospeksie is die enigste eksakte wetenskap. Daarom is dit altyd maklik om in retrospektief te oordeel. Ons is vasgevang in ons huidige zeitgeist, soos die Duitste woord daarna verwys. En ons verstaan bitter min van die mense van 100, 70 of 50 jaar terug se zeitgeist. Dis soos dit is.

  3. Julie 8, 2011 10:05 nm

    Bib, ek dink nie mense soos prof Prof. Van Niekerk is so kortsigtig en intellektueel arm as wat jy hulle voorstel nie. Jy laat dit klink asof aanspreeklikheid die groot ding is waaroor hulle dit het.
    Ek meen dat wat hulle probeer verander is die toon en houding waarmee wit mense met swart mense omgaan.
    As mens insien hoe sovele wit mense steeds vanuit ‘n posisie van meerderwaardigheid (en boonop politieke ongeletterdheid) met swart mense praat, moet jy begin verstaan dat dit ‘n probleem is wat ons in onsself moet aanspreek voordat ons op gelyke vlak met swart mense kan omgaan.

    Van Niekerk is juis nie kortsigtig nie want hy sien in dat ons ‘n kopskuif moet maak om die swart middelklas se woede jeens ons te demp. Deur te skryf soos wat hy gedoen het, het hy ook Afrikaners en wit mense in die algemeen se welstand in gedagte.

    • Julie 11, 2011 7:34 nm

      alleman, ek ontken nie daar is probleme met rasseverhoudinge nie. Wat jy noem van baie Euro-Afrikane se houding is waar, maar ek stem saam met Tim du Plessis:

      http://www.beeld.com/Rubrieke/TimduPlessis/Wit-swye-bietjie-laasjaar-20110707

      Van Niekerk se geldige punt het in sy vingerswaaiende tirade verlore gegaan…Apartheid hét wittes bevoordeel, veral Afrikaners. Dit wás ’n onregverdige, mensonterende stelsel wat op geen manier goedgepraat kan word nie. Maak nie saak wie wat sê nie, die Waarheid-en-versoeningskommissie wás ’n geleentheid wat wittes beter kon benut om ’n greep te kry op die verlede. Maar ’n verspeelde kans is presies dit: iets van die verlede. Die tyd én die land het aangestap. Dinge is anders, nogal drasties so. Dis nou ’n bietjie laasseisoen om wittes die leviete voor te lees oor die verlede. Nie net dit nie, hul ore is toe vir prekerige vermanings. Dit het die teenoorgestelde uitwerking.”

      En dan, uit my eie mond, raak dit vir Euro-Afrikane al hoe moeiliker om hulle denkwyse te draai. Die manier hoe die land bestuur word en uitsprake deur Afrika-nasionaliste polariseer al hoe verder. Ek haal aan uit Karlien du Preez se blog:

      http://sterrekind.wordpress.com/2011/06/30/working-for-the-government/

      Needless to say I am a bit negative at the moment. I have always been pro-South Africa. Not in an energetic irritatingly happy way, but in a way that I would always stand up for South Africa and it’s potential. I’ve found myself over the past few months becoming increasingly negative and scoffing with others when anybody speaks of the government. I’ve also, without noticing, become more and more racist. Not outwardly, but inwardly and in my actions and in the confidence I place in certain people I work with. I am done at the moment. My energy is depleted. I feel like this country is hopeless at the moment and that nothing we do or say can change that.”

      Al verander baie Euro-Afrikane hulle houdings, twyfel ek ook sterk of dit enige verskil gaan maak in Afrikane se houding teenoor hulle. Want, jy sien, Euro-Afrikane gaan steeds die bevoorregte klas bly, maak nie saak hoe versoenend hulle optree, hoe hulle boete doen of hoeveel voete hulle was nie. En dit is, vir die meerderheid arm Afrikane, bloot ‘n onaanvaarbare stand van sake.

      • Julie 11, 2011 9:08 nm

        Bib, dit lyk my die meeste mense het eers Tim se stuk gelees, en vanuit daardie bril Van Niekerk se artikel beoordeel. Ek het Van Niekerk eerste gelees, en geen tekens bespeur van vingerswaaiery nie. Niks in wat Van Niekerk skryf, kan verstaan word as dat ons nou voorturend “die leviete voor (ge)lees {moet word) oor die verlede” nie. Ook nie dat ons aanhoudend moet verskoning vra nie of dat ons korrupsie maar moet sluk nie.

        Tim het Van Niekerk oneerlik gelees. Van Niekerk vra 2 dinge: Dat ons eerlik oor die geskiedenis moet wees, en dat ons nie “vanuit ‘n onwrikbare morele locus standi” van wit meerderwaardigheid “links en regs oor ander” moet oordeel nie.

        Tim is eerder die vingerswaaiende hier, en sy wit nasionalistiese agtergrond kom na vore uit sy oneerlikheid ondanks die feit dat hy gewoonlik demokratiese taal praat. Dit is regtig tyd vir ou toppies uit sy geslag – die geslag wat self in geen oorlog geveg het nie – om te leer lees en luister, of so nie te leer stil bly. Daar is ander mense wat nie self met nasionalisme bevlek is nie, wat die nuwe nasionaliste kan aanvat.

      • Julie 12, 2011 4:01 vm

        Bib, jammer om aan te hou oor dit, maar wat my veral ook pla oor Tim is hy skryf asof Van Niekerk uit die bloute ‘n aanval op Afrikaners gedoen het om ons te laat skuldig voel oor die verlede. Dis glad nie wat Van Niekerk doen nie – hy antwoord op goed wat Leopold Scholtz en Flip Buys geskryf het, wat hy as oneerlik oor die geskiedenis beskou, en is geensins daarmee besig om witters en Afrikaners in die algemeen aan te tree ’n siedende uitskelparade” nie.

        Iemand moes eintlik gekeer het dat Tim se histeriese reaksie net so dit tot papier gemaak het nie – dis embarraserend om te lees.

        Wat my betref, ek is nie ten gunste daarvoor dat die ANC en mense soos Vice bepaal hoe ons ons eie geskiedenis verstaan en daarop reageer nie, maar stem ook glad nie met Scholtz saam nie.

  4. Julie 9, 2011 10:31 nm

    Ek dink daar is die wat skuldig is, of wat skuldig moet voel en die wat nie is nie en die wat nie hoef te voel nie. Kan al die wat skuldig is en skuldig voel, asseblief hand opsteek of opstaan?

  5. Anoniem permalink
    Julie 10, 2011 12:53 vm

    Dis alles my dominee se skuld…

  6. Julie 11, 2011 7:23 nm

    Ek is skuldig. Ek is blank en ek is skuldig. Apartheid is euwel, barbaars, onmenslik en sosiaal korrup.

    -Apartheid het in 50 jaar omtrent 7,000 mense doodgemaak. Dis omtrent een mens elke drie dae. Ek dink die syfer is WILD oordryf, maar ek wil nie deur die boeke soek om dit te bewys nie. Bykans elke moord deur die polisie op swart mense is as ‘n apartheid moord opgeteken. Vandag kom ons agter die nuwe polisie maak ook mense dood, maar dit is nie meer apartheid nie. Die syfer het opgegaan na gemiddeld 60 per maand (43 op straat en 17 in die polisiestasies). Oor 50 jaar sal dit omtrent 30,000 maak.
    Die algemene moord syfer was tydens hierdie tyd 16 per 100,000 (of omtrent 7,000 per jaar). Na Apartheid het dit bykans verdriedubbel na 51 per 100,000.
    The UCA Report on Murder in South Africa reveals that according to the official statistics, in the 44 years from 1950 to 1993, there was an average of 7036 murders per year. This covered the turbulent strife of the apartheid years of warfare, conflict, terrorism, riots and repression.

    However, in the first eight years (of peace) of the new democratic dispensation, under the ANC, an average of 24 206 murders were committed each year – officially!. However, if the Interpol statistics are accepted, then the murder rate in South Africa during the ANC years has averaged 47 882 per year.
    Van 40,000 moorde is 4,104 mense laasjaar skuldig bevind aan moord.

    Wie is skuldig aan dit, as ek skuldig is aan die 7,000 in 50 jaar?
    Wie is skuldig aan die life expectancy van 68 in 1990 na 48 in 2011 geval het?
    Wie is skuldig dat kinders onder 1 nou drie keer meer doodgaan as in 1992?
    Opvoedingsvlakke het 34% geval in 17 jaar. Is dit ook my skuld?

    Soos Bobby McGhee gesing het; “Freedom is just all that’s left, when there’s nothing more to lose”

    • Julie 12, 2011 9:32 nm

      Dankie vir jou kommentaar. Ja, as mens na die syfers begin kyk, dan skets dit ‘n heel ander prentjie as dit wat populer aanvaarbaar is om te glo.

  7. Julie 12, 2011 4:01 nm

    UNPEECEE. Baie waar woorde. So “hulle” het “gesuffer” en “ons” nie ? Hoeveel van “ons” is dood gedurende die Anglo Boere oorlog ? (Van die 118 000 Boeremense wat in die konsentrasiekampe was, is byna 28.000 oorlede. Trouens, ’n hele geslag potensiële Afrikaners is uitgewis, altesaam 22.074 Boerekinders en 4182 Boerevroue, terwyl nog sowat anderhalf duisend mans (meestal bejaardes) in die kampe omgekom het.)So “ons” het glad geensins “gesuffer” nie… Alles was maar altyd sonskyn en geluk. “Ons” loop nog altyd hand om die blaas met die Engelse… En dan terwyl ek gal braak : Hoe lank is die ANC al aan bewind ? As enigiemand oor iets wil kla is dit die swak regering. NIE APARTHEID NIE.

  8. Julie 12, 2011 9:30 nm

    @alleman: Ek het ook eers Tim se repliek gelees nadat ek self my inskrywing geskryf het, anders het ek dalk vir Tim aangehaal in my stuk. Miskien is Tim se stuk (soos myne dalk ook) effe emosioneel. Ek dink net dat Afrikaners moeg daarvoor is om te hoor hoe sleg hulle verlede lyk. Miskien is wil Flip Buys, Deon Opperman en Leopold Scholtz slegs daarop uit om te se: “hokaai ouens! die Afrikaner het baie aangejaag, maar daar is darem positiewe aspekte ook! Alles was nie net sleg en boos nie!” En dit is juis hierdie inisiatiewe wat Van Niekerk afskiet deur te se die geskiedenis word vergoeilik. Daarom wil ek hom graag vra: mag ons, as Afrikaners, darem die goeie ook gedenk? Mag ons eer bring aan jong seuns wie se lewens in Suidwes en Angola verwoes is of moet ons liewers swyg en net die gedagtenis tot niet laat gaan? Maar miskien is dit soos die geskiedenis werk: die oorwinnaars skryf immers die geskiedenis. En ek is bevrees die Afrikaner is nou maar een maal aan die verkeerde kant van die geskiedenis…en sal seker altyd wees.

  9. Julie 12, 2011 11:57 nm

    Ek stem saam die swartskaap teorie raak bietjie afgesaag.

    Ek wou eers ‘n groot kommentaar lewer op jou blog inskrywing, maar omdat ek reeds aan die skryf was oor dieselfde “juicy” onderwerp, verwys ek liewers, as jy nie omgee nie, na my eie blog inskrywing The White Afrikaner: To Be Or Not To Be Ashamed by http://bluegrassbaobabs.blogspot.com/2011/07/white-afrikaner-to-be-or-not-to-be.html

  10. Mary Jane permalink
    Julie 13, 2011 8:36 nm

    Hi BiB, dankie vir ‘n goeie inskrywing!! Ek wil ook graag my sê sê.
    Ek dink mense mis die punt. Niemand hoef my te oortuig om skuldig te voel oor Apartheid en die blanke (Engels, Afrikaans, Duits, Portugees ens) se verlede nie. Ek voel dit reeds. Elke keer as ek ‘n arm swart man/vrou sien bedel by ‘n verkeerslig, dan voel ek skuldig. Vir my was apartheid se grootste onreg nie om swart mense in ander rye te laat staan of die strand te verbied nie. Die grootste onreg was die subteks en die subteks het gesê: jy is swart en daarom nie goed genoeg nie. Ons is beter as jy, want ons is wit. En mense wat glo hulle het nie waarde nie het nie hoop nie en mense wat nie hoop het nie draai na misdaad en kom selde uit die armoede spiraal. Punt is, apartheid was verkeerd en sleg en die meeste blankes wat ek ken voel nou nog skuldig daaroor. So, almal wat my probeer oortuig om skuldig te voel, jy mors jou asem, ek voel dit reeds! (En sal seker tot die dag van my dood.)

    Vir my is die vraag egter nou, wat nou? Ek voel nou skuldig en ek besef my voorouers was verkeerd, wat nou daarvan? Moet ek in my hoekie sit en bloei en nie woord rep as ek sien dat daar onreg is wat rondom my aangaan nie? Moet ek stilbly en terugsit as ek al die onreg om my sien? Natuurlik nie! Stilte impliseer goedkeuring. Deur voor te stel dat mens in nederigheid maar net moet terugsit en als aanvaar soos dit is, is belaglik, simpel en totaal en al irrasioneel. Ek ken bitter min mense wat in elk geval so is. Is die idee nie juis om op te staan, te sê, goed, ek het ‘n fout gemaak en is opreg bitter jammer daarvoor, maar van nou af gaan ek beter doen nie?

    Ek kry eerder die idee dat baie (blanke) Afrikaners die toestand van die land so kyk en by hulle self dink, mmmmmm, dinge lyk nie goed nie, moet seker maar Apartheid se skuld wees. M.a.w. hulle oproep tot skuld is nie werklik ‘n oproep tot skuld nie, dis boetedoening vir die ANC regering. Amper asof hulle wil sê, sorry ANC regering, die land is in chaos, maar moenie worry nie, dis nie julle middelmatigheid en oneffektiwiteit nie, dis ons blankes se skuld. Blameer ons!! Ons is die offerlam wat geslag moet word, hier is ons! Slag ons!

    Noem my nou maar dom-astrant en simpel, maar sover ek weet het die Britte nie so opgetree na die Anglo-Boereoorlog nie en glo my, hulle het BAIE meer rede gehad om so te voel as ons.

    So, hier is my finale boetedoening. Aan alle nie-blankes in SA, ek is opreg en eerlik baie baie jammer oor Apartheid. Dit was verkeerd en julle het dit nie verdien nie. Ek belowe om van nou af beter te doen. Moet egter nie my verskoning verwar met ‘n stille goedkeuring van swak dienslewering, oneffektiewe polisiëring, korrupsie, onaanvaarbare misdaadsyfers nie. Dit het zero met apartheid te doen. Dit het te doen met beginsels en morele waardes en werksetiek (of die gebrek daaraan).

    • Julie 15, 2011 8:04 nm

      MJ, baie dankie vir hierdie inset van jou. Miskien verduidelik jy my eie denke beter as wat ek self kon. Jou argument is gebalanseerd en verstaan waar jy vandaan kom. Regtig ‘n goeie bydrae! En dink veral jy vat raak oor die sg subteks van apartheid. Suid-Afrika het baie probleme, maar ek dink onderliggend tot meeste van die probleme, is dat mense verkies om histories-gerig te wees, eerder as toekomsgerig. Die dag as Suid-Afrikaners ophou om in die verlede te leef en besef dat hulle net die hede en die toekoms het om ‘n verskil te maak, is miskien ook die dag wanneer dit gaan begin beter gaan. Die openbare debat in SA dui egter vir my daarop dat daardie dag tans nog (en miskien vir altyd?) slegs ‘n hersenskim bly.

  11. Julie 14, 2011 1:06 vm

    Mary Jane. Hallo. Hoe oud is jy ? Ek raai .. mmm … beslis nie ouer as 32 nie ? Doen jouself ‘n guns en kyk na die youtube clips : http://www.youtube.com/watch?v=YovA-DFv0nQ
    en dan : http://www.youtube.com/watch?v=LI0b92f6qX0
    Ek is SO gatvol vir die Jannie jammerbal en Bertie bitterpis (Wat sou ek so vrou noem …) mentaliteit. Jy en soveel mede Afrikaners word gebreinspoel om die arme, behoeftige swartmense van Suid Afrika SO jammer te kry. Foeitog, shame, APARTHEID het gemaak dat hulle NOU NOG nerens in HULLE land is / gekom het nie. K@K. Skrik wakker en kyk verder as jou woonstel/huis se diefwering / lemmetjies draad en elektriese heining. SOU jy 50+ gewees het was jy nou op daai arme swartmense se kortlys. OF dalk al klaar vasgemaak met jou eie bedlampie se kragdraad, gebrand met jou eie strykyster…

    • Mary Jane permalink
      Julie 14, 2011 9:37 nm

      jagternw1976 ek verstaan nie jou kommentaar nie. Ek se dan juis die teenoorgestelde as waarvan jy my beskuldig. En ja, ek was al op menige misdadiger se kortlys. My broer is vermoor en my ouers gekaap, so dis nou nie asof ek op die kantlyn staan en skree nie. Ek’s allermins blind vir wat in ons land aangaan. Klink of jy ‘n ou brandewyntjie nodig het om die humeur te beteuel my vriend! Sit op jou toegespande stoep en geniet die sonsondergang en asem in, asem uit. Daarsy!

  12. Julie 15, 2011 12:59 vm

    Mary Jane. Jou post : So, hier is my finale boetedoening. Aan alle nie-blankes in SA, ek is opreg en eerlik baie baie jammer oor Apartheid. En dit is net so klein deeltjie. Watse oproep tot skuld praat jy van ? Miskien verstaan ek jou verkeerd. En dan so laaste : Ek sit met ‘n whiskey en soda, OOP stoep. Asem in, asem uit. Hulle seg mos alles is in die asemhaling ?
    En ek is NIE jammer oor my humeur nie, ek is gatvol vir jammergeite.

    • Julie 15, 2011 8:09 nm

      jagter (waar kom die nw1976 vandaan?), dankie vir jou deelname hier. Ek dink nie ek deel jou sentimente heeltemal nie. Dink klink amper asof jy wil se dat Euro-Afrikane skuldloos is, of lees ek jou verkeerd? My argument is dat daar is skuld, maar ons moet ophou om daarop te fokus…maar so het ons maar almal verskillende menings.

      Ek hoop jy geniet daai whiskey en soda! 😉

  13. Julie 16, 2011 12:48 vm

    Hallo Boer. Jammer dat ek nou so op jou blog my mening gelig het. (O ja, eks nie jammer nie).
    NW = Noord Wes. 1976 = Geboorte jaar. Die term “Euro-Afrikaan”, waar kom dit vandaan ? Of dalk het ek iets gemis ? Watse skuld word van gepraat ? Apartheid … mmm ? Ek kan jou ‘n paar goete stuur oor dit. Anycase, ek like jou blog en ek like dit dat mense verskil.
    Whiskey en soda 🙂 PROST !

    • Julie 17, 2011 6:24 nm

      Ek sou graag wou se dis my eie term, maar dis al gebruik lank voor ek dit gebruik het. Dis vir my net ‘n baie beter begrip as “blank” of “wit”, want laasgenoemde begrippe verwys spesifiek na velkleur. Euro-Afrikaan impliseer die anderste kulturele agtergrond waaruit die die groep kom, eerder as velkleur. Ons verskil kultureel van Afrikane (“Africans”) omdat ons kulturele inslag Europees is. Dis maar dieselfde soos swart Amerikaners wat “African-Americans” is.

      Bly jy geniet die blog. En dankie vir jou deelname!

  14. Augustus 4, 2011 9:48 nm

    Ek stem heeltemal saam met Cobus.

Trackbacks

  1. Begin jou eie blog, mnr. Malan… « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: