Skip to content

Oor feestelikhede en ‘n reuse tou

Julie 20, 2011
tags:

Ongeveer 6 maande gelede het ek vir die eerste keer oor my huidige tuiste hier in die suide van Korea geskryf. Toe het ek vertel dat daar nog baie is om te ontdek en te ervaar. Intussen het ek geskryf oor die heroïese dade van Generaal Gwak Jae Woo en oor Uiryeong se tradisionele bulgevegte. Ek het ook vasgestel dat die omgewing se waatlemoene inderdaad baie soet en watertand lekker is. Oor die jaarlikse toutrek-kompetisie met die grootste tou ter wêreld, skryf ek egter nou eers.

P5314818P5314819

Die geleentheid was die jaarlikse Uiryeong dorpsfees, of eintlik meer korrek, die jaarlikse fees wat Generaal Gwak en sy luitenante se heldedade gedenk. En dis nie ‘n nederige affêre nie. Die fees skop af met die aansteek van ‘n seremoniële vlam ala Olimpiese Spele, kompleet met ‘n drawwer wat oor die brug aangedraf kom, fakkel in die hand. Die donker word verlig deur skoolkinders wat met veelkleurige lanterns langs die pad staan en die drawwer aanmoedig (hoe ver hy gedraf het, weet ek nie, maar hy het nie te moeg gelyk nie).

mosaic3e2c2712f55c810a48bad44e888823240cae1386

Daarna volg die seremoniële aanskakel van die liggies op die brug en lanterns regdeur die dorpie. Amper soos die kersliggies altyd in Somerset-Wes aangeskakel word, daar in die verre Suidland. Eensklaps word die wêreld storiemooi verlig en die lanterns en liggies wat so ‘n vaal bykomstigheid gedurende die dag was, kom tot hulle reg. Daarna volg ‘n pragtige vuurwerkvertoning, uitbundig teen die donker naglug.

P5315028

Die fees hou ‘n week lank aan en daar is talle aktiwiteite gedurende die week. Elke aand is die stalletjies langs die rivier ‘n miernes van bedrywighede. Hier kan jy alles onder die son koop, die hele spektrum van Koreaanse kosse eet (al lyk sommige disse onaptytwekkend), jouself oorgee aan soju, of by die talle stalletjies jou hand probeer aan veerpyltjies of balle, of windgewere om te kyk of jy nie daai groot teddie kan wen nie, of dalk net ‘n bottel Skotse whisky. Een van die speletjies hang af van watter rigting die paling swem wat jy gekies het. Vir die kinders is daar masjiene wat hulle binnegoed losskud en springkastele vir die kleintjies. Mense kom van heinde en verre en die atmosfeer is gemoedelik en vol lewe en lag.

P5314801P5314786

Aan die een kant van die rivier word daar ongelooflike beeldhouwerke uitgestal, in totaliteit geskep uit ou onderdele van motorfietse, fietse en motors.

mosaicaafa1eb3639a177060b27699070a6cf5d9c5723f

Balonne hang in die lug en daar is in die middae en tot laat in die aand musiekuitvoerings en danse. Daar is ook ‘n baie innemende uitvoering van Koreaanse gevegskuns en hoe die manne mekaar nie verrinneweer met die regte swaarde en lanse wat hulle gebruik nie, gaan my verstand te bowe.

P6015351P6015346

Een van die belangrikste gebeurtenisse is die tradisionele gut seremonie wat plaasvind onder ‘n helder verligte Uiryeong-toring. Hierdie is ‘n sjamanistiese ritueel waardeur eer gebring word aan Generaal Gwak en sy manskappe en ‘n tafel swaarbelaai met lekkernye aan hulle geskenk word. Die seremonie word ritmies en meesleurend uitgevoer deur vroue in helder uitrustings.

P5314882P5314877

P5314752

P5314874P5314891

Wat my weer terugbring na die toutrek-kompetisie waarin die wêreld se grootste tou gebruik word (‘n Guiness rekord). Die reuse tou, met ‘n allemintige knoop in die middel, is in geheel gevleg van droë rysstingels en is 251m lank, 2.2 meter in omtrek en weeg 54 ton.

mosaica87b4f2e09608b1d7d2f467c7f6b3845d8bdc032

Honderde sekondêre toue vleg horisontaal van die groot tou af weg en dis dan hierdie “kleiner” toue wat deur die deelnemers gebruik word om teen mekaar mee te ding. Wat eintlik logies is, aangesien mens glad nie vat sal kry aan die reuse omtrek van die hooftou nie. Met twee aanjaers in tradisionele drag en talle helderkleurige vlae, is dit ‘n feestelike atmosfeer, afgesien van die feit dat die trek van die tou opsigself nie juis spektakulêr is nie. Na die trek word die wenspan geluk gewens ek hulle vlae word hoog gehou.

P6015356

Dan is die groot gebeurtenis oor en talle mense maak hulle bo op die reuse tou tuis om na ‘n verskeidenheid musiekopvoerings te luister, terwyl ander dele van die tou vir aandenking neem. Die soju vloei en daar word tot laat die aand gekuier en gepraat oor die middag se toutrek.

P6015137

En so loop die fees dan ook eventueel tot einde en – soos ek nou al die Koreane leer ken het met opruim – verdwyn die lanterns en liggies oornag, saam met die rye tente langs die rivier. Skielik is die dorpie weer normaal en rustig en die uitbundigheid verdwyn soos die spreekwoordelike mis voor die son. Tot volgende jaar…

14 Kommentaar leave one →
  1. Julie 21, 2011 10:27 nm

    Klink vir my na ‘n “good old county fair”.

  2. Julie 22, 2011 4:22 vm

    Klink na ‘n wonderlike ervaring daar- so anders as wat ons gewoond is aan. Dis ‘n reuse tou! Soju- is dit soos sake?

    • Julie 29, 2011 9:30 nm

      Bileam…ja….meerendeels maar Koreaanse sake, gemaak van rys en graan.

      • ShiningFire permalink
        Julie 31, 2011 2:56 vm

        Soju is ‘n ietsie vir die skop🙂

  3. Julie 27, 2011 1:20 vm

    Hoeveel mense trek dan gelyk aan so `n tou, of is dit `n free for all gedoente?
    Klink na pret.

  4. Julie 28, 2011 3:45 nm

    Klink ook na pret – hoeveel mense trek aan daai helse tou?

  5. Julie 28, 2011 10:06 nm

    Boer! Ek hoop jy is OK na alles wat ek op die nuus gelees het [internet], ‘landslides’ ens ens. Laat weet ons darem! Jou skaakskuif wat jy gister ‘gemis’ het, het my laat worry jong! – veral na wat ek gesien het. Wou gou kom kyk waar presies jy nou weer is.

    • Julie 29, 2011 9:36 nm

      Nee wat, als reg aan die kant. Dankie vir die belangstelling. Die erge oorstromings is meestal in die noorder dele van die land. Maar terwyl ek sit en tik sous dit hier. Daar gaan nie ‘n dag sonder reen verby nie.

      • ShiningFire permalink
        Julie 31, 2011 2:58 vm

        Kyk, die video wat ek gesien was angswekkend. Die paaie het letterlik in riviere verander!!!!!

  6. Julie 29, 2011 9:33 nm

    Die toutrekkery is maar basies ‘n “free for all” vir enige dorpenaar wat wil deelneem – mans, vrouens, kinders, bejaardes ens. Ek het nie die mense getel nie, maar seker maklik meer as ‘n 100 neem deel aan die trekkery.

    • ShiningFire permalink
      Julie 31, 2011 3:00 vm

      Mooi foto’s Boer😉

  7. Julie 31, 2011 3:14 nm

    Dankie, SF!🙂

  8. kyker permalink
    Augustus 4, 2011 11:41 nm

    Ek dink nou hoeveel hande se moeite dit sal neem om 54 ton se rysstingels in so ‘n hengse tou saam te vleg. Maak hulle elke jaar ‘n nuwe ene? Mens kan so iets seker nie wegsit vir nog ‘n jaar nie.

  9. Augustus 5, 2011 4:33 nm

    Soos ek die storie so kyk, moet hulle maar elke jaar van vooraf vleg….Wie dit doen en hoe lank dit neem, weet ek egter glad nie. Net bly hulle vra nie my om te help nie!🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: