Skip to content

Die Monster

Augustus 3, 2011

Ek het al in die verlede meermale oor die reuse Koreaanse metropool en hoofstad, Seoul, geskryf. Daarom kon ek aanvanklik nie aan ‘n goeie rede dink om weer oor die stad te skryf nie. Maar daar is net iets aan Seoul…iets wat my elke keer terugdryf na die sleutelbord wanneer ek hierdie stad besoek het.

P7015721P4294282

Laat ek dit duidelik maak dat ek heel gelukkig is om hier ter plaatse nie in ‘n groot stad te woon nie, maar op die platteland. Om die waarheid te sê, ek dink nie ek was al ooit ‘n groot stadsmens nie. Maar dis tog lekker om so af en toe die groot stad te besoek om te ervaar en te doen wat nie hier op die platteland my beskore is nie. Dis ook heel maklik, want, al is Seoul so 400km noord van my, klim ek net op die blitstrein en so 2 ure later is ek daar.

P4294230

Ek verwys altyd na Seoul spottenderwys as Die Monster. Ek het nog nooit Seoul besoek en nie heeltemal moeg en uitgeput teruggekeer huis toe nie. Dis ‘n monster wat jou een kant insluk, verteer en jou weer aan die ander kant uitspoeg. Die konsentrasie van mense is sekerlik die ding wat jou die meeste tref. ‘n Kwart van Suid-Korea se bevolking (van ongeveer 50 miljoen) woon in Seoul en as jy die stad besoek, kom jy dit ook gou agter. En wanneer mens die stad besoek, wil jy gewoonlik ook by ‘n klomp verskillende plekke uitkom in ‘n relatiewe kort tydjie. Dan is dit in die moltrein, uit die trein, trappe op, trappe af, wissel lyn, uit die moltrein, trappe op, op die bus, uit die bus, in die taxi, uit die taxi, trappe af, in die moltrein ens. In dit, terwyl massas mense meeste van die tyd om jou skuur en stamp.

P4284072P7015728

Maar, nogtans, is dit telkens weer die moeite werd om Die Monster te besoek, want Seoul het ‘n aansteeklik pols en ritme wat jou meesleur. Die aanslae op jou sintuie is oorweldigend, maar ook diep bevredigend. Die stad is ‘n lewende, bewegende organisme wat net nooit tot ruste kom nie. Om vir kort tydjies deel te word van hierdie organisme, is opwindend. Daar is net so baie om te sien en te doen.

P4294237

Een van die lekkerste plekke vir my om te besoek, is Gwangwhamun Plein, ‘n relatiewe nuwe toevoeging tot Seoul se topografie. Hierdie reuse stuk oop spasie tussen die wolkekrabbers, is ‘n oase, met fonteine, P4294256standbeelde en ‘n interessante ondergrondse museum. Die bekende P4294240volksheld, Yi Sun Sin, staan manhaftig (en ewe Jan Van Riebeeck-agtig) op die plein, hand op sy swaard, oënskynlik steeds so voorbereid vir oorlog as 500 jaar terug. En Korea se bekendste, gewildste en mees gerespekteerde koning, Koning Sejong die Grote (aan bewind van 1418-1450), sit soos ‘n wyse man op sy troon, met die imposante Gwanghwamun stadspoort en die Blouhuis (Suid-Korea se huidige presidentswoning) in die agtergrond. Stap jy agterom die reuse bronsfiguur en af met die trappe, betree jy die Sejong museum, waar sy lewe gedenk word.

P4294242

Sejong was die 4de koning van die Joseon Dinastie (1392-1910) en word onthou as ‘n visioenêre leier wat Joseon se renaissance gelei het op talle gebiede. Dit sluit in wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling, militêre innovering, nuwe landboumetodes en ‘n era van groot vooruitgang in dieP4294254 kuns en lettere. Die uitvinding waarvoor hy egter die beste onthou word, P4294253is die skep van die Koreaanse alfabet, bekend as Hangeul. Tot en met sy bewindsaanvaarding, het Korea nog hulle spreektaal in Sjinese skrif geskryf, maar hy het in 1446 aan Koreane hulle eie skrif geskenk. Hangeul word vandag erken as een van die mees praktiese en wetenskaplike skryftale in die wêreld en is een van die redes vir Korea se geweldige hoë geletterdheidskoers.

‘n Ander oase in Seoul se oerwoud van beton en glas, is Cheonggyecheon – ‘n helder stroom wat soos ‘n aar van lewe deur die middestad kronkel. Hier kan jy kilometers langs die stroom stap, sommer net sit en ontspan, piekniek hou of by een van die talle eetplekke en koffiewinkels in die nabygeleë area lafenis soek.

P4294263

‘n Deel van Seoul wat vir my veral ‘n spesiale bekoring inhou, is Bukchon – ‘n distrik waar die tradisionele hanok-huisies nog ry op ry staan. Dit is ou Seoul, met kronkelende straatjies en hope sjarme. Hier kan jy oorslaap in een van die talle tradisionele gastehuise of bloot die romanse geniet om in ‘n verskeidenheid restaurante en koffiewinkels die vleeslike behoeftes te bevredig. Nabygeleë is ook die gewilde Insadong wandelhal, vol van winkels en eetplekke.

P4304294

Daar is so baie plekke in Seoul om te besoek en soveel om te ervaar, dat geen enkele blog-inskrywing ooit reg sal laat geskied aan hierdie wêreldstad nie. En ondanks hierdie gros van mense en aktiwiteite, is die stad verbasend skoon, veilig en georden. Koreane kan met reg trots wees op hierdie stad. Ek wil nie daar woon nie, maar dis ‘n plesier om die stad te besoek en te ervaar.

Advertisements
14 Kommentaar leave one →
  1. Augustus 3, 2011 9:34 nm

    Dis pragtige foto’s 🙂

  2. Anoniem permalink
    Augustus 3, 2011 10:46 nm

    Baie interessant, met mooi foto’s

  3. Augustus 4, 2011 9:51 nm

    Soos altyd, mooi foto’s.

  4. kyker permalink
    Augustus 4, 2011 11:36 nm

    Dankie, baie insiggewend. Dit lyk of daar in Korea ‘n besonders goeie balans is tussen moderne vooruitgang en ‘n respek vir hulle geskiedenis en kultuur.

  5. Augustus 5, 2011 4:40 nm

    Baie dankie, Son en Anoniem! 🙂

    Emil! Lekker om jou terug te sien hier in die blogosfeer. Bly die gogga het weer gebyt.

    kyker, ja, dis miskien juis hoekom ‘n stad soos Seoul vir my soveel bekoring inhou.

  6. Augustus 5, 2011 10:57 nm

    Weer een van jou lekker reisjoernaal inskrywings.

  7. Augustus 16, 2011 7:25 nm

    Ek voel en ruik en hoor DIe Monster sommer soos jy skryf! En kyk……daar hang wraggies van daai rye lanterntjies ook!
    Dit was nou lekker om te lees!
    Doen so voort. Wens ek kon dit met my eie oë sien.

  8. Augustus 17, 2011 2:02 nm

    Ja, dis hoe ek ook oor Die Monster voel, alhoewel ek vermoed my sintuie al effe afgestomp geraak het. Alhoewel ek in Seoul bly, is dit nie (tans) in die middestad nie, so ek voel nie juis oorweldig met die hordes mense nie. Daar is wel dae wat ek die middestad heeltemal vermy, soos vakansie dae wanneer daar skaars plek vir ‘n muis is. My gunsteling vakansietyd om Seoul te besoek is gedurende Chuseok. Dan gaan die meeste Seoulliete na hulle tuisdorpe en het Seoul ‘n wonderlike rustigheid waartydens jy die stad byna op ‘n “I Am Legend”-wyse kan geniet.

    • Augustus 18, 2011 6:48 nm

      Skryfblok, ek beplan om die “I am Legend” ervaring tydens Chuseok te he, want baie het al vir my vertel daarvan. 🙂 As jy daar is, sal dit lekker wees om te kuier.

  9. Augustus 19, 2011 1:05 vm

    Ek’s heel moontlik hier tydens Chuseok. Ek het aanvanklik beplan om weer in die buiteland (menende nie Korea nog Suid-Afrika) te baljaar oor die langnaweek, maar na my maandlange vakansie in suidoos-Asië is ek platsak en benoud. Gevolglik is vakansiereise (selfs net buite Seoul) vereers op ys. Sien uit daarna op bietjie Afrikaans te praat met iemand!

  10. Augustus 26, 2011 1:50 vm

    Ek besoek weer Die Monster vir ‘n paar dae vroeg in Oktober. Sal darem seker nie meer te koud wees dan nie? diewitdraak is baie koulik.

    • Augustus 26, 2011 7:29 nm

      Jy’s gelukkig! 🙂 Perfekte tyd om Korea te besoek! Nie te warm nie en ook nie te koud nie. Pragtige herfskleure en blou lug (maar natuurlik is die weer internasionaal so omge-ellie deesdae dat enigiets moontlik is).

Trackbacks

  1. Padlangs deur Korea: Deel IV: Hoe ek die Wêreldtentoonstelling oorleef het met die hulp van Litause bier « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: