Skip to content

Die 2011 Rugby Wêreldbeker in Nieu-Seeland: Die geskiedenis, statistiek, spelers, spanne, en enkele voorspellings

Augustus 18, 2011

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

Die grootste deel van hierdie inskrywing is voltooi voor die aanvang van die Drie-Nasies reeks en die Wêreldbeker opwarmingswedstryde. Die spanne se posisies op die IRB*-ranglys is egter op datum met die plasing van die skrywe.

Oor slegs drie weke skop die 2011 Rugby Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland af. Die toernooi duur vanaf 9 September tot 23 Oktober en twintig spanne ding in vier groepe mee, met die boonste twee spanne in elke groep wat deurdring na die kwarteindstryd. Anders as met die Sokker Wêreldbeker, maar dieselfde as met die Krieket Wêreldbeker, is daar egter net ‘n groep van ongeveer ses of sewe spanne wat werklik ‘n realistiese kans staan om as kampioen gekroon te word. Die ander spanne neem bloot deel om die getalle te vul. Om die waarheid te sê op ‘n goeie dag, sal enige van Suid-Afrika se Vodacombeker-spanne klaarspeel met lande soos Rusland, Namibië of Georgië. Onlangs het Suid-Afrika se swakste streekspan (wat steeds drome het van Super 15 deelname), die Southern Kings, vir beide Roemenië en Georgië geklop. Maar hoe dit ookal sy, ‘n fees van rugby wag op ondersteuners en selfs van die swakker spanne behoort vir interessante wedstryde te sorg en sal heel waarskynlik bo hulle vermoë speel teen van die sterker spanne.

Laat ek dit sommer van meet af onomwonde stel dat die uwe geskok sal wees indien Nieu-Seeland se All Blacks nie vanjaar op tuisbodem as kampioen gekroon word nie. Alles dui bloot daarop dat die wêreld se nommer een rugbyspan vanjaar weer die glorie van 1987 sal smaak, toe hulle die Webb Ellis-trofee die eerste (en enigste keer) gewen het (toevallig ook op tuisbodem). Australië, Suid-Afrika, Engeland, Frankryk en selfs Ierland gaan moeilike teenstanders wees, maar ek glo eerlikwaar nie enige span gaan vanjaar die All Blacks stuit nie.

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

GROEP A

newzealand rNZnewzealand r

  • Eerste toets: 1903 (vs Australië)
  • Grootste oorwinning: 128 punte (vs Japan, 1995)
  • Grootste nederlaag: 21 punte (vs Australië, 1999)

Nieu-Seeland is tans eerste op die IRB se internasionale ranglys en ook nie om dowe neute nie. Hierdie is ‘n span wat deurlopend die beste span ter wêreld is en eenvoudig deurentyd voortreflike rugby speel. Ek glo hulle gaan op hulle tuisveld baie moeilik geklop word. Maar hoekom beskou ek hulle as die gunstelinge? Die redes is legio:

Eerstens speel hulle tuis en gaan hulle die ondersteuning hê van Kiwiland se rugbymal publiek. Daar gaan druk wees op hulle, want die ondersteuners gaan bloot met niks minder tevrede wees as vir die span om die toernooi te wen nie. Ek glo egter hulle gaan teer op die tuis-ondersteuning en dat dit vir hulle tot groot voordeel en motivering gaan strek. Mens kan ook insien dat die tragiese aardbewing vroeër vanjaar in Christchurch ekstra impetus aan die spelers sal gee.

Tweedens is dit haas ondenkbaar dat die span wat allerweë as die beste in die wêreld beskou word slegs die Webb Ellis-trofee een keer kon wen, wyl beide Suid-Afrika en Australië dit al meermale kon regkry. Ek glo in die wet van gemiddeldes en daardie wet dikteer dat 2011 die All Blacks se jaar is.

Derdens is die span gelaai met sterspelers en ongelooflike talent. Dink maar net aan Dan Carter (losskakel), Richie McCaw (flank en kaptein), Ali Williams (slot), Mills Muliana (heelagter), Sitiveni Sivivatu (vleuel), Cory Jane (vleuel), Piri Weepu (skrumskakel), Keven Mealamu (haker) en Ma’a Nonu (senter), om enkeles te noem. Neem jy dus ‘n span met soveel talent, voeg hope motivering by en ‘n professionele afrigtingspan, kan jy maar weet die manne gaan bo uitkom. Hulle gaan hierdie groep totaal domineer en selfs hulle Wêreldbeker-nemesis, Frankryk, lelik laat les opsê.
Die All Blacks kon nog net een keer nie die halfeindstryd haal nie (2007) en was al twee keer in die finaal, waarvan hulle een gewen het (1987).  Hulle huidige afrigter is Graham Henry.

france rfrafrance r

  • Eerste toets: 1906 (vs Nieu-Seeland)
  • Grootste oorwinning: 77 punte (vs Namibië, 2007)
  • Grootste nederlaag: 51 punte (vs Nieu-Seeland, 2007)

Soos byna met elke Wêreldbeker, is Frankryk se Hane ‘n perd van ‘n donker kleur. Met die Franse is dit nooit maklik om te voorspel wat hulle gaan doen nie. As hulle die dag tot hulle volle potensiaal speel, is hulle haas onstuitbaar, maar dit gebeur deesdae min. Hulle Ses-Nasies reeks, waartydens hulle vir die eerste keer ooit teen Italië verloor het, was nie veel van ‘n sukses nie en die temperamentele afrigter, Marc Lievremont, het sy eie span na die tyd beledigend geroskam.

Daar is voorts ook kontroversie oor Lievremont se keuringsproses en groot ongelukkigheid dat hy staatmakers soos Yannick Jauzion (senter), Clement Poitrenaud (heelagter) en Mathiue Bastareaud (senter) nie in sy Wêreldbeker-groep ingesluit het nie. Hy het ook die enigmatiese veteraan, Sebastien Chabal (agsteman) uitgelaat, maar mens moet op daardie punt dalk saamstem dat Chabal se beste dae verby is.

Ek het geen idee wat die Franse span tydens die Wêreldbeker gaan doen nie, maar die kanse is goed dat die Hane dalk net die skandes van hulle sokkermaats tydens die 2010 toernooi in Suid-Afrika, kan nadoen. Maar, natuurlik moet mens onthou dat die Hane steeds baie goeie en ervare spelers tot hulle beskikking het. In die voorhoede, lei hul indrukwekkende kaptein,Thierry Dusautoir (flank) deur voorbeeld en kan hy staatmaak op die ondersteuning hardebaarde soos Imanol Harinorduquy (flank), Nicolas Mas (stut) en Lionel Nallet (slot). Agterlangs, het hulle steeds snellers soos Vincent Clerc (vleuel) en Cedric Heymans (vleuel) wat met goeie balbesit die verdediging aan flarde kan ruk. Hulle swak punt is egter miskien hulle skakelpaar, wat gereeld verander word en in die Ses-Nasies toernooi gesukkel het. En sonder ‘n goeie en ervare skakelpaar, bring jy dit nie ver nie…

Frankryk het nog nooit die beker gewen nie, maar hulle het reeds twee keer vantevore die eindstryd gehaal (1987, 1999) en het, op een jaar na, nog elke keer die halfeindstryd gehaal. Ek glo egter hulle staan ‘n goeie kans om vanjaar die tweede keer ooit nie die halfeind te haal nie. Hulle behoort egter steeds tweede in hierdie groep te eindig. Frankryk is tans 4de op die IRB ranglys.

japan rjapjapan r

  • Eerste toets: 1932 (vs Kanada)
  • Grootste oorwinning: 152 punte (vs Taiwan, 2002)
  • Grootste nederlaag: 128 punte (vs Nieu-Seeland, 1995)

Japan is optimisties oor hul kanse tydens die Wêreldbekertoernooi nadat hulle vanjaar met Samoa, Fidji en Tonga afgereken het om die Stille Oseaan rugbybeker vir die eerste keer te wen. Vroeër vanjaar het hulle ook die Asië Vyf-Nasies reeks vir die 4de agtereenvolgende keer gewen. Om die waarheid te sê, onder die afrigterskap van voormalige All Black, John Kirwan, het Japan die afgelope paar jaar baie verbeter. Dit is lankal nie meer die span wat in 1995 met meer as ‘n 100 punte teen die All Blacks verloor het nie. Die Japannese se ekstra motivering kom van die feit dat die IRB die 2019 Wêreldbekertoernooi aan Japan toegeken het. Japan wil in 8 jaar se tyd mededingend word en sal daarop uit wees om vanjaar te bewys dat dit nie ‘n fout was om die Wêreldbekertoernooi aan hulle toe te ken nie. Hulle gaan heldhaftig speel en sal beoog om Tonga en Kanada te verslaan om sodoende ten minste derde in die groep te eindig. Hulle gaan egter ver bo hulle vermoë moet speel om enigsins mededingend teen Frankryk, en veral die All Blacks, te wees. Enkele talentvolle spelers om voor uit te kyk is Yuta Imamura (senter), Kosuke Endo (vleuel) en oud-Nieu-Seelander, James Alridge (losskakel). Hulle kaptein is die flank Takashi Kukutani. Japan het nog altyd oor opwindende en vlugvoetige agterspelers besit, maar hulle swak punt bly die voorhoede, wat selde opgewasse is teen die fisieke aanslag van die tradisionele rugbykragte.

Japan is tans 13de op die IRB ranglys en kon nog nooit vantevore verder as die eerste rondte vorder nie.

tonga rtontonga r

  • Eerste toets: 1924 (vs Fidji)
  • Grootste oorwinning: 119 punte (vs Suid-Korea, 2003)
  • Grootste nederlaag: 102 punte (vs Nieu-Seeland, 2000)

As daar nou een span is waarvoor ek ‘n sagte plekkie het, dan is dit Tonga. As mens in ag neem dat hierdie eilandstaat slegs sowat 100 000 inwoners het en dan kyk op watter vlak hulle rugby speel, kan mens nie anders as om hulle te bewonder nie. Voeg hierby die feit dat lande soos Nieu-Seeland jaar na jaar hulle beste spelers weglok en dis eintlik ‘n wonderwerk dat hierdie land steeds mededingend kan wees op die hoogste vlak. Min spanne speel met soveel moed en durf soos Tonga en hulle gaan verseker tydens die Wêreldbeker vir opwindende wedstryde sorg. Hulle eerste mikpunt sal wees om Japan die loef af te steek nadat Japan hulle net-net in die onlangse Stille Oseaan reeks geklop het. Hulle sal ook hulself ‘n goeie kans gun om met Kanada af te reken.

Tonga is een van die spanne wat nog nooit verder as die eerste rondte van die Wêreldbeker kon vorder nie en ek glo ook nie hulle sal so maak in Nieu-Seeland nie. Hulle gaan egter vir elke span wat teen hulle speel, harde bene laat kou. Die wedstryde teen die All Blacks en Stille Oseaan vyande, Japan, behoort hoogtepunte te wees. Hulle kaptein, is die veteraan Finau Maka (agsteman). Hulle kan ook staatmaak op ervare strydosse soos Hudson Tonga’uiha (senter), Cooper Vuna (vleuel) en Sitaleki Timani (slot). Hulle afrigter is Isitolo Maka en hulle is tans 15de op die IRB ranglys.

canada rCANcanada r

  • Eerste toets: 1932 (vs Japan)
  • Grootste oorwinning: 68 punte (vs Barbados, 2006)
  • Grootste nederlaag: 70 punte (vs Engeland, 2004)

Die rugbyspan van Kanada sal moet spook om nie in hierdie groep met die houtlepel huis toe te gaan nie. Hulle wedstryde teen Japan en Tonga beloof om opwindend te wees, hoewel hulle erg gaan sukkel teen die Franse en die All Blacks. Hulle sal poog om ten minste derde in die groep te eindig, maar of hulle dit gaan regkry, is te betwyfel. Hulle het een keer vantevore die kwarteindstryd gehaal (1991) en is tans 14de op die IRB ranglys. Hulle afrigter is oud-All Black, Kieran Crowley en die span word gelei deur Pat Riordan (haker). Daar is een oud Suid-Afrikaner in hulle span, naamlik DTH van der Merwe (vleuel).

Wedstryde om nie te mis:

  • Tonga vs Japan (21 September)
  • Nieu-Seeland vs Frankryk (24 September).

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

GROEP B

england rengengland r

  • Eerste toets: 1871 (vs Skotland)
  • Grootste oorwinning: 134 punte (vs Roemenië, 2001)
  • Grootste nederlaag: 76 punte (vs Australië, 1998)

Martin Johnson sal vanjaar poog om die eerste persoon te word om die Wêreldbeker te verower as speler en afrigter. Ongelukkig vir hom en sy spelers vind die toernooi in Nieu-Seeland plaas en sal hulle die All Blacks in hul agterplaas moet klop om dit te vermag.

Maar buiten Australië, is Engeland sekerlik die span met die beste kans om die spreekwoordelike appelkar om te keer. As dit nie was dat hulle heel moontlik in die halfeindstryd teen Australië te staan gaan kom nie, sou ek selfs gesê het dat dit nie vir hulle onmoontlik is om die eindstryd te haal nie. Johnson het die afgelope paar jaar gegroei in sy rol as afrigter en hy het daarin geslaag om nuwe en opwindende talent te ontgin. Engeland is ook dus vroeër vanjaar gekroon as Ses-Nasies kampioen en hulle spelpeil toon ‘n opwaartse kurwe.

Van Engeland se nuwe talent, is geen miskien ‘n sprekender voorbeeld as die opwindende jong skakelpaar van Ben Youngs (skrumskakel) en Toby Flood (losskakel) nie. Hulle het hulself gevestig as ‘n betroubare en talentvolle kombinasie en het ‘n groot aandeel gehad in Engeland se Ses-Nasies sukses. En dan het hulle die luukse om steeds te kan terugval op die dienste van die ervare Jonny Wilkinson (losskakel). ‘n Ander nuwe talent wat homself nou reeds gevestig het in die span, is die veelsydige Chris Ashton wat op beide vleuel en heelagter kan uitdraf. Daar is ook Ben Foden wat stadigaan besig is om ‘n rots vir Engeland op heelagter te ontaard. Voeg hierby die voorhoede van oa Lewis Moody (flank en kaptein), sterkman Andrew Sheridan (stut) en Courtney Lawes (slot) en jy het ‘n span om menige teenstander slapelose nagte te besorg. Hou hulle dop – hulle gaan moeilike kalante wees.

Engeland het reeds in drie eindstryde gespeel (1991, 2003, 2007) en het die beker in 2003 gewen. Daarbenewens was hulle ook in een halfeindstryd betrokke (1995). Hulle is tans 5de op die IRB ranglys.

argentina rARGargentina r

  • Eerste toets: 1910 (vs Britse Leeus)
  • Grootste oorwinning: 152 punte (vs Paraguay, 2002)
  • Grootste nederlaag: 85 punte (vs Nieu-Seeland, 1997)

Argentinië het vriend en vyand verras deur tydens die vorige toernooi in 2007, die halfeindstryd vir die eerste keer ooit te haal en selfs derde in die toernooi te eindig, bo die gasheerland, Frankryk. Hulle is vir hierdie uithalervertoning beloon met ‘n plek in die uitgebreide Drie-Nasies reeks vanaf 2012. Helaas is Argentinië nie meer die span van 2007 nie. Waar hulle in 2007 selfs die moontlikheid gesien het om die eindstryd te haal, sal hulle vanjaar moet uithaal om verder as die eerste rondte te vorder. Ek glo nie hulle sal sommer die Engelse klop nie en dus sal hul wedstryd teen Skotland bepalend wees. Sterre in die Poemas se span, sluit in die kaptein en senter Felipe Contepomi, Martin Rodriguez (heelagter), Marcos Ayerza (stut) en Juan Fernandez Lobbe (agsteman). Hulle afrigter is Santiago Phelan. Sekerlik hulle grootste ster, Juan Martin Hernandez (losskakel) sal egter, weens ‘n besering, nie aan die Wêreldbeker kan deelneem nie.

Die Poemas is tans 8ste op die IRB ranglys en hulle het die halfeindstryd een keer vantevore gehaal (2007). Behalwe vir 2007, het hulle nog slegs een ander keer die kwarteindstryd gehaal (1999).

scotland rskotscotland r

  • Eerste toets: 1871 (vs Engeland)
  • Grootste oorwinning: 92 punte (vs Japan, 2004)
  • Grootste nederlaag: 58 punte (vs Suid-Afrika, 1997)

Skotland is ‘n rugbyspan wat al groot spelers soos Gavin Hastings en Andy Irvine opgelewer het, maar nog selde werklik impak kon maak op die Wêreldbekertoernooi. Vanaf die draai van die eeu, toon Skotse rugby ‘n afwaartse kurwe. Sedert die instelling van die Ses-Nasies reeks in 2000, kon Skotland nog nie die kompetisie wen nie. Vanjaar kon hulle slegs een wedstryd (teen Italië) in die kompetisie wen.

Ondanks hulle resente swak rekord, sal afrigter Andy Robinson gemotiveer wees deur hulle oorwinnings oor Argentinië en Suid-Afrika verlede jaar. En mens moet hulle regverdige kans gee om Argentinië te klop om sodoende tweede in hierdie groep te eindig. Hulle sal ook hulle bes doen om Engeland die loef af te steek, hoewel dit dalk die spreekwoordelike brug te ver is. Hulle ontbreek egter nie aan belowende spelers nie. Op heelagter is die veteraan Chris Paterson, terwyl die Dan Parks reeds ‘n gevestigde losskakel is. In die voorhoede kan hulle staatmaak op die talent van Richie Gray (een van die beste slotte tydens die Ses-Nasies kompetisie en deurlopend ‘n uitblinker) en kaptein, Alistair Kellock (slot). Skotland is tans 9de op die IRB ranglys. Hulle het een keer voorheen die halfeindstryd gehaal (1991) en het nog nooit in die groepfase vasgeval nie. As hulle Argentinië kan klop, sal hulle hierdie rekord in stand hou.

georgia rgeogeorgia r

  • Eerste toets: 1989 (vs Zimbabwe)
  • Grootste oorwinning: 95 punte (vs Tsjeggiese Republiek, 2007)
  • Grootste nederlaag: 78 punte (vs Engeland, 2003)

In alle eerlikheid, hoort die laaste twee spanne in hierdie groep nie in Wêreldbekerrugby nie en maak hulle maar slegs die getalle vol. Hierdie jaar sal Georgië se 3de agtereenvolgende Wêreldbeker wees. Hulle kon egter nog nie vantevore verder as die eerste rondte vorder nie en het nog slegs een oorwinning in die Wêreldbeker behaal teen Namibië (2007). Aan die anderkant moet mens seker erken dat Georgië darem reeds baie verbeter het sedert hulle eerste deelname in 2003. En as mens in ag neem dat hulle slegs van 1989 af internasionaal meeding, het hulle baie goeie opgang gemaak. Hulle speel altyd met ‘n groot hart in die Wêreldbeker en gaan hulle bes doen om seker te maak dat hulle ten minste nie laaste in die groep eindig nie. Daarom sal hulle gefokus wees op die wedstryd teen Roemenië en die toernooi as ‘n sukses beskou indien hulle hul tweede Wêreldbeker oorwinning ooit kan behaal. Kyk uit vir die talent van hulle veteraan agsteman, Mamuka Gorgodze en heelagter, Malkhaz Urjukashvili. Hulle afrigter is die Skot, Richie Dixon en hulle kaptein is die skrumskakel, Irakli Abuseridze. Georgië is tans 16de op die IRB ranglys

romania rroemromania r

  • Eerste toets: 1919 (vs VSA)
  • Grootste oorwinning: 100 punte (vs Bulgarye, 1976)
  • Grootste nederlaag: 134 punte (vs Engeland, 2001)

Roemenië het nog vir elke Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer, maar kon nog nooit verder as die groepfase vorder nie. Hulle het egter ‘n trotse rekord deurdat hulle nog slegs in een Wêreldbeker nie ‘n wedstryd kon wen nie (1995). Vanjaar sal Die Eike (soos hulle bekendstaan) daarop uit wees om Georgië te klop en sodoende hulle rekord van oorwinnings  in stand te hou. Hulle gaan egter heel moontlik vir die eerste keer sedert 1995 met die houtlepel huis toe. Hulle sal swaar steun op hulle ervare haker en kaptein, Marius Tincu. Hulle is tans 17de op die IRB ranglys en hulle afrigter is Romeo Gontineac.

Wedstryde om nie te mis:

  • Argentinië vs Skotland (25 September)
  • Engeland vs Skotland (1 Oktober)

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

GROEP C

australia rAUSaustralia r

  • Eerste toets: 1899 (vs Britse Leeus)
  • Grootste oorwinning: 142 punte (vs Namibië, 2003)
  • Grootste nederlaag: 45 punte (vs Suid-Afrika, 2008)

Australië, tans 2de op die IRB ranglys, is die een span wat ‘n realistiese kans staan om Nieu-Seeland se partytjie te ontwrig. Hulle het die spoke van hulle skoknederlaag teen Samoa gou tot rus gelê en enige ontleder sal baie braaf wees om nie hierdie span se potensiaal raak te sien nie. Speeltoestande in Nieu-Seeland is glad nie vreemd vir die Wallabies nie en hulle sal ook kan staatmaak op ‘n groot aantal ondersteuners van net oorkant die see.

Australië het ‘n onderskatte afrigter in Robbie Deans. Die man is ‘n strateeg en dink met ‘n plan. ‘n Verdere pluspunt is dat Australië ‘n uitmuntende skakelpaar gevind het in Wil Genea en Quade Cooper. Daarbenewens het hulle die gesoute Nathan Sharpe (slot) en Ben Alexander (stut) in die voorhoede, asook die baljagter, David Pocock (flank). Agterlangs is daar snellers soos Adam Ashley Cooper (senter) en Kurtley Beale (heelagter), wat met die regte balbesit, enige verdediging kan kloof. Die enigste vals noot is die feit dat Deans kort voor die Wêreldbeker op skokkende wyse die kapteinskap van Rocky Elsom (flank) weggeneem het en aan James Horwill (slot) oorhandig het. Mens sal moet sien of hierdie onverwagse skuif die span negatief sal beinvloed.

Australië het jong en opwindende spelers en daar is slegs twee spanne wat tussen hulle en ‘n plek in die eindstryd staan, naamlik Ierland en Engeland. Eerstens sal hulle Ierland moet tem (geen maklike taak nie) om te sorg dat hulle eerste in die groep eindig en tweedens kan hulle dan heel moontlik teen Engeland in die halfeindstryd te staan kom.

Australië het reeds drie keer die finaal gehaal, waarvan hulle twee keer die toernooi gewen het (1991 en 1999). Hulle was ook in een halfeindstryd betrokke (1987).

ireland rierireland r

  • Eerste toets: 1875 (vs Engeland)
  • Grootste oorwinning: 80 punte (vs VSA, 2000)
  • Grootste nederlaag: 48 punte (vs Nieu-Seeland, 1997)

Ierland is ‘n span wat die vermoë het om Australië se kaarte deurmekaar te krap. Hulle kan, as die kaarte reg val, eerste in die groep eindig en dan ‘n kans staan om te vorder na die halfeindstryd. Die Iere speel goeie rugby en dit was verbasend dat hulle nie daarin kon slaag om die Ses Nasies reeks vanjaar te wen nie. Snaaks genoeg, is Ierland die enigste van die tradisionele noordelike halfrondspanne wat nog nooit die halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi kon haal nie. Hulle het egter nog net een keer in die groepfase vasgeval, nl. 2007.

Ierland se afrigter is die bekwame Declan Kidney en hulle kaptein is die inspirerende Brian O’Driscroll – sekerlik een van die beste senters wat wêreldrugby nog opgelewer het. Hulle was ongelukkig om onlangs die dienste van staatmaker, Shane Horgan (vleuel), aan ‘n besering te verloor, maar hulle kan steeds staatmaak op die dienste van kwaliteitspelers soos Peter Stringer (skrumskakel), Sean O’Brien (agsteman), Stephen Ferris (flank), Andrew Trimble (senter/vleuel), veteraan Ronan O’Gara (losskakel) en die belowende jong Jonathan Sexton (losskakel). Hulle is tans 6de op die IRB ranglys. Die wedstryd teen Australië gaan kardinaal wees.

italy ritalitaly r

  • Eerste toets: 1929 (vs Spanje)
  • Grootste oorwinning: 96 punte (vs Tsjeggiese Republiek, 1994)
  • Grootste nederlaag: 101 punte (vs Suid-Afrika, 1999)

Italië speel nou reeds jare lank onder hulle potensiaal. Hulle het die spelers en hulle het die afrigter (voormalige Springbok en Springbok-afrigter, Nic Mallet), maar hulle kon nog net nooit hulle potensiaal verwesenlik nie, hoewel hulle in vanjaar se Ses-Nasies reeks verrassend met Frankryk afgereken. Hulle behoort met gemak die VSA en Rusland te klop, maar ek vermoed hulle gaan harde bene kou teen Ierland en Australië. Hulle het nog nooit verder as die groepfase gevorder in Wêreldbekertoernooie nie en dit gaan ook weer vanjaar die geval wees.

Hulle beste spelers is veteraan en kaptein Sergio Parisse (agsteman), kragman Martin Castrogiovanni (stut), Marco Bergemasco (flank) en veelsydige agterspeler, Andrea Masi. Laasgenoemde was vanjaar aangewys as Ses-Nasies speler van die toernooi. Interessant genoeg is daar ook twee voormalige Suid-Afrikaners in hulle Wêreldbekergroep, nl oud-Vrystater Cornelius van Zyl en Quintin Geldenhuys, albei slotte. Italië is tans 11de op die IRB ranglys.

usa rvsausa r

  • Eerste toets: 1912 (vs Australië)
  • Grootste oorwinning: 91 punte (vs Barbados, 2006)
  • Grootste nederlaag: 98 punte (vs Engeland, 1999)

Nes Italië, kon die VSA het nog nooit verder as die groepfase in Werldbekerrugby vorder nie en het nog net een oorwinning ooit in die toernooi gehad, toe hulle in 1987 Japan naelskraaps verslaan het. Die Arende, in essensie ‘n amateurspan, het egter nog in elke Wêreldbeker goeie rekenskap van hulself gegee en was nog nooit werklik verneder nie. Vanjaar sal hulle alles uithaal om Rusland oortuigend te klop en dan hoop dat hulle ten minste teen die ander drie spanne in die groep hulle beste te lewer. Hulle doel sal wees om nie laaste in die groep te eindig nie.

Hulle afrigter is die voormalige Ierse afrigter, Eddie O’Sullivan en hulle kaptein, die flank Todd Clever. Hulle pak voorspelers hou nie veel gevaar in nie, maar agterlangs het hulle die dienste van veteraan losskakel Valenese Malifa en die oud-Zimbabwiër, Takudzwa Ngwenya, wat op vleuel reeds telkemale gewys het waartoe hy in staat is. Die VSA is tans 18de op die IRB ranglys.

russia rrusrussia r

  • Eerste toets: 1992 (vs België)
  • Grootste oorwinning: 97 punte (vs Denemarke, 2000)
  • Grootste nederlaag: 72 punte (vs Japan, 2010)

Hierdie is Rusland se eerste Wêreldbeker. Verder hoef ek nie regtig veel meer te sê nie. Hulle sal heel moontlik dieselfde paadjie volg as eenmalige deelnemers voor hulle, soos die Ivoorkus, Spanje en Portugal. Hulle kaptein is Vladislay Korshunov (haker). Ander spelers wat genoem kan word, is die oud-Australiër, Adam Byrnes (slot), Kirill Kulemin (slot) en die veelsydige voorspeler, Andrey Ostrikov. Hulle wedstryd teen die VSA behoort vermaaklikheidswaarde te verskaf, maar andersins gaan hulle sukkel om nie teen Australië, Ierland en Italië verneder te word nie. Hulle afrigter is Nikolay Nerush en hulle is tans 19de op die IRB ranglys.

Wedstryde om nie te mis:

  • Australië vs Ierland (17 September)
  • Ierland vs Italië (2 Oktober).

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

GROEP D

safrica rsasafrica r

  • Eerste toets: 1891 (vs Britse Leeus)
  • Grootste oorwinning: 131 punte (vs Uruguay, 2005)
  • Grootste nederlaag: 50 punte (vs Engeland, 2002)

Peter de Villiers en sy Springbokspan sal in Nieu-Seeland poog om reg te kry wat geen ander span in Wêreldbekergeskiedenis kon regkry nie, nl. om hulle kroon as Wêreldkampioen suksesvol te verdedig. Die kanse dat hulle in hierdie doel gaan slaag, is maar skraal. Hoewel hulle genoeg skietgoed behoort te hê om die halfeindstryd te haal, is daar ‘n realistiese kans dat Suid-Afrika reeds in die kwarteindstryd verrassend kan vasval teen ‘n omgekrapte Ierland of ‘n talentvolle Wallabiespan. Om hierdie onbeneidendenswaardige eer te vermy, gaan die span swaar leun op hulle veteraanspelers, soos John Smit (haker en kaptein), Victor Matfield (slot), Bakkies Botha (slot), Schalk Burger (flank), Fourie du Preez (skrumskakel), Jean de Villiers (senter), Jacque Fourie (senter/vleuel), Bryan Habana (vleuel) en Danie Rossouw (flank/slot). En dis juis waar die Bokke se probleme begin.

In vergelyking met ander spanne, soos oa Nieu-Seeland en Australië, steun die Springbokke steeds swaar op die veterane, wie se beste rugbydae besig is om vinnig verby te flits. John Smit het homself al oor en oor bewys as ‘n uitstekende kaptein, maar hy is lank nie meer die haker wat hy was nie. Ander ouer spelers het ook nie meer die woema wat hulle in 2007 gehad het nie en sukkel knaend met beserings. Hulle het juis ‘n groot terugslag beleef toe die gesoute Juan Smith (flank) hom aan die Wêreldbeker moes onttrek. Laat ons maar eerlik wees: Die Springbokke gaan nie die toernooi weer wen met die kernspelers wat in 2007 die helde was nie. Voeg hierby die feit dat Peter de Villiers nie die beste afrigter is wat Suid-Afrika al ooit opgelewer het nie en die gebrek aan ‘n gevestigde losskakel wat die spel kan dikteer nie (dink hier aan Dan Carter) en die Springbokke se kanse lyk skraal om die eindstryd te haal. Daar is wel opwindende jonger spelers soos Heinrich Brussouw (flank), Juan de Jongh (senter), Bismarck du Plessis (haker), Patrick Lambie (losskakel), Coenie Oosthuizen (stut), Lwazi Mvovo (vleuel) en die veelsydige agterspeler, Frans Steyn. Hierdie spelers is egter, weens uiteenlopende redes, nog nie die kans gegun om hulself werklik in die span te vestig nie. Indien hulle ‘n kans gegun word, behoort hulle egter goeie rekenskap van hulself te gee tydens die toernooi.

Die Springbokke behoort eerste in die groep te eindig, maar vanaf die kwarteindrondte gaan dit ‘n swaar pad wees. Suid-Afrika is tans 3de op die IRB ranglys. Hulle het die beker reeds twee keer verower (1995 en 2007) en was ook een keer in die halfeindstryd betrokke (1999).

waleswalwales

  • Eerste toets: 1881 (vs Engeland)
  • Grootste oorwinning: 98 punte (vs Japan, 2004)
  • Grootste nederlaag: 83 punte (vs Suid-Afrika, 1998)

Die span van Wallis dink nou nog terug aan die glorie wat hulle in 1987 gesmaak het, toe hulle 3de in die heel eerste Wêreldbekertoernooi geëindig het. Sedertdien kon hulle egter nog nie weer die halfeindstryd haal nie. Om die waarheid te sê kon hulle by 3 geleenthede (1991, 1995 en 2007) nie verder as die groepfase vorder nie. Hulle is ook weer in dieselfde groep as hulle nemesis, Samoa – ‘n span wat hulle reeds twee keer vantevore in Wêreldbekerbekertoernooie geklop het (1991, 1999).  Daarbenewens sal hulle ook teen die kragtige Fidjiane, wat hulle in die 2007 toernooi geklop het,  moet kragte meet.  Die kans is dus realisties dat hulle dalk weer na die groepfase moet terugvlieg Cardiff toe.

Maar laat ons die Walliesers nie te vroeg afskryf nie. Hoewel hulle ongelukkig was om oa Matthew Rees (haker) en Gavin Henson (senter) aan beserings af te staan voor die Wêreldbeker, het hulle steeds spelers soos Stephen Jones (losskakel), die jong vuurvreter en kaptein, Sam Warburton (flank), opwindende snellers, George North en Shane Williams, James Hook (senter), asook die veteraan, Ryan Jones (slot/agsteman). As hulle die Fidjiaanse spook tot rus kan lê en Samoa kan oorkom, kan hulle dalk net deurdring na die kwarteindstryd, maar verder sal hulle nie sommer vorder nie. Die Nieu-Seelander William Gatland is hulle afrigter en hulle is tans 7de op die IRB ranglys.

fiji rfijifiji r

  • Eerste toets: 1924 (vs Tonga)
  • Grootste oorwinning: 120 punte (vs Niue Eiland, 1983)
  • Grootste nederlaag: 91 punte (vs Nieu-Seeland, 2005)

Fidji was nog altyd ‘n krag in sewesrugby, met hulle sterk hardlopers en innoverende spelpatroon. Ongelukkig kon hulle egter nog nooit hulle sukses in sewes oordra na die vyftienmankode nie. Behalwe vir die sporadiese oorwinnings oor tradisionele rugbylande (Argentinië, Australië, Wallis en Skotland), kon Fidji nog nooit daarin slaag om hulself werklik as ‘n rugbykrag te vestig nie. Die feit dat hulle beste spelers jaarliks afgerokkel word na groener weivelde in Nieu-Seeland en Australië, help hulle ook nie juis nie. In die vyftienmankode is hulle geneig om te individueel te speel, swak dissipline te hê en meestal is hulle voorspelers nie opgewasse teen die opposisie nie. Slegs as die spel los raak, kan hulle met hulle kragtige agterspelers die opposisie hoofbrekens besorg.

In hierdie groep gaan hulle ‘n opdraande stryd voer om nie vas te val nie, hoewel hulle gemotiveer sal word deur hulle oorwinning teen Wallis in die vorige Wêreldbeker. Hulle vertoning in die onlangse Stille Oseaan reeks was egter niks om oor huis toe te skryf nie. Hulle behoort kringe om Namibië te hardloop, maar kan sukkel teen die ander 3 spanne. Hulle sal swaar steun op die veteraan Nicky Little (losskakel) en spelers soos Deacon Manu (stut en kaptein), Asaeli Boko (flank), Seremaia Bai (senter), Albert Vulivuli (senter), Illiesa Keresoni (heelagter) en Timoci Nagusa (vleuel). Veral laasgenoemde speler behoort vir opwindende oomblikke te sorg. Hulle is tans 12de op die IRB ranglys en hulle afrigter is Sam Domoni.

samoa rsamsamoa r

  • Eerste toets: 1924 (vs Fidji)
  • Grootste oorwinning: 108 punte (vs Papua Nieu-Guinee, 2009)
  • Grootste nederlaag: 87 punte (vs Nieu-Seeland, 2008)

Samoa is van mening dat hulle onlangse geskiedkundige oorwinning teen ‘n verswakte Australiese span, bewys is dat hulle ‘n krag geraak het in wêreldrugby, met die eerste minister, Tuilaepa Malielegaoi (wat ‘n tongknoper!), wat van mening is dat Samoa selfs die Wêreldbeker kan wen. Die realiteit is egter dat Samoa gaan sukkel om die groepfase te oorleef. Die Samoane het gesukkel in die Stille Oseaan reeks en heel laaste geëindig. Hulle deel hulle ander eilandgenote, Fidji en Tonga, se probleem dat hulle beste spelers eerder poog om vir Australië en Nieu-Seeland uit te draf en voorts is hulle ‘n span wie se swak dissipline hulle telkens kelder. Enige teenstander sal egter vir jou vertel dat ‘n wedstryd teen die Samoane geen pret is nie. Hulle is bekend vir hulle harde verdediging, wat meermale grens aan gevaarlike spel. Hulle wedstryd teen Fidji, behoort ‘n skouspelagtige affêre te wees en hulle gaan ook alles gee teen Suid-Afrika en Wallis. Met spelers soos Alesana Tuilagi (vleuel), George Stowers (agsteman), vuurvreter Daniel Leo (slot) en broers George Pisi (senter) en Tusi Pisi (losskakel) gaan hulle moeilike teenstanders wees, maar ek vermoed hulle gaan vroeg huis toe.

Samoa het twee keer vantevore deurgedring na die kwarteindrondte (1991 en 1995) en hulle is tans 10de op die IRB ranglys. Hulle afrigter is Fuimaono Tafua en hulle kaptein is Seilala Mapusua (senter).

namibia rnamnamibia r

  • Eerste internasionale wedstryd: 1955 (as Suidwes-Afrika vs Britse Leeus)
  • Grootste oorwinning: 116 punte (vs Madagaskar, 2002)
  • Grootste nederlaag: 142 punte (vs Australië, 2003)

Hierdie jaar neem Namibië deel aan hulle vierde Wêreldbekertoernooi en hulle hou die onbenydenswaardige rekord dat hulle die enigste span is wat al aan meer as een toernooi deelgeneem het, maar nog nooit ‘n wedstryd kon wen nie. Vanjaar gaan sake glad nie anders wees nie. Namibië hoort nie by hierdie toernooi en hulle gaan baie lelik tweede kom teen die ander spanne in hierdie groep. Die biltongboere is al lank nie meer die span wat jare terug as Suidwes-Afrika ander spanne in Suid-Afrika se Curriebekerreeks opgedreun het nie. Hulle afrigter is Johan Diergaardt en kaptein Jacques Burger. Hulle is tans 20ste op die IRB ranglys.

Wedstryde om nie te mis:

  • Suid-Afrika vs Wallis (11 September)
  • Fidji vs Samoa (25 September).

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

Om mee af te sluit en ter opsomming: Ek glo Nieu-Seeland sal op 23 Oktober die kroon as Wêreldkampioen dra. Die ander uitstaanspanne kan Australië en/of Ierland wees. Die spanne wat kan verras deur die kwaliteit van hulle vertonings kan moontlik Japan, Tonga en/of Fidji wees. Spanne wat heel moontlik hulle ondersteuners gaan teleurstel sluit in Frankryk en/of Suid-Afrika.

Vinnige feite:

  • Grootste oorwinning ooit: 142-0 (Australië vs Namibië, 2003)
  • Meeste punte in Wêreldbekerrugby: 1711 (Nieu-Seeland)
  • Meeste wedstryde in Wêreldbekerrugby: 36 (Nieu-Seeland en Frankryk)
  • Meeste drieë deur ‘n span in ‘n wedstryd: 22 (Australië vs Namibië, 2003)
  • Meeste punte deur ‘n speler in ‘n wedstryd: 45: Simon Culhane (Nieu-Seeland vs Japan, 1995)
  • Meeste drieë deur ‘n speler in ‘n wedstryd: 6: Marc Ellis (Nieu-Seeland vs Japan, 1995)
  • Meeste doelskoppe deur ‘n speler in ‘n wedstryd: 10: Simon Culhane (Nieu-Seeland vs Japan, 1995)
  • Meeste strafskoppe deur ‘n speler in ‘n wedstryd: 8: Matt Burke (Australië vs Suid-Afrika, 1999), Gonzalo Quesada (Argentinië vs Samoa, 1999) en Thierry Lacroix (Frankryk vs Ierland, 1995)
  • Meeste skepskoppe deur ‘n speler in ‘n wedstryd: 5: Jannie de Beer (Suid-Afrika vs Engeland, 1999)
  • Grootste puntemaker in Wêreldbekertoernooie: 249: Jonny Wilkinson (Engeland)
  • Meeste drieë in Wêreldbekertoernooie: 15: Jonah Lomu (Nieu-Seeland)
  • Meeste doelskoppe in Wêreldbekertoernooie: 39: Gavin Hastings (Skotland)
  • Meeste strafskoppe in Wêreldbekertoernooie: 59: Jonny Wilkinson (Engeland)
  • Meeste skepdoele in Wêreldbekertoernooie: 13: Jonny Wilkinson (Engeland)
  • Honderdtalle in Wêreldbekertoernooie:
    145 (Nieu-Seeland vs Japan, 1995), 142 (Australië vs Namibië, 2003), 111 (Engeland vs Uruguay, 2003), 108 (Nieu-Seeland vs Portugal, 2007), 101 (Engeland vs Tonga, 1999), 101 (Nieu-Seeland vs Italië, 1999)

* IRB = International Rugby Board

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

15 Kommentaar leave one →
  1. Augustus 19, 2011 2:38 vm

    ‘n Oulike inskrywing. Al wat ek wil hê is dat die Springbokke ten minste iewers ‘bo’ uitkom en nie so pateties verloor nie, maar is ek negatief as ek sê ek weet nie of daar veel hoop is nie? Dan, was daar rugbywedstryde vroeer gespeel [as die datums waarop jy hier het van 1881/1891 ens.]is, of was dit van die eerste ‘toets’-wedstryde? [iets se vir jou ek is te lui om self te ‘search’ nê?🙂 ] – ek kry tussen stokou-foto’s [by my ma] ‘n foto van my pa toe hy net so uit die skool is, losskakel blykbaar gespeel. Boere teen Dorp. Boere 16 en Dorp 9. Dit was nogal ‘funny’.

    • Augustus 19, 2011 6:16 nm

      Nikita, inderdaad is rugby (in verskillende vorme) sedert die middel van die 19de eeu gespeel. Die datums in hierdie skrywe verwys na die eerste amptelike internasionale wedstryde.

      • Augustus 19, 2011 7:41 nm

        Dankie Boer, ek het net gewonder of daar dalk ander wedstryde ook was, tussen ander lande, wat nie nou deel van die WC is nie. As ek reg verstaan, is die hier dan die enigstes en eerstes?

  2. Augustus 19, 2011 4:34 nm

    Ek is bly daar is darem nog iemand wat belangstel😉

    • Augustus 19, 2011 6:17 nm

      En hoe!!!! Ek het maar nou eenmaal ‘n swak vir internasionale sportgebeurtenisse. Dit fassineer my.

  3. ShiningFire permalink
    Augustus 19, 2011 8:47 nm

    Aussies!😉

  4. Augustus 20, 2011 2:43 vm

    Alles gaan af hang wanneer die Bokke peak en of hulle ooit gaan peak.

    • Augustus 20, 2011 4:25 nm

      Ek glo nie daar is ‘n peak wat kom nie. Ons het in 2007 gepeak.

    • ShiningFire permalink
      Augustus 21, 2011 4:54 nm

      Ja Boer, dis nou net ‘n kwessie van ‘pasop vir die afkomslag’.🙂

  5. Augustus 22, 2011 8:21 nm

    skoorbek@gmail.com my asb dringend – ek soek gou jou familie hier anderkant my se kontakbesonderhede. Buurtwag dinge, en ek weet mos met ‘n wye bleddie ompad gaan ek netnou die mense kontak!!!

  6. Mary Jane permalink
    Augustus 23, 2011 8:11 nm

    Hi BiB! Ek’s nou nie ‘n rugbykenner nie, maar ek wil net noem dat ek met als wat jy skryf saamstem. Die Bokke het gekom en gegaan en hulle kort nuwe bloed. Hulle gaan ongelukkig nie eintlik hond-haar afmaak van hierdie wereldbekertoernooi nie, maar nou ja…

    • Augustus 24, 2011 8:32 nm

      Ek sal myself ook nie uitgee as ‘n rugbykenner nie….meer van ‘n leunstoelbelangstellende met ‘n glasie vars Sauvignon Blanc in die hand!😉

  7. September 18, 2011 4:54 nm

    Ek trek my woorde oor Georgië met ‘n groot glimlag terug. Ek was verkeerd. Hulle mag maar rugby speel!

Trackbacks

  1. Waarnemings vanuit my leunstoel: Die 2011 Rugby Wêreldbeker: Week 1 « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: