Skip to content

Die Kasteel van Chillon

September 14, 2011

P8106375

Die Kasteel van Chillon is indrukwekkend en dramaties geleë, reg op die walle van die Genève-meer, in die Switserse kanton van Vaud. Die kasteel is slegs ‘n kort entjie buite die stad van Montreux – ‘n speelplek vir die rykes met hulle seiljagte, dobbelgewoontes en voorliefde vir jazz musiek.

P8106208P8106198

P8106209P8106205

Soos soveel ander ou historiese geboue regoor die wêreld, is ook Chillon nie oornag gegiet in sy huidige vorm nie. Oor eeue heen is daar aangebou en gerestoureer, voor die geboue huidige vorm en grootte bereik het. Daar is nie sekerheid oor presies wanneer die sooie vir die oorspronklike kasteel gespit is nie, maar die eerste keer wat die kasteel in historiese dokumente genoem word, is die jaar 1150.

P8106204

Gedurende hierdie tydperk was die kasteel die domein van Savoje* (‘n invloedryke koningshuis van feodale oorsprong wat later die monargie van Italië sou word), vanwaar hulle die handelsroetes langs Genève-meer beheer het. Savoje (op hierdie stadium ‘n graafskap) was ‘n sterk regionale mag, wat groot dele van die hedendaagse Franssprekende Switserland verower en bestuur het, asook dele van hedendaagse Italië. Gedurende die 13de en 14de eeu is die oorspronklike kasteel verskeie kere vergroot, soos dit gegroei het tot Savoje se belangrikste administratiewe en finansiële sentrum.

P8106334P8106210

Tydens die 16de eeu, is Savoje en hulle beskermheer, die Graafskap van Boergondië (nog ‘n feodale koningshuis wat geleë was in hedendaagse Frankryk), verdryf deur die magte van die Switserse Konfederasie, gelei deur die kanton van Bern. Wonder bo wonder het die kasteel verwaarloos, maar onaangeraak, in die hande van die Bernese geval. Hulle het die kasteel oorspronklik aangewend as tronk en dit die hoofsetel gemaak van die area se balju. Teen die 18de, het die balju hier uitgetrek en die kasteel, wat lankal nie meer as militêr strategies beskou is nie, is hoofsaaklik as stoorplek aangewend.

P8106348

In 1798, in die gees van die Franse revolusie, het die burgers van Vaud in opstand gekom teen Bernese beheer en sonder verset Chillon – histories belangrike simbool van mag – oorgeneem. Vaud is in 1803 tot volwaardige kanton verklaar en het deel geword van die Switserse Konfederasie. Die kasteel is egter nie onderhou nie en daar is bloot voortgegaan om die kasteel as wapenstoorplek en tronk te gebruik. Dit is eers teen die einde van die 19de eeu wat restoreringswerk in erns begin is deur Switserland.

P8106270P8106304

Vandag is Chillon sekerlik die bekendste kasteel in Switserland en het dit ‘n geweldige beeld van romantiek. Die romantiese beeld van die kasteel (in teenstelling met die droewe beeld van ‘n gevangenis) het oorsprong gevind in ‘n novelle deur die bekende filosoof, Jean-Jacques Rousseau. In La Nouvelle Heloise (uitgegee in 1761), speel een van die tonele in die kasteel se kerkers af, waar die gevangene, Francois Bonivard (‘n teenstander van Savoje), aangehou word in uiters primitiewe omstandighede.

P8106221

Dit was egter die befaamde Engelse digter, Lord Byron, wat die kasteel se naam verewig het, deur sy 1816 gedig, The prisoner of Chillon. Byron was so geraak met sy besoek aan Chillon dat hy ‘n epiese gedig geskryf het, wat Bonivard tot ‘n universele simbool van die strewe na vryheid verhef het. Hier is ‘n uittreksel:

Lake Leman** lies by Chillon’s walls:
A thousand feet in depth below
Its massy waters meet and flow;
Thus much the fathom-line was sent
From Chillon’s snow-white battlement,
Which round about the wave inthralls:
A double dungeon wall and wave
Have made-and like a living grave
Below the surface of the lake
The dark vault lies wherein we lay:
We heard it ripple night and day;
Sounding o’er our heads it knock’d;
And I have felt the winter’s spray
Wash through the bars when winds were high
And wanton in the happy sky;
And then the very rock hath rock’d,
And I have felt it shake, unshock’d,
Because I could have smiled to see
The death that would have set me free.

P8106290P8106225

P8106226P8106247

Wanneer mens in die kerkers, diep in die maag van Chillon staan, met ou martel-insturmente nog hier en daar bewaar, kan mens jou assosieer met Byron se woorde en die lot van gevangenes soos Bonivard. Mens kan net dink hoe koud, klam en onaangenaam dit daar moes wees vir die gevangenes, met die pragtige uitsigte op die meer en berge wat deur die tralies onbereikbaar hulle daagliks moes tart. Plek-plek kan mens nog die oorblyfsels vind van Christelike simbole van hoop wat deur die gevangenes teen die steenmure uitgekrap is.

P8106277

Die kasteel is inderdaad ‘n betowerende plek en drup van Middeleeuse sjarme en romanse…Soos jy deur die groot struktuur se krieselsteen-strate stap, kan jy jou die klip-klap van perdehoewe verbeel of die onheilspellende geklink van gekruiste swaardlemme. In die ouwêreldse banketsale met reuse kaggels, kan mens – as mens mooi luister – nog die gelag en die rumoer van stemme hoor en die geklingel van bekers vol wyn; die klanke van Middeleeuse snaarmusiek, wyl die adelikes hulself volprop met oordadige borde kos.

P8106238P8106257

P8106306P8106279

Hierdie was die tyd van ridders geklee in staal, maagde in moeilikheid, mitiese drake en swaardgevegte. Die ou steenmure, die torings, kerkers, klein hoekies en stegies, die vensters en deure en glimpsbeelde van blou berge en waters van die meer, het onwillekeurig weer John Greenleaf Whittier se tydlose woorde binne my laat eggo:

The great eventful Present hides the Past; but through the din
Of its loud life hints and echoes from the life behind steal in.

P8106258

* Savoje is ook die naam van ‘n streek in Frankryk, komend van die tyd toe dit deur die Huis van Savoje regeer is.

** Genève-meer staan ook bekend as Léman-meer, nav die meer se Franse naam, Lac Léman.

9 Kommentaar leave one →
  1. September 14, 2011 5:36 nm

    Dankie! Dit is nou regtig interessant! Ekself het die kasteel besoek en kon natuurlik nie die naam onthou nie! Die inligting wat jy hier verskaf was vir my nou regtig waardevol.

  2. September 14, 2011 8:37 nm

    Ek vrek oor kastele, ek is seker ek het iewers in een van my vorige lewens in een gewoon😉

  3. September 15, 2011 12:00 vm

    Interessante geskiedenis. Klink na ‘n lekker reis.

  4. September 18, 2011 9:03 nm

    Sjoe! Kan net dink wat Leon van Nierop met hierdie foto’s sal doen!🙂 Pragtig!

    • September 18, 2011 9:05 nm

      As jy nie omgee nie, gaan hierdie foto’s by jou kom haal [later] vir my kinders se storie-huiswerk! Ek kan net dink wat hieruit gaan kom.

  5. September 19, 2011 9:03 nm

    Reg so, Nikita! Maar moenie verwag dat een van hulle sommer in ‘n Leon van Nierop gaan ontpop nie.😆

    • September 20, 2011 2:46 vm

      Nee, beslis nie,😆 hierdie jaar se groepie is maar flou teenoor 2-3 wat ek laas jaar gehad het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: