Skip to content

Die Wingerdterrasse van Lavaux

September 27, 2011

frame1724127276b1d87447c6de54c418fa155cac1686

Tussen die poskaartmooi stede van Montreux en Lausanne, aan die noordelike kus van Genève-meer, le die wyndistrik van Lavaux – ongeveer 800ha van groen, kronkelende terrasse uitgestrek vir ‘n afstand van sowat 30 km, loodreg langs die meer se waters. Lavaux vorm deel van die Switserse kanton van Vaud, die tweede grootste wynproduserende kanton in Switserland.

frame07efb7dad55eb2b1ee69a28132b61cd1b1212de5

Nou om bloot lukraak te skryf oor ‘n wyndistrik in enige land, is is nou nie juis epogmakend nie. Maar Lavaux is nie sommer enige wyndistrik nie. Om die waarheid te sê, is die wingerde van Lavaux in 2007 tot ‘n UNESCO Wêrelderfenisgebied verklaar. Nie noodwendig oor die kwaliteit van hulle wyne nie, maar weens die feit dat hierdie area die wêreld se oudste oorblywende konsentrasie van wingerdterasse in die wêreld het. Hierdie terrasse wat indrukwekkende steil teen die berge langs die meer oploop, is van die oudste opgetekende en blywende voorbeelde van wingerdbou in die wêreld.

frame8280ba2c6c92738b798d04754f8dcaade93cfa82frame6834d0473a7386b6f1e1c093f9791ddde1647757

Die terrasse, soos dit tans daarna uitsien, se oorsprong kan teruggespoor word na so vroeg as die 11de eeu, toe Katolieke monnikke die eerste terraswingerde aangelê het naby die dorpie van Dézaley. Volgens aanduidings, is die oudste van hierdie terrasse van die Middeleeue af tot nou toe, deurlopend vir wynbou gebruik. Deur die eeue is nuwe terrasse geskep en wingerde geplant, maar die area is deurentyd uitstekend in stand gehou deur eers die monnikke, daarna deur die prinse van Savoje, toe die Bernese en laastens deur die Switserse Konfederasie.

frame770c872addfe133dda56a70f96a68c7d970f2c88

Maar as UNESCO slegs die terrasse van Lavaux tot erfenisgebied verklaar het agv van die estetiese waarde van die area, sou ek ook verstaan het. Hierdie moet sekerlik van die mooiste wyndistrikte in die wêreld wees. Die groen wingerde loop baie steil teen die berge af, waar dit op dramatiese wyse die kobaltwaters van Genève-meer ontmoet. Dit vorm legkaartprentjies, met die Franse Alpe wat in die verre bloute le aan die anderkant van die meer. Die kontrasterende kleurespel is so indrukwekkend, dat mens dit nie werklik in foto’s kan weergee nie. Hoe goed of mooi foto’s ook al kan wees, bly steeds ‘n tweedehandse weergawe van wat die menslike oog inneem.

frame234d79eabfb2ff63a005cd84b7f3ab47a7475cb2

Die skoonheid van hierdie omgewing is egter nie slegs beperk tot die wingerde, meer en berge nie, maar omvou ook die pragtig-bewaarde Middeleeuse dorpies van oa St Saphorin, Epesses, Dézaley en Calamin. Hier vind jy nou krieselsteenstraatjies, steenmure, skilderagtig versierde geboue, blombakke teen die mure, spuitfonteintjies met vars bergwater en ou kerktorings.

framee2ca89b4bd454a1f65f82965414978b3f7c90b0bframefe4ce6560713bbddc3be18fd22bb8f5861c1ed79

Met paadjies deur die wingerde kan mens die hele area verken en van dorpie tot dorpie stap of fietsry. Dit is ‘n rare bederf om in hierdie omgewing tussen die wingerde te stap, die bekoorlike ou dorpies te besoek en hier en daar te proe aan die vrug van die wingerdstok. En dit terwyl jy deurentyd die pragtige uitsig oor die meer en wingerde het.

frameb29f4de9bef92393786faee98dd5295114b6e663frameefcc0666db61374c6e3edf95a81118dea51f638b

Dit is bewonderenswaardig dat die wynbouers van die omgewing hulle wingerde kan versorg en oes teen sulke hellings waar daar geen plek is vir meganiese masjiene nie (mens tref natuurlik dieselfde verskynsels in die Duitse Rynvallei aan). Oral sien mens die metaalspore vir die enkelspoorkarretjies, wat sekerlik hulle enigste toegang is tydens oestyd. Mens kan jou verbeel hoe karretjie op karretjie vol varsgeplukte druiwe na onder gly gedurende die oes.

frame7eacea038b61c279ec5c4dd6c0d896c78723d162

En wat dan van die wyne? Die area is veral bekend vir die bekendste Switserse kultivarwyn, Chasselas (ook bekend as Fendant in ander wynproduserende kantons). Chasselas is ‘n ligte styl wit wyn, en op sy beste, is dit ‘n wonderlike vars, vrugtige wyn, net reg vir die somermaande. Die kultivar vertoon uitlokkende geure van bloeisels, heuning en soms sitrus. Die wyn is lekker droog op die nasmaak, hoewel die suur soms effe aan die lae kant kan wees. Dis egter ‘n verfrissende wyn, aangehelp deur ‘n lae alkoholinhoud (gewoonlik in die omgewing van 12%).

frame3d23062126456da7f183548e1a716e3de41d92ec

As mens die kilometers so in die warm Switserse somerson afstap van dorpie na dorpie, is min dinge so verfrissend soos ‘n koue glas Chasselas in ‘n outentieke kelder-proekamer. Die distrik van Lavaux produseer oa ook maklik-drinkbare, meestal ongehoute, weergawes van Pinot Noir (plaaslik ook bekend as Blauburgunder), Pinot Noir se wit druifmaat, Pinot Blanc (Weissburgunder) en Pinot Gris. Die wyne is nou nie van die tipe wyne waarvoor ek my bene sal breek nie, maar tog is daar niks fout met die wyne nie en maak dit vir lekker, ongekompliseerde, alledaagse drinkgenot. Daar is natuurlik van die meer ernstige en duurder wyne wat ek nie probeer het nie.

frame75afec97ce222b0a7045cb9c08b0ace509e618ca

Selfs al is jy geen wynliefhebber nie, sal die wingerdterasse van Lavaux jou wild laat gryp na byvoeglike naamwoorde en jou opnuut dankbaar maak dat jy met sig geseën is.

Advertisements
6 Kommentaar leave one →
  1. schabbers permalink
    September 27, 2011 8:08 nm

    Hoe lus maak jy my nou om sommer dadelik my wandelstaf op te neem!!!!
    Dis werklik baie mooi……sal dit graag self wil beleef.

  2. September 27, 2011 10:15 nm

    Ja-nee, jy maak mens mos nou vrek jaloers. Dis SO mooi!

  3. ShiningFire permalink
    September 28, 2011 9:46 nm

    onthou sonskerm indien jy so ‘n staproete aanpak in die wingerde wat gepaard gaan saam met baie sweet :-)))

  4. September 30, 2011 11:49 vm

    Die terrasse is net so indrukwekkend soos in Cinque Terre, Italie, waar alle wyn produksie met die hand gedoen word. Te styl vir enige iets anders. Jy maak nou dat ek Switserland hoer moet opsluif in my lande wat moet besoek word.

    • September 30, 2011 8:28 nm

      Het nou op die internet gaan kyk. Ek dink jy het sopas my volgende bestemming vir my geidentifiseer! 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: