Skip to content

Rugby Wêreldbeker 2011: Kwarteindwedstryde: Wie gaan hou en wie gaan vou?

Oktober 5, 2011

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

Die laaste wedstryde in die groepfase van 2011 se Rugby Wêreldbekertoernooi die afgelope naweek, was opwindend en dramaties. Hoe verder die toernooi vorder, hoe beter raak die rugby.

Australië het, soos verwag, Rusland oorrompel, hoewel hulle besluit het om net vir 40 minute te speel. In die eerste helfte het hulle na kampioene gelyk, maar in die tweede helfte het hulle middelmatig gelyk teen ‘n begeesterde Russiese span. Wallis het Fidji vermorsel, terwyl die All Blacks behoorlik maalvleis gemaak het van Kanada. Argentinië het egter sukkel-sukkel vertoon teen Georgië. En so van Georgië gepraat, van al die nie-tradisionele rugbyspelende lande, het Georgië in hierdie Wêreldbeker by verreweg die meeste impak gehad. Met die regte mededinging en verdere ontwikkeling kan Georgië nog ‘n krag in wêreldrugby word. Moenie verbaas wees as die Ses-Nasie toernooi vorentoe dalk ‘n Sewe-Nasie toernooi raak nie.

tonga

Foto: Getty Images

Ierland het Italië baie oortuigend geklop en van die verwagte rillerstryd het daar dadels gekom. Ierland speel op die oomblik van hulle beste rugby in jare en moenie verbaas wees om hulle dalk selfs in die eindstryd te sien nie. Die flank, Sean O’ Brien is besig om in een van die sterre van 2011 te ontpop en speel werklik ongelooflike rugby. Die wedstryd tussen Engeland en Skotland was wel die rillerstryd wat te wagte was. Mens moet jammer voel vir Skotland, wat deur die toernooi goeie rugby gespeel het en met die kleinste van haarbreedte nie verder kon vorder nie. Die wedstryd tussen Engeland en Skotland sou die wedstryd van die naweek gewees het, indien dit nie vir Tonga se skok-oorwinning oor die Franse was nie. Dit was ‘n briljante vertoning deur Tonga, terwyl dit voorkom asof die Franse nie vrotter kan speel nie. Ek het nooit verwag die Franse gaan die toernooi wen nie, maar het nie gedink hulle gaan op hierdie wyse middelmatigheid na nuwe hoogtes voer nie.

Komende naweek lê die kwarteindstryde voor en dit gaan epies wees, want vier van die agt spanne moet huis toe. Geen genade sal gevra of gegee word nie en moenie verbaas wees as ten minste een van die wedstryde ekstra tyd gaan benodig vir ‘n uitslag nie. Die vier onoorwonne spanne is Ierland, Engeland, Suid-Afrika en Nieu-Seeland. Ek het ‘n spesmaas dat ten minste een van hierdie spanne nie na die naweek steeds onoorwonne gaan wees nie.

ierwal

Die eerste wedstryd van die naweek staan die kans om ook die naaste wedstryd van die naweek te wees. Daar is werklik bitter, bitter min te kies tussen die spanne van Ierland en Wallis. Beide spanne se spelpeil is baie hoog en albei het die afgelope vier weke beïndruk. Wallis se gewetenlose slagting van Fidji was enige dag net so indrukwekkend soos Ierland se kragvertoning teen Italië. Hierdie gaan ‘n riller van rillers wees en dalk sal ekstra tyd benodig word om ‘n beslissing af te dwing. Enige van die twee spanne kan welverdiend deurdring na die halfeindstryd, maar as ek nou ‘n voorspelling moet waag, sal ek sê Ierland gaan hierdie een net-net wen. Dit sal, interessant genoeg, die eerste keer wees in Wêreldbekergeskiedenis wat die Iere verder vorder as die kwarteindstryd.

Ierland en Wallis het twee keer vantevore teen mekaar gespeel in die Rugby Wêreldbeker. Wallis het een gewen en Ierland een. Die laaste toets tussen die twee spanne was in Maart 2011 toe Wallis 19-13 baas was.

engfra

In die tweede wedstryd van die naweek, kom Engeland te staan teen ‘n Franse span wat oënskynlik besig is om op die veld, sowel as van die veld af, uitmekaar te val. Die Franse het hulle swakste en mins inspirerende rugby van die afgelope paar jaar gebêre vir hierdie Wêreldbekertoernooi. Van die agt spanne is hulle seker die span wat die minste verdien om in die kwarteindstryd te speel. Voorts boesem Marc Lievremont se voortgehoue eksentrieke spankeuses min vertroue in. Op die oog af dink ek nie die Franse word enige kans gegun teen Engeland nie en ekself het reeds my twyfel uitgespreek oor die Franse se vermoë om verder as die kwarteindstryd te vorder. Op huidige vorm behoort die Engelse Saterdag die vloer met hulle te vee. Maar…onthou dis die Franse rugbyspan en dis juis die dag as almal absoluut niks van hulle verwag nie en hulle afskryf, wanneer hulle manjifieke rugby asof van nêrens af optower en die opposisie aan stukke speel. Die Engelse kan dalk net Saterdag aan die verkeerde kant staan van ‘n een van die verrassendste en oortuigendste oorwinnings in hierdie toernooi. Onwaarskynlik? Ja. Onmoontlik? Nee.

Engeland en Frankryk het drie keer vantevore teen mekaar gespeel in die Rugby Wêreldbeker. Engeland het twee gewen en Frankryk een. Die laaste toets tussen die twee spanne was in Februarie 2011 toe Engeland 17-9 gewen het.

AUSsa

Sondag se eerste wedstryd beloof om – nes Ierland/Wallis – tot op die nippertjie ‘n absolute naelbyt-affêre te wees. Daar is min te kies tussen die Wallabies en die Springbokke en die wedstryd kan dalk ook net ekstra tyd nodig hê om ‘n uitslag te kry. Die Bokke was ongelukkig om die dienste van Frans Steyn, wat tot dusver ‘n staatmaker was, te verloor, wyl die Wallabies ook die afgelope tyd gery word deur beserings. Belangrik egter vir die Wallabies, is dat hulle die dienste van Digby Ioane en David Pocock terug het. Soos die Bokke teen Samoa, het die Wallabies ook nie heeltemal oortuig in die afgelope wedstryd teen Rusland nie. As Australië egter vir 80 minute kan speel soos hulle laaste 40 minute teen Italië en hulle eerste 40 minute teen Rusland, gaan Suid-Afrika groot probleme hê. Die Wallabies kan verwoesting saai met hulle agterlyn, maar die feit dat die Wallabies nie ‘n betroubare stelskopper het soos Suid-Afrika nie, kan dalk in die Bokke se guns tel. Die wedstryd kan enige kant toe gaan, maar miskien gaan die talentvolle Wallabies dalk net te veel skietgoed hê.

Australië en Suid-Afrika het twee keer vantevore kragte gemeet in die Rugby Wêreldbeker. Australie het een gewen en Suid-Afrika een. Die laaste toets tussen die twee spanne was in Augustus 2011 toe die Wallabies die Springbokke 14-9 geklop het.

NZARG

Die laaste wedstryd van die naweek is miskien die maklikste om te voorspel. Groot gewag is hierdie week gemaak van die feit dat die All Blacks sonder Dan Carter die res van die toernooi moet klaarkom. Inderdaad is dit ‘n groot terugslag vir die All Blacks, maar Nieu-Seeland se span is ook baie meer as net Dan Carter. Mens kan verwag dat ‘n begeesterde Argentynse span dalk die All Blacks gaan hou vir so 30 minute of meer, maar op die ou-end gaan die oormag van talent en vernuf net een te veel wees vir die Poemas. Nieu-Seeland is op pad halfeindstryd toe.

Argentinië kon nog nooit vir Nieu-Seeland klop nie. Hulle het een keer vantevore kragte gemeet in die Rugby Wêreldbeker en die laaste toets tussen die twee spanne was in Junie 2006 toe die All Blacks 25-19 gewen het.

Maak nie saak wat in die kwarteindwedstryde of daaropvolgende halfeindwedstryde gebeur nie, die eindstryd sal weer eens tussen spanne van onderskeidelik die Noordelike Halfrond en Suidelike Halfrond wees. Die enigste uitsondering op hierdie reël, was in 1995 toe Suid-Afrika teen Nieu-Seeland in die eindstryd gespeel het.

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

5 Kommentaar leave one →
  1. turksvy permalink
    Oktober 6, 2011 4:58 vm

    Ag, demmit, ek hoop jy’s totaal verkeerd. 😉

  2. Oktober 6, 2011 6:30 nm

    Dit gaan beslis ‘n interessante naweek wees!

  3. Oktober 7, 2011 2:36 nm

    Ek kan nie wag nie…nou begin die regte RWC…

  4. Oktober 7, 2011 7:59 nm

    Dit gaan GROOT wees! My wyn, kaas en beskuitjies staan reeds reg vir more!😆

  5. turksvy permalink
    Oktober 10, 2011 8:04 nm

    Jy’t vergeet om die Kleenex te noem… 😦

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: