Skip to content

Rugby Wêreldbeker 2011: Vier spanne bly staande

Oktober 13, 2011

Die afgelope naweek is vier spanne uit die Wêreldbekertoernooi geskakel, terwyl die oorblywende vier spanne in twee halfeindstryde sake sal uitspook vir ‘n gesogte plek in die finaal op 23 Oktober. Daar is nou slegs een onoorwonne span in die toernooi oor, naamlik die gunstelinge, Nieu-Seeland. Die twee ander onoorwonne spanne wat hulle eerste nederlaag in die toernooi gely het, was Suid-Afrika en Ierland.

Die stryd tussen Nieu-Seeland en Argentinië is die enigste kwarteindstryd wat min of meer verloop het soos te wagte was, hoewel die telling die All Blacks effe vlei. Maar die All Blacks het goed gespeel en gedoen wat van hulle verwag is om die vurige Poemas te oorkom.

nz

Foto: Rugby 365

Min mense het Frankryk (wat tot dusver gespeel het asof hulle nie by die toernooi wil wees nie) ‘n kans gegun teen Ses-Nasies kampioene, Engeland. Maar toe het die Franse – soos ek te wagte was – tipies Frans opgetree en ‘n skynbare groep ongemotiveerde spelers in ‘n week omtower tot ‘n formidabele eenheid wat die Engelse so te sê van hulle voete af gespeel het. Dit was by verre die beste rugby wat die Franse sover in die toernooi kon opdis en die dringendheid en talent van hulle spelers was net een te veel teen ‘n Engelse span wat maar bra gemiddeld vertoon het.

franse

Foto: Rugby 365

Die span wat egter sekerlik die oortuigendste vertoning van die naweek gelewer het, deur Ierland huis toe te stuur, was Wallis. Baie mense (en inkluis) het ‘n wedstryd verwag wat baie meer gelyk sou wees. Maar die vurigheid waarmee Wallis gespeel het, het die Iere skoon stadig en oud laat lyk. Wallis het ‘n uitstekende groep talentvolle jong spelers en ek wil my verstout om te sê dat hulle moontlik op hierdie stadium die beste en opwindendste rugby van die toernooi speel. Die spangees is duidelik baie goed en mens kan sien die spelers speel met die tipe vryheid en waagmoed wat hulle geniet. Die relatief onervare Rhys Priestland is besig om een van die sterre van die toernooi te ontpop en die jong kantman en kaptein, Sam Warburton, is in dieselfde geselskap. Enige span wat vanjaar droom om die Webb Ellis trofee omhoog te hou, sal eers met hierdie groep Walliesers moet verbykom.

wales

Foto: Rugby 365

Hoe minder ek oor die Springbokke se vertoning sê teen die Wallabies, hoe beter. Ek het gedink die Wallabies gaan wen, maar daardie oortuiging was geanker in die geloof dat die Australiese voorspelers goeie kwaliteit bal sou verskaf aan hulle gevaarlike agterlyn, met Quade Cooper as die generaal. Die Wallabies het inderdaad gewen, maar nie soos ek gedink het hulle sal nie. Die Springbokke het alle fasette van die spel oorheers, geweldige druk op die Australiese skakelpaar gesit (soveel so dat Quade Cooper heeltemal uit sy diepte voorgekom het) en vir seker meer as driekwart van die wedstryd die beter rugby gespeel. Maar hulle kon net nie daarin slaag om die nodige punte op die bord te kry nie en het menige kanse verspeel. Heinrich Brussouw se besering het nie gehelp nie en Frans Steyn is duidelik gemis in die middelveld. Dit help ook nou nie om (soos die ou Suid-Afrikaanse gewoonte is) die skeidsregter te blameer nie. Die skeidsregter was vrot, maar dis die 15 Bokke op die veld wat die wedstryd weggegooi het, nie die skeidsregter nie. Krediet aan die Wallabies se verdediging, maar hierdie wedstryd is eerder deur die Bokke verloor as wat die Wallabies dit gewen het.

aus

Foto: Rugby 365

Die twee groot wedstryde van die naweek, is die twee halfeindstryde. Frankryk pak vir Wallis Saterdag, terwyl Nieu-Seeland Sondag teen die Wallabies te staan kom.

walfra

Oorspronklik het ek nie een van hierdie twee spanne ‘n kans gegee om die halfeindstryd te haal nie, maar ek was verkeerd en hier is hulle nou. Wallis is seker die verrassing van die toernooi en hulle het ‘n klomp jong en honger spelers wat opwindende rugby speel. Op huidige spelpeil en beide die aard van hulle aanval en verdediging, behoort Wallis welverdiend deur te dring na die eindstryd. Hulle gaan dalk net te veel entoesiasme en toewyding vir Frankryk hê. Maar om enige rugbywedstryd waarin die Franse betrokke is, reg te voorspel, is ‘n moeilike taak, soos hulle in die verlede reeds telkemale bewys het. Hulle is berug daarvoor dat hulle nie week na week goeie vertonings kan lewer nie en dat hulle gewoonlik terugsak na ‘n goeie vertoning (soos laas week teen Engeland). Wat hulle dus teen Wallis gaan doen, bly ‘n ope vraag.

Wallis was ongelukkig om die afgelope week die dienste van hul losskakel, Rhys Priestland, te verloor, maar plaasvervanger, James Hook, is ‘n ervare speler. Mens sal moet sien of hierdie verandering hulle ritme gaan versteur, want Priestland was tot dusver een van die sterre van die toernooi. Hulle belangrikste speler is egter die jong kaptein, Sam Warburton, wat kans staan om as speler van die toernooi aangewys te word met sy briljante spel en leierskap. In die middelveld gaan die stryd tussen die fisiese senterpare van Wallis en Frankryk ook vir vuurwerke sorg. Frankryk se waardevolste speler, is hulle invloedryke skrumskakel, Dimitri Yachvili, wat die argitek was van Engeland se nederlaag. Verder is die losvoorspelers Thierry Dusautoir (kaptein) en Imanol Harinordoquy kookwater. Op vleuel behoort die tweestryd tussen Vincent Clerc (voorste driedrukker in die toernooi) en die uitgeslape Shane Williams ook interessant te wees.

Frankryk en Wallis het nog nooit in ‘n Wêreldbekertoernooi kragte gemeet nie. Die laaste wedstryd tussen die twee spanne was op 10 Maart, toe Frankryk gemaklik met 28-9 gewen het. Hierdie is Frankryk se sesde semi-finaal in Wêreldbekerrugby en Wallis se tweede.

NZAUS

Die wedstryd tussen die Nieu-Seeland en Australië word as die groot wedstryd van die naweek gesien, maar miskien gaan dit nie so naby wees as wat meeste mense dink nie. Feit van die saak is dat die Springbokke verlede week die Wallabies laat goed lyk het en as dit nie vir David Pocock en Bryce Lawrence was nie, was dit die Bokke wat teen die All Blacks sou opdraf Sondag. Australië het probleme in die vaste fasette van die spel en die All Black voorspelers kan hulle dalk net oorrompel. En, anders as die Bokke, dink ek Nieu-Seeland gaan hulle kanse gebruik en die Wallabies bloedneus gee.

Nieu-Seeland het ‘n terugslag gehad deurdat Daniel Carter se plaasvervanger, Colin Slade ook beseer is, wat hulle met ‘n derde keuse losskakel, die jong Aaron Cruden, laat vir die naweek se stryd. Maar miskien is dit nie ‘n slegte ding nie. Met sy kort tydjie op die veld teen die Poemas, het Cruden met meer selfvertroue gespeel as Slade en skerper voorgekom. Natuurlik gaan die Wallabies daarop uit wees om druk te plaas op die onervare Cruden en dit sal Piri Weepu se taak op skrumskakel wees om daardie druk van hom af te haal. Die tweestryd tussen Weepu en Will Genia behoort een van die hoogtepunte van die wedstryd te wees en so ook die stryd tussen die veelbesproke David Pocock en All Black kaptein, Richie McCaw. Australië sal hoop dat Quade Cooper nie weer sy nagmerrie-vertoning teen die Springbokke herhaal nie en sal agterlangs wil slaan met spelers soos Kurtley Beale en Digby Ioane. Die All Black sterre, Ma’a Nonu, Sonny Bill Williams en Cory Jane gaan egter ander planne hê.

Nieu-Seeland het al twee keer vantevore teen Australië te staan gekom in Wêreldbekertoernooie en by albei geleenthede het Australië gewen. Hulle laaste wedstryd was op 27 Augustus, toe die Wallabies die All Blacks 25-20 geklop het. Dit is Nieu-Seeland se sesde verskyning in ‘n Wêreldbeker-halfeindstryd en Australie se vyfde.

Advertisements
8 Kommentaar leave one →
  1. Oktober 13, 2011 11:30 nm

    Ek is nog te de bliksem in om regtig kommentaar te lewer, maar ek gaan jou een ding sê. Die Bokke het NIE verdien om te verloor nie. Hulle het foute gemaak, ja, maar is feitlik vir elke fout gestraf. Daarenteen het die Wallabies net soveel, indien nie meer nie, foute gemaak, maar het hulle met moord weggekom.

    As die skeidsregter nie verantwoordelik was nie, dan sou geen haan daarna gekraai het nie en sou ons maar stert tussen die bene moes terugkom huis toe. Maar selfs die oorses pers het die skeidsregter geslag! Ek gaan nog lank de bliksem in bly 😈

    • Oktober 17, 2011 8:24 nm

      Son, nou wonder ek hoe moet arme Wallis voel? 🙂

      Lawrence was eenogig, maar ek skaar my by die opsomming van Andy Capostagno in die Mail & Guardian:

      In retrospect, and despite referee Bryce Lawrence’s laissez faire attitude, the game was won and lost when Heinrich Brussow left the field injured at the beginning of the second quarter. The much-anticipated battle between Brussow and David Pocock was ended then and the Springboks’ ability to support the ball carrier at the breakdowns went with it.

  2. Oktober 14, 2011 7:10 nm

    So disappointed with dat dumbass reff!! Lekka site you have!

  3. Oktober 14, 2011 7:45 nm

    What’s the difference between Bryce Lawrence and half a viagra?
    With half a viagra you at least get a semi 🙂

  4. Oktober 17, 2011 9:11 nm

    Ek sien nogal uit daarna om die Pumas volgende jaar in die 4 Nasies te sien. Ek dink dit gaan hulle rugby baie versterk.

  5. Johan permalink
    Oktober 22, 2011 7:54 vm

    Hallo daar BiB:)
    En steeds ‘n great blog!!
    Laat ek dannou hier my hand aan die keyboard slaan en in een asem se – my hoop is op die Franse en gelukkig het ek nie geld om daarop te wed nie 🙂
    Groete
    j

  6. Oktober 23, 2011 11:48 vm

    Dankie, J! Ook maar goed jy het nie geld om op die Franse te sit nie. Die All Blacks sal jou dalk net arm speel! 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: