Skip to content

Déjà vu en au revoir

Oktober 20, 2011

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

Soms herhaal die geskiedenis homself so presies dat dit amper voorkom as ‘n onwaarskynlike klug eerder as die werklikheid wat dit is. In 1987 was die eerste Rugby Wêreldbekertoernooi aangebied in Nieu-Seeland en Australië. Die spanne in die eindstryd was Nieu-Seeland en Frankryk; die spanne wat meegeding het om derde plek was Wallis en Australië. Na 24 jaar speel presies dieselfde scenario in Nieu-Seeland af. En ek het ‘n gevoel dat die spanne ook in presies dieselfde volgorde sal eindig as in 1987.

Sam+Warburton+tackle

Foto: Reuters

Die afgelope Saterdag het Frankryk se span hink-en-pink na die eindstryd toe gestrompel in een van die swakste wedstryde in vanjaar se toernooi. Na die Walliese kaptein en sterspeler, Sam Warburton, afgestuur is vir ‘n gevaarlike boorvat, was dit soos om na ‘n boksgeveg te kyk met die een bokser se arm agter sy rug vasgebind. Dat Frankryk amper die wedstryd verloor het teen ‘n 14-man Wallis, sonder die sterre Warburton, Rhys Priestland en Adam Jones, is eintlik ‘n skande. Mens wil amper dink dat die Franse dankbaar kan wees dat Wallis nie met 13 man gespeel het nie, want dan het hulle dalk verloor! Die ongeëwenaarde swak spel van die Wolverine-agtige Franse heelagter, Maxime Médard, was sekerlik die kersie op die koek. Daar is by my geen twyfel dat Wallis op volle sterkte die Franse sou ore aansit nie en dis tragies dat dit Frankryk in die eindstryd is en nie Wallis nie. Mens moet jou hoed afhaal vir die gekweste Walliese span wat met benydenswaardige moed en durf gespeel het, teen ‘n Franse span wat net eenvoudig geen inisiatief en avontuurlus getoon het nie. So goed soos die Franse verlede naweek teen Engeland was, so vrot was hulle vertoning teen Wallis. Frankryk was baie gelukkig om te wen en verdien nie om in die finaal te speel nie. Mens kan net Wallis jammer kry, want hulle was debateerbaar die opwindendste span in die toernooi en het twee wedstryde met net een enkele punt verloor en is uit die toernooi. Frankryk was een van die vrotste spanne in die toernooi en het twee wedstryde deur baie swak spel verloor, maar daar is hulle nou in die eindstryd.

nz111

Foto: Rugby 365

Die ander halfeindstryd tussen die All Blacks en die Wallabies was ‘n perd van ‘n heel ander kleur. Die All Blacks het met ‘n kragtige vertoning die Aussies bloot van die veld af gespeel. Die telling vlei die Wallabies, want het die All Blacks ‘n betroubare stelskopper gehad Sondag, sou die telling veel groter gewees het. Nieu-Seeland was in ‘n verwoestende bui en in my stilligheid was ek half dankbaar dat dit nie die Springbokke aan die ontvangkant was nie. Ek dink nie enige span sou Saterdag teen so ‘n gemotiveerde All Black span kon staande bly nie. Van die Australiërs het hard probeer, maar dit was ‘n tevergeefse geveg. Vir die All Blacks was oa Israel Dagg, Cory Jane, Ma’a Nonu, Brad Thorn, Keven Mealamu en Richie McCaw uitstaande, wyl die nuwe losskakel, Aaron Cruden, getoon het dat daar ‘n belowende toekoms op hom wag.

fraNZ

Ek sou graag wou sê dat die 2011 Rugby Wêreldbekertoernooi komende naweek ‘n hoogtepunt bereik wanneer die eindstryd Sondag plaasvind. Maar ek’s bevrees ‘n hoogtepunt sal dit nie wees nie. Die wedstryd tussen die wisselvallige Franse en ‘n vasberade All Black span beloof om van die eensydigste eindwedstryde in jare te wees. Lanklaas was die uitslag van ‘n rugbywedstryd, wat nog te sê ‘n Wêreldbeker-eindstryd, so maklik om te voorspel. Speel die Franse soos teen Wallis die afgelope naweek, gaan die All Blacks hulle met ‘n rekordtelling verneder. Speel die Franse soos hulle teen Engeland gespeel het, gaan die All Blacks hulle steeds oortuigend klop. Vir rugby-ondersteuners is dit ‘n groot teleurstelling. Mens hoop maar net dat die Franse nie heeltemal boedel oorgee nie en tog ten minste probeer meeding en sodoende kredietwaardigheid aan die wedstryd verleen. Daar is nou wel weer sprake van die “onvoorspelbare Franse”, maar dit sal letterlik ‘n wonderwerk verg vir die Franse om te wen. Daar bestaan by my absoluut geen twyfel nie dat Nieu-Seeland Sondag die Webb Ellis trofee gaan omhoog hou. Selfs as speel hulle met 14 man of minder.

  • Dis die tweede agtereenvolgende keer dat twee spanne uit dieselfde groep in die eindwedstryd van die Wêreldbekertoernooi kragte meet (wat mens laat wonder oor die samestelling van die groepe).
  • Dit is die eerste keer dat ‘n span wat twee wedstryde in die groepfase verloor het, die eindstryd haal.
  • Dis is beide Frankryk en Nieu-Seeland se derde eindstryd in Wêreldbekerrugby. Die Franse kon nog nooit wen nie, wyl die All Blacks een van hulle twee eindstryde gewen het.
  • In albei vorige einstryde waarby hulle betrokke was, het Frankryk met 20 punte of meer verloor.
  • Deur albei in die eindstryd te verskyn, behou die spanne ook die gedeelde rekord van meeste wedstryde in Wêreldbekertoernooie.

Die twee spanne het al vyf kere vantevore in die Wêreldbeker teen mekaar te staan gekom. Nieu-Seeland het drie gewen en Frankryk twee. Die mees onlangse wedstryd tussen die twee spanne was op 24 September in die groepfase van die huidige toernooi, toe die All Blacks oortuigend met 37-17 gewen het.

walAUS

In die ander wedstryd van die naweek, speel Wallis Vrydag teen Australië om ‘n derde plek in die toernooi. Die wedstryd behoort aanskoulik te wees en heel moontlik ook ‘n beter wedstryd as die eindstryd. Beide my hart en kop se dat Wallis die Wallabies gaan klop. Hulle verdien niks minder nie.

Wallis en Australië het reeds vier keer in Wêreldbekertoernooie teen mekaar meegeding. Hiervan, het Australië drie gewen en Wallis een. Die laaste wedstryd tussen die twee spanne was op 6 November 2010, toe Australië met 25-16 geseëvier het.

rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195rugby-world-cup-2011-500x195

Advertisements
5 Kommentaar leave one →
  1. Oktober 20, 2011 10:22 nm

    Ek wil natuurlik hê dat die Franse moet wen 😈

    • Oktober 21, 2011 7:10 nm

      Ek is ook tradisioneel ‘n Franse ondersteuner….maar hulle rugby tydens die toernooi het my koud gelaat. As hulle wen, sal ek maar net die eier van my gesig af vee en dan maar saam met hulle bly wees. 🙂

  2. Oktober 20, 2011 11:00 nm

    Moenie vergeet wat in 1999 gebeur het tussen Frankryk en NZ…mens weet nooit 😉

  3. Oktober 21, 2011 7:11 nm

    Ja, met die Franse weet mens inderdaad nooit. Ek het baie oor hierdie skrywe gedink, maar kon net nie binne my rasionele denkraamwerk ruimte vind om die Franse ‘n kans te gun nie.

  4. Johan permalink
    Oktober 23, 2011 6:50 nm

    ai, sugggg..

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: