Skip to content

Op besoek aan Vaduz

November 2, 2011

As jy die naam, Vaduz, vir die eerste keer hier lees, sal jy nie kwalik geneem word as jy nie weet waar in die wêreld dit is nie. Soos die saak staan, is Vaduz tegnies nie eens ‘n stad nie. Maar tog is Vaduz die hoofstad van ‘n onafhanklike Europese staat. Iewers in Oos-Europa of die Balkans dalk? Toe nou nie.

P8126729

Vaduz is die hoofstad van Lichtenstein – ‘n posseël-grote land (by wyse van spreke), mooitjies in die Alpe gevou tussen Oostenryk en Switserland. In terme van oppervlak is dit die 6de kleinste onafhanklike staat ter wêreld en in terme van bevolking die 7de kleinste. Die Prinsdom van Lichtenstein (soos dit amptelik bekend staan) het ook die hoogste BBP (Bruto Binnelandse Produk) per capita in die wêreld. Die land strek ongeveer oor ‘n oppervlak van 160vkm en het ‘n bevolking van sowat 36 000 mense (die land het twee keer meer geregistreerde besighede as wat daar mense is!). As mens dus hierdie klein bevolkingstal in ag neem, kwalifiseer Vaduz – met ‘n bevolking van sowat 5 000 – dan seker as ‘n stad. Vaduz is egter nie die grootste “stad” in Lichtenstein nie. Die eer behoort aan die dorpie, Schaan, effe noord van Vaduz. Schaan spog met ‘n bevolkingstal van by die 6 000 mense. Gegewe hierdie bevolkingsyfers, kan mens dink dat sensusopname in Lichtenstein seker nou nie juis ‘n groot taak is nie.

P8126714

Vaduz is ‘n baie netjiese, ordelike Europese dorp, met Vaduz Kasteel (Schloss Vaduz) wat bo die dorp uittroon en die dorp se mees sigbare landmerk en toeristebestemming is. Die oudste dele van die kasteel dateer uit die 12de eeu, toe dit opgerig is as vesting vir die Graafskap van Werdenber-Sargans. Ongelukkig kan mens die pragtige en imposante kasteel net van buite af bewonder, aangesien die huidige kroonprins van Lichtenstein, Hans-Adam II, en sy familie daar woonagtig is. Johannes Adam Ferdinand Alois Josef Maria Marko d’Aviano het in 1989 die leisels oorgeneem, na die afsterwe van sy pa, Frans Josef II. Gelukkig staan die prins slegs as Hans-Adam II bekend, want sy volle name is ietwat omslagtig. Hy is die 15de kroonprins van Lichtenstein en een van die rykste staatshoofde ter wêreld (sy bates word op ongeveer $5 biljoen geskat). Mededingers soos Mugabe sal jaloers wees!

P8126737

Behalwe vir die pragtige kasteel op die heuwel, is die Vaduz Katedraal (ook bekend as die Katedraal van Floryn) die enigste ander noemenswaardige landmerk. Die Katolieke katedraal is in 1873 voltooi en pryk prominent in die middel van die dorp. Voorts is die Lichtenstein skynbaar baie bekend vir hulle posseëls. Daar is ‘n posseël-museum (Briefmarkenmuseum) en oral in Vaduz is daar kleurvolle sypaadjie-insetsels in die vorm van posseëls. Daar is ook interessante beeldhouwerke op straat te sien.

P8126735P8126734

P8126733P8126736

Die Lictenstein-dinastie het sy oorsprong in die 12de eeuse Oostenryk. Hoewel die dinastie baie mag en rykdom gehad het, het hulle nie ‘n land van hulle eie gehad nie (klink amper soos die Afrikaner…). Die situasie het egter verander, toe die koninklike familie die klein areas van Schellenberg en Vaduz aangekoop het gedurende die vroeë 18de eeu. Die koninklike huis het vanaf Oostenryk na Vaduz verhuis en die gebied is daarna deur die Karel VI van die Heilige Romeinse Ryk (die diverse Frans-Duitse ryk, waarvan Karel die Grote oorspronklike grondlegger was) erken as ‘n onafhanklike lidstaat.

P8126693

Tydens Napoleon se veroweringstogte deur Europa, word Lichtenstein ingelyf by Napoleon se marionetstaat, die Rynse Konfederasie. Na Waterloo, word die Prinsdom deel van die Duitse Konfederasie binne die groter Oostenryk-Hongaarse koninkryk. Ten afloop van die Eerste Wêreldoorlog en die gepaardgaande verbrokkeling van Oostenryk-Hongarye, het Lichtenstein voortbestaan as ‘n onafhanklike staat. ‘n Grondwet is in 1921 opgestel en die land is amptelik as ‘n konstitusionele monargie verklaar (‘n nuwe grondwet is in 2003 aanvaar wat – snaaks genoeg – meer magte aan die Prins gee).

P8126695

Soos neutrale buurman, Switserland, vorm Lichtenstein nie deel van die Europese Unie nie en het eers in 1990 lid van die Verenigde Nasies geword. Lichtenstein is een van min lande in die wêreld wat geen weermag het nie. Die weermag is in reeds in 1868 afgeskaf aangesien dit as ‘n onnodige uitgawe gereken is. Die land het darem ‘n polisiemag van so ongeveer 100 lede. Maar in ‘n land waar die werkloosheid selde hoër klim as 1% en waar daar geen ongelykhede is nie, is selfs hulle maar sekerlik verveeld.

6 Kommentaar leave one →
  1. November 2, 2011 9:00 nm

    Pragtige foto’s!

    Dit laat my nou weer dink aan daardie swendelaar bekend as die Prins van Pretoria wat homself so lekker laat trakteer het! Het hy nie gesê hy is van Lichtenstein nie?

    • November 5, 2011 10:40 nm

      Ja, hy het! Ek love sulke spesiale plekkies. Dis waar mens spesiale ‘memories’ versamel en in ‘n spesiale leer in jou agterbrein bere. Ek wens ek het al die tyd van die wereld gehad om die wereld plat te reis, ek dink daar is baie sulke spesiale plekke wat besoek moet word.

  2. kyker permalink
    November 14, 2011 7:10 nm

    Sjoe. Dis sommer baie mooi: Pragtige argitektuur in ‘n skilderagtige omgewing. Die Vaduz kasteel lyk na ‘n plek waar mens behoorlik kan gaan rondsnuffel agter ou dinge aan.

    Jy moet poskaarte maak van al jou mooi foto’s.

    • November 14, 2011 7:12 nm

      Nou het hier iets gebeur wat selde gebeur het, kyker! Ons het tot die minuut op presies dieselfde tyd kommentaar gelewer.🙂

  3. November 14, 2011 7:10 nm

    Gans te veel plekke en gans te min geld en tyd.😦

  4. November 23, 2011 8:14 nm

    Lyk stil rustig en pragtig in die berge. Interessante skrywe. Klink of jy ‘n lekker vakansie/ontdekkingsreis gehad het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: