Skip to content

Ons elkeen soek ‘n masturbasiespasie

Desember 1, 2011

Hierdie inskrywing is ‘n veralgemening. Dit is gegrond op subjektiewe waarnemings en nie op ‘n empiriese studie nie.

Facebook-launch-page

Om deesdae te sê jy is nie op facebook nie, is soos om vanmelewe skaam te moes erken, jy het nie ‘n selfoon nie. In vele opsigte het facebook die middelpunt geword van die wye uitspansel wat bekend staan as sosiale media. Facebook het aan almal met internettoegang ‘n stem gegee. Van die armste of domste mens tot intellektueles, die rykste van die rykes en die supersterre van die wêreld. ‘n Anargistiese, globale markplein waar jy oor die grense van tyd en ruimte jou mees narsissistiese behoeftes kan bevredig. Jou eie spasie waar jy elk dag in jou eie ruimte en in ander se ruimtes na vrye wil jou ego kan poets (‘n swetterjoel ander sosiale media platforms soos blogs en twitter werk basies op dieselfde prinsiep). Facebook is die plek waar revolusies beplan word; geboortes aangekondig word; sterftes gerou word; verlowings gevier word; selfmoord gepleeg word; besittings ten toon gestel word en waar moordenaars, verkragters en pedofiele hulle slagoffers vind. En dit het die manier waarop mense dink heeltemal verander. In die voortyd was jy gekys, nou is jy ge-facebook. Voorheen het jy vriende* gemaak (die werkwoord “maak” dui op ‘n die feit dat dit nie oornag gebeur nie), maar nou bevriend en ontvriend jy mense met die druk van ‘n knoppie. Op facebook is vriendskappe weggooibaar.

v39

Maar om die hele facebook-fenomeen te ontleed, sal ‘n boek verg en daar is ook reeds boeke daaroor geskryf. Wat ek hier wil verwoord, is my eie verwondering aan hoe facebook reflekteer op die gebruikers van hierdie medium. Want alle facebook-gebruikers kan nie oor dieselfde spreekwoordelike kam geskeer word nie. Hulle is so divers soos die wêreld daarbuite. Maar kom ons begin by die twee uiterstes: Die Spoke en die Statusbrakers. Hierdie twee groepe gebruikers lê totaal aan die teenoorgestelde kante van die spektrum en is per definisie wedersyds uitsluitlik is.

Ghost-002

Die Spoke is mense wat op facebook is, maar dit glad nie gebruik nie. Amper soos om net ‘n naam in die telefoonboek te wees. Hulle het gewoonlik geen profielfoto nie en hulle laaste statusopdatering was: “Ek is nou op facebook.” Die laaste keer wat iemand anders iets op hulle muur geplaas het, was verlede jaar met hulle verjaardag. Hulle het gewoonlik minder as 20 vriende, deel geen persoonlike inligting nie en het enkele of geen foto’s op hulle profiel. Hierdie mense het al vergeet hulle is op facebook, of hulle het nie (meer) internettoegang nie, of hulle is moontlik gesoute voyeurs. Want, let’s face it (by wyse van spreke), facebook is ‘n voyeur se droom.

fb

Heel aan die anderkant van die spektrum, vind ons die Statusbrakers. Van alle facebook-gebruikers, toon hierdie groep sekerlik die strengste simptome van volslae narsissisme. Hulle dateer hulle status ten minste 10 keer ‘n dag op; hulle deel al hulle gevoelens op die oomblik wat hulle dit ervaar; jy is deurgaans bewus van wat hierdie mense doen en meeste van die tyd van waar hulle is; jy weet presies wat hulle opinie oor alles is – van die triviaalste onbenullighede tot globale kwessies. En as dit die dag sleg gaan, verander hulle muur in ‘n klaagmuur. Hierdie gebruikers se profielfoto verander ten minste 2 keer per week en hulle lêer van profielfoto’s is reeds by die 300 sterk. Behalwe vir hulle profielfoto’s, het hulle ook omtrent nog 200 ander foto-albums wat die byna elke oomblik van hulle lewe boekstaaf. Van al hierdie foto’s is gewoonlik omtrent so 90% van hulself. Hulle het honderde en honderde vriende, waarvan hulle omtrent slegs so 10% al persoonlik ontmoet het. Hulle deel ook elk wat ‘n skakel is en los hulle merk op byna al hulle vriende se muur. Kyk jy na hulle persoonlike inligting, weet jy letterlik alles van hulle, behalwe miskien die grootte van hul onderklere (dit moet jy maar self van die honderde foto’s aflei). Hierdie mense stal hulself vir die wêreld uit en leef as’t ware op facebook. Hulle het duidelik baie tyd tot hulle beskikking en jy sal hulle nooit sonder hulle rekenaar of selfoon betrap nie. Hulle toon al die tekens van verslawing en sal tien-teen-een ‘n senuwee-ineenstorting beleef indien jy hulle van facebook vervreem. Ironies genoeg is die Statusbrakers van die eerste persone wat sal kla omdat facebookinbreuk maak op privaatheid“.

Funny-facebook

Dit dan nou die ekstreme groepe gebruikers, maar wat van al daardie ander groepe op die spektrum? Die volgende groepe kan ook Statusbrakers wees, maar nie Spoke nie. Die Spoke is die enigste groep gebruikers wat ekslusief is.

zynga-facebook

Die Speletjieslawe se naam is selfverklarend. Dit is diegene wat op facebook is, slegs om speletjies te speel. Amper soos party mense satelliet-TV slegs vir sport het (al is daar honderde ander kanale), gebruik hierdie mense facebook slegs vir speletjies. Speletjieslawe se verslawing lê moontlik net so diep as die van die Statusbrakers. Hulle is egter nie narsissisties nie. Hulle speel al wat ‘n speletjie is op facebook en hulle muur is gewoonlik beplak met speletjieversoeke. Hier is geen teken van statusopdaterings of die deel van skakels of die deel van hulle lewe nie. Hulle wil net speel, niks anders nie. In hulle foto-albums sal jy talle foto’s van hulle virtuele plase, stede, dorpe en kastele vind. Hulle het gewoonlik ook honderde en honderde vriende van reg oor die wêreld, maar van al hulle vriende, is daar miskien so 5% wat nie saam met hulle speletjies speel nie. Hulle irriteer ook gewoonlik hulle 5% nie-spelende vriende deur onophoudelik speletjieversoeke aan hulle te stuur, al weet hulle goed diegene speel nie saam nie. Wees ook verseker dat hierdie mense hulle hele lewe rondom die speletjies beplan en ‘n vaste maandelikse begroting het om virtuele aankope te doen vir hulle virtuele speelplek. Hierdie mense het ‘n ernstige verslawingsprobleem, maar besef dit nie of weier om iets daaraan te doen.

funny-facebook-picture-lame-the-gamer-friend

Die Sporadiste is ‘n groep gebruikers wat, soos die naam aantoon, sporadies op facebook verskyn. Hulle skep gewoonlik die indruk dat hulle internettoegang baie wisselvallig is. Vir weke of langer sal hulle soos Spoke wees…net om skielik, met die ywer van ‘n Statusbraker te verskyn en vir ‘n kort tydjie baie aktief te wees op facebook. Daarna verdwyn hulle in die niet vir ‘n tyd om dan later weer hierdie patroon te herhaal. Miskien is dit ook maar ‘n teken van wanneer die mense besig is en wanneer nie.

google-facebook

Die Soekers (wat meer as dikwels ook Statusbrakers of Sporadiste kan wees), is diegene wat nie bewus is van Google en ander soekenjins nie, of bloot te lui is om Internetsoekenjins te gebruik, of selfs net vir kollegas of vriende te raadpleeg om die mees eenvoudige inligting te bekom. Die Soekers gebruik facebook as die geelbladsye en gebruik gewoonlik die woorde “Internet” en “facebook” as sinonieme. Gewoonlik baie aktief in facebook-groepe en-forums, vra die Soekers elke vraag onder die son op facebook. Van wat die weer vandag gaan maak, tot wisselkoerse, resepte, reisbesonderhede, hoe rekenaars werk, waar mens kan bly, waar jy moet ry, waar jy kan eet, waar jy kan drink, wat jy moet aantrek ens. ens. Die lys is nimmereindigend. Die Soekers is gewoonlik mense wat nie werklik vir hulself kan dink nie en verlore sal wees sonder facebook, soos ander mense verlore sal wees sonder die Internet as geheel. Waar meeste mense skaam sal wees op dom vrae te vrae, het Soekers geen skaamte nie. Hulle toon hulle gebrek aan algemene kennis en/of hulle luiheid/onbeholpenheid om die Internet te gebruik met trots.

incredible-twitter

Die Skakelaars vertoon slegs skakels op hulle eie muur en op die van ander. Hulle skep die indruk dat hulle nie woorde het om te gebruik nie en daarom slegs skakels plaas. Gewoonlik is die skakels wat hulle plaas, komiese of bisarre video’s of snaakse prentjies en artikels. Hulle geniet dit om alles wat hulle sien en lees te deel met die wêreld, sonder om enige waarde toe te voeg. Soms is hulle skakels interessant, maar meermale as nie, bloot vervelig en oppervlakkig.

facebook procrastination-e1322192971831

Die Bloggers is ‘n groep gebruikers wat (soos die Soekers klaarblyklik nie van soekenjins bewus is nie) nie bewus is van blog-platforms soos WordPress en Blogger nie. Hulle skryf kompulsief notas in die vorm van kort meningstukke of bloot wollerige esoteriese gedagtes. Hulle statusopdaterings is gewoonlik ‘n lang relaas oor hoe hulle oor die wêreld voel en wat hulle dink verkeerd is met die wêreld. Dikwels sal hulle ook tob oor hulle verlore liefde of, andersins, mense vermaak met lang en euforiese denke oor nuutgevonde liefde.

scr-facebook-for-blackberry

Die Blackberrybrigade is ‘n groep gebruikers wat facebook byna eksklusief gebruik dmv hulle slimfoon. Byna alle opdaterings, foto’s en ander facebook-aktiwiteite word via hulle slimfone gedoen. Hulle skep die indruk dat hulle nie toegang tot ‘n rekenaar het nie en gedurig op reis is, al is dit noodwendig nie die geval nie. Dikwels is die Blackberrybrigade ook Statusbrakers, maar selde Speletjieslawe. Hulle is byna nooit Sporadiste nie. Ander mense sal verlore wees sonder die Internet en/of facebook – die Blackberrybrigade sal verlore wees sonder hulle slimfoon (let wel nie selfoon nie).

facebook-funny

Hierdie klassifisering van verskillende groepe facebook-gebruikers is geensins onuitputlik nie. Baie ander groepe kan sekerlik bygevoeg word en bogenoemde groepe kan ook weer onderverdeel word. Volgens my eie ervaringe, is dit egter die groepe wat ek kon identifiseer. Maar miskien val die meerderheid facebook-gebruikers juis nie in bogenoemde kategorieë nie. Miskien is meeste van ons soms Spoke, soms Statusbrakers, soms Sporadiste en ander kere weer Soekers of Skakelaars. Wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat die meerderheid van ons, onsself dikwels oorgee aan narsissisme en sonder voorbehoude bereid is om ons selfliefde aan die wêreld te vertoon. Of dit nou op facebook is, op blogs soos hierdie, op twitter of welke ander platform. Ons elkeen wil gesien word. Ons elkeen wil gehoor word. Ons wil ook iemand wees in die oorbevolkte kuberruim. Ons elkeen soek ‘n masturbasiespasie.

* Dis jammer dat die woordjie “vriende” deur facebook so verwater is en vervreem is van die oorspronklike betekenis. Die woord “kontakte” sou ‘n baie raker beskrywing wees vir die sogenaamde “vriende” wat mens op facebook het.

35 Kommentaar leave one →
  1. Desember 1, 2011 9:34 nm

    Van al die Facebookers, irriteer die geheimsinniges my die meeste. Hulle statusopdaterings is altyd kripties, soos “Ag nie al weer nie!” of “Ek moes dit geweet het!” Wanneer vriende dan uitvra, is daar net ‘n doodse stilte. As jy wil share, share. Of los dit heeltemal.

  2. Desember 1, 2011 11:28 nm

    😆 @ George

    BiB – is daar darem normale mense ook op Facebook?😉

  3. Desember 2, 2011 5:00 vm

    Interessant al die groepe wat jy hier uiteensit. Mapstieks, maar jy het behoorlik tyd gehad om van hierdie groepe op te dink. LOL!! Jy het nog nie ‘n groep vir my hier nie. Ek’s op FB so 1x in 2 weke, net om hallo te se vir almal daar. Ongelukkig het ek nie tyd om daar ‘rond te hang’ nie. – Dit verbaas my dat mense soveel tyd daar kan spandeer, maar dalk is daar baie mense met baie tyd, wat nie werk ens ens. nie. – of wat nie veel by die werk het om te doen nie. Ek’s op Twitter, [elke aand] maar defnislis nie soos party mense op FB is nie, net vir die ‘Edchat’ en skooldinge. Twitter kan nogal BAIE goed wees, as jy weet hoe om dit te gebruik – indien jy dit nie vir die sosiale sy van die saak wil gebruik nie. Ek dink mens moet weet waar om ‘n lyn te trek met als. Elke ding het sy voor/na-dele.

    • Desember 5, 2011 9:26 nm

      Nikita, ek het baie tyd om al hierdie nonsens uit te dink.😉 Ek dink nie almal pas in die groepe in nie. Meeste van ons fluktueer maar so oor die spektrum. Klink my jy is ‘n “verstandige” sosiale media gebruiker…

      • Desember 6, 2011 6:50 vm

        baie beslis, gebruik my verstand eerder -soos in skaak LOL sal eerder my ure daarmee verwyl AS ek dit tot my beskikking sou he!

  4. Desember 2, 2011 4:01 nm

    Dankie, dit was nou baie insiggewend. Ek loer baie gereeld op fb, ek voel altyd dat hier waar ek net altyd teen dieselfde menslose wal vaskyk, dit WONDERLIK is om te weet daar is regte mense en regte lewe en mense met verstand!! agter die wal!

  5. Desember 2, 2011 6:04 nm

    So, waar pas jy in?😉

  6. Desember 2, 2011 6:46 nm

    ‘n Goeie opsomming, Boer. Daar’s nog ‘n groep. Die Agtervolgers. Hulle begin altyd eers met kritiek oor hoe baie jy op Facebook is en dat hulle daarenteen net so nou en dan in-log. Khe!? Hy/sy weet alles van alles en almal (van foto’s, quotes, status updates, you name it), maar hulle is “amper nooit op FB nie”. Whatever. Ek hou van FB. Ek hou daarvan om te spog met my kinders en my passies en so nou en dan ‘n grappie of ‘n grief met my pelle te deel. As dit my narsisties maak, so be it. Ek dink FB is die beste ding naas Sram. Dit wat jy nie van hou nie, kan jy blok, soos daai gaming invites; maar oor die algemeen sien ek nie die probleem met FB. Ek scroll net oor dit wat ek nie wil van weet nie. Take the good. Leave the bad.

    • Desember 5, 2011 9:31 nm

      Dis die voyeuriste..en hulle maak mens skoon paranoies…maar natuurlik dan ook maklik om hulle bloot te ontvriend.

  7. turksvy permalink
    Desember 4, 2011 4:59 nm

    LMAO!! 😆

    My naam is Turksvy en ek is ‘n speletjieslaaf. 😳

    Maar eerder ‘n verslaade as iemand wat ‘n foto van Spur sousbotteltjies post saam met die status update “Sit nou in die Spur.” Duh…

    • Desember 5, 2011 9:33 nm

      Kudos vir jou dat jy dit so ruiterlik erken! Soos ek gese het, het speletjieslawe selde die narsissitiese probleem wat met die Spur sousbotteltjie gepaardgaan. Btw, is daar mense wat dit regtig doen?😯

  8. Desember 4, 2011 7:10 nm

    In die deel van die NHS waar ek werk is nou ‘n nuwe baas wat eensydig besluit het om Facebook op die netwerk toe te laat (dit was tot dusver verban).
    Toe hy dit hoor, sê my een kollega:
    Now our staff can post Facebook updates like “I’m having a cup of tea while Aunt Mavis is lying in filth”

    • Desember 5, 2011 9:34 nm

      😆 Wat ‘n vreemde ding om te se. Maar op ‘n ernstiger noot – ek sal graag wil sien wat die ooreenkoms is tussen produktiwiteit en FB toegang by die werk.

  9. Desember 5, 2011 9:36 nm

    Ek is bly niemand het aanstoor geneem met die opskrif van my inskrywing nie…of miskien het die wat aanstoot geneem het, bloot net nie kommentaar gelewer nie.

  10. kyker permalink
    Desember 6, 2011 9:30 nm

    Jou klassifisering van FB-gebruikers is baie amusant.

    As ek die spul so van ver af bekyk, lyk dit asof dit ‘n heenkome bied vir mense van uiteenlopende persoonlikhede, net soos jy dit beskryf. Daar is plek vir ekstroverte en ook vir die stil sosiale wegkruipers tussen ons. Almal kan hulself daar uitleef, getrou aan hul eie karakter. Miskien is dit ook vir baie mense ‘n handige uitlaatklep vir die gebruik van al die digitale gereedskap wat ons deesdae tot ons beskikking het: Jy kan nou onmiddelik en moeitevry die kiekie plaas wat jy met jou slimfoon geneem het en dit dan op die web ten toon stel vir almal om te bewonder.

    Facebook kan seker ‘n goeie manier wees om vriendskapsbande in stand te hou. Maar dit lyk my asof daar in die algemeen ook heelwat sinnelose lawaai en gekwetter plaasvind, net soos ‘n spul vinke wat saam op ‘n telefoondraad sit en kuier.

    Ek dink rekenaars en slimfone en digitale kameras ontneem ons al hoe meer van die persoonlike privaatheid in ons lewens. Ons persoonlike inligting word in honderde databasisse vasgevang. In winkels en op straat word ons daagliks ongesiens afgeneem. Slim programme ontleed die inhoud van ons emails en volg ons spore op die web. Juis daarom wil ek nie nog meer van my lewe met ander op ‘n oop platform soos Facebook ook deel nie.

    • Desember 8, 2011 8:20 nm

      kyker, ek is geneig om saam met jou te stem.

      “Maar dit lyk my asof daar in die algemeen ook heelwat sinnelose lawaai en gekwetter plaasvind, net soos ‘n spul vinke wat saam op ‘n telefoondraad sit en kuier.”

      Snaaks genoeg is mense toenemend bereid om hulle privaatheid vrywilliglik prys te gee. Ekself het ‘n tipe haat-liefde verhouding met FB. As dit nie was dat ek kontak met spesifieke mense op FB behou nie, sou ek ook alreeds seker gevlug het.

  11. Nadia permalink
    Desember 8, 2011 3:42 vm

    Ek het hierdie geniet – baie stof tot nadenke hier! En ja, ek het myself erken 🙂

  12. Desember 8, 2011 8:34 nm

    Ek het jou titel heel beskrywend gevind! So gepas vir al ons masturbeerdertjies. Ek doen nou nie Facebook nie, maar my blog(s) is tog maar ook die plek waar ek my uitlating het.

  13. Desember 9, 2011 4:52 vm

    LMAO. Bib, funny as always. Het gehou van jou titel en die inskrywing. Ek moet se dat ek vind mense stuur my nou soms messages via Facebook in plaas van emails. Dit noodsaak nogal ‘n besoek aan FB op ‘n gereelde basis. So asof party mense nie die verskil tussen email en FB ken nie.

    • Desember 9, 2011 10:24 nm

      Daar het jy sommer nou nog ‘n groepering geidentifiseer: Die vonkpos-verwardes! Hulle verwar facebook met gmail en hotmail.🙂 Ek hou ook so kontak met sommiges op FB, maar my eposse op FB voel “minder privaat” as gewone epos, hoewel dit seker nie die geval is nie. Ek sien uit na jou inskrywings na jou “wereldreis”.

  14. Januarie 2, 2012 6:24 vm

    Het dit geniet. Goed geskryf. Sal ‘n punt maak om meer te kom inloer op jou werfjoernaal. Groete uit Kanada.

  15. Januarie 28, 2012 11:02 nm

    Boer, ek sal jou een ding sê – die dae toe ons almal so vrolik gefight en gefornikeer het op die blogs was veel meer kreatief en stimulerend s die Facebook. Sê ek maar net.

    • Februarie 2, 2012 5:53 nm

      Kan nie anders as om saam te stem nie! Hoe kan mens jou aanspoor om weer gereeld te begin blog?

      • Februarie 5, 2012 3:04 vm

        Imagine nou net as ons die hele ou spannetjie weer uit die dood kon verwerk. Ek is game.

      • Februarie 6, 2012 5:06 nm

        Bertus! Dit klink belowend! Wat as jy sommer begin met ‘n inskrywing, waarmee jy die res van die spulletjie aan die gang kry?

    • Februarie 13, 2012 10:24 nm

      Ek is weg tot die einde van die maand, dan gaan ek werk daarvan maak.

  16. Januarie 29, 2012 4:39 vm

    As ek net kon op WordPress, sou ek Bertus! se kommentaar gelike het. Facebook ruik na Handy Andy. Of Dettol.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: