Skip to content

Die verdeelde skiereiland: ‘n Perspektief op die voortslepende spanning tussen Noord-en Suid-Korea

Desember 8, 2011

gfx-php

In Junie vanjaar brand twee Suid-Koreaanse grenswagte op die eiland van Gyodong in die Wes-see (ook bekend as die Geelsee) los op ‘n Koreaanse Asiana passasiersvliegtuig. Ongeveer ‘n honderd skote word met hulle outomatiese aanvalsgewere na die passasiersvliegtuig gevuur, maar gelukkig vir al die betrokkenes, is die vliegtuig buite bereik van die geweerskote. Te midde van ontsteltenis en verleentheid vra die Suid-Koreaanse weermag in die openbaar om verskoning. Die soldate se verweer: Hulle het slegs waarskuwingskote gevuur omdat hulle onder die indruk was dat dit ‘n Noord-Koreaanse militêre vliegtuig is. Dis maklik om te oordeel dat hulle gek was, maar niemand was in hulle skoene nie en mens dra ook nie kennis van die presiese vlugroete van die vliegtuig nie en ook nie hoe die weersomstandighede was nie (die soldate het beweer dat die vliegtuig van die gewone vlugroete afgewyk het, maar Asiana lugredery het dit ontken). Feit van die saak is, genadiglik was daar geen tragedie nie en was die passasiers op die vliegtuig nie eens bewus van die relletjie nie. Wat hierdie voorval egter weer duidelik onderstreep het, is die voortslepende spanning tussen Noord-en-Suid Korea – spanning wat soms op ‘n mespunt gebalanseer word.

110112 north korea military

Bogenoemde is maar net ‘n relatiewe onbenullige voorval in ‘n hele reeks voorvalle die afgelope paar jaar, waardeur die Noord-Koreaanse regime hul uittarting van die Suide tot nuwe hoogtes gevoer het. Om al die individuele voorvalle (insluitend opruiende uitsprake, dreigemente, oorgrens propaganda, kortafstand missieltoetse esm) te lys sal baie omslagtig wees en daarom konsentreer ek slegs op die prominentste gebeurtenisse wat gelei het tot die afwaartse spiraal in betrekkinge op die Koreaanse skiereiland:

  • Februarie 2008 word die huidige Koreaanse President, Lee Myung Bak, ingehuldig. In ooreenstemming met sy verkiesingsbeloftes en in teenstelling met sy voorganger, Roh Moo Hyun, slaan hy ‘n onverdraagsame beleidsrigting tov Noord-Korea in. Waar laasgenoemde ‘n versoenende benadering teenoor die Noorde gevoer het, het Lee dit duidelik gemaak dat hy nie die Noorde langer gaan paai nie. Anders as sy voorganger, het Lee begin om die Noorde openlik te kritiseer en om voedselhulp en enige toenadering direk te koppel aan die kernontwapening van Kim Jong Il se regime.
  • Skaars ‘n maand na Lee se bewindsaanvaarding, begin die Noord-Koreaanse regime aanvoer dat salarisse by die gesamentlike industriële kompleks in die suide van Noord-Korea, Gaesong, te laag is en dat Suid-Koreaanse maatskappye die Noord-Koreaanse werkers uitbuit. Hulle begin dreig om die gesamentlike projek te sluit. In Maart 2008 word meeste Suid-Koreaanse besigheidspersoneel teenwoordig by Gaesong, summier uit die land gesit en die vervaardigingsaktiwiteite word afgeskaal.
  • Julie 2008 word ‘n Suid-Koreaanse toeris by die Geumgangsan toeristekompleks in Noord-Korea deur Noord-Koreaanse soldate doodgeskiet. Alle georganiseerde toere na hierdie bergpark, ‘n uitvloeisel van Roh se versoeningsbeleid, word gevolglik afgestel.
  • Augustus 2008 word die Noord-Koreaanse leier, Kim Jung Il, gehospitaliseer na ‘n beweerde beroerte. Dit word in elk geval algemeen aanvaar dat hy ‘n beroerte gehad het, hoewel die Noord-Koreane dit nooit erken nie. Bespiegelinge oor watter van sy seuns by Kim gaan oorneem, neem in felheid toe.
  • Desember 2008 loop die Ses-Nasies* onderhandelinge dood, nadat Noord-Korea nie tot spesifieke verifiëringsaksies van sy kernprogram wil instem nie.
  • Januarie 2009 verklaar Noord-Korea dat alle politieke en militêre samesprekings met Suid-Korea gestaak word.
  • April 2009 toetsvuur Noord-Korea sy langafstand Taepodong II ballistiese missiel ten spyte van protes deur oa Suid-Korea en Japan en in weerwil van ‘n 2006 VN resolusie. Die VN Veiligheidsraad veroordeel hierdie aksie. Die Noorde onttrek aan enige verdere multilaterale samesprekings en deporteer Amerikaanse kerndeskundiges wat in gevolge die Ses-Nasies ooreenkomste in die land was.
  • Mei 2009 voltrek Noord-Korea ‘n ondergrondse kernwapentoets (die tweede sedert 2006). Die VN Veiligheidsraad veroordeel die toets eenparig. Noord-Korea verklaar dat die land hom nie meer gebonde sien aan die 1953 skietstilstand nie**.

Kim-Jong-Il-R jpg 250x1000 q85

  • Junie 2009 verklaar Noord-Korea dat die land uraanverryking hervat en dat alle plutonium vir bewapening gebruik sal word. Dit is in reaksie op hernude VN-sanksies.
  • Januarie 2010 vuur Noord-Korea met artilleriewapens in die Wes-see, naby die maritieme grens. Suid-Koreaanse soldate beantwoord die vuur, maar geen ongevalle word gerapporteer nie.
  • Maart 2010 sink ‘n Suid-Koreaanse fregat, die Cheonan, in die Wes-See, na ‘n ontploffing. Soveel as 46 Suid-Koreaanse matrose sterf. ‘n Deurtastende ondersoek bevind dat die skip gekelder is deur ‘n torpedo afgevuur vanaf ‘n Noord-Koreaanse duikboot. Noord-Korea ontken dit. Die aanval op die Cheonan word gevolg deur ‘n rits grootskaalse geskeduleerde, maar ook ongeskeduleerde gesamentlike gereedheidsoefeninge deur die vlootmagte van die VSA en Suid-Korea.
  • September 2010 word Kim Jong Eun, Kim Jong-Il se jongste seun, in senior poste binne partystrukture aangestel en dit word as ‘n sterk aanduiding gesien dat hy sy vader sal opvolg.
  • Oktober 2010 vuur Noord-Koreaanse soldate op ‘n Suid-Koreaanse wagpos langs die grens tussen die twee lande. Suid-Koreaanse soldate beantwoord vuur. Geen ongevalle word berig nie.
  • November 2010 onthul Noord-Korea ‘n gevorderde uraanverrykingsaanleg in Yongbyon. Gedurende dieselfde maand skok Noord-Korea die wêreld met ‘n artillerieaanval op die bewoonde Suid-Koreaanse Yeonpyong-eiland in die Wes-see. Dis die eerste aanval op burgerlike bewoonde gebied sedert 1953. Vier burgerlikes en twee Suid-Koreaanse soldate sterf. Suid-Korea vuur terug, maar ongevalle aan Noord-Koreaanse kant is onbekend. Die Suid-Koreaanse Minister van Verdediging, Kim Tae Young dien sy bedanking in. In reaksie op die aanval, voer Suid-Korea sy grootste militêre oefening uit sedert 1953.
  • Januarie 2011, deel die huidige Suid-Koreaanse Minister van Verdediging, Kim Kwan Jin, soldate op die grens mee dat, indien onder Noord-Koreaanse aanval, hulle onmiddellik moet reageer en nie vir bevele moet wag nie.
  • Maart 2011 voer die Koreaanse vloot, ten spyte van Noord-Koreaanse waarskuwings omvattende vlootoefeninge in die Wes-see uit. Gedurende dieselfde maand loods Noord-Koreaanse kuberkrakers ‘n aanval op een van Korea se grootste banke, wat die bank vir ‘n dag lank elektronies lamlê.

In die lig van bogenoemde chronologie, mag dit voorkom asof die twee Koreas op ‘n onafwendbare pad is om die Koreaanse oorlog te hervat. Maar meer onlangse gebeure dui daarop dat die Noorde weer begin witvoetjie soek. Noord-Korea het het ‘n geskiedenis van ‘n ommeswaai in beleid wat oor ‘n kwessie van ‘n paar maande kan wissel van uiterse aggressie tot ongekende toenadering. Amper soos die optrede van ‘n vroueslaner, wat geweld met liefde en toenadering afwissel.

Kim-Jong-il-007

Kim Jong Il was onlangs op besoek aan Rusland en China (die enigste twee lande wat hy ooit besoek). In Rusland is daar met groot gewag verwys na die moontlikheid om ‘n gaspyplyn vanaf Rusland deur Noord-Korea, na Suid-Korea te bou (die spreekwoordelike pipe dream?). Natuurlik is die Suide honger vir gas en die Russiese oligargie ywerig om nog meer lande afhanklik te maak van hulle gas. Samesprekings tussen die VSA, Suid-Korea en Noord-Korea se kernverteenwoordigers het ook die afgelope tyd hervat. Suid-Korea het die voorvereiste dat die Noorde amptelik apologie aanbied vir die Cheonan-voorval, laat vaar, wyl die Noorde laat blyk het dat hulle moratorium op verdere kernwapen-ontwikkeling sal “oorweeg” (net om later aan te kondig dat hulle uraanverryking vir “vreedsame” doeleindes fluks vorder). Beide die VSA en Suid-Korea eis egter dat die Noorde eers kernbedrywighede staak en internasionale inspekteurs toelaat in die land, alvorens die Ses-Nasies samesprekings hervat. Dws, als inaggenome…business as usual. Maar overgeset synde. Feit van die saak is dat niemand oorlog wil hê nie, nie noodwendig eers die wispelturige Noord-Koreaanse regime nie.

968ab kim jong-il heart throb

Suid-Korea is sekerlik die laaste land wat in ‘n oorlog betrokke wil raak. Hervatting van die Koreaanse oorlog sal Suid-Korea se fenomenale ekonomiese groei van ongeveer die afgelope 50 jaar negeer. Ironies genoeg is dit juis Suid-Korea se ekonomiese sukses wat die land se Achilleshiel geraak het vis-a-vis Noord-Korea. Dit is die hoofrede hoekom Suid-Korea telkens in die verlede die ander wang gedraai het. Die Suide het net eenvoudig te veel om te verloor…en die Noorde weet dit. Daarom kan die Noorde voortgaan om die Suide af te pers, amper soos ‘n misdaadsindikaat wat beskermingsgeld van besighede eis. Niks minder of meer as ‘n direkte aanval op Seoul of ‘n volskaalse aanslag op die grens, sal Suid-Korea tot oorlog dwing nie.

Die VSA het geen aptyt vir nog ‘n oorlog na die land se imperiale avonture in Irak en Afghanistan nie. Voeg hierby die VSA se bykomende betrokkenheid in Somalië, Pakistan en Jemen en dis duidelik dat die land se militêre reikwydte reeds tot die maksimum beproef word. En dan noem mens nie eens die VSA se voortslepende finansiële verknorsing nie. In die verlede het die VSA telkens Suid-Koreaanse heethoofde tot kalmte gedwing en steeds sal die VSA alles moontlik doen om vrede op die Koreaanse skiereiland te bewaar.

China is blinkvet van sy nuutgevonde kapitalistiese vooruitgang en die land se leierskap sal niks wil doen om hierdie ekonomiese groei te skaad nie. Daarom soek China stabiliteit op sy grense. Nie net sal China heel moontlik genoop wees om betrokke te raak in ‘n regionale oorlog nie, maar sal China ‘n geweldige vlugtelingprobleem moet bekamp en boonop die risiko loop om alle invloed op die Koreaanse skiereiland te verloor. Die effek op China se vooruitgang kan rampspoedig wees.

Voorts is dit redelik veilig om te sê dat geen ander land, inkluis van Rusland, Japan en die res van die wêreld, ‘n hervatting van die Koreaanse oorlog wil sien nie. Dit sal die sukkelende wêreldekonomie ‘n uitklophou gee en heel moontlik ‘n wêreldwye depressie tot gevolg hê.

147886

Maar wat dan van Noord-Korea? Wil die Kim Jung Il regime ‘n oorlog hê? Maak nie saak wat jy in die media lees en hoeveel kenners se menings daarbuite rondswerf nie. Feit van die saak is dat min mense dit sommer sal erken, maar niemand weet regtig nie. Noord-Korea is die mees geslote staat in die wêreld en die intelligensie op Noord-Korea en inligting oor wat regtig in die politieke binnekringe aangaan, is skamel. Rasioneel gesproke, sou mens redeneer dat ‘n oorlog nie in belang van die Kim-dinastie is nie, want ‘n oorlog sal byna verseker die regime tot ‘n val bring. Rasionele denke is egter nie ‘n gegewe nie. Die situasie is vloeibaar en onvoorspelbaar en leen nie hom tot eksakte voorspellings nie.

As mens egter werk met wat mens wel weet, dan kan mens wel bepaal watter veranderlikes die situasie beïnvloed of in die toekoms kan beïnvloed:

  1. China is nie net Noord-Korea se naaste meeloper nie, maar heel moontlik Noord-Korea se enigste ware bondgenoot internasionaal. China is die Noorde se hartlongmasjien. Sonder kritieke finansiële en politieke hulp, sal Noord-Korea eenvoudig na binne kalf en lam gelê word. Soms vermoed ek China se invloed op die Kim-dinastie word oorskat, maar heel moontlik is China die enigste rede hoekom Noord-Korea se beleidsrigtings darem nog die skyn van rasionaliteit behou. China wil nie ‘n herenigde Korea sien onder Amerikaanse invloed op sy suidelike grens nie. China se beste scenario is om Noord-Korea deur druk en oorreding op dieselfde ekonomiese pad van groei te plaas as China self. Dis te wete ‘n geleidelike transformering na ‘n kapitalistiese ekonomie onder ‘n steeds outoritêre regering. Hoe ver China sal vorder met hierdie doelstelling is ‘n ope vraag.
  2. Kim Jung Il se gesondheid en sy opvolging deur Kim Jong Eun sal ‘n kardinale rol speel om Noord-Korea se koers vorentoe te bepaal. Hoe lank gaan Kim Jung Il nog leef en wat is sy seun (slegs 27 jaar oud) se steun in die weermag? En wat is Kim Jong Eun se denke en gedagtes? Hoe gaan hy China hanteer? Is hy ‘n boosheid wat wag om te gebeur, of kan hy dalk, soos ‘n Deng Xiaoping of ‘n Mikhail Gorbachev verrassend ontpop in ‘n hervormer? Of is hy bloot ‘n kloon van sy Pa en Oupa? Niemand kan met sekerheid se nie.
  3. In Desember 2012 vind Suid-Korea se volgende presidentsverkiesing plaas en die kompetisie het reeds begin om ‘n opvolger vir Lee Myung Bak te kies. Gaan sy opvolger sy beleid teen Noord-Korea handhaaf of dalk dink dis veiliger om terug te val op Roh Moo Hyun se paaibeleid? Dis te vroeg om nou reeds te spekuleer.

Kim-Jong-R jpg 250x1000 q85

Talle kere vantevore is die inploffing van die Kim-dinastie voorspel, maar Noord-Korea het tot dusver geweldige deursettingsvermoë getoon. Ten spyte van hongersnood, ekonomiese regressie en totale afhanklikheid van buitelandse hulp (meeste komende van China), het die Kim-dinastie nog nie gewankel nie. In hierdie opsig is Noord-Korea soveel anders as ander outoritêre regimes, soos die in Egipte, Iran of Sirië, waar daar binnelandse opposisie is. Die totale afwesigheid van interne protes kan teruggevoer word na die afwesigheid van ‘n burgerlike samelewing en die bevolking se isolasie van moderne tegnologie (Internet en selfone) wat so ‘n groot rol speel in ander lande. Wat hiermee gepaardgaan is die totaliteit en brutaliteit van beheer wat die regime oor die bevolking uitoefen. Burgers word eenvoudig gebreinspoel en die denkpolisie beheer elke aspek van hulle lewe. Ek twyfel of George Orwell destyds Noord-Korea (toe nog nie eens ‘n staat nie) in gedagte gehad het met die skrywe van die seminale 1984. Maar, feit van die saak is, dat geen ander staat al ooit so naby aan Orwell se beelde van die fiktiewe Oseanië gekom het, as juis Noord-Korea nie.

hitchensms0610a 468x651

Maar watter beredenering lê dan agter Noord-Korea se ongedurige optrede? Eerstens moet mens besef dat die Kim-dinastie se binnelandse en buitelandse beleid eksklusief daarop gerig is om die oorlewing van die regerende elite se voorregte, mag en beheer te verseker. Dit hang saam met die regime se strewe na erkenning as ‘n kernmoondheid en genormaliseerde betrekking met die res van die wêreld. Laastens, maar nie die minste nie, het die Noorde ‘n diep gewortelde afguns jeens die Suide agv laasgenoemde se ekonomiese sukses.

147885

Mens wil tog glo dat die regime goed sal besef dat ‘n hervatting van die Koreaanse oorlog vir alle praktiese doeleindes die einde van Noord-Korea sal beteken. Hoewel die hervatting van die oorlog dus ‘n moontlikheid bly, is dit onwaarskynlik. Die grootste gevaar bly natuurlik dat ‘n klein, skynbaar onbenullige skermutseling, kan eskaleer tot ‘n groter gewapende konflik. Dit is veral die maritieme grens in die Wes-see wat ‘n brandpunt is, aangesien die grens in dispuut is sedert die 1953 skietstilstand. Intussen weet die Noord-Koreaanse regime te goed hoeveel Suid-Korea het om te verloor en hoe min die VSA in nog ‘n konflik betrokke wil raak Dus sal provokasies in die toekoms weer voorkom. Solank die Noorde skotvry daarvan afkom en lande soos China en Rusland gewillig bly om Kim Jung Il te kondoneer, sal die situasie voortduur.

Die veteraan joernalis en skrywer, Christopher Hitchens, som die situasie baie korrek op:

So this is the way we live now: conditioned by the awareness that no North Korean provocation, however egregious, can be confronted, lest it furnish the occasion or pretext for something truly barbarous and insane.”

Ongelukkig het die Noord-Koreane deur die jare geleer dat hulle nie boet vir hulle dade nie. Hulle aggressiewe optrede word dikwels beloon, nes hulle wil hê. Dit sien mens weer eens in Suid-Korea se resente besluite om grootskaalse mediese-en voedselhulp aan die Noorde te hervat, ondanks die feit dat Noord-Korea steeds weier om amptelik om verskoning te vra vir die aanvalle op Suid-Korea gedurende 2010. Mens wil nie eens hier begin uitbrei op die Noorde se gruwelike menseregte-vergrepe nie. In lande soos Egipte, Sirië en andere word dit aan die grootklok gehang, maar oor die gruwels en massamoorde wat in Noord-Koreaanse strafkampe plaasvind, word min gesê. Die Kim-dinastie kom letterlik en figuurlik met moord weg.

Kim-Jong-Il

‘n Paar maande terug het Lee Myung Bak opgemerk dat die twee Koreas se hereniging al hoe nader kom. Wel, feitelik is hy sekerlik korrek, want die twee Koreas is immers seker nou nader aan eventuele hereniging as in 1953. Die Noord-Koreane en die Suid-Koreane is immers een volk met ‘n gemene geskiedenis, taal, tradisie en kultuur. Korea was ‘n verenigde staat vir ongeveer 13 eeue en is maar eers die afgelope 6 dekades verdeel. Ek het dit al voorheen gesê en ek sê weer: Hereniging is ‘n historiese onafwendbaarheid. Maar om die hoe en wanneer te voorspel, is en bly haas onmoontlik…

*Die ses nasies is te wete: Noord-Korea, Suid-Korea, die VSA, China, Rusland en Japan.

** Die Koreaanse oorlog van 1950-53 het die skiereiland vernietig en miljoene lewens gekos. Prakties gesproke is die oorlog reeds in die middel van 1953 beëindig, maar tegnies verkeer Noord-Korea en Suid-Korea steeds in ‘n staat van oorlog, aangesien daar nooit ‘n vredesooreenkoms gesluit was nie, maar slegs ‘n skietstilstand verklaar is. Nie een van hierdie twee lande erken die ander as ‘n onafhanklike staat nie.

6 Kommentaar leave one →
  1. Desember 9, 2011 1:55 vm

    Ja Boer – dit is altyd goed om jou weldeurdagte opsommings en interpretasies van situasies te lees. Ons kry voorwaar insig in ‘n situasie wat ons voorheen niks van geweet het nie. Die wêreld politiek is nog aan die broei. Ons leef in ‘n vloeibare situasie – soos altyd.

  2. Desember 9, 2011 10:25 nm

    Lekker om weer van jou te hoor, Laurence! Ek hoop dit gaan goed daai kant van die draad…

  3. Desember 12, 2011 3:43 nm

    Die storie/stryd tussen Noord en Suid bly vir my interessant en dis soos ‘n lewende wese, daar is altyd iets aan die gebeur en beslis nie vervelig nie

  4. Desember 12, 2011 5:02 nm

    Noord Korea is ‘n extortionist. Hulle het geen hoop om ‘n oorlog te wen nie. Hulle het baie wapens maar geen kontant om dit aan te vul nie. Daar is nie die bodemlose put wat Suid Korea het in Hyundai, Daewoo etc om oorlogswapentuig op massas uit te spoeg nie.

    Die dae wat Sjina hulle sal ondersteun uit ideologiese simpatie is verby.

    Al wat Noord Korea het is nukes. Dis dit. As dit nie was vir nukes nie het die ander ouens al lankal oor die grens gery. Die dag wat die nukes onder beheer is val die muur.
    Dit is ‘n Noord Ierland situasie waar daar eintlik geen rede, behalwe kleinlike persoonlike oorloggies is wat die konflik aanvuur nie. Jy het mense wat dieselfde lyk, dieselfde praat en al 1,000 ‘n volk is wat vir 50 jaar ‘n muur tussen hulle het. Ek dink Suid Korea het die wil en die geld om Noord Korea binne 20 jaar op te hef, net soos Duitsland die ooste op gehef het.
    Noord Korea kort ‘n bom op hulle sentrale komitee om iemand met common sense toe te laat om oor te vat. Dit sal soos Rusland met Gorbachev wees waar die hele situasie in minder as ses maande afspeel sodra die besluit geneem word.

Trackbacks

  1. Nog ‘n diktator groet…maar is dit goed? « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: