Skip to content

Oor eende, ganse, swane en ‘n seearend

Desember 16, 2011

‘n Entjie buite die provinsiale hoofstad van Changwon, lê die Junam Vleilandpark soos ‘n oase in hierdie oorbevolkte en-beboude land. Ek was al eenkeer vantevore daar en het besluit om weer te gaan, aangesien die natuurpark sekerlik nog die grootste aantal voëlspesies gehad het, wat ek in enige van Korea se natuurparke kon identifiseer. En wie weet, miskien identifiseer ek ‘n nuwe spesie hierdie keer? Dus, gehandskoen, gemus, geserp en gebaadjie het ek die koue Saterdagoggend trotseer en die pad gevat.

PC107842

Die Junam vleilande, neffens die Nakdongrivier, is van die grootste vleilande in die suide van die land en die enkele grootste habitat vir migrerende voëls in Korea. Dit is al baie jare ‘n area waar trekvoëls oorwinter, nadat die Nakdong in die 1920’s opgedam is om sodoende water aan die ryslande op omliggende plase te verskaf. Vandag is dit ‘n amptelike Ramsar*-bewaringsgebied, soos die Koreane probeer om die bietjie natuur wat oorgebly het na die ekonomiese opbloei, te bewaar vir die geslagte wat kom. Duisende trekvoëls vanaf hoofsaaklik Siberië en Sjina oorwinter jaarliks hier.

PC107719

Die eerste ding wat mens opval by Junam, is die klanke van die watervoëls se luide geklets wat kakofonies met die koue yswind aangewaai kom. Die klanke vergesel jou die heeltyd en van al die klanke is die van die swerms swane die skelste. Dis ‘n huilende gekerm wat onverpoos voortduur. Maar steeds is die swane, pragtige, elegante voëls. Die een mannetjie het ewe mooi vir die lens poseer, net om die volgende oomblik sy agterent te vertoon soos hy rondvis (by wyse van spreke) vir ‘n happie.

PC107884PC107885

Die lepelaars is volop en drentel lui-lui rond, wyl hulle hul breë lepelbek heen en weer deur die water swaai. Een van my gunsteling watervoëls, juis omdat hulle so koddig voorkom. Die reiers is statig en ongesteurd, soos gewoonlik. Die eende en ganse speel rond in die water, maar hier en daar knip sommiges ‘n uiltjie.

PC107868PC107874

Met verkyker en lens het ek al die bekende voëls gesien wat al lankal reeds in my boekie opgeteken is, soos die swane, die reiers, ‘n verskeidenheid eende, ooievare, ganse, dobbertjies en ‘n swetterjoel ander geveerde vriende.

PC107877

PC107896PC107898

PC107901

Op ‘n spesifieke punt kom ek af op ‘n klein leër van Koreaanse fotograwe, wat soos wafferse oorlogsoldate ingegrawe staan om met hulle intimiderende kanonlense (by wyse van spreke) die voëls te kieker. As daar ‘n landing is of enige ander aksie op die water, dan knetter hulle sluiters soos ‘n klein masjiengewere en tientalle foto’s word geneem in ‘n kwessie van sekondes. Met verlange het ek na hulle kanonlooplense gestaar en probeer om nie te begeer nie.

PC107756PC107770

Maar my oomblik van verwondering, was net minute weg. ‘n Entjie verder kyk ek weer met my verkyker na die voëls, toe honderde vlerke skielik met ‘n alarmistiese geskreeu begin klap en die voëls wyk neem, asof iemand ‘n klapper tussen hulle gesmyt het. Ek skrik self en kyk op na die lug. En daarbo in die lug sweef die rede hoekom die voëls so geskrik het, in al sy glorie.

PC107890

Van al die voëls wat ek al geïdentifiseer het – hier, in Suid-Afrika en ander lande – is dit altyd vir my die bevredigendste as ek ‘n nuwe arendspesie sien. Ek het ‘n ding vir arende. Miskien omdat die voëls, op die toppunt van die geveerde voedselketting is en soos die leeus van die diereryk, die koning van die lug is. Die arend is majestueus en ‘n simbool van krag en forsheid. So dikwels word die arend ook gepas as beeld in die Bybel gebruik. Maar miskien is dit die feit dat arende baie selde regtig in sittende posisies gesien kan word en dikwels slegs op vlerkpatrone in vlug uitgeken moet word, wat die identifisering van ‘n spesie so bevredigend maak.

PC107892PC107893

Hierdie keer was ek gelukkig met die lens en kon ek die arend in vlug vasvang – in so ‘n mate dat ek dit kon identifiseer as ‘n witstert seearend (Haliaeetus albicilla). Hierdie seearend kan maklik verwar word met die onvolwasse Stellerse seearend (Haliaeetus albicilla). Dit het my ‘n hele rukkie geneem om finaal te bevestig dit ‘n witsert is. Die vlerkpatrone en die rondings van die vlerkpunte het egter die deurslag gegee. Die Stellerse seearend se geel snawel is ook veel meer prominent.

PC107784PC107833

Die witstert seearend is een van die grootste arende in die wêreld. Volwasse wyfies (wyfies is altyd swaarder as die mannetjies) het ‘n gemiddelde gewig van omtrent 4-7kg (die gemiddelde visarend in Suid-Afrika weeg selde meer as 3.5kg). Voorts is die volwassene by die 1 meter van kop tot klou en is die vlerkspan oor die 2 meter. Omdat mens arende dikwels net so hoog in vlug sien, besef mens nie werklik hoe groot hierdie voëls is nie.

White-tailed Eagle-Chikara Otani-2120

Foto: Chikara Otani

(dis natuurlik wat mens met daardie kanonlooplense kan doen…)

Die witstert seearend kom redelik wydverspreid voor in die noorde van Europa (veral in Skandinawië) en in Rusland (veral Siberië). Gedurende die wintermaande kan die roofvoël ook gesien word in oa Japan, Korea en Sjina. Die arend het ‘n uiteenlopende dieet, insluitend vis, ander seevoëls en klein soogdiere soos konyne. Hierdie seearend is ook baie lief daarvoor om kos te steel van ander roofvoëls en-diere. Dit is noue familie van die Amerikaanse kaalkoparend en die groter Stellerse seearend. Hoewel die witstert hier oorwinter, is dit steeds ‘n skaars voël om te sien in Korea en loop mens hom nie sommer raak nie. Daarom het ek tevrede teruggekeer huis toe met die gevoel dat ek op hierdie dag besonder geseënd was. Ek kon nie vir beter gewens het nie.

PC107936

* Ramsar is ‘n internasionale konvensie vir die bewaring van vleilandgebiede en is vernoem na die Iranese stad, Ramsar, waar dit oorspronklik in 1971 onderteken is.

14 Kommentaar leave one →
  1. Desember 16, 2011 11:13 nm

    Boer, ek het lekker gekuier…. troos jou daaraan – selfs sonder daardie “kannonne” neem jy baie goeie foto’s! Ek speel al ‘n ruk met ‘n stuk wat ek wil skryf en ek kom net nie daarby uit nie. In al die tyd wat ek hier is, het ek nogsteeds nie flaminke gesien nie! Ek neem maar aan daar is volop water in die panne en daarom migreer die flaminkie nie Walvisbaai toe nie. Ek mis hule gekrys in die stilte van die oggend en die groot pienk kolle wat hulle op die lagoon maak.

    • Desember 19, 2011 7:58 nm

      Dankie Jo-Ann!🙂 Kan nie glo die flaminke is so skaars daar in Walvis nie. Gewoonlik is dit pienk, waar jy kyk. Maar jy het darem nog die pelikane om jou te vermaak.

  2. Desember 17, 2011 11:05 nm

    ‘n Uiters interessante aflewering van jou blog, ek het dit regtig geniet. Nogal iets om te sien, ‘n arend. Geluk ook met die foto’s!

  3. Desember 18, 2011 1:34 vm

    Lekker gelees BiB, dankie. Daai laaste foto is briljant.

  4. Desember 18, 2011 4:25 vm

    Ek dink ook Junam is een van die beste plekke om voels te kyk in Korea, veral in die winter al is dit vrek koud! Nice foudies en bly jy kon iets nuut sien, altyd ‘n bonus.

  5. Desember 19, 2011 10:57 vm

    “As daar ‘n landing is of enige ander aksie op die water, dan knetter hulle sluiters soos ‘n klein masjiengewere…”. Jy weet darem maar hoe om Afrikaans mooi te laat klink. Lekker inskrywing. Baie geniet.

  6. Desember 19, 2011 7:59 nm

    Dankie vir julle kommentaar hier Nadia, Joh, kaalvoet en Bluegrass!

  7. Desember 19, 2011 8:36 nm

    ‘n BAIE interessante stuk, Boer! Jou foto’s, soos altyd, weer puik en met sorg geneem! Daardie foto van die ‘uitkyk’ pos is nogal oulik.

  8. Desember 20, 2011 9:22 nm

    Dankie, Nikita!🙂

  9. Desember 20, 2011 10:40 nm

    Wow, a blog from Korea in Afrikaans, that has to be unique…….

    We photograph a lot of the same birds!

    • Desember 21, 2011 6:24 nm

      Stu, there are a number of Afrikaans blogs from Korea, but yes, it is still rather unique. We may take photos of the same birds, but I’m still playing around with a Mickey Mouse camera.🙂 In envy you the abundance of Steller sea eagles where you are. What majestic birds!

  10. Desember 21, 2011 6:03 nm

    Wat ‘n lekker manier om jou gasheerland te verken — deur intiem die natuurlewe te bespeur. Geniet jou komende vakansie.

Trackbacks

  1. Die voëls van Hong Kong: ‘n Onbeplande ontdekkingstog « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: