Skip to content

Die Jaar van die Draak

Januarie 22, 2012

Dis al weer daardie tyd van die jaar…

Die tyd van die jaar wanneer Oosterlinge in hulle hordes opruk om as families saam die Oosterse Nuwejaar (meer algemeen bekend as die Sjinese Nuwejaar) binne te gaan. Volgens die Oosterse maankalender is die Konyn se beurt nou verby en word die Jaar van die Draak op 23 Januarie ingelui.

Dragon

Die draak is die 5de dier in die Oosterse diereriem en die enigste dier van die 12 in die diereriem wat ‘n mitologiese wese is. Anders as in Westerse mites, waar die draak beskou word as ‘n bose wese wat deur ridders op wit perde verslaan behoort te word om mooie jong dames te red, is die assosiasie met die draak in die Ooste baie meer positief. In Korea, asook in die ander lande (Sjina, Taiwan, Singapoer en Viëtnam) waar die Oosterse Nuwejaar (Seollal in Koreaans) hierdie naweek gevier word, word die draak as ‘n gelukbringer en beskermer beskou. In Korea verwag hulle byvoorbeeld dat die geboortekoers vir 2012 sal styg, soos paartjies gaan poog om hulle kinders die lig te laat sien onder die teken van die draak.

S7306936

Net soos in naburige Sjina, verteenwoordig die draak elemente soos, waardigheid, majesteit en mag. Dit is dus glad nie snaaks nie dat die Koreaanse Joseon Koninkryk (1392-1910) die beeld van die draak ruim gebruik het in paleise vir allerhande vorme van versiering. Die draak was ook dikwels as simbool op koninklike vlae aangebring. Onder gewone burgers was die draak ook ‘n gewilde simbool en is hierdie mitilogiese wese geassosieer met die beskikbaarheid van water en reën. So is ‘n die sg Koning van die Drake wat volgens oorlewering in die see gewoon het, vir geruime tyd aanbid. Die draak speel ook ‘n belangrike rol as beskermer in Boeddhisme, waar beelde en tekeninge daarvan dikwels by tempels gewaar kan word met die alomteenwoordige drakebal in die hand of mond.

S7305817

As jy gebore is in 1904, 1916, 1928, 1940, 1952, 1964, 1976, 1988 of 2000, is die kans goed dat jy gebore is in die Jaar van die Draak. Indien jy jou steur aan deterministiese en oorvereenvoudigde persoonlikheidsontledings, sal jy dalk wil weet dat mense wat in die Jaar van die Draak gebore word, gewoonlik perfeksioniste is wat baie hoë standaarde aan hulself en andere stel. Drake is ook welsprekend, hou van uitgaan en geniet oa reis en die natuur. Soms kan hulle egter baie egosentries en roekeloos wees, maar oor die algemeen word Drake as positiewe en eerlike mense gesien.

S7301278

Soos gewoonlik, is die beste deel van die Oosterse Nuwejaar dat ek ‘n lekker langnaweek kan geniet, glasie in die hand en voete in die lug!

Op die draak! Mag die voorspoed vuur spoeg in hierdie nuwe jaar!

11 Kommentaar leave one →
  1. Januarie 23, 2012 3:06 vm

    Ek vind die Oosterse gewoontes nogal interessant, dog soms amusant! En hulle kuns bietjie te oordrewe kleurvol, maar die aandag aan detail is ongelooflik. Nou ja, mag jy lekker vuur spoeg die jaar!

  2. Januarie 23, 2012 3:12 nm

    Moet se ek erken ‘n paar van die drake in jou foto’s😉
    Ek het ook gelees dat die draak tradisioneel ‘n waterbringer is…seker hoekom dit so reen vandag.
    Hoop jy het ‘n lekker Seollal ete vandag en geniet die tydjie af, want soos ek die kalender kyk is daar nie veel meer langnaweke nie.

  3. Januarie 23, 2012 9:02 nm

    En ‘n drakerige jaar vir jou ook!🙂

  4. Januarie 24, 2012 5:52 vm

    Moet sal ek maar weer vir jou ‘Voorspoedige Nuwe Jaar’ sê🙂 Ek was so besig met talle ander dinge dat ek vergeet het dat dit vandag was! So ewe ‘n flash-file ook iewers afgelaai vir my klas, ai, so tussen te veel dinge deur kom mens ook nie altyd by die ander ‘fun’ uit nie.🙂

    • Januarie 24, 2012 5:53 vm

      Ai tog, ek het eers my woorde anders gehad, kyk nou daardie ‘floppie’🙂 Moet lees: Ek sal maar weer vir jou…’moegheid’ is die woord as dit gebeur.🙂

      • Januarie 28, 2012 4:02 nm

        Als reg, Partykeer hardloop mense woorde mos maar vinniger as die sleutelbord kan tik. Hoop jy het ‘n lekker jaar. Sterkte!

  5. Januarie 27, 2012 10:35 vm

    Bib, die titel kan misleidend wees. Amper gedog iemand se skoonma kom kuier vir ‘n jaar. LOL. Voorspoed vir die Nuwejaar.

  6. Januarie 28, 2012 4:03 nm

    😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: