Skip to content

Hong Kong

Januarie 28, 2012

PC238066

Hong Kong is sedert 1997 ‘n Spesiale Administrasiegebied (Hong Kong en Macau is die enigste sodanige gebiede in Sjina) en bestaan uit die gebiede van: Hong Kong-eiland, Kowloon en die sg. New Territories. As Spesiale Administrasiegebied, geniet Hong Kong ‘n mate van outonomiteit wat ongekend is elders in Sjina. Hong Kong het sy eie vorm van politieke administrasie, ‘n eie vlag en ook ‘n eie geldeenheid, naamlik die Hong Kong Dollar. Voor Hong Kong se formele oorhandiging aan Sjina gedurende 1997, was Hong Kong vir ongeveer 150 jaar onder die koloniale bestuur van Brittanje, behalwe vir ‘n kort tydjie tydens die Tweede Wêreldoorlog toe dit onder Japannese besit geval het. Daarom kan mense vandag nog die Britse invloed in Hong Kong bespeur in die algemene gebruik van Engels en Engelse name vir strate en ander entiteite. In hierdie opsig is dit baie dieselfde as Singapoer.

PC238255

Die stad Hong Kong was – aan die een kant – heeltemal wat ek verwag het dit sal wees. Dis ‘n reuse konsentrasie van mense op ‘n klein stukkie grond en word gekenmerk deur ‘n see van wolkekrabbers waar die mense woon en werk. Kowloon is byvoorbeeld een van die digbevolkste gebiede in die wêreld. Weens hierdie samevoeging van wolkekrabbers (waaronder die imposante International Commerce Centre – tans die 5de hoogste gebou ter wêreld) so teen die see, is die luglyn van Hong Kong ‘n wêreldbekende gesig en iets om te aanskou.

PC238252PC238217

Dis spesifiek wanneer die son sak, wat die luglyn van Hong Kong se Victoriahawe tot sy volle reg kom. Die geboue in die hawe word op allerhande kreatiewe maniere belig, met bekende handelsname se reuse LED-borde orals te sien. Tydens die Kersseisoen is daar ook ‘n spesiale kleurespel wat ‘n ekstra feestelikheid verskaf aan die luglyn. Die beste manier om dit te beleef is om met een van die talle bote (waaronder die legendariese Star Ferry) op ‘n rit in die hawe te gaan.

PC238350PC238310

PC238300

PC238296PC238274

Maar asof die blote bestaande prentjie nie skouspelagtig genoeg is nie, bied die stad van Hong Kong elke aand om 8-uur ‘n laserligvertoning aan. Gesinchroniseerde liggies hardloop op en af teen die wolkekrabbers se gebouwande, wyl laserligte op die maat van gepaste musiek, ekshibisionisties heen en terug oor die hawe flits. Voorwaar ‘n belewenis, hoewel die alewige dynserigheid in die lug dikwels ‘n demper is op hierdie skouspel.

PC238360

En so van lig gepraat…ek weet hulle noem tradisioneel Parys die “stad van lig”, maar ek dink dat Hong Kong ook met groot eer hierdie titel sou kon dra. In die besige en oorbevolkte Kowloon, is die advertensieborde so groot en so baie dat daar in terme van beskikbare lig amper geen verskil is om in die aand of dag daar rond te loop nie. Ek vermoed Hong Kong gebruik sekerlik meer elektrisiteit in een aand, as wat Noord-Korea in een jaar gebruik!

PC227974

Die advertensieborde – anders as bv Korea en Japan – hang horisontaal oor die strate, net bo bushoogte in ‘n anargie van kleur, ontwerp en grootte. In die aand is die strate ‘n spreekwoordelike miernes van mense. Soveel so dat die sypaadjies lyk asof die hekke na ‘n groot sportbyeenkoms sopas oopgegaan het. Lewende strome mense spoel sypaadjielangs en oor die strate. As daardie elektroniese mannetjie aan die anderkant van ‘n groot deurweg soos Nathanstraat groen word, dan spoel jy maar so al stotend en stampend saam met die golf oor die zebrastrepe. Dieselfde ritueel speel hom in die stad se moltreinstelsel af (wat, terloops, baie effektief en goed is).

PC227982PC227976

PC227959PC227966

Dis seker reeds ‘n cliché, maar die stad is ‘n lewende organisme, wat behoorlik lewe kry as die son sak en wriemelend voortkuier tot laat in die nanag, wanneer die klanke van lewe in die strate daaronder – amper paradoksaal gerusstellend – deur jou kamervenster sypel.

PC227956

Daar is (soos in meeste Asiese stede) honderde kosstalletjies op straat waar mense saamkuier, besige nagmarkte waar jy enigiets onder die son kan koop, kunstenaars op straat en winkels en restaurante wat oorstromings toe vol klante is. Die cuisine van Hong Kong is ook so min of meer wat mens te wagte is, met die smaaklike dim sum, wat sekerlik Hong Kong se bekendste dis is. Maar jy kan enige kosse hier kry: vanaf die berugte haaivinsop (bietjie duur vir my en buitendien nie my smaak) tot gebraaide gans, wat ‘n redelik gewilde delikatessen in Hong Kong is, asook ‘n verskeidenheid noedeldisse en kosse van ander Asiese lande soos Japan, Korea en Viëtnam. Ekself het op verskillende stadiums ‘n variëteit van kosse probeer…

PC227996PC227999PC238082PC248601PC227997

Hong Kong bied geweldig baie vir die toeris en dis beslis nie ‘n stad waar jy sommer verveeld gaan raak nie. Natuurlik kan jy koop en koop en koop en geld uitgee tot jy omval in die duisende winkelsentrums, handelsmerkwinkels, elektroniese winkels en die swetterjoel markte. Ek het hier elektroniese katoeters ondervind en beleef wat ek nog nêrens ander gesien het nie. Dan is daar nog Lamma-eiland, Lantau-eiland (waar ‘n reuse Boeddha rus), die New Territories en Disneyland.

PC238049

Maar sekerlik die gewildste toeriste-aanloklikheid, is die Spits (oftewel die Peak), waar jy tot bo die dak van ‘n futuristiese, wigvormige gebou (genaamd die Sky Terrace) kan klim vir ‘n pragtige uitsig oor die stad van Hong Kong. Meeste dae is dit egter baie dynserig en is die uitsig bra beperk. Daarom al die plaaslike entrepreneurs wat geld maak deur aan te bied om jou af te neem teen die kunsmatige agtergrond van ‘n pragtige wolklose bloulug Hong Kong dag, soos jy dit net op poskaarte en in koffietafelboeke vind. Dus, as jy weer een van jou kennisse of vriende se foto’s sien teen die agtergrond van ‘n pragtige bloulug Hong Kong, dan weet jy hulle het daarvoor betaal!

PC238075PC238072

PC238039

PC238034PC238037

Op die 5de vlak van die Sky Terrace, is daar talle winkels met die oulikste en oorspronklikste aandenkings en snuisterye waaraan jy kan dink. Hier kan jy baie vinnig tot bankrotskap gedryf word. Daar is ook ‘n verskeidenheid van eetplekke, koffiewinkels en ander kuierplekke (teen ‘n prys, natuurlik!). Daar is ‘n Madame Tussauds wat ek nie besoek het nie by die gebrek aan ‘n brandende begeerte om waspop-afbeeldings van bekendes te besigtig. Die ironie is dat ek wel een van die bekendste persone in Sjina gesien het in lewende lywe, net so ‘n entjie van die museum af.

PC238051

Terwyl ek rustig rondsnuffel in een van die talle snuistery-winkels, sien ek toe mos die grootste Oosterling wat ek al ooit gesien het. ‘n Reus wat Goliat van Gad en Victor Matfield na kleuters laat lyk. En met die storm wat hy ontketen het met mense wat gillend op hom afstorm, besef ek toe dis niemand anders nie as Yao Ming: die 2.29m Sjinese basketbalspeler en sekerlik die bekendste sportster in Sjina. Hy het 9 jaar vir die Houston Rockets in die VSA gespeel en was een van die grootste sterre in die VSA se NBA-liga. Ek het myself verkwalik dat ek nie betyds my kamera byderhand kon gryp nie en kon net een foto neem waarop Yao Ming baie onduidelik te speur is. Ek klou egter aan die foto as bewys vir die skeptici onder ons.

the-houston-rockets-look-on-during-the-game-against

Foto: Picture4u

Maar die grootste deel van die aantreklikheid van die Spits, is nie noodwendig die uitsig nie, nie Madame Tussauds se waspoppe nie en nog minder die een-uit-‘n-miljoen kans om Yao Ming daar raak te loop. Dis hoe jy daarbo kom: met een van die steilste tremspore ter wêreld (wel streng gesproke is dit nie ‘n trem nie, maar ek gaan nou nie tegnies raak nie). Hierdie Hong Kong trem is dan ook van die bekendste trems in die wêreld en dis definitief die moeite werd om met hierdie trem teen die steil berg uit te kruip as jy in Hong Kong is.

PC238058PC238029

PC238087PC238098

PC238026PC238023

Ek het in die begin van die skrywe genoem dat Hong Kong aan die een kant was wat ek verwag het. Maar wat het ek nie verwag nie?

Dat Hong Kong ‘n skoon, netjiese, goed-onderhoude, veilige stad is waar alles amper vervelig effektief werk. Die infrastruktuur is fantasties en op die vervoerroetes is alle aanwysings baie duidelik in Sjinees en Engels aangebring, wat dit moeilik maak om regtig hier te verdwaal. Dit is ook duidelik dat die stadsvaders die belange van die burgers op die hart gehad het, toe hulle, te midde van die glas-en-beton woud, groen enklawes geskep het, waar mens die natuur kan beleef en geweldige vrede en rustigheid kan vind. Onder andere kan jy hierdie rustigheid vind in Hong Kong Park, Kowloon Park en die Walled City Park, om die prominentstes te noem.

PC238178

Dit is in die pragtige Hong Kong Park waar my avontuur begin het en waar ek op die ou-end in Hong Kong begin doen het, wat ek nooit gedink het ek daar sal doen nie en ook nie beplan het nie. Met my volgende inskrywing vertel ek verder…

Advertisements
10 Kommentaar leave one →
  1. petruzia permalink
    Januarie 28, 2012 5:23 nm

    Lyk of jy dit geniet het

  2. Januarie 29, 2012 12:01 vm

    Dit lyk vir my of die pantegroei by ruig en tot feitlik in die stad groei, asof, sou die mense dit net vir ‘n paar dae los, dit die stad gaan insluk.

    Baie interessante stuk, dankie!

  3. Januarie 29, 2012 12:43 nm

    Stede soos Hong Kong kan visueel oorweldigend wees maar dit klink na ‘n volstrekte moet-sien vir die emmerlys. Lekker reisinskrywing!

  4. Januarie 29, 2012 5:29 nm

    Hierdie is nou eerlikwaar baie interessant en goed aangebied!

  5. Januarie 30, 2012 3:00 vm

    Ek stem, dis baie interessant. Selfs vir my wat geen begeerte het om die Ooste te sien nie, laat dit heroorweeg 🙂

  6. Februarie 1, 2012 8:04 nm

    Bluegrass, Jan Twak en Son…dankie vir die kommentaar. Bly julle het die skrywe geniet. Meer volg hopelik binnekort.

  7. Februarie 13, 2012 3:05 vm

    My ouers het in Hong Kong gebly toe ek tiener was, en ook in Singapoer toe ek veel jong was. Dit was ‘n baie interessante plek om in vir ‘n rukkie groot te word. Natuurlik het dit nou baie verander maar dit was ‘n mooi ervaring om in so ‘n verskillende wêreld as kind te bly.

Trackbacks

  1. Die voëls van Hong Kong: ‘n Onbeplande ontdekkingstog « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: