Skip to content

Die voëls van Hong Kong: ‘n Onbeplande ontdekkingstog

Februarie 3, 2012

Op enkele name na, is al die Afrikaanse voëlbenamings my eie neologismes, aangesien daar (sover ek weet) nie bestaande Afrikaanse voëlname is vir voëls uitheems aan Suidelike Afrika nie.

Ek is ‘n kranige voëlkyker en dis ‘n stokperdjie wat ek reeds jare lank geniet. Ek sou myself egter nie as ‘n professionele voëlkyker bestempel nie. Daarvoor doen ek dit nie dikwels genoeg nie en betaal ek ook nie duisende rande om voëlkyk-ekspedisies na eksotiese plekke te onderneem nie. Ek kyk egter altyd uit vir voëls, maak nie saak waar ek reis nie. Dit is juis die lekker van die stokperdjie – dat mens dit oral en altyd kan onderneem, al is dit nie noodwendig die hoofdoel van die reis nie. Voorts is dit ook ‘n goedkoop stokperdjie, enigeen met sig kan dit doen en dit bring mens dikwels uit in die natuur. Nooit het ek egter bepan of ooit gedink ek sal in Hong Kong gaan voëls kyk nie…

PC238112

Soos ek in my vorige inskrywing genoem het, het dit als in die pragtige Hong Kong Park begin. Die park is soos ‘n verfrissende groen eiland, amper surrealisties geleë in ‘n see van moderne wolkekrabbers. Daar is pragtige plantegroei, blomme, interessante bome, netjies gemerkte paadjies, dammetjies en ook ‘n reuse voëlhok (in Engels ‘n aviary – ‘n woord wat nie so lekker in Afrikaans vertaal nie). Om in die voëlhok op die houtpaadjies rond te loop, was ‘n lonende ervaring. Ek was gefassineer deur die verskeidenheid van voëls daarbinne, waaronder eksotiese spesies van ander lande, asook spesies wat endemies is aan Hong Kong.

PC238168PC238107

Ek moes groot moeite doen om na die tyd enkele van hierdie spesies op die Internet te identifiseer, aangesien ek nagelaat het om die inligtingsborde behoorlik te memoriseer of af te neem. Met die swak lig, kon ek ook nie daarin slaag om gangbare foto’s van al die voëls te neem nie. Onder die voëls was drie spreeuspesies, naamlik die Bali spreeu (Leucopsar rothschildi), witnekspreeu (Streptocitta albicollis) en geelgesigspreeu (Mino dumontii). Daar was ook ‘n verskeidenheid duiwe, kleurvolle papegaaie en ‘n swetterjoel ander geveerde wesens. Omdat dit egter ‘n voëlhok was en daar talle uitheemse spesies was, was dit nie dieselfde as om voëls in hulle natuurlike habitat te identifiseer nie. Dit was egter, as’t ware, ‘n aptytwekker vir my.

PC238145PC238137

PC238142PC238132

Die volgende dag is ek na die Walled City Park in Kowloon. Dit was in elk geval op my agenda om hierdie historiese park te besoek, maar na my ervaring in Hong Kong Park, was ek nou ook op die uitkyk vir voëls. Die park self is esteties uitgelê en het ‘n baie interessante geskiedenis. Dit was oorspronklik ‘n fort, daarna ‘n ommuurde militêre garnisoenstad en op die ou-end een van Hong Kong se berugte krotbuurte, waar dwelms, bendes, prostitusie en algemene wetteloosheid vir jare geseëvier het. Dit is op die ou-end gesloop en in 1995 is die huidige park geopen, wat die geskiedenis van die ommuurde stad gedenk.

PC248456

Te midde van die historiese geboue, voetpaadjies, dammetjies, interessante plantegroei en algemene rustigheid (ek was vroegoggend daar en daar was min mense), het ek uitgekyk vir voëls en kon ek ‘n hele paar nuwe spesies fotografeer en positief identifiseer. Onder hierdie voëls, was die spikkelnekduif (Spilopelia chinensis), swartgesiglyster (Garrulax perspicillatus), Sjinese tiptol (Pycnonotus sinensis), en die rooiwangtiptol (Pycnonotus jocosus). Laasgenoemde is redelik algemeen en ‘n voël wat ek hierna dikwels op my besoek sou sien. Ek het voorts die blouvlerk-ekster (Cyanopica cyana), wat ook in Korea voorkom, gesien, asook die bontwipstert (Copsychus saularis).

PC248712PC248701

PC248706

PC248710PC248427

Dit is toe na my rustige wandeling in die Walled City Park, wat ek terstond besluit om die Hong Kong Vleilandpark te besoek. Dit was nie vroeër op my agenda nie en, om die waarheid te sê, was ek nie eens bewus van die park voor my besoek aan Hong Kong nie. Die park lê ver uit die stad, weg van al die toeriste-aantreklikhede, in die New Territories, op die grens van die Hong Kong Spesiale Administrasiegebied. Ek moes die moltrein neem tot by Tin Shui Wai en toe met die gewone trein verder reis tot by die park. Effens van ‘n rit, maar ek was nie ‘n oomblik spyt nie

PC248637

Die park is in 2006 geopen en beslaan ‘n bewaararea van 60 hektaar (oftewel 600 000 vierkante meter). Die vleiland omsoom verskillende habitats soos moerasse, strome, wortelbome (mangroves), rietbeddings en ‘n pragtige skoenlappertuin. Daar is ook ‘n uitgebreide opvoedkundige sentrum en ‘n restaurant met ‘n uitsig op die vleiland. Hier kan mens sit en noedels eet en groentee drink, wyl jy besig is om met jou verkyker voëls te speur deur die reuse glasvensters.

PC248529PC248473

PC248542PC248580

Die houtpaadjies is goed uitgelê en kronkel, kronkel regoor die park. Die pragtige groen uitsigte is in skrille kontras met die wolkekrabberwoonstelle reg oorkant die straat van die park se ingang. Dis kompleet asof mens ‘n ander wêreld betree. Die voëlskuilings is baie doeleffektief en strategies geplaas waar mens die beste kan maak van jou voëlkyk-uitstappie. Dit is ook goed toegerus met verkykers en teleskope. By die mees noordelike skuiling is die groot industriële stad van Shenzhen sigbaar aan die oorkant van Samchunrivier.

PC248512

Inligtingsborde is ook op verskeie plekke aangebring, met inligting oor die voëls te, die plantegroei, insekte en ander lewendige dierasies wat te sien is in die park, soos die amfibiese klimvissies wat ek ontdek het waar hulle lekker in die modder rondspeel tussen die wortelbome.

PC248717PC248485PC248490PC248571

Maar terug by my eintlike doel met besoek aan die park: om voëls te bespied. Omdat dit immers vleilande is, was die meeste van die voëls uit die aard van die saak watervoëls. Baie van die eende, ganse, reiers, drawwertjies esm wat ek gesien, het ek al voorheen in Korea gesien. Hieronder tel die statige en geduldige grootwitreier (Ardea alba – ook algemeen in Suid-Afrika), die Japannese glasogie (Zosterops japonicus), Geelbleseend (Anas penelope) en die noordelike slopeend (Anas clypeata).

PC248704PC248594

PC248725

PC248530PC248496

Ek was egter ook bevoorreg om ‘n hele paar endemiese spesies te sien wat ek nie vantevore gesien het nie, waaronder die langstertlaksman (Lanius schach), gevlekte rooipootruiter (Tringa erythropus) en die kleinringstrandkiewiet (Charadrius dubius). Die hoogtepunt van my dag was egter om die swartgesiglepelaar (Platalea minor) vir die eerste keer te sien. Ek het al voorheen genoem dat ek ‘n liefde het vir hierdie koddige voëls, maar wat die swartgesiglepelaar so spesiaal maak, is dat dit ‘n skaars, bedreigde spesie is wat slegs in die Verre Ooste voorkom. Hierdie spesies lepelaar is spesifiek beperk is tot enkele areas in Sjina (waaronder Hong Kong), Taiwan en Noord-Korea. Tegnies kom die swartgesiglepelaar ook in Suid-Korea voor, maar dis slegs as mens klein, onbewoonde eilande in die Wes-see in ag neem.

PC248729

Ek het byna die heel dag in die vleilandpark spandeer en baie tevrede teruggekeer na die stad van Hong Kong met die son wat begin watertrek. Maar natuurlik nie voor ek ‘n vinnige draai gemaak het in die skoenlappertuin nie. Aanvanklik was ek skepties, maar toe nie teleurgestel nie. Daar het inderdaad verskeie, kleurvolle skoenlappers rondgefladder in die buitelug.

PC248540

Ek was baie tevrede met die dag en was bevoorreg om die groen in Hong Kong te kon ervaar. Ek weet nou dat die area van Hong Kong veel meer is as net ‘n betonoerwoud en ‘n malende nes mense is. Ook hier, as jy bietjie moeite doen, kan jy die natuur ervaar en selfs ‘n nuwe voëlspesie of twee bespied. Daar is voorwaar altyd iets onbepland om te ontdek.

Advertisements
5 Kommentaar leave one →
  1. Februarie 3, 2012 9:25 nm

    Ek hou die meeste van daai blouvlerk-ekster. Die spreeu met die geel gesiggie is ook nogal mooi 🙂

  2. Februarie 4, 2012 1:08 vm

    Lekker natuur vertelling en vir die “onbekende” gesig van Hong Kong.

  3. Februarie 4, 2012 7:32 vm

    Mens kan jou amper nie sulke rustigheid voorstel in daardie besige en gejaagde plek nie. As jy die name in Afrikaans ‘neologismes’ noem, het jy as ‘n ‘gids’ die Engels vir van die voëls gebruik en toe vertaal? Baie goed gedoen! Baie goeie foto’s – weereens. Hulle sal jou eersdaags dalk benader om toerisme te bevorder as hulle jou blog ontdek! 🙂

    • Februarie 6, 2012 5:05 nm

      Dankie, Nikita. Ek gebruik die Engels as gids, ja, maar soms kyk ek na die voël self en dan dink ek sommer ‘n beskrywende naam uit. 🙂

      • Februarie 8, 2012 5:53 vm

        Jy laat dit klink asof dit jou alledaagse werk is! Kan nogal lekker wees – soos Adam – gee die diere name! 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: