Skip to content

Op besoek aan die Suidland: Mymeringe oor Suid-Afrika en Kaapse wyn

Februarie 17, 2012

Wanneer ek oor Suid-Afrika skryf kan ek kies om te skryf oor brutale geweldsmisdaad wat reeds as alledaags in die land aanvaar word, maar wat steeds met reëlmaat lewens uitmekaar skeur.

Ek kan skryf oor Suid-Afrikaners se gevolglike, ampers bisarre, obsessie met sleutels, slotte en alarms.

Ek kan skryf oor die onbevoegde staatsmasjinerie wat die meerderheid burgers in die land op kwetsende en vernederende wyse in die steek laat.

Ek kan skryf oor verterende korrupsie wat die misvormde skepsel is van die sletterige verhouding tussen regering en groot besighede.

Ek kan skryf oor die bose, entreïstiese wyse waarop georganiseerde misdaad reeds geïnstitusionaliseer geraak het binne regeringskringe.

Ek kan skryf oor die rassistiese beleidsrigtings van die regering (oba as regstellende aksie en swartbemagtiging).

Ek kan skryf oor die siekmakende en groterwordende gaping tussen brandarm en skatryk.

Ek kan skryf oor die kanker van middelmatigheid wat deur alle vlakke van die samelewing syfer.

Ek kan selfs skryf oor die renostergetalle wat uitgeroei word. Die lys is onuitputbaar.

In kort, ek kan weer eens mense bewus maak van die totaal ontoereikende, ras-obsessiewe en magsgierige manier waarop Suid-Afrika deur die ANC en hulle meelopers bestuur word.

Maar vir wat sal ek nou, soos soveel ander kommentators, maar weer net die voor die handliggende daarstel. Talle Suid-Afrikaners is maar gans te bewus van die toestand binne hulle land. En Suid-Afrikaners haat dit om daagliks herinner te word aan hulle eie ontnugtering in hierdie verband.

frame99d36e2655ddabeccb89b662ba2393f36e1671d6

Overgesetsynde, tydens my kort besoek aan die Suidland, het ek nie plaaslike nuus gevolg nie, het ek nie nodig gehad om met staatsinstellings in kontak te kom nie, was ek nie ‘n slagoffer van misdaad nie en het ek ‘n bewustelike keuse uitgeoefen om nie my kort tydjie by vriende en familie te bederf deur te fokus op die politieke hansworsery of die gebreke van die land nie. Om die waarheid te sê, al werklik negatiewe ervaring wat ek gehad het (behalwe nou vir mense wat nie kan bestuur nie), is die swak diens wat ek oor die algemeen ervaar het (met uitsondering van uitstekende diens in restaurante deur burgers van ander Afrikalande). Maar dit het my ook nou nie werklik ontspoor nie.

frame9cccb1639da07c71d75b045f2602f7df48355149

Wat ek wel ervaar het, is die liefde en samesyn van familie en vriende, wat ek gans te min sien. Ek het ook die Kaap weer volkome ervaar – die pragtige berge wat blou lê en wink; die heuwelende, groen wingerde; van die lekkerste swemstrande denkbaar; die mooiste poskaartprentjie vergesigte; die oop en wye natuur…en natuurlik die Kaapse wyne. Want, te midde van al bogenoemde wat ek genoem het, is daar nog een ding waarop Suid-Afrika met reg trots kan wees en dit is die kwaliteit van Kaapse wyn (met dank aan die Nederlandse en Franse grondleggers*).

frame4f3d8178cc7a869bae5fdd71087a6cdf396249b7

Ek het tydens my besoek net weer onder die indruk gekom van die uitstekende waarde vir geld wat Suid-Afrikaanse wyn bied en die feit dat die Kaap internasionaal kan saamgesels met van die beste wyne in die wêreld. Wanneer dit by wyn kom, weifel ek nie om myself as trots Suid-Afrikaans te verklaar nie, want dis ‘n tipe trots wat geanker is in die realiteit – nie ‘n tipe amorfe, wasige, polities korrekte, pseudo-patriotiese, sentimentele “trots Suid-Afrikaans” wat gewortel is in Castle bier, sport en ‘n doodgebore reënboogdroom nie.

framedc16d8e5f27c0b2d1b45b347eb7be8d440ff0903

Weens die baie beperkte beskikbaarheid en die hoë koste van my gunsteling wit kultivar hier in die Ooste (iemand het mos eendag besluit dat die Oosterlinge rooiwyn en soetwyn drink, maar nie droë wit nie), is my fokus maar gewoonlik erg op Sauvignon Blanc wanneer ek in Suid-Afrika verkeer. Boonop was dit warm somerweer, net reg vir die kraakvars en tongtintelende smaak van Sauvignon Blanc. My mond water sommer weer, hier waar ek sit en skryf!

frame6d8198748e0eca8b4f6b4e2b8375b56e352d1eaa

Ek het nie veel moeite gedoen met proenotas nie, maar die wyne wat ‘n indruk op my gemaak het, onthou ek baie goed. Hier dan my kortlys van Sauvignon Blancs wat my beïndruk het tydens my kort tydjie (die lys is natuurlik net ‘n proesel van die gehalte wat beskikbaar is). As jy ‘n Sauvignon-liefhebber is, kan jy maar gerus uitstorm en gaan koop.

frame04cb20790155282fb3049379a77924a8de58c10cframe867ce699121e2ca7fd7f9751234c9be1f909a6ba

Diemersdal 2011 (WO Durbanville) – sekerlik die beste waarde vir geld Sauvignon Blanc tans te koop in die Kaap.

Tokara Zondernaam Sauvignon Blanc 2010 (WO Stellenbosch) – in presies dieselfde liga as die Diemersdal.

Black Oystercatcher 2010 (WO Elim) – hierdie wyn kan jy oesjaar na oesjaar met gemoedsrus aanskaf, want die kwaliteit is konstant.

Clos Malverne 2011 (WO Devon Valley) – ‘n verrassend intense Sauvignon van ‘n tradisionele rooiwynkelder. Heerlik!

Uva Mira 2010 (WO Stellenbosch)- Geen wyn van hierdie kelder-in-die-wolke het my nog teleurgestel nie. Hulle Sauvignon is prima, veral uitstekend saam met die gebraaide geelvis wat in my bord was! Die 2009 oesjaar se fut is ook nog lank nie uit nie.

Stark-Condé Pepin Conde Sauvignon Blanc 2011 (WO Elgin)- verfrissend en goeie waarde vir geld.

framea3ba46fcd447d1c38466975fe645194933c498c5

Ek moet sê ek was effens teleurgesteld in die Cape Point Limited Release Sauvignon Blanc 2009 (WO Kaappunt). Ek het, gegewe die kelder se reputasie en my vorige ervarings met Cape Point wyne, baie meer verwag, veral in vergelyking met die Uva Mira.

framecee1d5a414b359dafcc4dd22845489eca4b1e929

Ek het nie kans gehad om by soveel kelders uit te kom soos ek graag sou wou nie, maar ek moet hier die naam van vier kelders noem. Eerstens Middelvlei in Stellenbosch, waar ek baie lekker gekuier het en die plat-op-die-aarde diens en geselskap van Ben Momberg geniet het. En die wyne is nie te versmaai nie.

frame21f811c620d3ae4a6efc69919de189b01124e980

Tweedens Clos Malverne, waar die Pritchards seker een van die proekamers/restaurante in die Kaap met die pragtigste uitsig geskep het. Hulle diens is ook professioneel en hulle bied interessante wyn en kos kombinasies aan.

frame9b451b89767ffb6fbf0ffb3c8770ad0bb28b42d7

Derdens is ‘n besoek aan Stark-Condé (die voormalige tuiste van Neil Ellis wyne) in Jonkershoek regtig die moeite werd. Die proekamer is ‘n eilandjie in die middel van ‘n pragtige dam en daar kan jy sit en wyn teug, wyl jou siel rus vind in die pragtige aangesig van die Jonkershoekberge en groen omgewing. Die Postcard Café se naam is heel gepas en bied die lekkerste slaaie, kaasborde en ander geregte aan. Hulle 2009 Bordeaux-versnit, genaamd Lingen (WO Stellenbosch), is ‘n pragtige wyn en elke sent werd wat jy daarvoor betaal.

frame72eb7834828ab25c9bdda54716d15f3ae6b4373c

Laastens, maar beslis nie die minste nie, die asemrowende restaurant, proelokaal en kelder van Waterkloof ver bo teen die Schaapenberg, buite Somerset-Wes. Die argitektuur is futuristies, maar funksioneel, die diens uitstekend en die uitsig oor die Valsbaai haas onverbeterlik. Die wyne is van hoogstaande gehalte, hoewel dit jammer was dat hulle Waterkloof Sauvignon Blanc 2010 (WO Stellenbosch) reeds uitverkoop was. Hulle reeks wyne onder die Circumstance-etiket is egter uit die boonste rakke. As jy nou besluit om net een kelder of restaurant hierdie jaar te besoek, beveel ek Waterkloof aan. Heel moontlik een van die moois geleë restaurante wat jy in Suid-Afrika sal vind.

frame01c90ca9140ae4ea065229ac6caf02eb1c82b762

Om af te sluit, kan ek opsom deur te noem dat ek my tydjie in Suid-Afrika geweldig geniet het; dat Suid-Afrika se natuurskoon steeds asembenemend is; dat die land geweldig baie bied vir die toeris en dat die land se klimaat erg genotlik is. Ek, soveel meer as andere, is egter die eerste om te erken dat daar ‘n verskil is tussen om in Suid-Afrika te kuier, en om daar te woon. Tweedens raak dit vir my elke keer duideliker dat dit soveel makliker is om positief te wees oor die land, wanneer jy in die Kaapse wynlande rondkuier, eerder as in die Noordwes of Mpumalanga se afgeskeepte platteland, die vervalle strate van die Oos-Rand, die armoedige krotte van Diepsloot of die misdaadgeteisterde voorstede van Gauteng.

frame8c0e9f18f521baff68de510d43e3b0fbacc355d5

Hier waar ek in die vreemde sit, mis ek nie Suid-Afrika nie. Maar ek mis steeds die Kaap…

* Anders as wat sommige Suid-Afrikaanse politici dit sal wil hê, het die Europese setlaars nie wingerdplase aangetref toe hulle die eerste keer voet aan wal gesit het in die Kaap nie.

Advertisements
21 Kommentaar leave one →
  1. Februarie 18, 2012 3:58 vm

    Ek dink ons moet maar die Kaap ‘n republiek op sy eie maak 😉

  2. Februarie 18, 2012 4:20 nm

    Persoonlik dink ek dat diegene wat hier kom kuier, meer bewus is van ons probleme as ons self. Dalk is ons soos die padda wat gebad word in kookwater, al gewoond daaraan. Maar ek het net ‘n week in die buiteland nodig om te besef hoe warm die water werklik is! Gelukkig bly ek in die Overberg, maar selfs hier… So bly jy het die kuier geniet, veral dat jy nie n slagoffer van misdaad was nie! Dankie, dit was ‘n mooi skrywe!

  3. Februarie 19, 2012 4:51 vm

    Soos altyd, baie mooi geskryf en besonderse foto’s! Hier in Namibia praat ons van Labola… ons noem die bietjie slegte goed wat ons ervaar ons Labola wat ons betaal vir die rustigheid, ruimte en skoonheid wat ons ervaar. Ek drink nie sommer wyn nie – het nog nooit waardering daarvoor aangeleer nie. Ek kan jou wel vertel waar ons beste biltong, droëwors, salami ens is.

  4. sara permalink
    Februarie 20, 2012 9:21 nm

    SA is nie vir pissies en sissies nie!

  5. Februarie 21, 2012 12:32 vm

    Bib, jy laat my mond skoon water vir daardie proelokale en wit wyne. Amper lus en klim weer op ‘n vliegtuig vir nog ‘n besoek aan die Kaap.

  6. Februarie 21, 2012 8:13 nm

    Jy het punt beet! Ten spyte van alles, kan ons nog lekker eet en drink. Vir hoe lank nog weet ek nie, maar dit is later se probleem. Jammer om teleur testel, maar ek is glad nie Sauvignon Blanc persoon nie, Chardonnay maak my gedaan. Aan ander kant is maar lief vir my “rooies”. Winter en somer!

  7. Februarie 23, 2012 5:11 vm

    PRAGTIGE inskrywing oor ons Beeldskone land! Was weer lekker om nuus van ‘tuis’ te lees! Foto’s soos altyd: pragtig – en keurig gekies!

  8. Februarie 24, 2012 9:30 nm

    Goed gedoen BnB. Ek wil self weer die jaar daar in die ‘beskawing’ `n draai gaan maak. Gauteng maak mens gedaan! Is Mei en Junie goeie tyd om in die Kaap te kuier?
    Gaan ook jou SB wyne probeer. Self hou ek gewoonlik by rooi.
    Korea lyk vir my self nie te onaardig nie. Is daar baie berge?

    • Februarie 27, 2012 10:19 nm

      Louwie, wat my aan betref, is enige tyd ‘n goeie tyd om in die Kaap te kuier! Korea het sy eie bekoring, maar die natuur is nie so divers as in SA nie, so daar is nie soveel kontras. 0mtrent 70% van Korea is beberg…of moet ek se beheuwel. Maar ek blog binnekort oor die prag van die berge hier.

  9. Februarie 26, 2012 1:44 vm

    Pragtigste fotos!

  10. Mefri permalink
    Februarie 27, 2012 2:38 vm

    Hallo BiB, ek is so bly dat jy jou besoek geniet het. Ek het nogal gewonder hoe jy dit sou ervaar het. Jy is so reg om te fokus op die samesyn en die ander negatiewe so bietjie kant toe te skuif. Jou foto’s is pragtig! Die Kaap is vir my pragtig, al waai die wind my sommer deurmekaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: