Skip to content

‘n Winterwegbreek by die see

Februarie 28, 2012

P2189087

Tydens my verblyf in Korea het ek reeds die suidelike hawestad van Busan meermale besoek as wat ek kan tel. Sekerlik die grootste rede hiervoor is omdat ek net ‘n uur vanaf Busan woon. En as mens nou behoorlik wil inkopies doen (met die klem op goeie Engelse leesstof) en lekker wil eet en kuier, is die tweede grootste stad in Korea die plek om te besoek.

P2189188P2189252

Maar bo en behalwe hierdie voor die handliggende redes, is die ander groot rede hoekom ek lief is vir Busan (in teenstelling met bv. Daegu, wat ook naby my is) juis dat Busan ‘n hawestad is. En as mens van die Kaap af kom, dan is die begrip “stad” en “see” nou maar eenmaal verinterweefd in jou kop. Dis net asof die see, strande en seemeeue ‘n ekstra dimensie aan ‘n stad gee; asof hierdie aspekte die onrustigheid wat gewoonlik met ‘n stad gepaardgaan effe temper en meer verteerbaar maak.

P2189126

Ek is baie lief vir Haeundae, maar vir ‘n verandering het ek hierdie keer Gwangalistrand besoek, sekerlik die gewildste strand, naas Haeundae. Hoewel dit ‘n pragtige bloulug dag was en die wye strand uitlokkend lê en wink het, was die winterson maar bitter flou en het ‘n yswind gewaai wat die aanvoelbare temperatuur ‘n hele paar grade onder vriespunt afgedwing het. Maar as mens nou hier in die winter sou moes uitgaan slegs wanneer die temperature leefbaar is, sal mens ook niks gedoen kry nie en in jou woonstel vasgekluister bly.

P2189173P2189318

Sekerlik die hoofkenmerk van Gwangalistrand is die uitsig op die indrukwekkende Gwanganbrug wat oor die see strek en die stedelike distrikte van Haeundae en Suyeong met mekaar verbind. Gewoonlik is mensgemaakte konstruksies in die natuur nie werklik vir my mooi nie, maar dis asof die brug inpas by die prentjie. En watter mooi prentjie maak dit nie! Die byna 7 kilometer lange brug word boonop in die aand kersboomagtig opgehelder. Die ingenieurswonder is iets waarvan mens bloot net nie jou oë kan afhou nie.

P2189226

As mens die koue wind trotseer en padlangs stap in Haeundae se rigting, kom mens al hoe nader aan die indrukwekkende iPark-woonstelkompleks wat van ver af op die horison uitstyg. Hierdie is van die hoogste woonstelkomplekse in Busan (en moontlik in Korea) en lyk eerder of dit tuishoort in ‘n wetekskapfiksierolprent as in Busan. Die woonstelkompleks is geleë reg langs Busan se seiljagklub en mens kan mensself net indink watter mark die ontwikkelaars van hierdie kompleks in gedagte gehad het…

P2189212

Neffens die nuwe woonstelkompleks, is daar ‘n pretpark met ‘n groot kermiswiel en ander pretritte. Ek was lus vir die adrenalien, maar die koue het my weggehou. Daarom het ek eerder die warmte van ‘n koffiewinkel opgesoek vir ‘n vuurwarm koppie cappucino. Terug by Gwangali, verwonder mens jouself aan die oorvloed van koffiewinkels en restaurante wat die hele kuspad omlyn. In ‘n mate het dit my so effe aan Seepunt herinner, met promenade en al. Terloops, koffiewinkels is die een van die vinniggroeiendste handelsbedrywe in Korea en in 2011, was daar meer as 12 000 koffiewinkels in die land, waarvan die oorgrote meerderheid plaaslike kettinggroepe.

P2189201P2189185

Sou mens stap to by die heel westelike deel van die strand, tref jy ‘n reuse, rooi, blompot aan wat deur die Franse kunstenaar, Jean-Pierre Raynaud daar geplaas is. Ek is nie regtig ‘n kunsfundi nie en ken nie vir Raynaud nie, maar blykbaar plaas hy reuse blompotte en ander huishoudelike objekte op verskillende plekke in die wêreld. En die naam van die kunswerk? Le Pot…wat dan anders?

P2189338

Natuurlik is ‘n besoek aan die kus vir my nooit volledig sonder om vars seekos te nuttig nie. Die perlemoen wat ek oa aan gesmul het, was heerlik voorberei en gaar (Koreane verkies perlemoen baie keer rou). Die perlemoen hier word plaaslik gekweek en is oor die algemeen kleiner as die wat jy in Suid-Afrika aantref (ek neem ook aan dis ‘n heel ander spesie). Saam met die perlemoen, het ek ‘n Hoegaarden gesluk – sekerlik my gunsteling bier, wanneer ek die slag bier drink.

P2189345P2189235

Maar is daar nog iets om te vertel? Dis nou behalwe die pragtige promenade waarop mens kan stap, die skoon sand, die reuk van see en die fotonemenswaardige baljaar van die swartkopmeeue? Ja, wel, die feit dat ek vir die eerste keer ‘n Visvalk (Pandion haliaetus) gesien het.

P2189351

Hy het hoog bo die see gesweef, skynbaar op soek na ‘n versnapering. Dieselfde spesie kom in Suid-Afrika voor, maar is nie ‘n valk wat sommer aldag gesien word nie. Plaaslik is dit ook ‘n skaars winterbesoeker, dus was ek baie bevoorreg om die roofvoël te sien. En saam met ‘n gawe spek-en-eiers ontbyt by van die verskeie eetplekke langs die strand, was dit vir my die kersie op die koek van ‘n baie aangename winterwegbreek by die see.

Advertisements
15 Kommentaar leave one →
  1. arthurmocke permalink
    Februarie 28, 2012 8:33 nm

    Sjoe maar jou naweek was inderdaad vol gelaai. Nie eers die Suid Albaniese Arktiese winde kon jou weg hou vanaf die kus nie.

  2. Februarie 28, 2012 10:05 nm

    En weereens die mooiste foto’s. Jy moet regtig iets met al hierdie mooi foto’s doen, dit kan nie sommer net hier op wordpress rond float nie 🙂

    • Februarie 29, 2012 8:51 nm

      Ek stem, maar dan weer hou ek van die manier hoe hy sy herinneringe netjies saamvat en vir sy nageslag bewaar.

    • Maart 1, 2012 6:07 nm

      Dankie, Son! Weet nie wat om met al my foto’s te doen nie en hierdie is vir my ‘n goeie plek om dit te gebruik. Enige nader voorstelle?

  3. Februarie 29, 2012 8:48 nm

    Wil myself net kom voorstel. Ek het op aanbeveling en hulp van ‘n vriendin besluit om ons webwerf voortaan self te bestuur. Wat die bloggedeelte betref: Ek is nie ‘n skrywer van format, maar ek wil graag my ondervindinge van die wildplaas met almal deel. Dit is ‘n nuwe uitdaging vir my. Help gerus as jy sien ek trap klei. Ek sal soos die tyd dit toelaat by almal probeer uitkom.

    • Maart 1, 2012 6:08 nm

      Welkom! En dankie vir die besoek en kommentaar! Van wat ek sover kan sien, lyk julle webwerf eersteklas. En dit lyk sommer na ‘n baie lekker plek. Sal enige tyd help waar ek kan.

  4. Februarie 29, 2012 11:22 nm

    Die ou cliché “dis lekker by die see” bly maar ‘n ware se ding. En is die see nie net soos ‘n vuur nie. ‘n Mens kan mos net daar sit and staar and luister na die gedruis van die golwe soos ‘n mens sit en staar na ‘n vuur en luister na die geknetter. Oerinstink. Lekker inskrywing. Mis die see.

    Wat is die skuim bo op die perlemoen? Hoop nie dis seeskuim wat hulle op die strand op tel nie. Dit sou darem bietjie te authentic wees.

  5. Maart 1, 2012 6:09 nm

    😆 Bluegrass, dit was ‘n suurlemoenskuimpie wat so ekstra smakie verleen het aan die skulpvis. Heerlik.

  6. Maart 2, 2012 6:40 vm

    B-A-I-E mooi, Boer! Ek hou van LE POT – maar soek ‘n reusagtige potplant daarin! 🙂 Daardie strand lyk heeeeerlik aanloklik!

  7. Alta Cloete permalink
    Maart 5, 2012 7:50 nm

    Mal oor jou foto’s!

  8. Maart 6, 2012 6:00 nm

    Dankie, Alta! 🙂

  9. Maart 8, 2012 3:03 nm

    Kyk, ek is nou nie maats met koue nie..maar jou beskrywing en foto’s sal my dalk hierdie keer van plan laat vernader het.
    Le Pot, wil jy nou meer….lyk maar bietjie onaardig.

  10. marianne de jager permalink
    Augustus 31, 2013 2:19 vm

    Pragtig.Boertjie.Ek sou baie graag daar in ballingskap wou wees.Marianne..

Trackbacks

  1. Somer op die strand « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: