Skip to content

Die berge in: Sneeu, ys en winterwoude

Maart 8, 2012

P2239737

Seoraksan (oftewel die Seorakberge*) lê heel bo in die noordoostelike hoek van Suid-Korea in die Gangwon-provinsie, naby die kusstad van Sokcho. Die berge vorm deel van die Taebaek-bergreeks wat so te sê die Koreaanse skiereiland se ruggraat vorm en strek vanaf Noord-Korea, al langs die Ooskus af, tot by die hawestad van Busan in die suide. Seoraksan is die derde hoogste berg in Suid-Korea, naas Jirisan in die suide en die vulkaniese krater van Hallasan op Jeju-eiland. Die hoogste spits in Seoraksan staan bekend as Daechongbong en is sowat 1700m hoog (Hallasan bereik ‘n hoogte van net onder 2000m).

P2239560

Weens die netwerk van staproetes in Seoraksan en die skoonheid van die berg se granietformasies, is die Seoraksan Nasionale Park ‘n baie gewilde toeristebestemming en, argumenteerbaar, Korea se gewildste natuurpark. Voeg hierby die hordes rotsklimgeleenthede en die kans dat mens Seoraksan gaan beleef in solo-saligheid, is bitter skraal…selfs in die middel van die winter.

P2239434

Ek was egter baie lus om weer ‘n slag die stapstewels op te neem en die berge in te vaar. Ek het ‘n paar dae verlof gehad en besluit om ‘n uitgerekte langnaweek daarvan te maak en die ver pad noorde toe aan te pak. Die berge is bloot te ver om in ‘n gewone naweek of langnaweek in te pas. Mens moet een dag uitsit vir die reis daarnatoe en nog ‘n dag vir die reis terug. Van waar ek woon, is dit oor ‘n uur se reis na Busan, dan ‘n 7 ure busrit na Sokcho en vandaar nog so ‘n entjie na die nasionale park.

P2249745

Weens die heersende weerstoestande en die tydsgebondenheid van my besoek, het ek besluit om dagroetes te stap, eerder as die oornagroete na Daechongbong. As ek die oornagroete sou doen, sou ek ook van die ander plekke wat ek graag wou sien, nie kon sien nie. Op die ou-end het ek in die twee dae so 16km gestap – dieselfde afstand wat ek sou gestap het na Daechongbong en terug.

P2229378

Ongeveer 70% van Suid-Korea is beberg, hoewel “beheuweld” seker ‘n beter omskrywing sou wees. Dws as jy nie Seoraksan, Jirisan of enkele ander berge heen reis nie, is jou gemiddeld stap eerder in hoë heuwels, as in berge, in die klassieke sin van die woord. In vergelyking waaraan mens gewoond is in Korea, was Seoraksan dus die ware Jakob, hoewel steeds nie te vergelyk met die Alpe, Suid-Afrikaanse berge of selfs Fujiberg in Japan nie. Maar tog is Seoraksan indrukwekkend mooi, met ‘n eiesoortige bekoring.

P2239510

Die hoogste kranse is soliede granietrotse met skerp spitspunte wat aggressief ten hemele beur. Hierdie rotsformasies vertoon dramaties en is iets besonders om te aanskou. Die res van die topografie bestaan uit woude, valleie en reuse rotse wat oral gestrooi lê. Die stap op (en veral af), is bemoeilik deur die sneeu en mens moet met groot konsentrasie stap. Weliswaar stap mens nie in die sneeu maar op bevrore sneeu.

P2239602P2249748

Hoog in die berge, vries die sneeu kliphard en dit sorg vir verraderlike staptoestande. Sommige plekke is die sneeu egter sagter en mens weet nie altyd of jy jou voet op klipharde, seepgladde sneeu neersit en of jou voet in sagte sneeu gaan wegsink nie. Wat egter die lewe baie makliker (en veiliger!) maak is die soolspykers wat jy om jou skoen vasmaak. Die skerp spykers aan die onderkant van jou skoen verrig wondere as dit by vastrap op die ys kom.

P2239667

Die eerste dag in die berge, het ek die roete aangedurf na die rotsformasie wat bekendstaan as Ulsanbawi. Dis blykbaar een van die moeiliker stappe en sou weldra uitvind hoekom, hoewel dit net so ongeveer 7km tot bo en terug is. Dit was ‘n vreugde om aan die voet van die berge so deur die witgesneeude kaalboomwoude en rotsgestrooide valleie te stap. Kort-kort het ek stilgestaan om voëls te bespied of net om die wonderlike stilte te ervaar. Getrou aan Korea, was daar ook natuurlik ‘n tempel in die berg, so halfpad op na die rotsspits. Dis juis so entjie aan, na die tempel, waar mens by die voet van die reuse formasie uitkom.

P2239583

En dis presies hier waar die trappe begin…en ‘n volle 800+ van hulle (niemand is presies seker hoeveel daar is nie en ekself het telling verloor) om presies te wees en dis steil trappe, deur die skeur tussen die rotse in en dan bo uit. Dit verg selfmotivering en die asem blaas (ek dink dis die meeste trappe wat ek nog ooit geklim het!), maar uiteindelik is mens bo en dan nog oor rotse en met ‘n gladde sneeupaadjie om uit te kom by een van die mooiste uitsigte wat ek nog in Korea beleef het.

P2239533P2239550

Van hier kan jy die verskeie pieke van die Seoraksan om jou sien, as dit natuurlik nou ‘n helder dag is. Mens kan ook die Oos-see bespied en die kusstad van Sokcho… weer eens as dit nou ‘n helder dag is, wat dit ongelukkig nou nie was nie. Maar dit was fantasties om daar bo te wees, die vars berglug in te adem en ‘n oomblik van stilte te geniet, wyl ek ietsie eet en gulsig water sluk.

P2239582

Na die bekoring van Ulsanbawi is ek weer af met die berg en het toe sommer aangestap in die heel teenoorgestelde rigting al langs die rivier af om die Biryeong watervalle te gaan soek. Ek het deur die woud gestap, op hierdie stadium stoksielalleen sonder ander stappers. Met die sneeu en mistigheid om my het dit nogal ‘n onheilspellende gevoel geskep, so asof ‘n pak wolwe skielik op my gaan afstorm. Maar daar is nie wolwe in Korea nie en die kans dat ‘n verdwaalde beer my pad sou kruis, was natuurlik bitter, bitter skraal (die Asiatiese swartbeer kom skynbaar in Seoraksan voor, maar hulle getalle is in die enkelsyfers).

P2239659

By die mond van die woud uit, het die klim deur die vallei begin en ek het myself verwonder aan die bevrore rivier en spierwit, gestolde swempoele. Dit was die vreemdste gevoel, want mens hoor nog steeds die water vloei, onder die ys, hoewel jy net plek-plek die water gewaar, waar dit vlugtig sigbaar is.

P2239709

Met die vallei op en uiteindelik tot by die waterval, het ek vir die eerste keer absoluut soliede, dik-bevrore watervalle en strome water gesien. Plek-plek is die water letterlik laag-op-laag, maklik ‘n meter diep, skoon blou gevries.

P2239687

Dit was vir my soos ‘n sprokiesland, veral omdat ek op die stadium op my eie gestap het en die stilte en dalende skemer kon ervaar. Weer eens het die soolspykers op my skoene baie handig te pas gekom. Hierdie vallei en die Biryeongvalle self is seker ‘n pragtige prentjie in die ander drie seisoene, maar in die winter bekoor dit op ‘n besondere manier.

P2239702

Die volgende dag is ek eers met die kabelkar op na die bergspits, wat uit my kamervenster sigbaar was. Ek wou oorspronklik ook hier uitstap en net met die karretjie afgaan, maar die roete na bo was gesluit weens die sneeutoestande. Dus met die karretjie na bo, waar ek in die fynvallende sneeu en mistige, spokerige rotswereld rondgestap het.

P2249743

Ek het ook toe besef dat dit wel ‘n wyse besluit was om nie die oornagroete aan te durf nie. Die mistigheid en sneeu het die sig bo-op die berg baie swak gemaak. Blykbaar is daar die bouvalle van ‘n ou fortmuur bo op die berg, maar dit was verskuil in die mis en wolke.

P2249764P2249785

Na hierdie ekspedisie, het ek pad gevat na ‘n bekende grot, genaamd Geumganggul, wat geleë is in die rotskranse. Die roete kronkel eers langs die rivier af en later begin jy klim op die seepgladde ys en klippe. Op die ou-end moet mens ook ‘n hele paar staaltrappe aandurf, wat erg steil is, teen die krans op om by die grot uit te kom.

P2249885

Maar as jy uiteindelik bo is, is die uitsig die moeite werd. Dit was net jammer van die mistigheid en heersende weer, wat die uitsig getemper het. Hier, teen die kranse, kon ek ook weer wonderlike oomblikke van verwondering geniet.

P2249908

Tydens my besoek aan Seoraksan het ek rustig gestap (ek was nog nooit ‘n stapper wat stap asof ek ‘n trein moet haal nie!) en ruim tyd gemaak om voëls te bespied met my verkyker. Ek het redelik baie voëls gesien, maar net twee nuwe spesies: ‘n Pragtige speg (Dendrocopos leucotos), asook ‘n lysteragtige voëltjie wat net hoog in berge voorkom (Prunella collaris). Ek het ook baie tyd spandeer om ‘n Siberiese eekhorinkie (tegnies is dit ‘n chipmunk en nie ‘n eekhorinkie nie, maar dit daar gelaat) te bekruip en met my lens vas te vang.

P2249962

Hoewel ek gaan stap het op weeksdae en dit die middel van die winter was, was ek eintlik selde op my eie in die berge en was daar altyd mense, hoewel nou nie massas nie. En dis maar nou een ding van Korea…mens is selde, indien ooit heeltemal alleen in die natuur.

P2249852

Ek dink in die somer of herfs sal dit ongelooflik mooi wees in Seoraksan, maar ek wil nie eers dink aan die massas wat oor ‘n naweek hier sal toesak nie. Dit was natuurlik ook koud, maar eerlikwaar draaglik koud en selde ver onder vriespunt. Bo in die berge was dit natuurlik aansienlik kouer, maar dit was genade dat daar nie juis wind gewaai het nie. En natuurlik stap mens mensself ook warm.

P2239421P2259992

P2250005P2249986

Die Saterdagoggend, toe ek wakker word, het dit baie hard en aanhoudend gesneeu en die wêreld het skielik ‘n transformasie ondergaan. Die uitsig vanaf my kamervenster het ook dramaties verskil vanaf die eerste dag. Maar eintlik het my beplanning perfek uitgewerk, want dit was die dag wat ek beplan het om die reis terug aan te pak. Stap in hierdie weer sou nie moontlik gewees het nie.

P2250007

Neffens die plek waar ek gebly het, was daar ‘n reuse Boeddha en ek was gelukkig dat ek hom sonder en met die sneeu kon afneem. Ek het ‘n taxi bestel, maar moes ‘n hele ent deur die sneeu stap, want die pad was nie toeganklik tot waar ek was nie. Met die swaar toegesneeude paaie en groot sneeuskrapers orals, was dit ‘n lang taxi-rit tot in Sokcho (ongeveer 10km van die berge af) en vandaar af ‘n lang busrit na die volgende stop, Gangneung en toe ‘n treinrit langs die see na Donghae, waar ek oornag het.

P2260091

In ander weersomstandighede sou die bus-en treinrit al langs die kus nogal indrukwekkend gewees het. Die volgende oggend het dit steeds gesneeu en die kusstad was spierwit. Die bus terug na Busan het nog ‘n ver ent in die sneeu gery en my aan die slaap geskommel.

P2239530

Die beelde van Seoraksan, die stilte, die winterwoude en die sporadiese voëlgekwetter sal my nog lank bybly. Dit was definitief een van my hoogtepunte van dat ek Korea my tydelike tuiste gemaak het.

* San is die Koreaanse woord vir berg.

30 Kommentaar leave one →
  1. Maart 9, 2012 12:03 vm

    Ek wens in alle eerlikheid dat ek dit van my lysie kan afmerk voor ek Korea verlaat. Dit lyk ongelooflik baie mooi. Die afstand is dalk iets wat jou in jou spore wil laat stop,maar dit lyk of dit wel die moeite werd kan wees om so lank te moet reis. LYk of jy dit baie geniet het.

    • Maart 12, 2012 5:54 nm

      Ek HET dit baie geniet. Weet dis miskien moeilik vir jou, maar as jy ‘n halwe kans kry, moet jy dit aangryp. Jy sal nie spyt wees nie!

      • Mei 23, 2012 10:58 nm

        Ek dink tyd en seisoen speel dalk nie saam met my skedule om dit te kan doen nie. Maar wie weet eendag as ek groot is en ek kom loer weer in by Korea dan miskien sal ek die berg aanpak.

      • Mei 24, 2012 7:25 nm

        Dis jammer, maar wie weet watter draaie die lewe nog loop, ne?

  2. Maart 9, 2012 5:45 vm

    http://www.blurb.com/ Boer, hierdie site moet jy probeer – jou foto’s is altyd iets besonders! Op die site kan jy jou eie boek publiseer – aanlyn!

    • Maart 12, 2012 5:55 nm

      Baie dankie vir die skakel. Ek gaan dit beslis ondersoek. Jy beantwoord nou die vraag oor wat om met al die foto’s te doen.

      • Maart 13, 2012 4:02 vm

        Ek het so twee weke gelede op Twitter ‘n onderwyseres se fotoboek gesien. Hare is nie eens nastenby die foto’s wat jy neem nie, alhoewel dit nie te sleg gelyk het nie. Ek het gedink dis nogal ‘n baaaie oulike idee vir iemand wat self publisher wil ‘speel’.

  3. Maart 9, 2012 10:30 nm

    Klink of jy dit baie geniet het daar bo in die berge. ‘n Paar goeie atmosfeervangende foto’s.

  4. Maart 11, 2012 6:19 vm

    Dit was nou ‘n interessante kykie in jou lewe daar in die kour vreemde. Goed geskryf en pragtige foto’s! Veral die laaste een, en natuurlik die foto van die eekhorinkie/chipmunk… Watse kamera en lens het jy gebruik?

    • Maart 12, 2012 5:59 nm

      Dankie Reinhardt! Ek het op die oomblik ‘n Olympus, maar nie ‘n DSLR nie, net ‘n redelike goeie ingeboude zoom lens.

      • Maart 12, 2012 6:49 nm

        Ek’s bly om te lees ek is nie die enigste een wat met ‘n SLR-wannabie kamera neem nie. Eendag as ek groot is gaan ek vir my ‘n Nikon D5100 koop…🙂

  5. Maart 11, 2012 11:25 nm

    Eendag gaan ek dit ook met my eie oë sien

    Dankie vir ‘n interessante blog!

  6. Maart 13, 2012 3:00 vm

    Pragtige fotos, en jou beskrywings laat my voete kriewel. Dankie

  7. Mefri permalink
    Maart 13, 2012 6:15 vm

    BiB, jou foto’s is pragtig, my gunsteling; die bevrore rivier. Ek weet sowaar nie of ek die energie sou gehad het om daardie trappe uit te klim nie, maar ek kan glo dat dit baie mooi was van doer bo af.

  8. Maart 14, 2012 6:23 nm

    Dankie, Joh en Mefri! Mefri, mens kry daardie energie van iewers vandaan! Ek dink dis die vars berglug.

  9. Anoniem permalink
    Maart 14, 2012 8:01 nm

    Wat ‘n pragtige plek, sprokiesmooi!! Dankie vir die pragtige fotos, dit laat my die avontuur saam met jou beleef!

  10. Maart 14, 2012 8:04 nm

    Skies, ek wou nie as anoniem geken word nie, hier is my inligting ..

  11. Maart 21, 2012 11:47 nm

    Dis erg mooi, maar genugtig ek sien nou uit na warmer temperature..

    • Maart 23, 2012 8:23 nm

      Ek stem saam met jou. Die winter klou nou net te lank vas. My kollegas vertel my hulle noem die tyd van die seisoen “flower envy”. Nogal ‘n heel gepaste benaming!

  12. Maart 31, 2012 3:44 vm

    Dankie vir die artikel! Die landskap is asemrowend en jou foto’s besonders.

  13. Maart 31, 2012 3:46 vm

    Keurige blog. Dis die woord wat ek soek: keurig.

  14. Maart 31, 2012 11:02 nm

    Hierdie post maak my nogal jaloers op jou lewe.

    • Maart 31, 2012 11:35 nm

      Glo my, daar is nie regtig soveel rede om jaloers te wees nie. Wat ek oor my lewe skryf, is amper soos ‘n lokprent. Jy sien die hoogtepunte, maar nie die volle prent nie. En ek dink dis maar hoe dit gaan met sosiale media…

  15. April 6, 2012 9:09 nm

    Reblogged this on Nadia de Kock and commented:
    ‘n Lanskap so na my hart. Dankie Boer in ballingskap.

Trackbacks

  1. ‘n Naweek in die berge en gepaardgaande gebeutenisse « Boer in Ballingskap
  2. Ek klim die krater uit « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: