Suid-Afrika vs Chili
Dit was eintlik reeds ‘n hele rukkie terug wat ek twee ernstige rooiwyne terselfdertyd ontdek het en sodoende met mekaar kon vergelyk. Om die kroon te span op my ontdekking en dit regtig interessant te maak, was albei van die wyne Cabernet Sauvignon van die 2008 oesjaar en ook in dieselfde prysklas. Die enigste verskil: Die een was van Suid-Afrika en die ander van Chili.
Nederburg Manor House Cabernet Sauvignon 2008 (WO Paarl)
Kyk die manne daar in die Paarl het geweet wat hulle doen toe hulle hierdie wyn gemaak het. Die wyn is alles wat ‘n volbloed Cabernet moet wees en nog meer. Die wyn is diep, donker rooi met ‘n effe baksteenkleur aan die rante, wat die ouderdom wil-wil begin wys. Jare terug sou dit ‘n ander situasie gewees het, maar die gemiddelde Nuwe Wêreld wyne is deesdae selde gemaak om vir langer as 5 jaar te verouder. Die neus is nie skaam nie en toon primêre geure van swartbessie, mokka en bietjie sjokolade. Met die ouderdom is daar ook reeds sekondêre geure te bespeur: ‘n bietjie speserye en gestoofde vrugte. Opsommenderwys ‘n komplekse en aangename neus wat mens uitlok om verder te verken.
Die wyn is mondvullend en ontplof in ‘n breë spektrum van geure op die tong. Pragtige, stewige middelpalaat met intense nuanses van swartbessie en ‘n effe speseryagtigheid op die nasmaak. Wonderlik in balans en ‘n amper romerige nasmaak wat in die mond bly drentel, lank nadat die wyn gesluk is. Die tanniene is aanwesig, maar is reeds sag en drinkvriendelik.
Hierdie is ‘n goeie voorbeeld van ‘n rasegte, tipiese, goedgemaakte Cabernet Sauvignon vanaf die Paarl. Dit laat jou met daardie “aaaaah!” gevoel en is elke sent werd. Koop gerus, en geniet saam met jou beste, verouderde beeshaas of lendeskyf.
Ochagavia Esperanza Gran Reserva Cabernet Sauvignon Limited Edition 2008 (WO Maipo Vallei)
Hierdie wyn se etiket toon aan dat dit spesiaal gebotteleer is ter ere van die 33 Chileense mynwerkers (die sogenaamde Los 33) wat in 2010 skouspelagtig gered is, na ‘n mynramp in Chili. Wel, ‘n beter wyn kon hulle skaars gemaak het ter ere van hierdie gebeurtenis.
Die kleur is selfs dieper en intenser as die van die Nederburg. Hierdie amperse inkswart aansig van die wyn, is die heel eerste aanduiding dat hierdie nie sommer ‘n alledaagse sopie is nie. Die wyn vertoon ook so bietjie minder ouderdom op die rante as die Nederburg.
Die neus van die wyn is ‘n melange van kompleksiteit. Die geure van ryp swartbessie en bosbessie is dadelik prominent en word aangevul deur nuanses van swart kersies en nuwe leer. Maar nog is dit einde niet, want verdere identifiseerbare geure is die van sjokolade, vanielje en selfs kokosneut – geure wat heel moontlik afkomstig is van die houtveroudering. Die wyn is ‘n pragtige mondvol, met intense geur, ferm tanniene, elegansie en wonderlike balans. Hierdie is ‘n pragtig afgeronde Cabernet wat jou asem wegslaan en dis baie moeilik om fout te vind met die wyn. Sonder twyfel ‘n koswyn wat nodig het om gepaar te word met gawe snitte biefstuk of beesstert.
En as ek nou uiteindelik moet kies tussen die Nederburg en die Ochagavia? Dis nie ‘n maklike besluit nie, maar op die ou-end is laasgenoemde Cabernet net daardie ietwat meer kompleks en afgerond. Die Ochagavia is ‘n sprekende voorbeeld van hoekom Chileense wyn, naas Franse wyn, die gewildste wyn in Korea is. As gereelde wynverbruiker in Korea kan ek getuig dat geen ander land se wyn op hierdie stadium beter waarde vir geld bied as juis Chileense wyn nie.
Dis interessant dat jy die twee meesters van wynmaak in elke land sal vergelyk. Nederburg met Johann Graue and Günter Brözel wat die Suid-Afrikaanse wynmaakbedryf gerevolusioneer het en Silvestre Ochagavia wat beskou word as die vader van Chileense wynbedryf. Dit my laat wonder en niemand kan natuurlik met sekerheid sê nie, is die Ochagavia beter omdat dit afkomstig is van oorsponklike wortelstokke ipv gekloonde wortelstokke wat in Suid-Afrika gebruik moet word. Net gewonder. Maar soos jy ook aangee wat in die vat gebeur is nog ‘n interessante verhaal.
Snaaks dat jy nou hierdie hoek raaksien wat ek nie verreken het ten tyde van my skrywe nie. Dit dra by tot die interessantheid van my vergelyking. Ek glo egter nie dat mens die beter wyn kan toeskryf aan die wortelstokke nie, hoewel dit ‘n vrugbare ondersoek behoort te wees om vas te stel of die oorspronklike wortelstokke enigsins Chileense wyn ‘n voorsprong gee. Ek het nog baie min gelees in hierdie verband.
En so sit ek en tik, wyl ek besig is om te smul aan nog ‘n baie lekker Chileense rooie! 🙂
Ek het so drie weke terug ‘n Chileense rooie gedrink – nie te sleg nie. Ek het nou net gaan kyk of die bottel nog hier is, maar ongelukkig al ge-recycle. Ons familieplaas was jare terug deur wyn-ouens [ek was piepklein, moes jonger as 9 gewees het, my pa het nog toe geleef] besoek, weet net hulle het die grond getoets om te kyk of dit ‘reg’ is vir wyn. Hulle was positief en sou die grond gebruik het, maar ongelukkig het my pa nie lank genoeg geleef om aan te gaan met dit nie. Hy’s oorspronklik [sy familie] van die Kaap en het so bietjie kennis gehad.
Toe ek die opskrif sien, het ek amper gedink jy gaan die twee lande vergelyk. Chili is nogal een van die lande wat ek dalk sal kan verruil vir SA 🙂
Son, ek sal nie sommer so ‘n vergelyking tref as ek nog nie ‘n land besoek het nie. Ek sou egter baie graag die geleentheid wou vind om wel die wynlande van Suid-Amerika te besoek. En daarna sal ek moontlik ook van opinie wees dat Chili ‘n haalbare alternatief is.
Boer, ek het so pas die bottels hier by ons bekyk [die Engelse is mos lief vir wyn as geskenke], ek het nou nog twee Chileense wyne hier [en ‘n paar Franse/SA/Italiaans/Suid-Australies…en paar ander] Gewonder of jy hierdie Chileense wyne ken: Isla Negra [Chardonnay 2009] – witte en Frontera [Concha y’Toro – op die label] en dis ‘n rooie en dit klink nogal lekker – se op die label: smooth, mellow & fruity [2011] Miskien moet ek ‘n bloginskrywing maak oor al die soorte haha
Klink lekker! Ek ken nie die Isla Negra nie, maar wel die Frontera. Lg. is ‘n lekker drinkwyn vir alledaagse gebruik. Uit eie ervaring stel die wyne van Concha Y Toro selde teleur.
Nou wag die wyne vir jou! 🙂