Skip to content

Lente, Somer, Herfs, Winter…en Lente

April 19, 2012

Nou dat dit heerlike, baldadige lente is hier en ek so op die onderwerp van seisoene is,  is dit miskien die gepaste tyd om iets te skryf oor my gunsteling Koreaanse rolprent:  Lente, Somer, Herfs, Winter…en Lente (Bom yeoreum gaeul gyeoul geurigo bom).

Die Koreaanse rolprentbedryf staan baie sterk en ek hou baie van wat hulle vervaardig. Op enige gegewe naweek, is die meeste rolprente wat in teaters draai, Koreaans en inheemse rolprente is ook klokslag die grootste lokettreffers.

Soos sekerlik ook die geval met Europese rolprente en rolprente van ander wêrelddele, bied Koreaanse rolprente ‘n genadige afwisseling van die gemiddelde Hollywood-kitskos. Dit is asof die karakteriserings net op ‘n dieper vlak is, wyl die kinematografie heel dikwels asemrowend is. Wanneer die Koreane Hollywood probeer na-aap met grandiose spesiale effekte en aksie, is die resultaat heel dikwels nie so opwindend nie. Maar wanneer die Koreane doen wat hulle goed doen – fokus op die storie, die dialoog, die kinematografie, die aardsheid van karakters en ernstige toneelspel – word meesterstukke geskep. Die 2003 rolprent – Lente, Somer, Herfs, Winter…en Lente  – is een so ‘n meesterstuk.

Die prent is vervaardig deur die gevierde Koreaanse regisseur, Kim Ki Duk (wat toevallig self in die rolprent speel). Dit vertel die verhaal van ‘n Boeddhistiese monnik wat alleen op ‘n dam tussen die berge op ‘n drywende tempel woon. Die verhaal wentel rondom die verhouding tussen die bejaarde monnik en ‘n jong seun wat hy onder sy vlerk neem.

Die rolprent is volgens seisoene in vyf dele opgedeel en die onderliggend tema is die van val en opstaan; dood en vernuwing en die sikliese verloop van die lewe. Natuurlik is die hele sikliese tema eg Boeddhisties en dit speel baie direk op die seisoene in ‘n mens se lewe.  Die beelde in die prent is ryk aan Boeddhistiese simboliek. Hierdie simboliek, die uitnemende kinematografie en die minimale (maar treffende) dialoog sorg vir ‘n visueel meesleurende kunswerk. En in geen ander rolprent word die dramatiese verskil tussen seisoene in Korea beter uitgebeeld nie

As jy in jou leeftyd net een Koreaanse rolprent kyk, sorg dat dit hierdie meesterstuk is. Jy sal nie spyt wees nie.

10 Kommentaar leave one →
  1. April 19, 2012 10:14 nm

    Klink na ‘n plan, maar hoe op aarde gaan ons OOIT ‘n koreaanse fliek te sien kry hier?
    Jy sal ‘n “sideline” besigheid moet begin😉

  2. April 20, 2012 1:23 vm

    Sal mens dit op DVD kry?

  3. April 22, 2012 1:21 nm

    Ek vermoed die maklikste, vinnigste en goedkoopste manier om deesdae ‘n rolprent in die hande te kry, is om dit bloot van die Internet af te laai. Blitspos my as julle wil weet waar en hoe.

  4. April 22, 2012 8:11 nm

    In die laaste paar jaar of wat het ek alhoemeer begin kyk na sogenaamde “independant” en “foreign” rolprent. Bedoelende alles behalwe Hollywood. Vind dat die stories is ongelooflik en dat mens jou kan identifiseer met karakters. Nie groot name met mooi gesiggies wat moet staatmaak op effekte om hulle te help om karakter te gee aan rolprent. Net jammer dat mens nie altyd die rolprente op DVD kry nie. Oor die onderskrifte raak mens sommer gou gewoond.

  5. April 22, 2012 11:02 nm

    Ek het dit nog nie gesien nie en gaan dit nou dadelik in die hande kry!

  6. Mei 3, 2012 1:16 vm

    Sopas klaar gekyk.

    Pragtig, hartseer, inspirerend, tragies, meesleurend . . . en soos jy sê, waarskynlik die beste uitbeelding van Korea se dramaties intense seisoene. My voorliefde vir die Oosterse filosofie is ook diep aangeraak deur die Seon (Zen) Buddhistiese konteks waarbinne die film afspeel.

    Weereens dankie dat jy dit aangeraai het.

Trackbacks

  1. Blog-ontploffing « Kouevuur

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: