Skip to content

Om hond te eet

Mei 1, 2012

In Korea word daar hond geëet. So ook in Sjina, Viëtnam, Oos-Timor en sommige dele van Indonesië, Indië, die Filippyne, Ghana en Nigerië. Daar was ook gevalle waar hond geëet word in Taiwan en selfs Switserland, hoewel hondevleis vir menslike verbruik verbode is in laasgenoemde twee lande. In dele van Japan word dolfyn geëet en in baie dele van Europa is perdevleis ‘n gewilde dis. In Suid-Afrika eet ons wildsbokke, sebras, volstruise, skaapkop en soms selfs krokodil.

Bogenoemde dan my inleiding tot hierdie skrywe, om darem vir die leser ‘n perspektief te bied vir wat volg. Dis nie te sê dat ek na dese dalk ‘n paar lesers gaan verloor en moontlik selfs ‘n vriend of twee nie. Maar ek is bereid om die risiko te loop, synde dat hierdie ‘n interessante onderwerp is waaroor mense nie goed ingelig is nie.

In Korea staan die mees algemene dis van hondevleis as boshintang bekend (hondevleissop). Dit is ‘n tradisionele dis wat veral gewild is onder ouer garde en waarvoor die jonger generasie dikwels hul neuse optrek. Volgens oorlewering is hondevleis goed vir die immuniteitstelsel en veral vir manlike viriliteit. Hoewel nie naastenby so gewild of algemeen soos ander tradisionele Koreaanse eetplekke nie, word restaurante wat boshintang aanbied dwarsoor Korea aangetref – in die stede, sowel as in die platteland.

P4160638

Toe ek die eerste keer in Korea aangeland het, kon ek nie kleinkry dat Koreane hulle eie troeteldiere sal eet nie en het daar ‘n sekere barbaarsheid aan die gedagte gekleef. Gou het ek egter besef dat dit glad nie die geval is dat hulle hul eie troeteldiere eet nie; inteendeel honde is sekerlik die gewildste troeteldiere in Korea en hulle kan baie erg raak oor hulle honde. Die inheemse Jindo-ras is selfs as nasionale kultuurskat verklaar en daar is ‘n jaarlikse fees ter ere van hierdie honderas. Nee, ouma se skoothondjie is nie op die spyskaart nie! Daar is ‘n spesifieke honderas wat geteel word slegs vir eetdoeleindes en die ras se naam is Nureongi.

Die hondeboere het al telkemale petisies gerig aan die Koreaanse regering om die Nuerongi-ras as vee te verklaar, in dieselfde klas as beeste, varke en hoenders (Koreane doen nie skaap nie). Maar nog elke keer was die teenstand van dierebeskermingsverenigings en omgewingsbewustes te groot en die regering wil nie so ‘n kontroversiële stap neem nie, al is hierdie honderas – vir alle praktiese doeleindes – kleinvee. Die feit is dat die minderheid Koreane boshintang eet, maar dat die meeste Koreane die reg van die minderheid voorstaan om dit eet, hoofsaaklik omdat dit ‘n tradisionele dis is wat al honderde jare in Korea geëet word.

Nou is dit so dat as jy reeds ‘n hele klompie jare in ‘n plek woon, die nuutjie van die plek effe sy glans verloor en dat daar al hoe minder nuwe ervarings is om te beleef. Dit geld veral vir kos, want na ‘n paar jaar is daar bitter min Koreaanse geregte wat ek nog nie probeer het nie…behalwe boshintang. Vir iemand wat groot geword het met honde in en om die huis, was die idee vir my nog altyd arig en onuitlokkend. Maar ek is ‘n nuuskierige mens en sal altyd (binne perke) iets wil probeer wat ek nog nie probeer het nie.

So het dit dus gekom dat ek ‘n rukkie terug, tydens die herdenking van my geboortedag, iets spesiaals wou doen, wat ek nog nie vantevore gedoen het nie. Ek het dus by ‘n plaaslike eetplek gaan sit, boshintang bestel, saam met ‘n bottel Koreaanse vuurwater. Die aantreklike Koreaanse gasvrou (toevallig die ma van een van my skoolkinders) het grootoog gemaak en half senuweeagtig gelag. Sy het my in haar geradbraakte Engels verduidelik dat dit nou hondevleis is wat ek bestel en of ek dit weet. Nee, ek weet, het ek beduie, want dis hoekom ek daar is. Op ‘n stadium het ek gedink sy gaan dalk net op haar rug val, want op hierdie klein plattelandse plekkie is ek sekerlik die eerste (en moontlik laaste) buitelander wat kom boshingtang eet.

P4160646

As mens half ‘n hele kognitiewe moreel-etiese fort in jou gedagtes bou en dan op ‘n dag daardeur breek, is die resultate dikwels baie alledaags en gewoon. En so was dit dan ook met die boshintang. Die bykosse was die gewone keurige verskeidenheid wat saam met die hoofdis kom, en die boshintang self het dieselfde gelyk as ander soortgelyke rissiewarm Koreaanse disse wat beesvleis bevat. Op die ou-end was dit baie lekker en die vleis was heerlik sag. Die smaak is baie soos die van beesvleis, hoewel effens sappiger en met ‘n fyner tekstuur. Smaakgewys is daar egter nie veel wat boshintang onderskei van ander soortgelyke disse nie.

En watter wyn sal ek paar met hierdie dis? Om wyne met Koreaanse disse te paar, is oor die algemeen nie ‘n maklike taak nie, aangesien Koreaanse kosse baie speseryagtig is en rissie ruim gebruik word. Ek dink ‘n jong, ongehoute vrugtige rooiwyn wat nie te droog is nie, is miskien net die ding waarvoor boshintang vra. Iets soos ‘n ligte Kaapse Pinotage of ‘n Kaliforniese Zinfandel. Die spesifieke wyn wat in my gedagtes opkom is Ken Forrester se wulps-heerlike Petit Pinotage.

Sal ek dit weer eet? Wel, nee. Ek het dit een keer probeer, want ek wou. Maar dis nie lekker genoeg dat ek dit in die toekoms sal kies bo my ander Koreaanse gunstelinge nie. En buitendien sit die gedagte nie gemaklik in my kop dat ‘n mens se beste vriend in jou maag moet eindig nie. Ek dink daar is ‘n hele paar mense wat my dalk sal oordeel en vrae vra soos hoe is die honde se omstandighede op die plase en hoe word hulle doodgemaak ens. Dieselfde vrae word egter nie gevra as mens vark, hoender, bees of skaap eet nie. Jy sit nie met gedagtes van hoe die lam ter slagting gelei is nie…nee, jy lek net jou lippe af vir daardie tjoppie.

En so is die mens maar. Alle mense word as gelyk gesien, maar alle diere nie. Ons projekteer sommige gevoelens en emosie op diere en glo vas dat sommige diere meer ly as andere; meer voel as ander. Is dit so? Heel moontlik, maar moontlik ook nie…Wie sal weet?

48 Kommentaar leave one →
  1. Mei 1, 2012 6:52 nm

    Toe ons in Thailand was het my Tannie my een van daai soutgekookte eiers aangebied. Ek het dit inderdaad nie geëet nie – glad nie honger genoeg gewees nie!
    Wat die hond eet aanbtref – weet nie of ek dit sou kon doen nie, nie eens ter ondervinding nie. Maar ek kan nie die kans misken dat, sou daar niks anders wees nie, ek dalk wel sal hond eet.
    Probeer meeste van die tyd nie te dink aan die vleis wat ek eet nie – as ek self my kos moes skiet en afslag dink ek sal ek glad nooit vleis eet nie!!

    • Mei 6, 2012 5:27 nm

      Ken nie daai eiers nie….Hier het hulle swart eiers, wat ek glad nie van hou nie. Miskien praat ons van dieselfde ding?

      • Mei 6, 2012 6:19 nm

        Dit is inderdaad van dieselfde herkoms – die eiers wat sy eet is darem nie swart nie😉
        Net sout!

  2. Anoniem permalink
    Mei 1, 2012 7:14 nm

    Ek het hierdie baie geniet! Ek sal maar wegbly van die hondtjoppie. In Indie het ek dit nog nie teegekom nie maar vriende het al hul hoender gaan kies by die padslaghuis terwyl hy nog rondloop en toe in die kar geklim met die warm sakkie vleis in die een hand en bebloede kleingeld in die ander…

    • Mei 6, 2012 5:26 nm

      Ek kan dink dat mens daar ook maar ‘n paar grillerige ervarings sal he wat kos aan betref. Blykbaar word hondevleis in sommige plekke in Noordoos-Indie genuttig.

  3. Mei 1, 2012 7:15 nm

    Mmmm, nee voor ek een van my beste vriende opeet, eet ek dalk liewer mens!

    Grappie, ek dink vir ‘n ondervinding is dit nie ‘n sleg idee nie, en as dit oor oorlewing gaan sal ek enigiets eet. (Solank dit ‘n onbekende hond is!)

    • Mei 6, 2012 5:29 nm

      Laat jy my nou dink aan daardie (ware) verhaal van die Chileense rugbyspan wat se vliegtuig in die Andes geval het. Hulle het toe geen ander keuse gehad nie. ‘n Mens se oorlewingsinstink is geweldig sterk.

  4. Mei 1, 2012 8:08 nm

    Wel, vleis is vleis en doodmaak is doodmaak, as ‘n mens nou realisties wil wees. Ek sal dit dalk probeer ( eet alles, selfs skilpad), maar die hele ding van doodmaak begin my al meer pla. Doodmaak van alle diere, visse inkluis. Eintlik is vrugte die antwoord. Dis iets wat die natuur spesiaal gemaak het vir een doel: om geeet te word sodat saad kan versprei.

    • Mei 6, 2012 5:31 nm

      Ek dink dis hoekom al hoe meer mense (so kom dit my voor) vegetariers word. Moet se hier waar ek bly is ek ook eintlik ‘n virtuele vegetarier, aangesien baie van die disse hier nie vleis bevat nie. Wens net ek kon liewer wees vir vrugte – dis iets wat ek nooit regtig aangeleer het nie.

  5. Mei 1, 2012 8:10 nm

    Ag nee wat, daar’s nie te oordeel nie! My pa het eenkeer ons troetelhoenders geeët…die goedjies het nog kopafgehardloop in die netjiese northern-suburb tuin!!! (Dis bietjie rof ne?… maar tog eet ons almal (meestal) lekker KFC…of thai-chicken, dis lekkerder!

  6. Mei 1, 2012 8:37 nm

    So …. het jou Noord wyser gaan regop staan en die pad wys na die viriliesie honnevleis ?
    Dis wat my afpis van die skreefoog diere/aliens – Hulle totties is so kort/klein dat hulle viriliteit soek in tos – Renoster horing, hondevleis, slangsap in ‘n bottel, ens.

  7. Mei 2, 2012 12:06 vm

    Ander: “Hoekom eet jy nie vark nie?”
    Ek: “Ek eet ook nie hond nie.”

    Ek antwoord baie keer so op daardie vraag om juis die diskrepansie uit te wys wat mense het. Wat maak nou juis een dier meer geskik vir eet as ‘n ander? Party mense eet haas, maar sal nie kat eet nie, alhoewel die twee afgeslag omtrent dieselfde lyk.

    Ek leef grootliks vegetaries. Soms gebruik ek wel diere produkte, maar dan hou ek grootliks by die Ou Testamentiese voorskrifte van rein en onreinkosse. Onreinkosse is geneig om meer parisiete te hawe of om hoër toksisiteit te berg.

    • Mei 6, 2012 5:34 nm

      Ek het nooit geweet ‘n haas en kat lyk dieselfde as hulle afgeslag is nie. Jy klink vir my na ‘n baie gedissiplineerde eter. Ek dink ook baie van mense se eetgewoontes kom ook uit die ouerhuis en ander invloede soos vriende ens.

      • Mei 17, 2012 4:02 vm

        Skryfblok is reg! Ek weet dat in baie Europese markte hulle haas afslag, maar die pels om die voete hou om vir die koper te wys dat dit wel haas is en nie kat nie!

  8. Mei 2, 2012 2:09 vm

    Baie interessant, maar nee dankie. Ek sal nie hond eet nie. Ek is glad nie ‘n groot vleis eter nie, so dis dalk makliker vir myom te praat🙂

    • Mei 6, 2012 5:35 nm

      My probleem is maar altyd, waarmee paar ek die lekker, goeie rooiwyne, sou ek nie vleis eet nie?🙂

  9. Mei 2, 2012 2:58 vm

    Ek is so ‘n pirtsie, ek het nie hier gelees nie. Ek eet langtand aan lam! Wat nog te se hond. Maar Boer, ek is seker dit is pragtig geskryf 🙂

  10. Mei 2, 2012 3:05 nm

    Ag Jimmel mens….raak die seliva so baie in my mond , en dit nie watertand nie hoor – sommer van arigheid !! Baie interessant – so algaande leert men !

  11. Mefri permalink
    Mei 3, 2012 5:30 vm

    Sjoe BiB, ek moet eerlik wees, die gedagte om hondevleis te eet veroorsaak koue rillings al langs my ruggraat af en my emosies raak skoon op hol daaroor. Ek is vrekbang vir groot honde maar as hulle seer of siek is, sal ek en het ek al die grense van vrees versmoor. Die gedagte om hulle te eet, dit is net te erg vir my, maar to each his own met respek. Ek het ‘n happie slang geëet, liewer heel ingesluk, in Taiwan, vir dieselfde ‘nuwe ervaring’ rede, maar dit was nie ‘n goeie idee gewees nie LOL, ek was taamlik groen van gelaat daarna gewees.

    • Mei 6, 2012 5:37 nm

      Jammer vir die koue rillings.🙂 Slang…nee ek weet nie. Selfs ek het my perke. Kyk, Koreane kan snaaks eet, maar nie by verre so snaaks soos die Sjinese nie.

  12. Mei 4, 2012 8:34 vm

    Gits nee! ek voel al die rillings in my rug afgaan! Ek is een keer deur ‘n swaer van my uitgevang. Hy met my bobbejaanbiltong gegee en ek het gedink ek smul aan sy beesbiltong! Hy het dit gemaak vir die ‘werkers’ wat hom help jag het. Ek sal jou se, toe hy vir my na die tweede happie vra of ek weet wat ek eet…het ek darem v—-e—-r!! gespoeg!!! gril nou nog aan die gedagte! Ek glo jy het die hond geniet, maar nee dankie, ek sal op sterwe moet wees, dan weet ek nog nie.🙂

    • Mei 6, 2012 6:20 nm

      Bobbejaanbiltong!😯 Wonder hoe ver jy die hondevleisies sal spoeg!😉

      • Mei 6, 2012 7:26 nm

        http://digitalnomad.nationalgeographic.com/2012/05/04/zulu-muthi-market/ Lekker ver! dis al wat ek weet!🙂 Hierdie ou van hierdie site is ‘n Saffa wat op die oomblik in SA is – ek volg hom op Twitter [sedert ek sy foto’s van die Kaap gesien het]. Hy is tans in Durban [o ja, ‘n fotograaf van Nat Geo] en het gister by die Durbanse Muthi-mark ‘n draai gemaak en heelwat foto’s op Twitter geplaas, wat jy ook in hierdie video sal sien. Toe ek die gedroogte aap sien, laat dit my toe wonder oor die ‘werkers’ op ons plaas – wat so baie erg oor die bobbejaan-biltong was. Nou wonder ek of hulle dit destyds vir ‘muthi’ gebruik het! Ons het ‘n gro-o-t las van bobbejane op die plaas gehad, in die berg oorkant die plaashuis ‘gewoon’. Hulle het hulself verlustig in die vrugte in die boorde rondom Okt-Des wanneer die appelkose/perskes ryp begin word het.

    • Mei 7, 2012 7:39 nm

      Dankie vir die skakel, Nikita. Nee, werklik…wys jou dat mens nie Ooste te hoef te reis om die snaakste goed te sien en beleef nie.

  13. Mei 4, 2012 11:00 nm

    Aah, die eet avontuurlus! Nee wat, what doesn’t kill you makes you stronger. Ek moet se daar is darem baie by kosse. lyk amper meer as die hoofgereg. Maar die hoofgereg lyk lekker. Afhangende van die sterkte van die rissies kan ‘n yskoue Rieling dalk ook lekker daarby gaan.

    • Mei 6, 2012 5:23 nm

      Ek het nou geglimlag toe ek jou kommentaar lees.🙂 Ek dink ek moet jou nog kom opsoek, want ons sal groot kuier. En ek stem saam oor die Riesling. Definitief. Riesling paar eintlik so goed met Oosterse kosse, dat dit vreemd is dat dit nie veel gewilder is nie. Maar ook maar ‘n stiefkind in SA en ander werelddele.

  14. Mei 6, 2012 6:22 nm

    Op ‘n ligte noot: Die dis wat ek geeet het, het my laat dink aan die nuwe dimensie wat wat dit verleen aan die woefkardoes (doggy bag) as mens nie als kan opeet nie.😆

  15. Mei 6, 2012 8:32 nm

    “Jy sit nie met gedagtes van hoe die lam ter slagting gelei is nie…nee, jy lek net jou lippe af vir daardie tjoppie.” – Baie waar Boer, baie waar. Soos altyd geniet ek jou skrywe, baie interessant gewees, dankie!

  16. Mei 7, 2012 12:08 vm

    Ek is bly dat hulle 100% seker probeer maak het dat jy weet wat jy bestel. Dit is my grootste vrees dat sou ek daardie deel van die wêreld besoek ek so iets per ongeluk sal eet.🙂

    • Mei 7, 2012 5:44 nm

      Ja, dit was ook in die begin my vrees. Maar as mens eers die taal effe onder die knie het, is dit darem makliker om te weet wat mens bestel.

  17. Mary Jane permalink
    Mei 7, 2012 4:38 nm

    Ek moet erken, ek was vreemd verlig toe ek lees jy sal dit nie weer eet nie, maar ja, go big or go home, so bly jy het dit probeer. het die tannie jou nie na die tyd gevra wat jy daarvan gedink het nie?

  18. Mei 11, 2012 3:25 nm

    Dit is seker maar alles sielkundig. Dit is die gedagte daaraan, en die weete watse vleis dit is. As mens nie verskillende vleise soos hond, kat, aap en perd te ete kry sonder dat jy weet, sal daar moontlik geen probleem wees nie. Dit si hoe hulle grootgeword het, dit is ok om hond te eet. Ons het grootgeword dat jy bees, skaap, vark en hoender eet. Each to their own.

    • Mei 19, 2012 6:51 nm

      Ja…mense is snaakse wesens. Koreane trek hulle neus op vir skaap, want hulle se dit “stink”. The mind boggles.

  19. Mei 12, 2012 9:05 nm

    Baie goed! Ek het lekker gelag vir die woefkardoes opmerking.

  20. Mei 15, 2012 3:47 vm

    Ai tog, die dag as ons kan ophou vleis eet hou ons dalk op om mekaar dood te maak?
    Miskien moet ons net meer by slagpale `n draai maak, dan sal ophou makliker wees. Was vandag by een. Drie beeste en 2 skaap wat oor die naweek gevrek het is gebring om geslag te word. Die vrotste dele is darem uitgesny voor die res steak en tjop geword het. Die res van die dag was dit bloed en pensmis en skreeunde varke en klaende beeste.
    Dit is nie mooi nie. `n Bok huil soos `n kind voor jy hom slag.
    Eet lekker!!!

  21. Mei 17, 2012 3:58 vm

    en hoekom nie? Daar gebeur erger dinge in die lewe wat meer ons aandag nodig het as “Flaffie” se oorlewing. Persoonlik sal ek self dit nie eet nie, maar as dit groot gemaak is en geslag is op die regte manier en met respek is dit mos reg so! Elkgeval teveel klem gelê op diere regte terwyl baie mense aan erger dinge onderwerp word. Volgens die fotos lyk dit darem mooi voorgesit.

    • Mei 19, 2012 6:55 nm

      Het net verlede naweek ‘n vegetarier ontmoet. Haar rede vir haar koskeuse is dat vee (skape/beeste ens.) met groeihormone en atibiotika ingespuit word en dat dit skadelik vir die mens is. Dus weer ‘n heel ander rede as liefde vir diere.

  22. Johan permalink
    Mei 29, 2012 4:25 vm

    Naand doer BnB.
    Ek, soos jy weet het daar in die ooste snaakserige goed geeet op my tyd. Maar moet se, dink nie ek het die moed om so’n nat neus spelerige brakkie op te kou en af te sluk nie. Maar eks beindruk met jou deursettingsvermoe, moet ek se!🙂

    Ek dink ek sal maar hou by die onoselrige diere🙂
    Groete daar!

  23. Mei 30, 2012 8:10 nm

    Lekker om weer hier van jou te hoor! Ek is van mening dat mens alles in die lewe ten minste een keer moet probeer…wel, nou nie ALLES nie…😉

  24. Junie 2, 2012 4:29 nm

    sjo!! Dis absoluut crazy. . !!!

  25. brieweuitdievreemde permalink
    Augustus 22, 2012 6:16 nm

    Hi Boer,
    Dis baie goed geskryf en gee nogal ‘n baie gebalanseerde ‘view’ op hierdie onderwerp. Ek dink as enigiemand in ‘n abbatoir in ZA moet ingaan, eet hulle nooit weer vleis nie. Asook ‘n hoenderplaas – met die hoenders wat in hokke sit met afgekapte voete… so het ek gehoor. Ek hou ook, soos ander hier, nie al te veel van vleis nie. Ek het in Korea feitlik net vis, groente en vrugte ge-eet, maar die vrugte was volgens my nogal duur!

  26. Augustus 23, 2012 5:14 nm

    Vrugte is duur hierso, moet ek saamstem, maar baie is ook ingevoer. Ek geniet natuurlik die seekos hier baie en dis weer relatief goedkoop. Maar rooivleis eet ek maar selde, aangesien dit ook baie duur is (soos jy sal weet).

  27. charissa permalink
    April 2, 2013 12:59 nm

    Ek het so veel artikels gelees van hoe ongesond die honde vleis is. Die honde word in hokke in gedruk en meeste van hulle word/is siek en hulle voer selfs die dooie honde vir die honde…so nee, glad nie gesond nie broer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: