Skip to content

‘n Naweek in die berge en gepaardgaande gebeurtenisse

Mei 19, 2012

P5121157

Mense ontvlug op verskillende maniere van hulle daaglikse ondermaanse bestaan. Van dat ek kan onthou, was meerdaagse staproetes, met rugsak op die skof, vir my die beste manier van ontvlugting. Deur die jare het dit nooit verander nie. Twee dae op ‘n staproete het die effek van omtrent ‘n week se gewone vakansie.

P5121213

Saam met Seoraksan en Hallasan, is Jirisan een van Suid-Korea se prominentste berge. Jirisan is ook die area waar rondom Korea se oudste, grootste en sekerlik mees geliefde nasionale park geleë is. Die natuurpark beslaan ‘n area van byna 500 000 vierkante kilometer wat oor drie provinsiale grense strek en is in 1967 geproklameer. Hier tref mens ook Korea se tweede hoogste bergpiek aan, genaamd Cheonwangbong (1915m). Dit is in der waarheid die hoogste bergpiek op die vasteland, aangesien Suid-Korea se hoogste bergpiek, Hallasan, op Jeju eiland geleë is.

P5131349

Sedert ek my voete die eerste keer hier in Korea gesit het, praat die Koreane met agting en bewondering van Jirisan en was ek al lankal reeds bewus dat dit ‘n baie gewilde bestemming is vir plaaslike natuurliefhebbers. Maar soos soveel keer die geval is, kan mens nie ander se bewondering vir iets begryp, tot dat jy dit self ervaar het nie. Aangesien ek 2012 verklaar het as my amptelike jaar van fisies aktief wees, het ek uiteindelik besluit dat Jirisan getem moet word. En dit moes ook sommer vinnig gebeur voor die onuitstaanbare bedompige somerweer in aanvang neem. Dus het ek my rugsak gelaai, my stapstewels geveter en koers gekies berge toe om ‘n volle naweek te gaan stap. Hierdie keer nie net dagstappe, soos wat ek in Seoraksan gedoen het nie.

P5121219

Dit het my nie lank geneem nie om te besluit dat Jirisan, natuurgewys, een van die mooiste plekke is wat ek nog in Korea besoek het nie. Waar Seoraksan neig om dramaties te wees, met loodregte granietkranse, is Jirisan, met die vroegoggendmis wat in die valleie hunker, meer geheimsinnig en – durf ek dit sê – spiritueel. Die berge het as’t ware so ‘n magiese houvas op my gekry, dat dit my nou omtrent ‘n week geneem het net om weer normaal te begin funksioneer. Dis asof my siel in die berge agtergebly het en ek die afgelope week net in die vlees by die werk was. Ek het verlede Vrydagaand vertrek en eers Sondagaand laat by die huis gekom. Ek dink na die pragtige natuurskoon, vars lug en oefening, was die skielike terugruk na die gewone, geroetineerde lewe vir my ‘n erge skok op ‘n Maandagoggend.

P5121173P5121194

Jirisan is omtrent die heel eerste plek in Korea wat se ongereptheid en natuurskoon, my sterk herinner het aan staproetes in Suid-Afrika. Dit was geen pseudo-staproete nie, maar – inteendeel – ‘n behoorlike staproete oor moeilike terrein wat gevreet het aan die voete en bene. Hier moet ek net miskien byvoeg dat die vriendelike Koreane saam met wie ek gaan stap het, voor die tyd vir my ingelig het dat ons “so 13km” oor die twee dae gaan stap. Wel… daardie 13 het toe 23 geword. En dis berge, dus is gelykpadstap ‘n rare bederf.

P5131381

Die Saterdag was meestal opdraande en veral die laaste kilometer opdraande was nie ‘n grappie waarvoor ek kon lag nie. Sondag was dit meestal afdraende met die kronkelende vallei af, maar dit bied weer sy eie besondere uitdaging vir knie en kuit. Sweet is daar gesweet! Die voetpaaie is darem baie duidelik en netjies gemerk en verdwaalkans is min. Die paaie is egter meeste plekke baie klipperig en mens moet die heeltyd konsentreer presies waar jy jou voete plaas op die rotse en klippe.

P5121233P5121234

Dit is juis so toe die son begin water trek en die vliegtuig reeds oor is die Saterdag, dat ek op ‘n los rots trap en vir my ‘n gawe paar morge grond koop daar hoog in die berg. Ek het my een knie geval dat die nerwe spat en ek dink my DNS le nou nog daar tussen die klippe. Dit het omtrent gelyk of ek teen ‘n krokodil probeer skopboks het, soos die bloed geloop het. Maar dank Vader, dit was toe nie so ernstig soos dit gelyk het nie. Ek kon dus die volgende dag, hoewel met ongemak, voltooi sonder enige probleem. En uiteindelik kon ek die noodhulpstelletjie wat ek altyd so getrou saam met my dra as ek gaan stap, benut.

P5121285

Behalwe vir die asemrowende uitsigte, suiwer berglug, simfonieagtige voëlgekwetter en die kleur van verskeie spesies asaleas, was dit die primitiewe aard van die stap – iets wat mens nie sommer in Korea vind nie – wat dit so ‘n besondere ervaring gemaak het. Nou, hier kan ‘n paar lesers my dalk nie kleinkry nie, maar om uit te kom in die natuur behels vir my om ook vir ‘n kort tydjie afstand te doen van al daardie gemaksugtigheid van ons moderne, gekussingde bestaan in suburbia. Niks is vir my so verfrissend of vernuwend nie as om juis sonder fieterjasies die natuur te beleef.

P5121187P5121238

Die grootste rede vir die primitiewe aard van die stap was die bedekte seën dat ons groepie nie plek kon kry in een van die berg se oornaghutte nie, aangesien dit reeds vol bespreek was. (LW hierdie “oornaghutte” neem eintlik maar die vorm van ‘n losieshuis aan, met warm water, muntmasjiene en kafeetjie, waar ongeveer ‘n 100 mense op ‘n slag kan tuisgaan). Mens vind ook egter hier en daar mense wat hulle staptentjies op ooptes staanmaak, hoewel kampering onwettig is.

P5131317

Ons het toe dmv my Koreaanse kennis se konneksies tuis gegaan in ‘n Boeddhistiese monnik se afgesonderde tempelhuisie, diep in die berg (natuurlik het die ligging van ons oornagtuiste veel te doen gehad om ‘n paar ekstra kilometers aan ons staproete te las). Die monnik bly al vir 10 jaar stoksielalleen in die berg en leef hoofsaaklik van die plante van die veld (a-la Johannes die Doper). Verder geniet hy die natuur, mediteer en oordink die lewe. Saam met hom het ons sy verskeidenheid van vegetariese groentes en rys geniet, afgespoel met groentee. In die aand het die fyn geur van soet wierook in die lug gehang en in die stilte van die bergnag, was sy singspraak en die ritmiese tokkel van die moktak* anderwêrelds. Vir die heel eerste keer in Korea het ek ook ‘n sterrehemel gesien soos mens in die Suidland sien en kon ek selfs satelliete waarneem en konstellasies identifiseer. Ek wou eintlik baie graag buite onder die sterre slaap, maar dit was geniepsig koud in die berg en het maar die effense hitte opgesoek van die spartaans-nederige kamer waar ons kon kop neerlê.

P5121267

Die oggend vroeg, nog voor sonsopkoms, het die monnik se singspraak my weer wakker gemaak. Buite was die lug suiwer en koud en die son het stadig oor Jirisan se pieke gekruip. Die sterre het begin verdof en die bos het lewendig geraak met menige voëlgesang. Tydens die naweek het ek eintlik hard probeer om nuwe voëlspesies te identifiseer, maar met uitputtende konsentrasie op die paadjie voor jou en die ruie plantegroei, was dit maar moeilik. Hoewel ek baie meer voëls gehoor as gesien het, het ‘n Spikkelboskraai (Nucifraga caryocatactes) op ‘n stadium taamlik mooi vir die lens poseer, asook ‘n luidrugtige mees.

P5121264

P5131339

En so van die dierelewe gepraat, volgens die Koreaanse veldwagter waarmee ek gepraat het, het hulle reeds 27 Asiatiese swartbere in Jirisan hervestig, maar ons het nie een raakgeloop nie, hoewel daar ‘n redelike aantal waarskuwingsbaniere aangebring was. Soos meeste wilde diere, is die bere ook maar baie banger vir mense as andersom (en ek verstaan hoekom – as ek ‘n wilde dier was, sou ek ook die mens gevrees het).

P5121214P5131374

Die wasgeriewe by die tempelhuisie het bestaan uit ‘n pyp deur die rotse waardeur ysingwekkende koue bergwater loop en die ablusiegeriewe was die ekwivalent van ‘n regte “boere”-longdrop. Dus kon ek Adamsnakend, in die natuur, tussen die bergrotse “stort”. Die oorslaapgeriewe was baie soos ek al op staproetes in Suid-Afrika teengekom het, maar met een BAIE groot verskil. In Koreaanse natuurparke dit onwettig om vuur te maak – soos in enige vuur. Dus kan mens nie in die aand lekker om ‘n kampvuur sit en kuier nie. Dit het ek nogal meer gemis op die staproete as enigiets anders.

P5121266

Sondag het ons al met die vallei langs afgestap en ek het swempoele gesien, wat sekerlik met die bestes en mooistes kan vergelyk wat ek al in Suid-Afrika teengekom het. Dis werklik ‘n magiese vallei met die soetste en skoonste, dorslessende vars bergwater wat deur reuse klippe en rotse slinger, omraam deur die nuutgroen van die lente. Die versoeking was daar om die koue water te trotseer, maar die tyd was beperk, want ek moes nog klaar stap en ‘n bus haal terug na my tuisdorp.

P5131410

Buitendien is daar oral bordjies wat aandui dat swem verbode is…wat nogal baie hartseer is, maar ek verstaan dit ook nie mooi nie….Daar staan: “Keep nature clean” en dan “No swimming“. Nouja, mens maak mos nie water vuil as mens swem nie? Of altans nie ek nie! In elke geval, die Sondagaand was my been heel pynlik en ek was doodmoeg. Ek het soos die spreekwoordelike klip geslaap en gedroom van veelkleurige voëls, ver valleie en bere in die woud.

P5131384

Jirisan was ‘n wonderlike, vernuwende ervaring en selfs die weer was ons genadig. Of ek ‘n soortgelyke roete sal doen in die middel van die bedompige somer hier – wel, dit weet ek nie – ek dink jy kan dalk so ontwater dat daar net ‘n droë bokkom oorbly. Want, soos dit was, het ek meeste van die tyd gelyk of ek met my klere aan gestort het. Ek sal egter weer daar wil gaan stap in Jirisan, want daar is hordes roetes. Ek glo egter nie ek sal weer dieselfde ervaring he nie. Ons was baie gelukkig om te kon oorbly op ons eie by die monnik in die berge. As mens gewoonweg bespreek, is die oornaghutte jou voorland saam met 99 ander Koreaanse stappers, met warm water en ‘n gerumoer van stemme ens. Ek dink dit ontneem baie van die ervaring. Miskien moet ek maar tog ‘n tentjie aanskaf…

* Die moktak is ‘n Boeddhistiese musiekinstrument van hout waarop getokkel word om ‘n ritmiese hol klank weer te gee.

Advertisements
23 Kommentaar leave one →
  1. Mei 19, 2012 7:51 nm

    Boer jy het omtrent ‘n klimervaring beleef ingeblik in ‘n naweek. Die oorbly by die monnikhuisie is by verre ‘n voorreg as ‘n westerling sowel as koreane in Korea. Weereens jou fotos van die natuurskoon is ongelooflik mooi en mens kan vir ‘n wyle saam jou, jou ervaring deel.

    • Mei 23, 2012 7:42 nm

      Dankie! Ek is ook bly om te sien daar is weer lewe op jou blog!

      • Mei 23, 2012 10:59 nm

        Ja ek was hopeloos te lank afwesig gewees vanaf my blog. Gedink 2012 is weer ‘n goeie tyd om hom af te stof en weer aan die gang te kom.

  2. Mei 19, 2012 8:28 nm

    So mooi beskryf, en sulke mooi fotos. Trek my hart so op ‘n punt om daar te gaan stap. (Is net te ver hier vannie Magalies af.)

  3. Mei 20, 2012 1:58 vm

    Sjoe sou dit graag self wou sien.

  4. Mei 20, 2012 11:42 nm

    Hallo, baie mooi fotos!

    Dit lyk baie soos Suidafrika en herinner my aan ‘n uitstappie in die Drakensberge.

    Ek is in Duitsland en het hier ‘n integrasie kurses bygewoon kort na my aankoms, mense van reg oor die wêreld was saam met my in die klas maar dit was die Koreaners met wie ek vriende gemaak het, ons speel vandag nog af en toe saam sokker.

    Deel van ons goeie verstandhouding dink ek is te wyte daaraan dat hulle die enigste Christene, saam met my, in die klas was.
    Korea (Suid natuurlik) is baie Christelik, of hoe?

    • Mei 23, 2012 7:45 nm

      Dankie vir die besoek en kommentaar, Andre. Dit is so dat Suid-Korea die land in die Verre Ooste is met die grootste aantal Christene, maar dis ‘n bietjie van ‘n wanopvatting dat Korea Christelik is. Rofweg is omtrent ‘n derde van die bevolking Christene, ‘n derde Boeddhiste en ‘n derde hang geen geloof aan nie.

      • Mei 24, 2012 4:46 vm

        Ja jy’s reg ‘n land kan tog nie Christelik of nie Christelik wees nie. Dit gaan oor die mense.
        Ek was in SA in die Volle Evangelie Kerk as kind en het so te sê daarin groot geword. Dit het my as kind altyd beindruk dat die grootse Christelike gemeente in die wêreld ‘n Volle Evangelie Kerk was. Waar? In Seoul!
        Dalk kan ek eendag gaan kyk hou die Koreaners kerk hou.

  5. Mei 21, 2012 2:58 vm

    Sjoe, Boer, jy skryf so reg in my gedagtes! Ek het byna plek bespreek gehad om die ‘Seven Sisters’ hier in April te gaan stap, toe’s daar sprake van ongru weer ens. wat toe planne in die wiel ry. Hierdie somervakansie gaan ek beslis stap. Hier is mos nie ‘berge’ nie, dis heuwels, maar hoer op in Skotland kry jy dit. Ek weet net verseker, ek het ernstige ‘n stap nodig-soos in ‘n staptoer-stap. Dit doen soveel vir jou gemoed.

  6. Mei 21, 2012 4:50 nm

    Pragtife foto’s Boer! Ek het egter ‘n nare ondervinding gehad toe ek jou storie lees. Dit was op pad werk toe op die trein – ek was so verdiep in jou staproete toe ek op ‘n stadium opkyk en besef ek is eintlik op die trein, saam met ‘n klomp mense wat seker ook nie baie lus is vir werk op ‘n Maandagoggend nie. Dit klink na ‘n wonderlike ervaring – ek sien uit na jou volgende inskrywing!

  7. Mei 21, 2012 9:23 nm

    Dis stunning foto’s! Daai watergat lyk vreeslik aanloklik 🙂

  8. Mei 21, 2012 11:33 nm

    Klink na ‘n besonderse ervaring — veral die oornag by die monnik. Ek het ook die naweek bietjie gaan voetslaan in Koreaanse berge, maar dit was ‘n baie, baie korter roetetjie, êrens in Wonju. Slegs sowat 3 ure se stappie; dit was nietemin mooi.

  9. Mei 22, 2012 1:42 nm

    Ek kan verstaan hoekom jy gestruikel het. Daai paaitjies lyk rof. Klink na ‘n lekker sielsskoonmakende naweek.

  10. Julie 23, 2012 5:31 nm

    Ek is nou so lus vir gaan stap! Ek bly mos nou aan die voet van die beeldskone Paarl berg, en het hom wrintie waar nog nie gaan stap nie! Skandelik! Maar ter verdediging moet ek bysê, die weer in die Paarl laat nie juis nou stap toe nie! 🙂 Ek sit dit onmiddellik op my to do lysie vir die lente!

    Dit was lekker om jou weer te lees my vriend! Mis jou pakke vol! 🙂 (eintlik baie meer as wat ek besef het!)

  11. Augustus 3, 2012 9:59 nm

    Slaan ek nou skoon bolamakiesie agteroor toe ek nou hierdie avatar hier op my blog sien. Daar is nog lewe! 🙂 Dis reg, ek dink, sodra jy kan moet jy daardie groot rotse aandurf. Maar net voor die somer, want dan brand die son jou daar op die berg soos ‘n mier deur ‘n vergrootglas!

Trackbacks

  1. Ek klim die krater uit « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: