Skip to content

Padlangs deur Korea: Deel I: Son, see, sasjimi en medemenslikheid

Augustus 11, 2012

Ek het onlangs my verlof gebruik om ‘n omvattende padlangse reis deur Suid-Korea te onderneem. My doel was oa om kleiner en minder bekende plekke te besoek en te bekyk. In die volgende reeks vertellings, deel ek my foto’s en avonture.

untitled

Daar is altyd iets avontuurlik en opwindend daaraan om soos Josef en Maria van ouds, laataand by ‘n dorpie aan te kom en nog nie te weet waar jy gaan slaap nie. Vir sommiges miskien senutergend, maar in hierdie oorbeplande, geroetineerde lewens wat ons lei, vir my ‘n welkome verandering. Veral as dit ‘n piepklein kusdorpie is aan die weskus van Korea, genaamd Gyeokpo. Net na sonsondergang, sak op die rug, gaan soek jy na die strand, want jy wil naby die see bly en verkieslik uitkyk op die bloute in die verte. Gewoonlik kies jy ‘n rusplek vir jou kop wat bekostigbaar lyk, maar wat, jy het jou weeklange vakansie verdien en sien daarom hierdie keer niks verkeerd om jouself te bederf nie.

frame75deb077d2d201186784d3a0c553788b73cf6c1a

‘n Oulike plekkie wat uitkyk op die klein halfmaan strand, maar hulle het net een kamer oor en dis die luukse suite vir twee…en ek is enkel. Jy besef dis buite jou bereik, maar die Koreaan agter die toonbank stem in om jou afslag te gee. Hy kan seker die begeerte op my gesig lees – die begeerte om net hier te bly vir ‘n paar dae waar ek kan uitkyk op die see en kan ontspan -en nie sommer in enige plekkie nie, maar hier in sy hotelletjie. Vinnig sit ek my bagasie neer en met die maan wat sekeloog knip, sleep ek gou my voete deur die louwarm water van die Wes See (Geel See).

frameca4e0da0e29296b6f78c1ad82c5556ed7d99aec3

Die volgende oggend besluit ek braaf om die erge en uiters bedompige somerhitte aan te durf en die voetslaanpad langs die see te stap, want sien, ek het immers kom kop rus hier in die Byeonsan Nasionale Park en ek wil so graag ietsie van die wêreld sien. Ja, ek kan seker heeldag op my koningsgrote bed lê onder die koel lugstroom van die lugversorging, maar wat is dan die punt om byna ses ure op busse te spandeer om hier uit te kom? Sonroom gesmeer op die oop dele van my liggaam, gesonbril en gehoed begin ek seelangs stap.

frameaabd1118374b60800765bb59302825670e0daffeframe4f29666677d9f783cee3ceb8f5e90086fb9624e5

framef22796216e04c5155b8288f551e51f0937ae774c

frame124a8ecaa2b088c311b3c3da7f36f33e5843c2aeframe4271ee1266280fe191442cb6016bbc3c9bfb490b

Pragtige vistas begroet my van eilandrotse langs die kus en eeue oue kranse wat dramaties en stywe rug die kus groet – lyne van die jare se ouderdom le plooi op plooi in die klip gebed. Die rotsgestrooide strande lê wyd, oop en leeg en iets van die omgewing herinner my terstond aan die Namibiese skedelkus. Langs die pad is daar pragtige skulpe, seelewe, meeue en selfs ‘n bul van ‘n padda wat kordaat voor my in die paadjie sit en eers op die laaste oomblik met een lang en kragtige sprong bes gee die bosse in. Ek sien die kleinste miniatuur krappie wat ek in my lewe teëgekom het en ek verwonder my aan die ruwe plate rotse en die kwashale wit vlieswolkies teen die doek van die blou lug.

mosaic1ed9df1ac4ac8de4ba66ec9c02beec743faf3274

Maar intussen kry ek warm, soos in baie, baie warm. Al het ek nog nie geswem nie, is ek papsopnat en ek moet kort-kort ‘n koeltetjie opsoek om net van die gewelddadige son en hitte te ontsnap. Hier en daar slinger die paadjie darem genadiglik na ‘n bosserigheid die heuwel op. In die verte lê die groen ryslande my en koggel. Swerms naaldekokkers vergesel my en die sonbesies sing oorverdowend. My water, wat ek met gulsige hapslukke verorber het, is op, maar steeds is dit einde niet. En toe begin ek die ou waarheid besef: moet nooit verder stap as wat jy kan terugloop nie. Veral nie hier langs die ruwe, mensverlate weskus van Korea nie, waar die beeld van ‘n bus of ‘n taxi slegs ‘n hallusinasie kan wees. In die verte begin ek spikkels sien, wat – tot my vreugde – later die vorm van homo sapiens aanneem. My hoop vlam op dat die dors wat in my keel brand geles sal word.

frame9c745f509e3f92e9b166d6ee9d92b5de62b2306fframe9fbb0cbc601863d19869321742bb4dd52641de41

frame2809e340894a140014d05b50bf93654ffd93de6a

framed58820f7393b2349597b196febf3e40994601dddframe94eace698ff2ec2e0c37a765b5d285bee4cfeaa9

Ek stap vinniger en uiteindelik, in die koelte van ‘n rotskrans kom ek op ‘n Koreaanse gesinnetjie af wat piekniek hou, wyl sommiges in die nat sand, tussen die rotse met plastiekemmers en ander gerei allerhande snaakse skulpgediertes uitgrawe (die Koreane eet alles wat uit die see kom, behalwe klippe en rotse). Ek weet nie wat hulle gedink het van die enkellopende westerling wat papnat gesweet en waterloos rotslangs aangesleep kom nie, maar ek kan net dink dat hulle seker maar net kop geskud het oor hierdie bleekvelle uit ander lande wat vreemde dinge aanvang. Ek hoef nie eens vir water te vra nie, want hulle sien sommer ek is dors. Dadelik word my waterbottels gevul en weer gevul as die eerste koue water vinnig in die keel af verdwyn. Wil ek yskoffie hê; is ek honger? Van waar kom ek en waar op aarde is ek heen op pad? Die gesprek word gevoer in gebroke Koreaans en gebroke Engels. Is daar ‘n bus of taxi van hier af terug Gyeokpo toe? Hulle kopskuddende gesigsuitdrukkings sê alles. Arme westerling weet ook nie van beter nie. Nee, sê die man, ek moet net ‘n bietjie wag. Waarvoor weet ek nie.

frame9cd50d38ac508d0e43e4f4fd99b25df6d77f0f1b

Ek sprei my handdoek oop en kop teen die rots knip ek ‘n uiltjie, wyl die sweet straaltjies van my afloop in die bedompigheid. ‘n Rukkie later maak die man my wakker, motorsleutels in die hand. Nee, seg hy, hy gaan my sommer gou terugvat Gyeokpo toe. Ek gamsa hamnida* nederig en dank die Vader vir die vriendelike Koreane. Terug wou ek nie loop in die versengende hitte, onder die dodelike UV strale nie. In die weelde van ‘n lugversorgde Kia K7 word ek terugvervoer na my tydelike tuiste en toe besef ek eers hoe ver ek gestap het. Ek vra verleë om verskoning vir helfte van die strand wat saam met my in die, duidelik, nuwe motor geklim het, maar hy glimlag net en weier die note in my hand. “Have a good trip!”, groet hy my wuiwend.

framede0741f318b8899be2479461ed94302bbfcaa55f

My eerste gedagte is om terug te mik hotel toe en myself nakend onder die lugversorging oop te sprei. Maar ek het mos gekom om eintlik in die see te swem, het ek nie? En as ek nou eers op die bed gaan lê, dan raak ek eers lank na sononder wakker. In die son kan ek ook nie, dus huur ek ‘n sonsambreel. Daarna gaan baljaar ek in die water saam met die swetterjoel ander Koreane met al hulle reddingsbaadjies en opgeblaasde speelgoed. Want hier op Koreaanse strande ken hulle nie net van in die see swem nie. Die klomp opblaas speelgoed is altyd die water vol, met die kanariegeel buitebande ‘n bekende gesig op Koreaanse strande. Maar ek skat dis omdat hier nie eintlik van branders ter sprake is nie en, waar ek was, skaars golfies.Die water is louwarm en nie juis verfrissend nie en ek gaan val onder die strandsambreel neer en maak my oë toe. Die bedompigheid bak my egter soos ‘n eier in ‘n mikrogolf en net daar gee ek op. Al wat ek nou in my kop het is ‘n happie om te eet, ‘n koue stort en lugversorging.

framebab2c5e726990701044049ef921ec657b8fb7edd

Na ‘n welverdiende slapie en met vars, skoon klere, waag ek dit teen sononder buite, net vir die klam bedompigheid om weer soos ‘n elektriese kombers oor my neer te daal. Maar die sonsondergang in die weste is ‘n gesig om te aanskou en ek neem op die stoep van ‘n restaurant plaas en bestel vir my smorgasbord van vars seekos, natuurlik meestal rou en lekker. So lekker soos die kos is, so mooi is die sonsondergang – van die mooiste wat ek nog hier in die vreemde beleef het.

frame2a5c95a79813cd47a7f671651462703f184ce022

‘n Oulike, jong Koreaanse paartjie vanaf Seoul neffens my, groet my en die volgende oomblik plak hulle ‘n bordjie vol gaapskulpe voor my neer, saam met ‘n glasie Koreaanse vuurwater. Blykbaar lyk die kos voor my nie genoeg nie. Ek gamsa hamnida en sit vir hulle ‘n paar stukkies vars sasjimi en seekomkommer op ‘n bordjie en plaas dit op hulle tafel. Hulle glimlag breed. Oorkant my groet ek ‘n gesin vriendelik en dis nie lank nie, of hulle opgeskote dogter dra van hulle verskeidenheid gebraaide skulpvis na my tafel toe. Ek neem vir hulle ook ‘n paar stukkies varsgesnyde sasjimi en hulle stem in om vir ‘n foto te poseer.

mosaicfc151751fd12e44b6633fffbf9436ce7902784a1

Toe ek uiteindelik versadig en tevrede is van die smulmaaltyd, nooi die jong Koreaanse paartjie my om by hulle te kom sit. Sy vertel my ek lyk nes Bruce Willis en synde dat dit nie die eerste persoon is om ‘n dergelike vergelyking te maak nie, begin ek nou amper in hierdie mite glo. Ons eet nog noedels en skulpvis en die Koreaanse vuurwater vloei. Hulle Engels is net so swak soos my Koreaans, maar ons gesels land en sand en ek leer hulle sommer ‘n paar woorde Afrikaans op die koop toe. Die aand begin met “Kanbae!” en eindig met “Gesondheid!”.

frame9558cd3868dc7cae3eca00912660aea3bbcf2378

Dus, dankie aan die Koreaanse gesin wat vir my taxi gery het. Dit spyt my dat ek hulle naam vergeet het en ook nie ‘n foto geneem het nie. En dankie aan meneer Kim, die president van Myung In Industry en aan Woo Jin, die 3D animasie-ontwerper en sy pragtige, oulike meisie, Min Young. Dit was nog ‘n onvergeetlike avontuur in Korea en weer eens ‘n bevestiging van die ongelooflike Koreaanse medemenslikheid wat so deel uitmaak van die lewe hier. Ondanks al die snaaksighede, die skynbare eksentrieke tradisies, die onverstaanbare en vreemdhede elke dag, voel ek geseënd in hierdie land.

Advertisements
21 Kommentaar leave one →
  1. Augustus 11, 2012 5:45 nm

    ” moet nooit verder stap as wat jy kan terugloop nie” Sela !

    Wat ‘n fees om jou swerwinge te lees asook dat ‘kindness’ in elke land en in elke kultuur te vind is. Ons moet net oop wees vir dit

  2. Augustus 12, 2012 12:39 vm

    Ek het nou te lekker gelees Baie dankie

  3. Augustus 13, 2012 2:27 vm

    Hierdie mense klink wonderlik. (En ek hou baie van “… kwashale wit vlieswolkies…”)

  4. Augustus 13, 2012 3:23 vm

    Man wat is jy bevoorreg! Ja, dis lekker om te hoor van die goedheid in mense se harte oraloor. (Jammer dat die boosheid op party plekke soveel dikker deurslaan.) Ek neem aan by daardie Weskus maak hulle nie bokkems nie? Dankie, sien uit na die volgende aflewering.

    • Augustus 14, 2012 5:31 nm

      Nie heeltemal die gesoute bokkems soos ons dit ken nie, maar wel gedroogde vis en veral gedroogde seekat en inkvis. Maar nie vir my lekker nie.

  5. Augustus 13, 2012 6:57 nm

    Ek het my ook nou eers heerlik gesit en inleef in jou vertelling van al jou wedervaringe!! Jou gepaardgaande foto’s is ook weereens stunning!!

  6. Augustus 14, 2012 10:44 vm

    Vanoggend was my trein op pad werk toe vol – standing room only. Dit was egter nie vir my te veel van ‘n probleem nie aangesien ek baie goeie leesstof gehad het met pragtige foto’s daarmee saam! Ek het dit geniet om saam met jou te toer deur die plek, die mense te ontmoet en alles te beleef. Dankie Boer!

    • Augustus 14, 2012 5:33 nm

      Ek is bly ek kan jou tydjie in die trein so bietjie korter laat voel. 🙂 Ek neem dus aan jy lees op ‘n slimfoon of tablet. Baie gerieflik! Hier is almal ook besig met hulle fone en tablette in busse en treine.

      • Augustus 14, 2012 5:36 nm

        As ek moet staan is dit die foon, as ek gelukkig is om te sit is dit die “ouderwedse” laptop. Hulle het onlangs gratis wifi op die nuwer treine uitgerol so dit help darem, al is dit bietjie stadig. 🙂

      • Augustus 14, 2012 5:38 nm

        Ja-nee, kyk! Moet se die algemene en gratis beskikbaarheid van wi-fi is ‘n groot bederf!

  7. Augustus 15, 2012 12:05 vm

    Dankie vir die wegvoer uit my “oorbeplande, geroetineerde lewe” na jou geweste toe. Dit was nou ‘n lekker smulhappie van ‘n reisstorie.

  8. Augustus 15, 2012 7:24 nm

    Ek het heerlik gelees, klink of jy lekker bederf word – jy moet begin voorgee dat jy Bruce Willis is, dan gaan jy eers bederf word! 😆

  9. brieweuitdievreemde permalink
    Augustus 31, 2012 11:42 nm

    Hi Boer, op jou kaart lyk dit asof jy deur Jeonju ook gereis het? Dit was waar ek gebly het. Het jy enigiets te sien gekry van Jeonju?

  10. September 2, 2012 6:37 nm

    Inderdaad! Ek was al voorheen ook ‘n paar keer deur Jeonju, maar kom nie verder as die busterminaal en Dunkin Donuts nie. 😆 Enige aanbevelings?

  11. Julie 27, 2013 5:14 vm

    Hallo! Ek het nou eers lank hier by jou rondgekuier… steeds een van die beste blogs! Jou foto’s is besonders mooi en ek beny jou al jou belewenisse! Ek kom weer kuier!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: