Skip to content

Padlangs deur Korea: Deel II: Monumente, beelde en ‘n groot stuk water

Augustus 15, 2012

Ek het onlangs my verlof gebruik om ‘n omvattende padlangse reis deur Suid-Korea te onderneem. My doel was oa om kleiner en minder bekende plekke te besoek en te bekyk. In die hierdie reeks vertellings, deel ek my foto’s en avonture.

padlangs2

Ek laat die rotse en see van Byeonsan Nasionale Park agter en kies koers na Chungju toe – ‘n kleinerige stad wat feitlik reg in die middel van Suid-Korea geleë is. Dis ‘n stad met ‘n ryk en lang geskiedenis. Gedurende die konflikjare vanaf die 5de tot 7de eeu het drie magtige koninkryke meegeding om die opperhand op die skiereiland te verkry, te wete Goguryeo (37vC – 668nC), Baekje (18vC – 660nC) en Silla (57vC – 935nC). Chungju en omringende dele, geleë langs die belangrike suidelike vertakking van die Hanrivier, was ‘n strategiese punt en die stad het voortdurend om die beurt in die hande geval van die verskillende koninkryke. Daarom is daar nalatenskap van al drie die koninkryke in Chungju te sien itv historiese plekke. Die mees sigbare en prominentste nalatenskap is egter die van Silla, aangesien laasgenoemde die ander twee koninkryke gedurende die 7de eeu finaal verslaan het.

framed2b21f0261099eaff2f29dbd23c692ff2a9b01bd

Jungangtap reik trots hemelwaarts op die oewer van die Tangeumho-meer. Nadat ek soveel historiese en indrukwekkende pagodas tydens my verblyf in Gyeongju gesien het, was my verbasing groot dat hierdie eintlik die grootste pagoda is wat staande gebly het vanuit die tyd van die Silla-heerskappy. Die indrukwekkende pagoda is ongeveer 15 meter hoog en die ongelooflike steenvakmanskap van lank terug is duidelik sigbaar. Dit is opgerig tydens die tyd van Koning Wonseong, die 38ste monarg van Silla wat geheers het van 785-798 nC.

framea87445e69b63f7de722b17fc97b9cfd0c06c4cfcframe6b443fd9b5c262c47e6238e4f88d8b1ba8a9c922

Nabygeleë is die Chungju museum en ‘n beeldhoupark met allerhande interessante en byderwetse skeppings. Die Koreane is baie lief vir hulle beeldhouwerk en oral in parke en in stede is daar altyd interessanthede te aanskou. Die drie blomplant-tannies* wat besig was om onkruid uit te trek voor die museum, het vir ‘n interessante foto gesorg, so aan die voet van ‘n Boeddha wat kop verloor het.

framea5d5d84ad8f5d370e2fc9fc21bed70d272464d46framea6367a63faac28b33e1a827c0e1a5d68bcf8b1d3

Maar dit was nie die einde van die beelde nie. Net ‘n rukkie later, sowat tien minute verder met ‘n taxi, in die pragtige Tangeumpark, loop ek die mooiste bosnimfe raak wat onverwags en misterieus vanuit die bosse verskyn.

frame859e25b05ad7af4400ae5dc42a5da8eb8c8354e5framec80e503b627daf2c16fe787e2596c85260902f88

frameccd4eb1583299290f4821c83cb465715e7f803e2

frameb55f98c5cbd2cd63e53cb8583d437f86bfde622aframec2290cca09db0e37ca575e4eac7780a2a3bc452c

Die wandelpaaidjies in die park slinger deur pragtige dennebosse verby ‘n gedenknaald ter ere aan die soldate van Chungju wat in die Koreaanse oorlog (1950-53) gesneuwel het. Daar is ook ‘n indrukwekkende monument wat Generaal Sin-Lip (1546-1592) se dapper (maar tevergeefse) laaste geveg teen die Japanese invallers tydens die Imjin-oorlog (1592-98) gedenk. Die Taegeumpawiljoen op die koppie, wat uitkyk op die rivier en die stad van Chungju, dui die plek aan waar Sin Lip, met sy handjievol troepe, rug teen die afgrond, geveg en gesterf het.

frame6e18dde6b67f77adaa6109d6ef0f108d649e949dframe917feb575631ee35d09ba19a8941144d43a94634

Hier waar die bloed eens gevloei het en oorlogskrete weergalm het, is nou ‘n plek van vrede en stilte, met helderkleurige tierlelies wat prentjies skets teen die dekor van die rivier en stadsgeboue in die verte. (Ek verswyg maar die feit dat ek papnat gesweet was en dat die versengende hitte ‘n andersins perfekte verkenningstog verander het in ‘n ietwat van ‘n oorlewingstryd).

framea204264ae6be7fc5b4e680586788f60eaddf3331

My paaie het ook die gekruis van verskeie eekhorinkies. Die spesifieke spesie is blykbaar bekend as die Eurasiese rooi eekhorinkie (blykbaar verskyn die rooi eekhorinkie soms in swart gewaad) Ek het gereken die naam is misleidend en vervelig en het op die plek hierdie spesie herdoop tot die Bosrakker. Een of twee het onversteurd poseer terwyl hulle geknibbel het aan die aan die oorblyfsels van ‘n blykbaar resente piekniek.

framea2e25ca88956f393923a9d9ffe2761a96bc3b5c0

Afgesien van die geskiedkundige plekke, is Chungju is ook bekend om verskeie ander redes. Dit is oa die geboortestad van die huidige Sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki Moon. Voorts sal die Wêreld Roeikampioenskappe in 2013 hier aangebied word. Dit is ook appelwêreld. Die oorgrote meerderheid van Korea se appels is afkomstig van die area en daar is selfs een of twee monumente opgerig ter ere aan die vrug. Ek het ongelukkig nie tyd gehad om daarby uit te kom nie. Of moet ek eerder eerlik wees en erken dat die hitte my teruggejaag het na my lugversorgde motelkamer?

frame795be9f8fa7425b7c1afddec34a62f0bed48d6a4framebc736f6aa6c40e5548ceb84606ead35d92a829cf (1)

frame28bb7a4f86dbf16408840c9948f041a5faefe0a2

framefb5a4ce9d9ccd81d583bdecf7a60b0092636927eframe5cf5c114c341dcface0bb7c8b950febc210e91eb

Maar die rede hoekom ek nou eintlik Chungju kom besoek het, is ‘n nabygeleë stuk water. Soms verwys hulle daarna as ‘n dam, maar meestal noem hulle dit ‘n meer. Maar hoe dit ook al sy, dit is ‘n groot stuk binnelandse water. Die Chungju-meer is geskep, met die bou van die dam in die suidelike vertakking van die Hanrivier gedurende 1985. Die meer is nou wel nie te vergelyk met Luzern-meer tussen die Alpe nie, maar dit is steeds ‘n reuse stuk water, omring deur berge, bosse, en rotskranse. Dit is een van die grootste mere in Korea en word oa doelgebruik vir die opwekking van hidro-elektriese krag.

frame3def576ae3ebdfb4a2dac8495212b1040f28f037frame98fe1f3e24457d2702996b7752240a661f729894

Om die meer in sy volheid te ervaar, beteken egter dat jy nie aan wal staan en bewonder nie. Nee, die beste is om die twee ure veerboot te neem al met die inhamme van die meer langs. Jy kan rustig buite sit, die vars lug inadem en die natuurskoon aanskou en ervaar. Die enjin klief ‘n breë, skuimwit streep deur die blougroen water van die meer, terwyl berge, meerstrande en fotonemenswaardige rotsformasies stadig verbyskuif. Die hoër pieke lê blou in die verte en die atmosfeer is die van rustige tevredenheid.

framedc12d4acdb60b7b40f11c37cba8966ade644ab6f

Hier en daar vlieg duikers pyl reguit oor die water en af en toe vergesel swartstertmeeue die boot. Al om die kronkel-kronkels van die meer, onderdeur rotskranse, sus die rit mens tot welgeluksaligheid en laat mens die voorreg besef om hierdie natuurskoon te ervaar. En soos my kort tydjie in Chungju tot ‘n einde kom, is sekerlik hierdie die mees blywende herinnering aan die stad wat ek saam met my sal terugneem.

*In Korea word werk geskep vir vrouens wat gevorderd is in jare deur hulle aan te wend in stede en dorpe om parke en ander openbare plekke esteties te versorg. Ek het hulle sommer die blomplant-tannies gedoop, aangesien hulle altyd baie aktief is in die lente, wanneer blomme geplant word in openbare parke regoor Korea. Die tannies met hulle omvattende hoofbedekkings is ‘n algemene gesig in Korea.

Advertisements
14 Kommentaar leave one →
  1. Augustus 15, 2012 4:24 nm

    Dankie vir die interessante stories en mooi foto’s

  2. Augustus 15, 2012 7:33 nm

    Jy’t omtrent ‘n interessante trip onderneem. Dis lekker om rond te gaan en nie te weet wat jy eintlik gaan kry nie en dan verras word. Ek hou van die beelde, dit wys ook dat die Koreane ‘n meer opgevoede nasie is – as hulle die kunste hoog agslaan en soveel waarde daaraan heg.

    • Augustus 19, 2012 4:30 nm

      Ja, kyk ek geniet sulke tipe reise baie. Daar is altyd ‘n element van avontuur en ‘n afwagting wat daarmee gepaardgaan. Waar wat jy se van die Koreane. Ek dink as volk, is hulle geweldig visueel ingestel. Mens sien dit in hulle tradisies, klere, kosse en dan natuurlik hulle kunste.

  3. Augustus 15, 2012 10:21 nm

    Ek dink daai blomplant-tannies kan deel word van Valiant se Wyntannies…
    Die witwyn-tannie met die sweetpakbroek/
    die rooiwyn-tannie wat so lekker kan vloek/
    die brandewyn-tannie met die krismiskoek/
    Boer se blomplant-tannie met die snaakse hoed/

  4. Augustus 15, 2012 11:23 nm

    Wat ‘n fees ! Die oorlewings gedeelte in die verseggende hitte kan ek verstaan – ek is ‘n winterkind 🙂

    • Augustus 19, 2012 4:33 nm

      Ja-nee, die humiede Koreaanse somers is nie vir my nie. Ek kies ook die winter, maar natuurlik is herfs en lente die beste. Ek dink nie ek sal enigsins nader aan die ewenaar wil woon nie.

  5. Augustus 17, 2012 7:39 nm

    Mooi, mooi wêreld en beeldhouwerke!! Man, ek hou van hierdie blomplant-tannies idee! Miskien moet ons hier in SA ook so iets oorweeg! Is mos werkskepping!!

  6. Augustus 18, 2012 9:22 nm

    Weereens pragtig Boer! Ek sien uit na Deel 3, as daar een is?

  7. mockajava permalink
    Augustus 21, 2012 3:54 nm

    Ek sou graag die beeldhoupark wou besoek het, maar was saam n dagtoer groep en ons dag was reeds gejaagd gewees. So ek beleef dit deur jou fotos.

  8. Augustus 21, 2012 6:11 nm

    Bly jy kan dit nou beleef. 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: