Skip to content

Padlangs deur Korea: Deel III: Die grotte van Danyang en ander besienswaardighede

Augustus 20, 2012

Ek het onlangs my verlof gebruik om ‘n omvattende padlangse reis deur Suid-Korea te onderneem. My doel was oa om kleiner en minder bekende plekke te besoek en te bekyk. In die hierdie reeks vertellings, deel ek my foto’s en avonture.

Padlangs3

Vanaf Chungju, loop die pad slinger-slinger deur die valleie, effe noordoos, na die dorpie, Danyang, wat hoefyster lê op die oewers van die suidelike vertakking van die Hanrivier. En, in Koreaanse terme, is dit ‘n mooi dorpie in ‘n pragtige omgewing. Te oordeel aan die aantal hotelle en motelle, beslis ‘n dorp wat meer op toerisme gefokus is as ander, soortgelyke plattelandse dorpies.

frame2af19cf4d8a16d8e6dc61a58965e8bb80d2f8ac7

Ligging is sekerlik een van die dorp se groot voordele, maar die aantrekkingskrag van die dorp het veel te doen met die feit dat die omtrekke versadig is van kalkklip en sodoende sorg vir die grootste konsentrasie van grotte in Korea. En van hierdie grotte, is die Gosu-grotte een van die grootste en bekendste. Die grotte is vir Danyang sekerlik wat die Kango-grotte vir Oudtshoorn is, hoewel nie op dieselfde skaal nie.

frame2c078361b33d12302f3567a9cefbb162c3fbec4b

Die grotte strek meer as ‘n kilometer diep en is in totaal ongeveer 5km in lengte (hoewel slegs sowat 2km hiervan vir die publiek se genot is).En soos die voorsienigheid dit wil hê, is my nederige herberg, reg langs die Danyang-brug, binne voetval geleë vanaf die grotte. In enige ander seisoen, is die ongeveer 20 min. stappie oor die brug en op met die pad, kinderspeletjies…maar in die bedompige Koreaanse somer raak dit ‘n uitmergelende, sweterige affêre, met die sonbesies wat jou ore laat tuit. Groot is die verligting dus, as jy uiteindelik by die grotte opdaag en met die laaste paar trappe na die ingang, as’t ware voel hoe die koel walms vanuit die aardse diepte na jou aangesweef kom. En kyk, so in die middel van die somer hier, is ‘n grotbesoek seker die beste idee denkbaar. Die natuurlike lugversorging wat die grotte bied, is ‘n ware oase en mens voel sommer dadelik verfris in die koel binnekant van die aarde. Die grotte se temperatuur is konstant koel – winter en somer – teen ongeveer 15 grade Celsius, met geen humiditeit nie.

frame4bb8a9efde2fb1a15ea281809c90712565df9f02

Synde dat ek laas in die dieptes afgedaal het gedurende my jonger jare (en ja, wel daar in die Klein Karoo se volstruiswêreld), is dit opnuut vir my ‘n wonderlike ervaring. Hier, in die diep binnewande van die aarde, vorm Vader Tyd sonder enige haas die asembenewendste formasies deur stalaktiet en stalagmiet. Keer op keer sien ek die spookgesigte na my tuur vanuit die rotswande – elkeen uniek gevorm oor eeue heen. Hier kniel Maria met die Kind; daar krom ‘n arend se snawel; ‘n duiwel lag hoog in die rots; ‘n entjie verder hou gerubs wag; dan die moeë gesig van ‘n ou vrou en die oop bek van ‘n grommende leeu. Daar is blykbaar ook soveel as 25 verskillende vlermuise, insekte en ander gediertes wat die grotte huis noem, maar hulle was nêrens te sien nie. Ek dink hulle verkies sekerlik merendeels die grootste deel van die grotte wat nie vir die publiek oopgestel is nie.

frame7064561794df6d3aae4a67cf7d3d6f22b8543851

Die paadjies is meestal goed verlig, met hier en daar donker kolle wat die onsiende verborge hou. Oral drup water geduldig en ween die rotse nuwe formasies tot lewe. Hier diep in Moeder Aarde se binnewande staan die tyd stil en deur die kronkelgange – soms regop, soms geboë en hier en daar op die knieë – is daar tog ‘n rustigheid wat om jou vou en jou laat besef dat jy maar ‘n baie klein en tydelike partikel is in die groter gang van tyd en ewigheid.

mosaic201767664acfcd5532ea55ccf01891365958d974

frame17e73baade62eaf53746d34970127f9796967ef6

mosaicb23b26615bf5384b7c3de92994575b4326d6129f

Jy voel die hitte aan, soos jy weer nader aan die uitgang beweeg, na ‘n uur of wat se lekker koel, natuurlike lugverkoeling. Dan slaan die hitte jou vol in die gesig, die sweet begin rol en die bedompigheid kom lê nat op jou vel. Maar die dag is nog jonk. Terug met die pad en oor die brug, met ‘n weifeling hier en daar vir ‘n gulsige sluk water.

frame59cd1a7c646f4cacb88522910a44e7c08b5c5e8e

Die reuse vis (sy mond is die ingang na trappe wat na die ondergrondse parkering lei) laat min twyfel wat gehuisves word binne die byderwetse gebou regoor die rivier. Behalwe vir die splinternuwe bushawe en ‘n baie informatiewe toerismeburo, is die gebou grotendeels gewy aan ‘n varswater akwarium. Nouja, ‘n akwarium is maar baie soos ‘n sirkus – as jy een gesien het, het jy min of meer almal gesien. Maar steeds is dit ‘n interessante ervaring en dis altyd effe fassinerend om die geweldige diversiteit en uniekheid van al die waterkreature te aanskou. Beligting is maar gewoonlik swak vir foto’s, maar hier en daar kry mens reg om gangbare foto’s te neem van die gediertes. En, nodeloos gesê, in die hitte, is die lugversorging binne die akwarium hemels. Hulle fokus op riviervisse in Asië, maar het ook visse uit die Amasone en ander wêrelddele. Die trappe op na die akwarium is vol LED liggies, wat in die aande heel sprokiesagtig geanimeerde vispatrone flits.

frame5a052741506b28e1c0b0d594a605905da07d422aframe7d7c3d48447db49dcfb81b227e10069fb251f8e0

framef385a94c2df39d403dafffe3dc0ca154c0501f95

frame35cfd6540157cdbe7e7f82163b369249ccc4bf2bframeeadf781c0a7e8c6672ad5e1a79b9e720f735bb27

Van die akwarium af, neem ek ‘n taxi na een van Danyang se ander aantreklikhede, naamlik Dodamsambong, oftewel die “drie pieke in die rivier”. Net so 10 minute se ry, in nog ‘n draai van die rivier, staan die drie rotse groot reg in die middel van die rivier, kompleet soos ‘n miniatuur Dokdo-eiland*. Die Koreane het ‘n legende vir enige plek en in hierdie geval, word die rotse beskou as ‘n uitbeelding van ‘n man, sy vrou en sy minnares. Die middelste rots is die grootste en daar is ‘n tradisionele Koreaanse pawiljoen gemaakstaan, wat ‘n tikkie meer romanse by die prentjie voeg. En ‘n romantiese prentjie is dit wel. Dit is veral wanneer die son sak en die laaste lig die rotse ophelder, wat die plek roep na ‘n maat aan mens se sy met wie mens dit kan deel.

frame1b71cf9f01505ea95b9a04b7bb56c0fe17f91515

frameb28cb1e3a2700383c1c590c0d1cc605efc948de8frame7eb3516105c84be8afb36cf3786a6614a7be1ef2

Met so ongeveer ‘n sweettappende 200m op met die koppie langs die rivier, verby nog ‘n uitkykpunt, kom mens by Seongmun (letterlik: “kliphek”) – ‘n reuse natuurlik-gevormde rotsboog wat ‘n venster op die rivier vorm. Die boogvenster het vermoedelik ontstaan toe die dak van ‘n grot ineengestort het, duisende jare terug. Op foto’s lyk dit eintlik baie kleiner as wat dit is, want dis werklik ‘n reuse opening in die rots, soortgelyk aan die Wolfbergboog in die Sederberge (vir die wat al die voorreg gehad het om dit te sien).

frame9d00be185b3293b080d9b347bd5993a08fe29ade

Die son trek water en na ‘n baie koue noedeldis, keer ek terugwaarts motel toe, waar ek die herberg van my kamer opsoek. Ek skink ‘n yskoue bier en sit lank en kyk na die helderverligte brug en die kaatsing op die rivier, wyl my gedagtes ver paaie stap. Dis eers veel later wat ek uiteindelik my kop tevrede neerlê…

frameaccc65b09be96374787677f3cf32d9ef4f2a7d99framec2ce51d835bff0e6a1199c5f05153d4aefa485e6

*Dokdo is die naam van die rotseilande in die Oos-see (ook genoem die See van Japan) wat reeds lank in territoriale dispuut is tussen Japan en Korea. Net so onlangs as ‘n week terug was daar weer ‘n ernstige diplomatieke relletjie wat uitgeloop het op harde woorde tussen die twee lande. In ‘n vorige inskrywing het ek die situasie van Dokdo bespreek

Advertisements
10 Kommentaar leave one →
  1. Augustus 20, 2012 10:11 nm

    Die eerste grot foto herinner voorwaar aan die (ek vermoed ek onthou reg) wat genoem word die Katedraal in die Cango-grotte by Oudtshoorn.

  2. Augustus 21, 2012 6:11 vm

    Baie mooi foto’s, dit klink asof jy taamlik baie plekke kon besoek [inpas] in die week wat jy gehad het. As mens op jou eie is, is tyd ook jou eie, wat dit ook op ‘n ander manier lekker maak. Jy laat als so ‘wonderlik’ klink/lyk met jou beskrywings/foto’s. Ons sien uit na deel 4!

    • Augustus 21, 2012 6:14 nm

      Ja, ek moet bieg dat dit eintlik seker so 10 dae was, eerder as ‘n week. Ek het nie SO baie verlof hier nie, so ek probeer maar altyd soveel moontlik inpas as ek reis. As ek terugkom van vakansie af, het ek gewoonlik nog ‘n vakansie nodig! 🙂

  3. mockajava permalink
    Augustus 21, 2012 3:48 nm

    Absoluut die moeite werd om die grotte te besoek.

  4. Augustus 23, 2012 3:01 vm

    Baie interesant 😀

  5. Augustus 27, 2012 5:16 nm

    Ek het hierdie inskrywing baie geniet Boer. Jy het nou maar een maal ‘n manier om iets te vertel, “Oral drup water geduldig en ween die rotse nuwe formasies tot lewe.”. Jy beelde met jou woorde wat enige dag so goed soos jou foto’s is. Gepraat van foto’s, ek hou van wat jy gedoen het met die brug, die dag en nag foto.

  6. Augustus 29, 2012 5:27 nm

    Dankie, Reinhardt! Ek poog altyd om kreatief met die taal om te gaan en as dit werk, is ek verheug.

Trackbacks

  1. Padlangs deur Korea: Deel IV: Hoe ek die Wêreldtentoonstelling oorleef het met die hulp van Litause bier « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: