Skip to content

Padlangs deur Korea: Deel IV: Hoe ek die Wêreldtentoonstelling oorleef het met die hulp van Litause bier

Augustus 29, 2012

Ek het onlangs my verlof gebruik om ‘n omvattende padlangse reis deur Suid-Korea te onderneem. My doel was oa om kleiner en minder bekende plekke te besoek en te bekyk. Hierdie is die laaste in die reeks, waarin ek my foto’s en avonture deel.

padlangs4

Na ‘n tydjie in die luilekker kleindorpse wêreld van Danyang, tref Seoul se mallemeule van mense my soos yswater in die gesig (min het ek toe geweet wat in Yeosu op my sou wag!). Soos ek voorheen verduidelik het, is die stad ‘n monster, en nog meer so in die middel van die warmste somer in byna 20 jaar. Maar, dan moet daar ook bygevoeg word dat daar ‘n menigte oulike plekke is om in Seoul te besoek. Hierdie keer het ek my kort tydjie in die stad egter eksklusief aangewend om ou vriendskapsbande te vernuwe en nuwe bande te smee. Daarom was dit effe minder gejaagd en inderdaad baie aangenaam. Soveel so is die toeloop van Suid-Afrikaners deesdae na Korea, dat daar nou ook reeds ‘n Suid-Afrikaanse restaurant is, wat smullekker skaaptjoppies en boerewors bedien, asook biltong verskaf. Ek het my omtrent oorvreet!

frame677b49c0894adab11aaf8eebd79a6a96d7ff31db

Maar hierdie inskrywing gaan nie oor Seoul nie, maar wel oor die Wêreldtentoonstelling in Yeosu waarheen die blitstrein my vervoer het vanaf Seoul. Yeosu is eintlik ‘n pragtige kusstad wat ek reeds vantevore besoek het en ek wou nog altyd weer gaan. Bykomend hierby, natuurlik, was die aantrekkingskrag van al die interessanthede, opvoerings en ervaringe wat so ‘n Wêreldtentoonstelling bied, aangesien ek nog nooit vantevore een bygewoon het nie. Lank reeds voor die tyd het my Koreaanse kollegas wat dit reeds besoek het, vir my gesê: “many people, many people“, maar ek het maar aangeneem dis “many people“, soos dit maar gewoonlik in Korea oorbevolk is met enige openbare gebeurtenis. Maar niks op aarde kon my fisies of geestelik voorberei wat in Yeosu op my gewag het nie…

frame94fefe928d01239a7d609baa4b126e70acfd89f7

Ek was al by groot nasionale en internasionale sportbyeenkomste, ek was al by musiekkonserte van internasionale kunstenaars en ek was al by baie openbare geleenthede in Korea, maar die dag by die Yeosu Tentoonstelling sal afgaan in my lewensgeskiedenis as die dag wat ek die meeste aantal mense ooit saam beleef het op een plek (ek sou later uitvind dat soveel as 150 000 mense die spesifieke dag die Tentoonstelling besoek het). Ek kan maar net ‘n paar foto’s wys en in woorde die ervaring probeer oordra, maar dis baie moeilik.

framecea42eb1b1bd667cdd19e7a6ae88734560e51ef8frame1d3a82260ebce136abac341c9564b41601a3799e

Die beste vergelyking wat ek kan tref is dit: dink ‘n bietjie daaraan hoe lyk dit as jy ‘n miernes oopskop? Wel, daar by Yeosu is ‘n miernes oopgeskop en dit was ‘n miernes van massas en massas stampende en stotende mense, wat almal deel van die aksie wou wees. Onder normalige omstandighede sou dit vir my ‘n beproewing gewees het, maar in die ongeveer 35 grade se uiters bedompige somerhitte, was dit in wese ‘n vorm van masochisme om die Tentoonstelling te besoek. Van die foto’s is miskien mooi en dit lyk na ‘n prettige ervaring, maar laat ek dit duidelik stel dat daar agter die kamera, driekwart van die tyd ‘n natgeswete, nors en swetsende man was.

framed187819c61d7f18a98c136c73ba38ccdef8544d9framec99291db18ccbd583be412feaed3a76af12bac50

frame8f7e3cea83147d426461d1865c15c46d72d883f1

frame7c4fb4b1c45aee4c1256468ce754c098be58d578framedc61cea986fc23822b7f31881847c8fb89bbb65b

Die geboue en uitleg van die Tentoonstelling was baie indrukwekkend en futuristies. Daar was regtig baie meer as honderde dinge om te doen en te sien en jouself aan te vergaap, maar dis nou te sê as jy iemand is wat nie omgee om keer op keer in ellelange rye te staan en tyd mors nie. Net om een van die gewilde nasionale of ander pawiljoene te besigtig, het maklik ‘n uur se ry staan gekos. Maar dis nog niks…die gewildste attraksie by die Tentoonstelling (die reuse, nuutgeboude akwarium – die grootste in Korea) het enige tyd van die dag tot 4 ure se wagtyd in die ry beteken.

frame0cc31d2d83dee0e1777c1549a112185e5b6c9557

Kyk, ek doen van nature nie rye nie en het nog nooit nie. Ek is die ou wat by die bank aankom en my sake laat oorstaan vir nog ‘n dag as daar enigsins meer as 10 mense voor my in die ry is. Een van my swakste eienskappe is dat ek ongeduldig is en dit haat om te wag. Vir my om in die ongelooflike hitte te staan en wag, is net soveel erger. Voeg hierby die feit dat ek reeds in Danyang in ‘n akwarium was (veel kleiner, toegegee, maar tog), en daar was nie ‘n manier wat ek bereid was om etlike ure in ‘n ry te staan vir die akwarium nie, al het daar nou ook ‘n skaars witdolfyn of twee daarbinne rondgeswem. Om die waarheid te sê kan ek aan niks dink waarvoor ek onder sulke omstandighede in so ‘n ry sal staan nie. Selfs al was dit nou die Pous in ‘n Madonna uitrusting, wat Sarie Marais sing !

framea1cf1c81b5e135bf21871af5e11933306667c909framebc08952c26e760a660ef154dd56248afcf5e85f4

En dis nie net die rye nie, maar ook die malende mense tussenin, soos by die toilette, eetplekke en selfs die muntoutomate waar jy kon drinkgoed koop (dit was so warm en daar was soveel mens dat hierdie masjiene later byna almal leeg was). Dis net duisende, duisende, krioelende mense waar jy kyk. Ek wou vlug en toe vlug ek die enigste plek in, waar daar op daardie stadium glad nie ‘n ry was nie. En dis nou net hier waar die Litause bier in die storie verskyn. Nou is daar dalk dadelik ‘n paar lesers wat frons en sal vra: “Watse bier?”.

mosaic64baef2c4f544465248cccaae273f31a6d100039

mosaic3401498c069575115e7b40bf6861b5126ccae1a1

Litause bier is afkomstig van die land Litaue. Litaue is een van die drie Baltiese state (die ander te wete Estland en Letland) wat van die eerste state was wat uit die greep van die destydse Sowjet-Unie ontsnap het met die val van kommunisme. Soos ‘n drenkeling het ek die pawiljoen binnegestap. Ek was vriendelik en hulpvaardig gegroet deur die Litause verteenwoordigers en beïndruk met die rustige, goue glans waarin die pawiljoen gehul was. Maar ek het gewonder wat hulle uitstal. Al wat ek kon sien, was sulke ronde paaltjies, waarby die mense verby loop en kort-kort stilstaan en dan hulle oog daarteen druk. Gou sou ek self uitvind dat hulle deur vergrootglase kyk na amber* (goue stene gevorm deur die gefossileerde hars van naaldbome, waarin allerhande prehistoriese goggas en plantmateriaal vasgevang is). Blykbaar kom hierdie pragtige en unieke edelstene in Litaue en die Baltiese area redelik algemeen voor. Baie van die ander lande se pawiljoene het ekstravagante aanbiedings en reuse beelde en uitstallings gehad. Maar of een of ander rede was hierdie redelike eenvoudige uitstalling van stene sekerlik die interessantste wat ek gesien het.

frameede0e78b27ac625f18f0a934774dd539e400cff9

Net toe ek naby die uitgang is en ek die klein kroegie in die hoek sien, (waar daar niemand sit nie!) en die yskas vol koue mout, het ek dadelik geweet dat ek my toevlug gevind het. Maar meer as dit. Behalwe vir die heerlike, yskoue Svyturys Ekstra Lager (ek kan nou nog nie die naam uitspreek nie), was daar ook die lekkerste verouderde Litause kase om te proe en te eet. Boonop was die dame wat my bedien het baie vriendelik en het haar kennis oor haar geboorteland onselfsugtig met my gedeel. Voor ek by die Litause pawiljoen ingestap het, sou ek ‘n tydjie geneem het om die land op ‘n kaart op te spoor, maar na die tyd was ek ‘n bekeerling. Interessante klippe, ‘n pragtige kuslyn, ou kastele, ‘n ryk geskiedenis, wonderlike bier en heerlike kaas. Klink na my tipe bestemming!

framec52ce1300be2f18e1696f336f2a136d2730e6c40framefb30006c2dc8c68a781cfa3059f7314c2294d129

Die bier en kaas was net die kombinasie wat ek nodig gehad het. Want, hoewel ek na die tyd nou nog glad nie kans gesien het vir die akwarium nie, was ek in beter luim en bereid om van die korter rye aan te durf om darem so paar van die pawiljoene te besoek. Dit was ‘n lekker ervaring om so om die wêreld te reis, terwyl jy in een plek bly. So het ek baie van kleiner en onbekender lande geleer waarvan ek nie vroeër veel geweet het nie en soveel plekke ontdek waarnatoe ek graag nog wil reis.

frame7009a470373c8f9c86e3e8e1a2ae3ab9a6c650fb

Wat egter opvallend was, is hoe die aard en omvang van die lande se pawiljoene ‘n absolute weerspieëling was van hoeveel geld spandeer is. Egipte se pawiljoen, waarvan ek soveel verwag het, was regtigwaar uiters teleurstellend en mens kan sien die revolusie in die land het sekerlik ‘n invloed gehad op wat hulle op die ou-end spandeer het.

mosaic0c1856c8d6ab37cc23dbf2d044a91ba143539b44

mosaic8e3c6eb86d17eea87f21f357277284645120ce59

Daarteenoor was die pawiljoene van meeste ander Asiese lande, die Amerikaanse lande (Noord en Suid), Midde-Oosterse lande en Europese lande meestal indrukwekkend en leersaam. Switserland se pawiljoen het my veral beïndruk en hulle het waarlik ‘n stuk gletserys al die pad van die Alpe saamgevlieg om die ouderdom van die gletsers te vertoon. In die hitte was dit wonderlik in die vrieskamer, waar ons saamgedrom het en na die ys gestaar het, soos iets uit ‘n wetenskapfiksie rolprent.

frameb2fbe34acd3f03874625ef4a507d205f154dadac

Frankryk se pawiljoen, waar robotvisse rond geswem het, was eweneens indrukwekkend en so ook die kunstige Filippynse pawiljoen en die van Indië. Denemarke se pawiljoen het seebranders van Lego gebou, In die Belgiese pawiljoen, was Kuifie te sien, terwyl die pawiljoene van Kambodja en Thailand ook vele interessanthede opgelewer het. By baie van die ander gewilde pawiljoene, soos die van Australië, Israel, die VSA en Rusland, was die rye net eenvoudig te lank en ek het nie daarby uitkom nie.

mosaic0f0e2015017080413ee286617721d39fedf29481

framebba30eda25d20de1878a3ee6a62b4a93c75aacc3

mosaicee2dd9b3da89c92abdd10f42950a1716fa1f6627

Die enigste Sub-Saharaland wat ‘n volwaardige pawiljoen gehad het, was Nigerië, wyl baie ander Afrikalande, saam met klein eilandnasies en sommige sentraal-Asiese state, slegs ‘n reeks klein stalletjies gehad het. Buiten die Maghreblande, het al die Afrikastalletjies egter presies dieselfde gelyk: Maskers, maskers, houtgekerfde diere, nog houtgekerfde diere, nogmaals houtgekerfde diere en ‘n paar beelde uit klip. Wat ook opmerklik was, was dat meeste Afrikastalletjies dit ook goed gedink het om groot portrette van hulle leiers te vertoon, wat soos grootboet alles gade slaan.

framed3932f5a726e8bcd1ae4aed457141653ba78ae14framec65fe4f5ee22b16e3039a2d3ecf2f61670e40231

Sommige Sentraal-Asiese state het dieselfde gedoen en dit was nogal maklik om te sien watter van die verteenwoordigde lande by die Tentoonstelling nie demokrasieë is nie. Lewensgrootte portrette van die Sentraal-Afrikaanse Republiek se diktator, Francois Bozize, en oa die Azerbeidjanse diktator, Ilham Alyiev, was omtrent die prominentste deel van hulle onderskeie uitstallings. My vraag is nou net, as Suid-Afrika ook ‘n stalletjie of pawiljoen gehad het (ek weet nie hoekom Suid-Afrika nie verteenwoordig was nie), sou Jacob Zuma se gesig dit ook oorskadu het?

frame8165cc5aadbd3054bd1b2b0e8d8781a46092e270

Op die ou-end was daar net te veel interessanthede wat ek gesien en beleef het om alles hier neer te skryf. ‘n Hoogtepunt was die ligvertoning die aand met die hulp van lasers, vuurwerke en waterfonteine en die groot wiel in die see, wat hulle “The Big O” gedoop het. Ongelukkig was daar soveel mense dat ek net-net ‘n klein indrukplekkie kon vind, ver van die aksie af. Maar ten minste het ek dit beleef en kon ek hier en daar ‘n gangbare kiekie neem.

frame869c2a1fc241cb04f3c00783b578082e66092261

Die geboue, argitektuur en uitleg van die Tentoonstelling het my baie beïndruk. Een van die mees opvallendste eienskap was die geronde dak van die hoof deurloop waarop duisende LED skerms aangebring is, om sodoende ‘n reuse televisie te vorm. Op hierdie skerm het oa beelde van swemmende seelewe geflits. Dit was ook ten tyde van die Olimpiese Spele en die Koreane het kon kop agteroor hulle atlete se deelname volg. Daar was ook baie waterfonteine (water was die onderliggende tema van die Tentoonstelling) en die kinders het omtrent baljaar in die fonteine – van daglig af tot dat die fonteine feeagtig verlig was in die aand.

frame86600a1cdd9106c59f0475563c26195a87534031framef4eec3f25f25d03f0173672110b7fbd1d64513b1

frame57006bfe439cc6c9d4f9ca5f210b5a64dd9eb47d

frame86df9affc14dbd1a7990ab3cccafc7dba573f939framecda9ff65031b8d2df15e1a6d6309a7fe0745a8b5

Daar was plesierbote en popkonserte, poppe, kreature en allerhande ander eienaardighede. Ek was ‘n volle dag by die Tentoonstelling, vanaf 9 uur die oggend tot 10 uur die aand. Maar agv van die massas mense, kon ek seker maar net ‘n kwart beleef van wat die Tentoonstelling gebied het. Maar was dit nie vir daardie energiewekkende, koue Litause bier nie, het ek miskien nie eens daardie kwart beleef nie, wat nou nog te sê van oorleef!

* Ook genoem “barnsteen”.

Advertisements
12 Kommentaar leave one →
  1. Augustus 30, 2012 12:57 vm

    Oe, dankie, DIT was nou lekker leesstof. Die Tentoonstelling en die tegnologie rondom dit klink fantasties. Ek dink die magdom mense sou my mal gemaak het. (‘n Vragie: sou jy vir Bruce Springsteen of Mike Scott in die akwarium-tou gestaan het? 🙂 )

  2. Augustus 30, 2012 2:35 nm

    As daar nou iets is wat my van vriendelik na duskant massamoord dryf is dit ‘n samedromming van mense en lang rye en bedompig en warm en alles wat jy hier gelys het 🙂

    Wat ‘n absolute fees om te kyk deur jou skrywe!

    • Augustus 31, 2012 6:49 nm

      Dankie, Vlooi! Een van daardie ervaringe wat net in retrospek lekker is. Amper soos die destydse “army”. ‘n Lekker ervaring wat jy nooit wil oorhe nie!

  3. Augustus 31, 2012 4:19 vm

    Dit klink en lyk indrukwekkend. Ek stem saam oor die massa-samedromming, ook nie vir my nie- veral nog met die hitte daarmee saam. Dit klink vir my soos ‘n P-‘n-P op ‘n einde van die maand-Saterdagoggend, waentjies wat stamp-en-stoot. 🙂 Pragtige foto’s, weereens!

  4. Augustus 31, 2012 3:00 nm

    Massas mense, lang rye en bedompige hitte klink na ‘n goeie resep vir irritasie en ‘n tamheid van epidermiese proporsies!! Bly jy kon darem so ‘n koue lafenissie en ‘n stil hoekie raakloop!! Dankie ek het ook heerlik saam gereis deur al jou foto’s en vertellinge!

  5. September 1, 2012 3:35 nm

    Ek kon net nie ophou lees nie. Ek is so bly jy het die bier ontdek, anders was hier nie nou so n fantastiese blogport nie.

  6. September 2, 2012 6:38 nm

    Bly jy’t dit geniet!

  7. September 3, 2012 3:50 vm

    Pragtig Boer. Sal nie sê ek wens ek was daar nie. Massas Mense is nie my ding nie.
    Het kom inloer om te sien of jy nog leef. Ek sien op TV julle word erg deur storms geteister?
    Nou sien ek jy vrek van die hitte!

    • September 6, 2012 5:42 nm

      Nee, hierdie was voor die tifone hier verby is. Sedertdien is dit genadiglik koeler en ek wil dit waag om te glo dat die mooie herfs gearriveer het.

  8. September 11, 2012 8:39 nm

    Was dit nie vir jou nie Boer, het ek seker nooit gehoor van Litaue, Estland of Letland nie! 🙂 Baie interessante beskrywing en foto’s!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: