Skip to content

Bofbal en biltong in Busan

September 10, 2012

P8182774

By ‘n vorige geleentheid het my poging om ‘n bofbalwedstryd by te woon, ontaard in ‘n skouspel van vlees en metaal. Hierdie keer het ek egter wyslik ruim voor die tyd kaartjies gekoop en kon betyds en rustig by die wedstryd opdaag en sitplek inneem saam met my metgeselle. Voor die wedstryd in aanvang neem, was ons reeds ingerig met koue bier in die hand en ‘n sakkie lekker beesbiltong (met dank aan my brawe muil wat dit onwettig die land binnegesmokkel het en aan my verskaffers in Suid-Afrika!).

P8182769

Ek het in my vorige inskrywing so bietjie agtergrond gegee oor die Koreaanse bofballiga en die gewilde span van Busan, genaamd die Lotte Giants. Hulle tuisveld is die imposante Sajikstadion en hulle ondersteuners is bekend in Korea vir hulle entoesiastiese en raserige ondersteuning van die tuisspan.

P8182807P8182811

Nou kyk, entoesiasties en raserig was dit beslis in die vol stadion. Soos by enige groot sportgebeurtenis, word mens sommer onwillekeurig meegesleur deur die gees van die geleentheid. En was daar nou gees! Dit het my herinner aan ‘n groot intervarsity en die feit dat daar so baie studente na die bofbal kom kyk, dra seker by tot die assosiasie. Nou moet ek erken dat dit my eerste bofbalwedstryd wat ek ooit in my lewe bywoon (ek het nog nooit gehou nie van “daardie Amerikaanse krieket”, soos sommige mense dit noem). Ek kan dus nie hier sê of dit maar dieselfde is as in die VSA of bepaald anders nie. Maar ek dink tog die optrede en eienaardighede van die ondersteuners is nogal uniek hier in die Ooste.

P8182778

In die eerste plek, duur die spel self ongeveer seker so 2 en ‘n half uur, maar die uitgerekte vertoning vol tierlantyntjies laat die aangeleentheid maklik ‘n uur of wat langer duur. Want dis nie net bofbal wat gespeel word nie. Elke nou en dan, so tussen kolfbeurte, dan word die spel eers gestop vir een of ander prettige aktiwiteit wat plaasvind en op die groot skerm gebeeldsend word. Daar was so baie verskillende aktiwiteite so tussen die spel deur, dat ek nie eens weet of ek als lekker kan onthou nie.

P8182786P8182781

Eers is dit manne wat ongelooflike toertjies in opgestopte gelukbringerpakkies uitvoer; dan is dit die skrapsgeklede, dansende meisies wat suggestiewe passies uitoefen; volgende is dit die een of ander gewilde media-persoonlikheid wat sing of grappies maak en so gaan dit aan. Maar sekerlik die onverwagsste tusseninner (soos ek dit nou maar sal doop), was die “Kiss Time”. As hierdie woorde op die groot skerm flits, dan val die kamera lukraak op enige paartjie in die stadion wat dan mekaar moet soen, sodat almal dit op die groot skerm kan aanskou. En die kamera bly op hulle tot hulle soen. Dit is skreeusnaaks om die mense se oorstelpte reaksie te sien as hulle hul gesigte op die groot skerm sien en besef dis nou sulke tyd. Only in Korea

P8182794P8182800

Maar dit was nou nie die snaaksste gebeurtenis van die aand nie. Dit het eers veel later gekom, toe baie van die skare nou alreeds ‘n paar biere agter die blad het en luidrugtig hul span ondersteun. Dan word die vullissakkies deur stadionbeamptes uitgedeel aan al wat ondersteuner is. En my eerste reaksie: dis nou prakties! Plaas daarvan dat die mense die stadion bemors, kry elkeen ‘n sakkie vir hulle vullis. Die volgende oomblik sien ek hoe al die mense om my begin sakkies opblaas en om hulle kop bind, asof dit die doodnatuurlikste ding in die wêreld is om te doen! Daar sit almal skielik met opgeblaasde vullissakkies op hulle kop. En ek lag omtrent soos die trane loop, terwyl ek my eie sakkie op my kop probeer bewerkstellig. Ek sou later uitvind dat dit inderdaad is wat Giants-ondersteuners doen wanneer hulle by Sajikstadion gaan bofbal kyk! Dis blykbaar al ‘n baie ou tradisie. (ek kan byvoeg dat die sakkies wel later – na die wedstryd – ook aangewend is vir rommel)

P8182823

En boeta! As daardie sakkies nou eers op die kop is, word daar met nuwe entoesiasme gesing, geswets en geskree. Deur die hele wedstryd word daar spontaan opgestaan en allerhande ondersteunersliedjies gesing en krete geskree en arm om die skouer gewieg en dan weer gesit en dan weer op die voete en daarna die een Meksikaanse golf na die ander. Almal het ook plastiekhande wat vingerwys of sulke opgeblaasde platiekstafies wat teen mekaar geslaan word en woes rondgeswaai word ter ondersteuning van die span. Soveel gees het ek lanklaas beleef. En omdat jy nie regtig die reëls van bofbal so goed ken nie, spring jy ook maar op en skree as die ander skree en klap saam hande en waai die plastiekvinger, al weet jy nie altyd waarvoor nie. Die hele ervaring was amper soos die as jy die eerste keer as gereformeerde ‘n charismatiese kerkdiens bywoon – jy doen maar saam wat almal doen en geniet die chaos. Maar so met die spel saam, begin jy min of meer agterkom hoe dinge in mekaar steek en dan raak dit interessanter en begin jy ook weet wanneer om te skree en wanneer om stil te bly.

P8182815P8182820

Daar is ook ander eienaardighede, soos byvoorbeeld die kolfjoggie. Nou, in tennis kry mens die baljoggie, maar hierdie petite dametjie in haar einabroekie, kompleet met bofbalhelmet op, hardloop elke keer met sulke kort treetjies op die diamantveld as die kolwer begin hardloop en die kolf doer slinger. Want sien, dis mos nou nie soos in krieket wat jy vashou aan die kolf nie. Nee, as jy geslaan het, dan slinger jy die kolf weg en hardloop vir eerste bof. Nou neem ek aan die dametjies vervul maar die rol wat ander dames in die bokskryt vervul, so tussen rondtes – dws minimum funksionaliteit en maksimum erotiek. Daar is ook spelers wat met ‘n Mini kabriolet by die kolfkampie afgelaai word, al is die spelerpawiljoen omtrent net tien tree agter die kolfkampie. Baie vreemd inderdaad.

P8182803

Aan die einde van die dag, hoewel effens surreëel, was dit seker van die lekkerste ervarings wat ek in ‘n lang tyd gehad en verseker opwindender as ‘n motorskou. Jy lag vir die mense en hulle sêgoed, jy juig saam, sing saam, dans saam en geniet dit net sommer bondeloos. Boonop was dit ‘n baie spannende wedstryd (het ek eers na die tyd besef) en het Lotte Giants naelskraap met 5-4 gewen in die 9de beurt, hoewel hulle vir lank 1-4 agter was. Toe die laaste kolwer die bal moker vir ‘n tuislopie en al die ander Giants-spelers hardloop op die veld en hulle spuit hom met vonkelwyn of iets soortgelyks (ek kon nie op die afstand sien nie), toe dink ek hulle is darem nou opgewonde om die voortou te neem, maar hulle moet maar nie te vroeg vier nie. Die volgende oomblik staan almal op en begin uitgange toe skuifel en toe eers besef ek dit was die wenlopie daardie. Nodeloos om te sê, my plan om voor die einde van die wedstryd te loop om die menseverkeer te mis, het toe nooit gerealiseer nie en ‘n stampvol moltrein was my voorland.

P8182799

Ek kry nog steeds nie vat aan bofbal nie en dit sal ook seker nooit een van my gunsteling sportsoorte raak nie. Maar ek moet sê dit is ‘n baie uniek opwindende ervaring en ek sal enige tyd weer vir Lotte Giants gaan skree. Teen die ekwivalent van ongeveer R70 ‘n kaartjie vir ‘n aand propvol vermaak, is dit ‘n winskopie!

Advertisements
16 Kommentaar leave one →
  1. September 10, 2012 6:27 nm

    Hierdie gaan ek later weer rustig sit en lees met ‘n glasie rooi. Vir nou het ek ‘n much-needed lag ingewerk vir die sakkies op die kop!! Absoluut prysloos op hierdie Maandag!!

  2. September 10, 2012 10:19 nm

    Stem saam. Daardie sakkies op die kop is uniek.

  3. September 11, 2012 2:19 vm

    Rustig agteroor met ‘n glasie droog soos die Kalahari se rooisand Chardonnay in die hand is hierdie skrywe absoluut prysloos BiB !!!

    Voorwaar ‘n winskopie teen R70. Korea is nou amptelik op my bucketlist gesit. Al is dit net om bofbal met oranje opgeblase sakkies op die kop met my eige oge te kom kyk! 🙂

  4. September 11, 2012 8:34 nm

    Baie interessant! (en ek is bly jy kon darem weer ‘n bietjie biltong kry ook, mens mis maar die belangriker goedies in die lewe as dit nie meer so maklik bekombaar is nie!)

    • September 11, 2012 8:46 nm

      Nee kyk, as mens so min daarvan kry, is dit ‘n lekker bederf!

      • September 11, 2012 8:48 nm

        As dit te erg rak moet jy maar hier by my ‘n draai kom maak, heelwat nader as SA en ons het darem ook biltong! 🙂

      • September 12, 2012 7:37 nm

        Is jy regtig nader aan SA as ek? Ek vermoed vlugtyd is ongeveer dieselfde? So 18-20 uur, of miskreken ek nou?

  5. brieweuitdievreemde permalink
    September 12, 2012 12:39 vm

    Vir my was daar altyd ‘n tipe onskuldigheid aan die manier waarop Koreane dinge ‘en masse’ doen asook hul seksualiteit ‘express’? Ek weet nie of ‘onskuldigheid’ die regte woord is nie, sukkel om dit lekker uit te druk. Daar was nooit vir my iets ‘threatening’ aan die dinge nie, nie soos dit soms hier in ZA gaan nie.

    Klink asof jy die aand baie geniet het!

    • September 12, 2012 7:36 nm

      Ek weet presies waarvan jy praat. Ek noem dit kinderlik. Die Koreane (en ook die Japannese) is vir my baie keer kinderlik (wat natuurlik anders is as kinderagtig). Hoewel wereldwys, is daar vir my ietsie van kindwees in hulle geaardheid. En dis nogal…wel…”cute”.

  6. September 14, 2012 5:01 vm

    LOL! dit was nou erg snaaks!

Trackbacks

  1. Spaanse ‘bulgeveg’ « hoendersop
  2. Die reuk van rubber op teer en twee blitsige bulle « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: