Skip to content

Obama vs Romney

Oktober 4, 2012

Anders as in Suid-Afrika, geniet burgers in die VSA (asook in oa Frankryk, Suid-Korea esm) die voorreg om hulle land se leier direk te verkies by die stembus. Hierdie verkiesing is dan ook gewoonlik veel belangriker as die parlementêre verkiesings in genoemde lande.

Barack-Obama-12782369-2-402Mitt Romney by Gage Skidmore 4 (x)

Ek het vier jaar terug die Amerikaanse presidentsverkiesing nougeset en met entoesiasme gevolg en verskeie kere daaroor geskryf. Dit was ‘n baie interessante stryd. Eers in die reeks voorafverkiesings (veral die stryd tussen Barack Obama en Hillary Clinton om die Demokratiese nominasie) en daarna die stryd tussen Obama en John McCain. Hoewel verskillend in soveel opsigte, was beide waardige kandidate. Van die begin tot die einde het die verkiesing my geboei.

Hierdie jaar is dit weer sulke tyd in die VSA, maar my entoesiasme is so laag, dat ek amper nie eens enigiets wou skryf nie. Ek dink dit het veel daarmee te doen dat die Republikeine daarin geslaag het om ‘n kandidaat te kies wat nie juis inspirerend is nie (Mitt Romney) en daarna het Romney die verkiesingsveld nog verveliger gemaak deur die voorspelbare Paul Ryan as vise-presidentskandidaat te kies. Ek sal nie een van die twee se name en die woordjie “charisma” sommer in dieselfde sin gebruik nie. Maar as mens na die dollars kyk, is dit heeltemal te verstane dat Romney (wat vier jaar terug teen McCain die benoeming verloor het) die kandidaatskap gewen het. Dit vertaal nie so lekker in Afrikaans nie: He simply outspent them! ‘n Tekort aan geld het die man nie en hy het meer uitgegee vir sy Republikeinse veldtog as al die ander Republikeinse kandidate saam. Maar dit is steeds vir my vreemd dat in ‘n land van 300 miljoen mense (en kom ons sê, argumentsonthalwe, ongeveer helfte is Republikeine), Mitt Romney nou wraggies die beste is waarmee hulle vorendag kan kom.

Maar wat het ek teen Romney? Wel, niks werklik nie. Dis net vandat ek hom in die eerste keer in 2008 gesien debatteer het, het hy nie opreg oorgekom nie. Die man het eenvoudig ‘n tipe selfvoldaanheid wat mens dikwels by mense kry wat te veel geld het as wat goed is vir hulle. Of in goeie ou Afrikaans: Hy is ‘n regte jansalie. Sy hele houding en liggaamstaal weergee ‘n aura van iemand wat effe neerkyk op andere en ‘n minagting het vir die wat nie so materieel suksesvol is soos hyself nie. Romney is welsprekend, seepglad, netjies en afgerond, maar net te veel so…wanneer hy vir my glimlag, sal ek tog net seker maak daar is nie ‘n mes in die ander hand nie. Teenoor Romney, kom Obama meer opreg en nederig voor – iets wat ek glo die kiesers ook so interpreteer. Die feit dat Romney, dikwels voet-in-die-mond uitsprake maak wat hierdie narratief help versterk, diskrediteer sy geloofwaardigheid en die Republikeine se kanse selfs meer.

obama

Maar afgesien nou van sy persoonlikheid en die indruk wat hy skep, ril ek ook as ek na Romney se uitsprake itv buitelandse beleid luister. Asof dit nie genoeg is dat die Obama-administrasie dit goeddunk om rekenaarspeletjie-gewys al wat ‘n verdagte is eenvoudig met robottuie uit te haal nie (en talle burgerlikes in die proses dood), kan ‘n Romney-bewind daadwerklik lei tot oorlog in die Midde-Ooste. Dit is veral Romney se naby verhouding met die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, wat kommerwekkend is. Irak, Afghanistan, Somalië, Pakistan en Jemen is blykbaar nie genoeg vir Romney nie. Iran en sommer Sirië op die koop toe, moet getakel word.

Maar natuurlik het Romney (‘n suksesvolle besigheidsmagnaat) dalk beter ekonomiese kredensie as Obama en mens vergeet gou dat die ylende ekonomie kiesers in die VSA se grootste bekommernis is en nie buitelandse beleid nie. Wat my by die rede bring hoekom Obama die risiko loop om die verkiesing te verloor, al is sy teenstander oënskynlik die swakker kandidaat.

Veral die Amerikaanse middelklas trek swaar en die ekonomie is nog nie naastenby waar dit moet wees in Amerika nie. Wonderwerke is van Obama verwag in die verband en toe is daar besef dat hy nie ‘n messias is nie, maar ook net politikus en mens. Dus is ‘n hele klompie mense ontgogel en dalk bereid om hulle stem te draai na die Republikeinse kant.

Tweedens, is daar ‘n felle anti-Obama gevoel onder die Republikeine en mens kry baie keer die idee dat hulle ook nou nie werklik in Romney glo nie, maar ‘n ABO-mentaliteit het – Anyone But Obama. Dws hulle stem is teen Obama en nie soseer vir Romney nie. My persoonlike sentiment is dat veel van die anti-Obama gevoel, gekoppel kan word aan latente rassisme onder gedeeltes van blanke Amerikaners. Hoe dit ook al sy, ek dink om teen iemand te stem eerder as vir iemand, is werklik ‘n powere rede om ‘n stem uit te bring (soos in SA ook die geval is).

Mitt-Romney-241055-3-402

Ek is nie ‘n Amerikaanse burger nie, nie woonagtig in die VSA nie en het ook geen affiniteit met of die Republikeine of Demokrate nie. As ek egter wel as Amerikaner moes stem in die verkiesing, sou ek my stem vir Obama uitbring. Gegewe die moeilike omstandighede waaronder hy aan bewind gekom het, glo ek nie hy het sleg gedoen as president nie. Ek twyfel of Romney of enigiemand anders veel beter sou gedoen het die afgelope vier jaar. Realisties gesproke, behoort Obama op 6 November ‘n mandaat te ontvang vir nog vier jaar in die Withuis, maar met die Amerikaanse kiesers weet mens ook nooit…

NS: Gegewe my felle kritiek teen Romney in hierdie meningstuk, wil ek net noem dat ek nie net Obama nie, maar ook Romney, Paul Ryan, Joe Biden en menige ander Amerikaanse politici met ope arms en ‘n breë glimlag sal verwelkom en ondersteun as president van Suid-Afrika, ipv Suid-Afrika se huidige onbeholpe en onbevoegde president.

Advertisements
22 Kommentaar leave one →
  1. Oktober 4, 2012 9:51 nm

    Lekker om ‘n opsomming te kry van die situasie, want alhoewel die uitslag belangrik is, grens al die “posturing” en politiek en die op-en-af van die die sensusse (polls) aan vervelig. Ek stem saam dat Romney as ‘n diplomaat nie baie beloftes inhou nie. Die Suid Afrikaanse politieke situasie is ook nie ‘n model om op te roem nie.

  2. Oktober 5, 2012 12:04 vm

    Het jy gisteraand se debat gekyk? Obama was pateties asof hy nie daar wou wees nie. Amper senuweeagtig. Romney daarinteen, baie goed en factual, to a degree.

    Nietemin, goeie opsomming in jou artikel. Maar vanjaar is moeilik om te gaan stem want albei is maar so-so. Obama het gans te veel van sy politiese krediet gespandeer op Obamacare (nie baie kiesers wil dit he nie) en toe hy die meerderheid gehad het in die eerste 2 jaar het hy sy tyd verspeel om meer belangrike wette deur te voer, i,e, immigrasie reform, tax reform, etc. Maar ‘n baie belangrike aspek wat hy wel reg gedoen het is om Amerika nie in nog ‘n oorlog op Chineses kredietkaart in te doop nie. En daardie feit mag dalk die enigste rede wees hoekom ek weer vir Obama sal stem. As Romney persident word verwag ek Amerika sal binne 6 maande weer in ‘n oorlog betrek word.

    Albei se idees om die deficit te verminder is pateties. Romney se fuzzy maths maak nie sin nie en hoekom hy nog 2 triljoen wil spandeer op verdediging gaan my verstand tebowe, en Obama doen te min om dit te verminder. Actually, Obama het 1 triljoen elke jaar by gelas. Die man is ‘n groot geldvraat en dit, meer as ‘n gevoel van rassisme teen Omaba is wat baie Amerikaners, veral die finansiele konserwatiewes dwars in die krop steek. En albei gee die middelklas Amerikaner ‘n gly. Hulle is die grootste groep belastingbetalers en hulle word totaal en al geignoreer. Maar soos jy ook se, Romney se eie Republiekeine is nie mal oor hom nie. En Ryan, Romney se running mate is as ‘n kandidaat so aantreklik soos ‘n jellievis (of soos daardie grys noedels op ysblokkies wat jy eet in Korea, LOL).

    Persoonlik dink ek die hele verkiesingsproses is goed, maar gans te veel geld word gemors op verkiesings. Die bedrae wat hierdie jaar gespandeer word is belaglik. Dit wil lyk of Obama dalk 1 biljoen dollar gaan spandeer op die verkiesing. Dis maligheid.

    • Oktober 5, 2012 7:58 nm

      Bluegrass, ek is baie bly jy lewer hier kommentaar. My perspektief is maar geheel en al die van ‘n buitestaander. Ek dink as mens self al lank in die VSA woon, is mens baie meer sensitief vir kieserskwessies en die situasie aldaar. Dus glo ek jy maak baie geldige punte en vul my inskrywing goed aan. Ongelukkig het ek die debat gemis, want dit was in die vroee oggendure, plaaslike tyd. Maar dit wil my voorkom asof die konsensus is dat Romney vir Obama oorskadu het. Ek dink egter die volgende debat sal ‘n perd van ‘n ander kleur wees.

  3. Oktober 5, 2012 12:38 vm

    Jy dink Obama en John McCain was waardige kanidate, LOL!! Die verskil tussen die Republiekyne en Demokrate is soos variasies van toiletwater, n fynproewer sal onderskeid kan tref maar dis veiliger om van albei weg te bly. Ron Paul was die enigste politiekus wat my nog ooit opgewonde gemaak het, hy het onwrikbare standpunte gerugsteun deur n diep kennis van geskiedenis en ekonomie. Hy het hoopeloos te min geld gehad geen korporatiewe “sponsers” of misleidende boodskappe nie. Hy het n plan gehad wat daai land kon omdraai, m.a.w. hy het nie n kat se kans gestaan nie.

    Nee wat Amerikaners sal beter doen as hulle vir Al Capone kon stem:

    http://anargisme.wordpress.com/2012/09/17/mafia-beter-as-die-staat/

    • Oktober 5, 2012 8:01 nm

      Ek stem saam met jou oor Ron Paul. Maar iemand wat so beginselvas is, sal byna nooit ‘n kans staan in ‘n verkiesing nie, ne. Die dominansie deur twee partye in die VSA (aangevuur deur hulle korporatiewe borge) is nie goed vir demokrasie nie. Ek glo egter nog wel dat Obama nie ‘n slegte kandidaat is nie en dat McCain ook nie ‘n slegte president sou uitgemaak het nie.

    • Oktober 6, 2012 2:23 vm

      Amerika benodig eintlik ‘n sterk derde party om die eentoonigheid van links en regs te breek. Dis nogal snaaks dat die Libertarian Party nie sterker vertoon nie, want so baie mense is eintlik Libertarian in denke maar mentally kan hulle net nie oor die ding kom om vir iets anders as die status quo te ondersteun nie. Baie redes word aangegee, maar eintlik kom dit neer op Amerikaners wat bang is vir kansvat. Ron Paul was een van die beter kandidate met baie sterk Libertarian standpunte. Maar dis nie net min geld soos “kanwilsal” hierbo se nie, wat sy ondergang was nie, maar eerder openlike ondersteuning, wat sou gely het tot meer geld. Ken enige iemand die naam van die Libertarian party se presidensiele kandidaat? Gary Johnson is nie ‘n household naam nie.. Is hy deel van die debatte? Nee, want die kommissie wat die debatte reel en beheer bestaan uit net demokrate en republiekeine. Dit kan met reg gese word dat al die TV nuuskanale al die ander partye ignoreer en net op die demokrate en republiekeine toespits. So much for fair and balance.

      ‘n Derde party kan ook ‘n groot rol speel met die uitslag van ‘n verkiesing en ek wonder soms of dit nie ook ‘n rol speel by kiesers nie. Onthou Ralph Nader se vertoning in Florida in 2000 het gesorg dat Bush 43 wen en Ross Perot se vertoning in 1992 het veroorsaak dat Bush se vader stemme verloor het en Clinton het gewen.

      • Oktober 6, 2012 6:35 vm

        Hi Bluegrassbaobab jy het dit raak. Die probleem met demokrasie is almal mag stem oor wie se geld herverdeel gaan word, sowel as hoe dit herverdeel gaan word. Gesamentlik hiertoe word joernaliste as kenners voorgehou, die gevolg is dat jy permanente swak keuses sal sien. Dit is moontlik dal die Libertarian party oor tyd (generasie of twee) beter begin vaar.

      • Oktober 7, 2012 2:39 nm

        Dit is eintlik vreesaanjaend watter mag die media het…

  4. brieweuitdievreemde permalink
    Oktober 5, 2012 12:51 vm

    Interessant. Volg nie die verkiesing of VSA politiek nie, maar het in onlangse tye vaagweg bewus geword van heelwat ‘negatiewe’ artikels oor die Romney, bv. artikels waarin hy beskryf word as ‘n ‘wimp’ etc. (Ek lees dit nie, kyk net na opskrifte). Is hierdie bewuswording korrek? Is daar inderdaad heelwat negatiewe gevoel teenoor Romney in die VSA / internasionaal?
    Tweedens, wat se die mense wat vir Romney stem, hoekom is hy beter as Obama (behalwe nou vir die ABO-sentiment, soos hierbo beskryf)?
    Dis oningeligte vrae deur ‘n oningeligte persoon – meestal uit nuuskierigheid

    • Oktober 5, 2012 8:04 nm

      Ek glo nie Romney is so gewild nie, want hy sukkel om homself te posisioneer as iemand wat werklik omgee vir die gemiddelde Amerikaner op straat. En, soos ek skryf, het hy ook die geneigdheid op voet in die mond te sit. Ek dink die hoofrede hoekom mense vir Romney sal stem (die ABO-sentiment uitgesluit) is omrede hy besigheidsagtergrond het en Amerikaners naarstiglik op soek is na iemand wat die ekonomie kan omdraai.

  5. Oktober 5, 2012 1:31 vm

    Nee wat, soos in SA en Brittanje is hierdie keuse so onaantreklik mens wil eerder nie stem nie.

    • Oktober 5, 2012 8:05 nm

      Ek is nie so op hoogte van Brittanje se politiek nie, maar as jy so se….

    • Oktober 5, 2012 10:45 nm

      Iemand moet die land regeer tensy jy anargie wil he. So somtyds moet ‘n mens ‘n keuse maak tussen twee middelmatige keuses. Maar ek glo ‘n mens moet stem.

  6. Oktober 5, 2012 1:44 vm

    Dankie vir die opsomming. Ja, en oor ons prez sal ek maar swyg.

  7. Anoniem permalink
    Oktober 6, 2012 3:30 vm

    Daar is regtig geen verskil oor wie aan bewind is nie. Nie een kanidaat is van plan om van Amerika se “bully” taktiek wat tans besig is om groot onrus en onmin in die wêreld te veroorsaak. af te sien nie. Oorlog en plunder is al hoe Amerika se ekonomie kan voort bestaan. Al wat ek sien is om die bobbejaan met ‘n aap te vervang. Selfde wat in Suid Afrika gebeur.

  8. Oktober 8, 2012 2:44 vm

    Romney, Obama … uiteindelik regeer China?
    Die Midde-Ooste lyk sleg. Sal Amerika onder Obama in `n Isrial/Iran geveg betrokke raak Boer? Lyk of hulle geld besig is om op te raak vir sulke avonture.
    Is dit hoegenaamd goed dat geld bepaal of jy die president van `n land gaan word of nie? Klink vir my so effe siek.

    • Oktober 10, 2012 5:11 nm

      Dit is siek, maar werk maar oral so, lyk dit my. Ek glo Obama is baie versigtiger met imperiale avonture, as wat Romney is.

  9. Oktober 8, 2012 5:38 nm

    Die dag wat die mens opreg kan ‘baklei’ vir sy medemens as leier is die dag wat ek dalk belang sal stel in enige propoganda wat politieke leiers verbaal braak.

  10. kyker permalink
    Oktober 11, 2012 6:06 nm

    Ek hou van jou opsomming.

    Ek stem ook saam met die kommentaar hier onder, dat daar ‘n derde party kort in die VSA.

    Ongelukiig het die land se finansiele krisis nou reeds sulke afmetings aangeneem dat niemand die verkiesing sal wen indien hulle die medisyne wat nodig is vir die land om weer op die been te kom as deel van hulle beleid sou verkondig nie: Al wat die VSA nou kan red is jarelange, volgehoue inperking van staatspandering. Die gemiddelde kieser is of te swak ingelig om die werklike toedrag van sake te verstaan, of is net nie bereid om sy lewensstandaard genoegsaam te verlaag sodat die VSA uiteindelik deur sy skuldkrisis kan kom nie. Beide Romney en Obama maak dus wetend beloftes wat nie nagekom kan word nie en verkondig oplossings wat nie sal werk nie.

    • Oktober 11, 2012 8:18 nm

      Kyker, ek dink jy het dit baie raak. Dis hoekom Ron Paul tydens die voorafverkiesings-debatte met reg gevra het wanneer die VSA nou gaan ophou met oorlog maak in die buiteland. Dis absoluut verstommend as mens bietjie gaan kyk hoeveel buitelandse militere basis die VSA onderhou reg rondom die aardbol. Hoe hulle werklik die begrotingstekort en skuld kan aanspreek en steeds miljoene der miljoene op verdediging spandeer, weet ek nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: