Skip to content

Eiland van kraters en klip: Die andersheid van Jeju

Oktober 11, 2012

Jeju-eiland, geleë ongeveer 200km suidwes vanaf die Koreaanse skiereiland, kan met reg beskou word as een van die aanloklikste en interessantste bestemmings in Suid-Korea. Die ovaalvormige eiland, ongeveer 73 km van oos na wes en 41km van noord na suid, is inderdaad ‘n baie spesiale bestemming, het ek uitgevind, toe ‘n paar vakansiedae onlangs in my skoot val.

P9303362

Die eiland het eintlik eers onlangs meer bekendheid buite Korea verwerf toe dit aangewys is as een van die Nuwe Sewe Wonders van die Wêreld (saam met oa Tafelberg). Maar voor hierdie benoeming reeds, is Jeju deur UNESCO erken as ‘n Wêrelderfenisgebied, ‘n Biosfeerreservaat en as Globale Geopark. Jeju is sover die enigste plek in die wêreld wat kan spog met al drie hierdie UNESCO toekennings. Te verstane dan dat die eiland by verre die gewildste toeristebestemming in Korea is en dit nie ‘n verrassing is nie dat die Seoul-Jeju roete die besigste lugvaartroete ter wêreld is. Ongeveer 10 miljoen mense per jaar vlieg hierdie roete, waarvan die oorgrote meerderheid Koreaanse toeriste is (om dit in perspektief te stel, die Johannesburg-Kaapstad roete vervoer sowat 4.5 miljoen mense per jaar).

PA013529PA013520

Die eiland staan uit in sy andersheid vis-a-vis die res van Suid-Korea. In die eerste plek is die eiland ver suid genoeg dat die topografie verskil van die skiereiland s’n. Hier word oa digbegroeide reënwoude aangetref en die plantegroei is soortgelyk aan die wat in die subtrope voorkom. Tweedens is die eiland die enigste plek wat ek nog in Suid-Korea teëgekom het, waar daar werklike spasie is, te wete onbeboude oop velde, bosse en heuwels. Ek het ervaar, dat mens etlike kilometers kan ry sonder dat enige geboue of ander vorme van menslike ingryping die oog versteur. Dit is in werklikheid die heel eerste keer wat ek hier ter plaatse ‘n ongereptheid ervaar het wat herinner aan Suid-Afrika en veral die Kaapse tuinroete. Op die Koreaanse skiereiland is daar ook ongerepte dele, maar dis slegs tot die berge beperk.

PA013496

Hier op Jeju ry mens plek-plek deur die digte bosse aan weerskante van die pad, met die bome se wydreikende takke wat soms tonnel maak vir die motors. En buiten die ruigtes, is daar die golwende heuwels en ongerepte plantegroei. Amper 50% van die eiland is onbewoonde gebied en mens kom dadelik onder die indruk van hierdie onderbevolktheid – waar minder mense aangetref word, tref mens altyd meer natuur aan. Afgesien van die woude, grasvlaktes en heuwels, vind mens ook die pragtigste witsandstrande aan die Jeju-kus met helderskoon waters, wat lyk nes die gemanipuleerde foto’s uit ‘n glansbrosjure. Definitief die mooiste strande wat ek nog in Suid-Korea gesien het!

PA023730

Jeju is, anders as Suid-Korea se nege provinsies, ‘n outonome selfregerende gebied, met sy eie goewerneur. Die eiland het ook ‘n eiesoortige dialek, wat moeilik verstaanbaar is as mens vertroud is met die Koreaans wat op die skiereiland gepraat word. Tot en met die 10de eeu was Jeju in der waarheid ‘n onafhanklike koninkryk, genaamd Tamna, voordat die eiland deur die Goryeo Dinastie (918-1392) geannekseer is en in die 12de eeu amptelik ingelyf is as deel van Goryeo.

P9303204

Jeju is voorts die enigste plek in Korea waar renperde geteel word en so op die wye, groen heuwels kan die perdeplase gesien word, met die Jeju-perde wat wy, rondhardloop of sommer net kopspeel met mekaar. Synde dat dit die Ooste is en die Oosterlinge lief is vir hulle snaakse disse, is Jeju dan ook die enigste gebied in Korea waar perdevleis as delikatessen beskou word. Interessant genoeg is dit die Mongole van die Sjinese Yuan-dinastie (1269-1368) wat tydens ‘n reeks invalle gedurende die oorloggeteisterde 13de eeu, die perde op Jeju gevestig het.

PA023562PA023778

Maar sekerlik die mees uitsonderlike kenmerk van die eiland, is dat dit in werklikheid een, groot vulkaan is. Daar is ‘n gesegde op die eiland: “Jeju is Hallasan (Berg Halla) en Hallasan is Jeju” En as mens eers daar was, verstaan mens hoekom dit gesê word. Die hoogste berg in Suid-Korea (teen 1950m) is geleë reg in die middel van die eiland en is duidelik sigbaar van enige punt waar jy ook op die eiland mag wees (dis nou te sê as die wolke nie Hallasan se kraterkruin versluier nie). Hallasan is dan ook die berg wat die eiland tot stand gebring het, ongeveer 2 miljoen jaar gelede, toe daar ‘n erge vulkaniese uitbarsting was. Die uiteinde is dat, behalwe die krater bo-op Hallasan, daar ook 300 sogenaamde lawakëels (genaamd oreum in Jejudialek) op die eiland voorkom. Van hierdie oreums is manjifieke kunswerke van moeder natuur, wyl ander bloot klein heuweltjies is.

PA013457

Die ander nalatenskap van vulkaniese aktiwiteit is die feit dat die hele Jeju saamgestel is uit swart vulkaniese basaltrots. Dus vind mens dat byna al die natuurlike besienswaardighede op die eiland, gekoppel is aan die vulkaniese aktiwiteit van miljoene jare terug en dat die kus, valleie en berge gekenmerk word deur hierdie vulkaniese klippe. Die rotsformasies, waaroor ek op ‘n latere stadium meer sal skryf, is verstommend en mens kan dikwels duidelik die verskillende vloeiformasies van die lawa sien, voordat dit gestol het. Jy kom amper onder die indruk dat jy deel word van miljoene jare se geologiese geskiedenis en in jou verbeelding kan jy amper sien met watter krulle en kronkels die rooiwarm lawa gevloei het tot daar waar dit sissend die see ontmoet het.

PA023794PA013550

Een van die kenmerkendste visuele aspekte van die eiland, is die landerye wat regoor die eiland netjies en simmetries afgekamp word deur klipmure, gepak van vaalswart basaltstene. Hier op die eiland word hoofsaaklik groente verbou, asook sitrusvrugte, tee en kaktus*. Die klipmure is baie opvallend, want jy sien dit nie in die res van Suid-Korea nie. Die rede vir hierdie keuse van omheining is heel funksioneel, vind mens op navraag uit.

PA023758PA023773

Die klippe word so gepak dat daar spasie tussen die klippe is en dus is die mure nie solied nie. Die sterk winde (wat dikwels die eiland teister) waai dus nie teen ‘n soliede struktuur vas nie en vernietig sodoende nie die struktuur nie. Op hierdie wyse bly die mure staande tydens tifone en die wind wat daar deur waai word soveel so gebreek dat dit nie sterk genoeg is om skade aan die landerye of boorde aan te rig nie. Elke jaar tref ‘n hele paar tifone Jeju-eiland, waarvan die mees onlangse, sowat ‘n maand terug was. Die skade van ontwortelde bome was nog te sien tydens my besoek.

P9303078

En nog steeds op die tema van klip: Behalwe vir die kenmerkende klipmure, is die ander beeld van Jeju wat mens bybly, die van die Dolharubong, oftewel die klip-oupas. Hierdie beelde staan die hele Jeju vol, gekerf uit vulkaniese rots. Vroeër jare was die Dolharubang gebruik as simbole buite dorpe en huise om die bose geeste mee af te weer. Deesdae is dit egter meestal ‘n simbool wat benut word vir toerismedoeleindes.

P9303107

Sekerlik die plek waar mens die ongelooflik natuurkrag en nalatenskap van die vulkaniese aktiwiteit die beste kan sien en ervaar, is die Manjanggul tonnelgrot. Hierdie reuse tonnel is gevorm deur die vloei van magtige strome lawa miljoene jare terug. Die tonnel is een van die bes bewaarde en grootste lawatonnels ter wêreld. Die tonnel is 7 kilometer lank, op sy hoogste, 23 meter hoog en op sy breedste, 18 meter breed. Slegs sowat 1 kilometer is egter vir die publiek oopgestel. Die formasies is heeltemal anders as in sandsteengrotte, met hoofsaaklik die afwesigheid van stalaktiete en stalagmiete. Die reliëf van die rots is egter uniek en die lae van die lawavloei en gestolde lawavorms kan duidelik waargeneem word.

P9303135

‘n Hoogtepunt van die tonnelbesoek, is die aanskoue van ‘n versteende lawakolom van by die 8 meter, wat aandui hoe die lawa van bo na onder “gedrup” het tydens die vulkaniese uitbarsting. Die roete wat gestap word deur die tonnel is slegs sag belig en skep nogal ‘n arige gevoel so diep in die maagwande van die aarde. As mens dink aan die natuurkragte en stromende warm lawa wat die reuse tonnel geskep het, besef mens maar weer eens die nietigheid van die mens. Daar is verskeie ander van die tonnelgrotte op die eiland, maar Manjanggul is die grootste en indrukwekkendste van die klomp.

mosaic3c72026a3635eb077f28a23534be1f2f64836a0f

Behalwe vir die natuurlike besienswaardighede op die eiland is, Jeju in vele ander opsigte ‘n mekka vir toerisme en daar is geen einde aan die opsies vir besoekers nie. Daar is ‘n oorvloed museums, temaparke en aktiwiteite soos skuba, perdry, hangsweef, fietsry, visvang, kwadmotorfietsry, lugballonne esm. Mens kan selfs in ‘n duikboot onder die water gaan verken. Een van die dinge wat ek egter nog nooit gedoen het nie, was om ‘n deur ‘n regte, egte doolhof te stap.

P9303166

En juis binne voetval van Manjanggul, tref mens die Gimnyeong doolhoof aan. Die doolhof is ontwerp deur die internasionaal gekende maatskappy, Adrian Fisher Designs, en is baie professioneel en oordeelkundig uitgelê. Nou moet ek bieg, mens raak nogal by tye ongemaklik as jy besef dat jy slegs in sirkels beweeg en eintlik geen idee meer het waar jy is nie. Maar ek het darem genoeg tyd gehad en het uiteindelik weer my pad na buite gevind. Dit was definitief nou ‘n slag weer iets unieks om aan te pak.. Ek het nog vele ander avonture op Jeju gehad. In my volgende inskrywing vertel ek hoe ek Hallasan van voet tot krater gestap het.

* Jeju is Korea se grootste bron van nartjies en lemoene (mandarynlemoene in die geval) en baie van die sitrusvrugte word ook uitgevoer na oa Noord-Amerika en Europa.

Advertisements
15 Kommentaar leave one →
  1. Oktober 11, 2012 8:28 nm

    Daai strand lyk so lekker!

  2. Oktober 11, 2012 11:31 nm

    Jy is besig om die land plat te reis. Lekker!

  3. brieweuitdievreemde permalink
    Oktober 12, 2012 2:08 vm

    Jinne, Boer, jou beskrywings van Jeju maak my nou dubbel-trippel spyt dat ek nooit daar uitgekom het nie. Een van my studente was die seun van ‘n perdeteler op Jeju en sommige ander studente het Hallasan gaan uitklim en vertel daaroor – dis die naaste wat ek aan die eiland gekom het. Ai tog. 😦

    Dis regtig lekker om hier te lees oor dinge in Korea wat jy ontdek. Ek voel soms ek het unfinished business daar omdat ek so min van die land self beleef het terwyl ek daar was, agv verskeie redes. Wel baie beleef van die kultuur, dmv my studente, maar nie van die verskillende dele van die land nie. Ek regret dit.

    Sien uit na verdere vertellings! 🙂

    • Oktober 12, 2012 7:57 nm

      Dit het myself 5 jaar geneem om uiteindelik daar uit te kom, so moenie te sleg voel nie. Dink jy moet maar weer terugkom. 😉

      • brieweuitdievreemde permalink
        Oktober 13, 2012 1:41 vm

        Dalk sal ek 😉 Sit nou al vanaf Maartmaand in ‘n tweestryd gewikkel hieroor… Ai.

  4. Oktober 12, 2012 2:46 nm

    Verruklik !!
    Dankie Boer – jou beskrywing is so dat dit voel ek reis saam.

  5. Oktober 13, 2012 5:09 vm

    Sjoe, dit was nou regtig interessant! Ek hou van die klipmuur-idee. Baie slim idee. Ek het nie geweet dit is een van die nuwe 7 wonders nie! Geologie het my nog altyd geweldig geinteresseer. Ek dink ek sou dit maklik kon gaan studeer het.

  6. Oktober 13, 2012 10:37 nm

    Jou foto’s is ongelooflik mooi en jou vertelling baie interessant!! Só goed dat mens lus kry om op die eerste vliegtuig te spring en dit self te gaan beleef!! Ek het dit al gesê en ek gaan dit weer sê… ek hoop regtig jy gaan nog eendag ‘n koffietafelboek oor Suid-Korea publiseer.

Trackbacks

  1. Grillerige goeters | Briewe Uit Die Vreemde
  2. Ek klim die krater uit « Boer in Ballingskap
  3. Ek sal altyd ‘n deeltjie van Jeju saamdra « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: