Slaan oor na inhoud

Die reuk van rubber op teer en twee blitsige bulle

Oktober 17, 2012

Soms is daar dinge wat mens jou lewe lank droom van doen, maar nooit regtig glo jy sal doen nie. Die redes vir die liggelowigheid, is meestal te wyte aan die gebrek aan die sameloop twee belangrike veranderlikes, nl: geld en geleentheid. Maar op ‘n mooi dag, sonder dat jy dit regtig kan dink of glo, het jy beide die geld en die geleentheid en voor jy jou kan kry is jy daar waar jy altyd wou wees. Die oomblik is vir jou effe surreëel en jy moet jouself knyp om seker te maak dis nie net ‘n verbeeldingsvlug nie. Ek het so gevoel toe ek die heel eerste keer Parys, Frankryk besoek het, lang jare terug. Ek het ook so gevoel toe ek die heel eerste keer ‘n Curriebeker-eindstryd op Nuweland kon bywoon en kon ervaar hoe WP voor my oë die Curriebeker wen (deesdae inderdaad ‘n rare gebeurtenis, sou ek sê). En die afgelope Sondag het ek weer daardie gevoel gekry.

PA144073

Ek was in 2009 baie opgewonde om te verneem dat Suid-Korea ‘n Grand Prix gaan aanbied. In 2010, tydens die heel eerste Koreaanse F1 Grand Prix, was ek egter in Suid-Afrika. Verlede jaar het ek te laat geslaap en kon ek nie kaartjies kry nie. Hierdie jaar het ek besluit dis nou of nooit, al is F1 Grand Prix sekerlik van die duurste sportbyeenkomste wat mens kan bywoon. Ek het dus reeds my kaartjie in April gekoop (as jy vroeg koop, is dit ook effe goedkoper). En na ‘n maandelange wag, het die 13de Oktober uiteindelik aangebreek.

PA143964

Deel van die uitdaging vir my om die Grand Prix ter plaatse te sien, was om dit by te woon EN daarin te slaag om nog die Maandagoggend betyds vir werk terug te wees in my tuisdorp. Want, vanwaar ek woon, is dit baie verder as net ‘n halwe dagreis te perd tot waar die wedren in Yeongam plaasvind – heel in die suidwestelike hoek van die Koreaanse skiereiland. My reis soontoe en terug tuis, het ‘n totaal van ongeveer 10 ure op busse beteken, asook nog amper ‘n uur op die agtersitplek van ‘n taxi. Maar ander opsies was daar nie, want ek het ook nou nie so dikwels ‘n langnaweek nie.

PA143970

Die kusstad van Mokpo is die naaste stad of dorp aan die baan (genaamd Korea International Circuit) en hier het ek kussing vir my kop gevind en van die stad se gratis busse na en van die baan gebruik gemaak. Hoewel die wedren eers teen 3 uur Sondag begin het, was ek reeds vroeg by die baan om my kaartjies af te haal en die massas wat sou volg, vir ‘n wyle te vermy. Ek het eers vermoed ek sou taamlik verveeld raak, maar op die ou-end het die tyd gevlieg. In die eerste plek het ek in verwondering rondgestap en die sommer net die aangename gevoel van onwerklikheid ingedrink. Ek het die baan uit verskeie hoeke bekyk en my verwonder aan die historiese boustyl wat die Koreane deel gemaak het van die baan. Die replika van ‘n Koreaanse struktuur met wagtorings is baie outentiek gebou, waar dit neerkyk op die pylvak.

PA143878

Daar was verder ‘n horde stalletjies opgeslaan om toeskouers te oorreed om hulle beursies te skud. Vir ‘n persoon wat ‘n Formule 1 aanhanger is, was daar menige, menige, menige versoekings om te weerstaan, sou ek nie totaal en al bankkrot daar wou wegstap nie. Gelukkig is die pryse vir die handelsmerkware van Formule 1 en die verskillende spanne, SO buitensporig duur, dat dit darem nie so moeilik was om op die ou-end nie geld uit te gee nie. Ek bedoel, ek was regtig gek na die bloedrooi Ferrari T-hemp, maar ek kan eenvoudig nie die obsene prys van W90 000 vir ‘n T-hemp betaal nie (dis ongeveer die ekwivalent van R700, teen huidige wisselkoers).

PA143902PA143903

PA143895

PA143886PA143905

Overgesetsynde, was daar darem baie kosstalletjies en kon ek my verder vermaak met lekker drinkgoed en smulhappies. Daar was ook ander interessanthede vir die oog, soos F1-motors en mooi mense. Die dametjies met hulle geel oorbaadjies wat die dag gedien het as F1 personeel, was veral besonder vriendelik en oulik en het sommer ekstra kleur aan die dag verleen.

PA144123

En vir diegene wat dink dat F1 slegs sowat twee ure duur, wanneer die plat motors om die baan swiep, maak ‘n groot fout. Dit is wat op televisie gewys word, ja, maar daar gebeur soveel meer.. Voor die tyd is daar oa ‘n voorafwedren vir produksiemotors, ‘n verskeidenheid optredes deur dansers, orkeste en ander kunstenaars, asook ‘n ererondte van jaers agterop ‘n trok, vanwaar hulle vir die skare wuif, lewendige onderhoude met die jaers en ‘n vlagparade deur aanvallige dames in hul rooi rokkies.

PA143988PA143996

PA144126

PA143978PA144128

As jy egter nie op die hoofpaviljoen sit nie, moet jy maar tevrede wees om al hierdie aksie op een van die verskeie groot skerms te volg, wat gelukkig by elke ander pawiljoen opgerig is. Ek kon darem so ‘n knertsie van die aksie aanskou, waar ek op die eerste draai, by die uitgang van die kuipe gesit het.

PA143965PA143920

En so bou die opgewondenheid, totdat die Formule 1 motors brullend hulle eerste oefenrondte jaag. Nou kyk, dit is nou soos om ‘n leeu vir die eerste keer te hoor brul in die werklike lewe en nie op die Internet of televisie nie. Vir diegene wat nie weet nie – in werklike lewe, is die brul van ‘n leeu so oorverdowend hard dat jy jou onwillekeurig uit jou bloedgroep uit skrik. Wel dis byna dieselfde geval met Formule 1 renmotors. Jou ore tuit en kry eintlik seer as die motors se kragtige enjins verby brul.

PA144009

Opeens besef jy dat die oorpluisies wat jy bekom het, nie om dowe neute deur die toekouers gedra word nie. Dit wou voorkom of sommige mense sonder die oorbeskerming na die wedren kon kyk, maar ek kan nie anders nie as om te dink dat jou ore sonder beskerming, skade opdoen by so ‘n wedren.

PA144014

Wat nog opval van om so naby die aksie te wees, is die reuk van brandende rubber op teer en van remskywe wat hard werk om die nou draaie. Opsigself, sou ek nie hierdie reuke as aangenaam beskryf nie, maar binne die konteks was dit vir my ‘n aangename reuk, wat hoort by die geleentheid.

PA144030

As mens self daar is, blits die wedren baie vinnig verby en wanneer mens weer kyk is alles oor. Die wedren het ongelukkig nie veel drama opgelewer het nie en in wese was dit (van ‘n toeskouersoogpunt) nou nie een van die beste renne van die seisoen nie. Die twee Red Bull jaers het voor weggespring en die hele wedren voor gejaag sonder dat hulle een enkele keer werklik onder druk was deur enige van die ander jaers.

PA144140PA144135

PA144040

PA144067PA144139

Sebastian Vettel het eerste geeindig en sy spanmaat, Mark Webber tweede. Die twee Ferrari’s van Fernando Alonso en Felipe Massa was derde en vierde, met die Kimi Raikonnen in sy Lotus Renault in die 5de posisie. Hierdie volgorde het omtrent dieselfde gebly vir die volle 55 rondtes, met slegs die wedywering tussen Lewis Hamilton (uiteindelik 10de) in sy McLaren en Raikonnen wat bietjie opwinding gebied het gedurende die eerste helfte van die ren.

PA144132

Die ander noemenswaardige aksie, was in die heel eerste rondte, toe Vettel, vanuit die tweede posisie, Webber verbygesteek het en ‘n bufferstampery wat vroeg-vroeg ‘n einde gemaak het aan Niki Rosberg (Mercedes) en Jenson Button (McLaren) se wedren. Nico Hulkenburg (Force India) en Roman Grosjean (Lotus Renault) het deurentyd om posisie gestoei, maar op die ou-end het Hulkenberg (6de) net genoeg gedoen om Grosjean (7de) se aanslag af te weer. Michael Schumacher – nou slegs ‘n skadu van die kampioen wat hy was – het 13de klaar gemaak.

PA144137

Ek is stoere Alonso en Ferrari ondersteuner, maar op hierdie agtermiddag in Korea kon ek, saam met die ander lojale tifosi met hulle wapperende vlae, maar net magteloos toekyk hoe die blitsige Red Bulls met die grootste gemak stof (of is dit ou asfalt?) in die manne van Maranello se oë skop.

PA144111PA144075

PA144142

PA144134PA144020

Ek was baie bevoorreg om die Grand Prix by te woon en het elke oomblik geniet. Weliswaar sit mens nou slegs op een punt van die baan en is dit al waar jy die aksie beleef, maar darem is daar die groot skerm waarop jy die aksie op die res van die baan kan volg. Soos met ander sportsoorte, volg mens ‘n F1 wedren baie beter op televisie. Die eerste klompie rondtes is dit vir jou maklik om die jaers se posisies op die baan te volg, maar na die eerste kuipestop, raak dinge so bietjie deurmekaar en moet mens kophou met wie waar is in die wedren.

PA144099

Hoewel televisie (en Internet) dit vir mens baie maklik maak om sportgebeurtenisse nougeset en met presisie te volg, is die werklike ervaring van ‘n sportgebeurtenis soveel opwindender en meer lonend. Om self daar te wees, die rubber te ruik, die brullende enjins te hoor en saam met die skare op die paviljoen te sit*, is net soveel meer spesiaal as om op die rusbank voor ‘n platskerm te lê.

*Hierdie keer was daar geen sakkies op die kop nie…

Die eerste Suid-Afrikaanse Grand Prix het 1962 in Oos-Londen plaasgevind. Daarna was Suid-Afrika ‘n gereelde bestemming op die F1 wedrenkalender. Altesaam 23 F1 Grand Prix wedrenne is vanaf 1962 tot en met 1993 aangebied. Slegs die eerste drie renne is in Oos-Londen gehou, maar van 1967 af is al die renne op Kyalami, buite Johannesburg, aangebied. Jody Scheckter was nie net die enigste Suid-Afrikaner wat nog ooit die jaerstitel kon verower nie (1979 vir Ferrari), maar ook die enigste Suid-Afrikaner wat ooit ‘n Grand Prix in Suid-Afrika kon wen (1975). Die laaste ren in 1993 is deur Alain Prost in ‘n Williams-Renault gewen.

15 Kommentaar leave one →
  1. brieweuitdievreemde permalink
    Oktober 17, 2012 9:00 nm

    Boer, ek weet niks van Formule 1 af nie, maar jy het dit so goed beskryf dat ek baie lekker gelees het. Ek wonder nou net hoekom hulle opgehou het om die wedrenne in ZA aan te bied?

    • Oktober 19, 2012 6:00 nm

      Ek het nie ‘n idee nie. Ek weet wel dat dit die land waar dit aangebied word ‘n enorme bedrag geld moet betaal aan die Ecclestone Mafia en dan boonop nog die lopende kostes en onderhoud ook moet betaal. Die huidige regering in SA was bereid om FIFA en die Blatter Mafia tegemoet te kom, maar ek is nie so seker of F1 motorsport so hoog op hulle lys van prioriteite is nie. Dis immers mos maar in wese ‘n Westerse sport, met bitter min aanhang in Afrika (buiten SA). Dit sal ook aan rassisme grens om ‘n sport aan te bied, waarin daar nie een swart deelnemer is nie. 😉

      • brieweuitdievreemde permalink
        Oktober 19, 2012 9:04 nm

        Ja, jou verduideliking maak sin. Re die gebrek aan swart deelnemers: iemand het my ook vertel dat daar ‘n paar lugrederye in Afrika is wat nie mag vlieg buite hulle eie airspace nie, agv gebrek aan bevoegde vlieeniers. Ek weet egter nie of dit waar is nie.

  2. Oktober 17, 2012 9:11 nm

    Van sport weet ek gevaarlik min. Tot groot vermaak van my vriende is ek anderdag genooi om ‘n rugbywedstryd te gaan kyk. Die wat my ken weet ek weet minder as bôggerol daarvan.
    Ek is klank-orienteerd en is dus ongelooflik laf vir die geluid wat F1 voertuie maak. Ek mag dalk nie reëls so aldag verstaan nie, maar ek ken die ‘manne’ en word heel lam as daardie enjins so gilsing. 🙂 Wat ‘n belewenis moes dit nie wees nie Boer!
    Wat ‘n teleurstelling egter dat daar nie ‘n enkele sakkie in sig was nie 😆

    • Oktober 19, 2012 5:56 nm

      Dit was ‘n belewenis, maar ek is dankbaar vir my oorpluisies. Die sakkies op die kop sou nie veel gehelp het nie. 🙂

  3. Oktober 18, 2012 4:17 vm

    Boer, jy het my behoorlik GROEN van jaloesie! F1 is een van my gunstelinge, maar ek volg dit nie altyd nie, agv tyd. Ek het dit vroeer jare met hart en siel gevolg en nog op hoerskool gese ek gaan eendag F1 ry! My ma het gedink ek was ernstig [en ek was soort van! hehe] en wou ‘n hartaanval kry as ek daaroor gepraat het. – btw, ek hou nou nog van spoed, was so 3 weke terug saam met 2 kollegas in my kar, ek was meer as een keer ‘herinner’ aan die spoedgrens. 🙂

    • Oktober 19, 2012 5:54 nm

      Nikita, volgende jaar op die 30ste Junie jaag hulle op Silverstone, daar in jou kontrei. Maak ‘n plan! 🙂

      NS: Ek klim nie saam met jou in ‘n motor nie! 😆

      • Oktober 20, 2012 3:29 vm

        Daar was nou die dag [om en by ‘n maand gelede] ‘n ding by Silverstone en toe was die verkeer glo so erg, dat hulle mense afgeraai het om soontoe te gaan – ek kan nie onthou of daar ook ‘n ongeluk in daardie omgewing was nie. Ek het net die baie tweets gesien daaroor. Ek was net bly [toe ek die tweets sien] dat ek nie oppad daarheen was nie. – Ek sal moet ‘n plan maak eendag – nie dat ek nou ‘n gunsteling op die oomblik het nie, maar die idee. 🙂

      • Oktober 20, 2012 3:31 vm

        O ja, wat die kar-ry aanbetref, jy hoef nie te vrees nie, ek jaag baie veilig, nog nooit ‘n ongeluk gehad sedert ek leer bestuur het [op 12jr – op die plaas grondpaaie] Jy sal selfs met ‘n geruste hart in die kar kan slaap! 🙂

      • Oktober 20, 2012 3:34 vm

        Nog iets… slegs 2 spoedboetes in my lewe gehad, een in SA vir 65 in ‘n 60 zone en een die kant vir 32 in ‘n 30 zone. [die een die kant is mph-lw] 🙂

  4. Oktober 19, 2012 9:00 nm

    Drie woorde – Baie Baie Cool!! Ek het so paar jaar terug by ‘n plek in Melbourne gewerk wat baie naby aan die Melbourne Grand Prix baan was – dis darem ‘n ongelooflike klank wat daardie masjiene maak!

  5. Oktober 25, 2012 2:23 vm

    Jy is SO lucky!!!

  6. Oktober 25, 2012 9:59 nm

    Ek’s bly jy kon darem dié keer die Grand Prix bywoon al is jy nou arm daarna!! Arm maar gelukkig…

    My jongste was vroeër vanjaar in Stuttgart vir opleiding in dieselfde tyd wat die Grand Prix by Hockenheim gehou was. Ek het aan hom bly sit om te gaan maar blykbaar was die kaartjies te duur! Hy het toe darem die Mercedes Benz museum en die Sinsheim Technik Museum (http://www.technik-museum.de/node/2) besoek.

    • Oktober 27, 2012 5:30 nm

      Ongelukkig is F1 Grand Prix baie duur om by te woon (wat ook sekerlik ‘n rol speel hoekom dit nie weer in SA aangebied is nie). Ek het egter die keer oe toegeknyp en was nie een oomblik spyt nie. Daardie museum lyk ongelooflik om te besoek! Laat ek net gou daardie lee plekkie wat die Grand Prix op my emmerlys gelaat het, weer vul. 🙂

Lewer kommentaar op Nikita Kanselleer antwoord