Skip to content

Ek klim die krater uit

Oktober 25, 2012

Nadat ek vroeër vanjaar in die berge van Seoraksan en Jirisan gaan stap het, was een van my doelwitte met my besoek aan Jeju-eiland, om Hallasan aan te durf. Teen 1950m, is Hallasan die hoogste berg in Korea en dit was nog altyd my doel om die berg uit te stap. Om Hallasan te klim, sou dan ook beteken dat ek die drie belangrikste berge in Suid-Korea kon baasraak.

Cheju etm 2000097 lrg

Ek het beplan om reeds op die eerste dag van my besoek Hallasan te takel, maar die dag was bewolk, winderig en onaangenaam. Ek het dus die daaropvolgende dag aan die voet van Hallasan gestaan en my eerste tree gegee op wat ‘n daglange staptog sou wees. In vergelyking met Jirisan en Seoraksan, is Hallasan se hellings baie geleidelik, maar sodoende ook baie lank om te stap tot bo. Aan die onderkant van die berg, begin die paadjie baie gelyk en rustig, maar weldra raak dit steiler en stuur jou voete die boodskap aan jou brein dat hierdie nie sommer net nog ‘n ou stappie is nie.

PA013397PA013398

PA013461

PA013417PA013415

Op hierdie stadium van my vertelling, wil ek net vinnig stilstaan by die een ding wat my Hallasan-ervaring minder aangenaam gemaak het as wat dit kon gewees het. Om die waarheid te sê, tel dit eintlik vir my hele ervaring van Jeju. Dis natuurlik die troppe en troppe toeriste wat binne seisoen die eiland inval en oorneem. My idee van voetslaan in die natuur, is om die natuur en natuurlewe in volheid te ervaar. Om die stilte in te drink; om fyn op te let na die unieke plantlewe, insekte, voëls en die diere. Daarom is dit ook lekker om rustig en in stilte voet te slaan. Op die pad na Hallasan se krater, was dit my egter nie beskore nie.

PA013430PA013455

Die verkeer met die pad op na die krater, was van vroegoggend af op ‘n spits. Omdat die paadjie maar plek-plek nouerig is, is daar van stilstaan en waarneem maar min sprake. Agter jou is daar ‘n string stappers en voor jou is daar ‘n trop en in die teenoorgestelde rigting, af met die berg, is daar ook ‘n gedurige vloei van ywerige Koreaanse voetslaners in hulle bontkleurige stapuitrustings (Koreane is baie gesteld daarop om die regte uitrusting en handelsmerkname te dra vir hulle voetslaan. As jy stap, het jy jou stappakkie aan en niks meer of minder nie). Dus het jy heel pad op die probleem om verby stadige stappers voor jou te kom en weer die vinnige stappers agter jou te laat verbygaan, sonder om ‘n kop-aan-kop botsing te veroorsaak met die wat van voor af kom.

PA013424PA013426

Maar as dit nou maar net die aantal mense was wat die probleem is. Kyk, soos meeste lesers hier weet, het ek baie tyd vir die Koreane, hul kultuur, gebruike en hulle algemene ingesteldheid teenoor die lewe. Maar as daar nou een plek is waar hulle my irriteer, is dit wanneer daar in die natuur voetgeslaan word. Mens kry die idee dat dit nie vir hulle soseer oor die natuur gaan nie, maar eerder maar net oor die oefening en net om te kan sê hulle het ook die berg uitgestap.

PA013448

In die eerste plek is daar die stapstokke. Nou soos skiërs twee stokke het, glo die Koreane vas daarin dat mens nie sonder jou twee stapstokke stap nie. Dis deel van jou voetslaanpakkie en vir hulle is dit haas ondenkbaar om sonder stokke te stap. Dit alles goed en wel, maar die stapstokke se aluminium punte wat heeltyd teen die klippe kletter en tik is uiters irriterend. En dan plek-plek word die stokke sommer so oor die klippe gesleep om die verbreking van die stilte nog luider te maak. Dus op met die berg tik-tik-tik die heeltyd voor jou en agter jou en af met die berg tik-tik-tik.

PA013452PA013441

Maar die stapstokke is nog eintlik hanteerbaar. Die slimfone wat saamstap, minder so. Dis goed en wel dat rook verbied word in Korea se nasionale parke, maar wanneer gaan hulle selfone verbied? Laat die ou voor my en agter my maar sy dampie maak. Ten minste maak dit nie ‘n geraas as jy rook nie. Maar wragtig, hierdie slimfone. Ons is in die mooiste, wonderlike natuur, maar nee, die oproepe word deurentyd gemaak en geneem en dan word daar sommer luid en lekker gesels. Dus is die irriterende deuntjies van fone wat lui deel van jou voetslaan-ervaring. En teksboodskappe word ook gestuur, so al stappenderwys. Maar dis nie waar dit eindig nie. Heelparty stappers vind dit goed om hul fone op luidspreker te stel, in hulle sak te prop en dan heelpad met luide musiek te stap wat hulle vrylik met almal om hulle deel. Al gehoor van oorfone? Nee, blykbaar nie!

PA013439

Laastens, maar definitief nie die minste nie, is die groepe stappers, en spesifiek die groepe ajummas (ou tannies), wat luidrugtig gesels en lag. Soos groepies krysende kraaie kom jy hulle heelpad tee, besig om land en sand te gesels en elke denkbare voël en lewende diertjie weg te jaag wat mens sou kon waarneem. Ek het nie eens ‘n eekhorinkie gesien nie!

PA013456

Maar terug by die berg. Stadig en uitasem het dit party plekke gegaan, maar na ongeveer 4 ure en 10km se sweet, het ek die spits bereik en die pragtige Baengnokdam krater aanskou. Baengnokdam is die enigste kratermeer in Suid-Korea. Tydens my ekspedisie was die meer taamlik leeg, maar die krater is een van die mooiste gesigte wat ek nog in Korea kon ervaar. Daar staan mens, hoog bo die wêreld en dink aan die geweldige vulkaniese magmakragte wat miljoene jare gelede hier die aarde met geweld oopgeskeur het. Maar behalwe hierdie manjifieke gesig, is daar die vergesigte oor die eiland, met die honderde oreums wat soos karbonkels op die groen landskap le, vaag en geheimsinnig in die verte daar onder. Dit was maar effe bewolkerig en sodoende was die uitsigte beperk. Maar mens het tog daardie gevoel van vryheid en vrede ervaar so bo-op Jeju se dak.

PA013451PA013484

PA013503

PA013525PA013546

Lank het ek egter nie bo vertoef nie, want daar was omtrent ‘n honderd ander raserige wesens wat die stilte besoedel het saam met my daarbo. Dus het ek my watertjie gesluk, toebroodjie geëet en taamlik geïrriteerd sommer weer die pad, aan die anderkant van die berg, begin afstap. Gelukkig was hierdie pad (wat die moeiliker pad is) relatief stiller met minder verkeer. Die pad gee mens ‘n blik op die anderkant van die krater, waar majestueuse vulkaniese rotsformasies uitgestal word.

PA013489

Die pad wentel af in ‘n pragtige vallei, en die eerste tekens van herfs se kleurespel is oral sigbaar. Maklik is dit nie af nie. Dis baie steil en die rotse en klippe sorg dat jy baie meer moet konsentreer om reg te trap as met die pad op. Een verkeerde voetval op ‘n losserige rots kan ‘n verswikte enkel of gebreekte been beteken. Dus het die aftog ironies genoeg langer geneem as die opstap, maar meer as 4 ure en 9km later was ek, behoorlik moeg, natgesweet en voetseer, onder. Die roete af was egter baie mooi en – met minder mense – balsem vir die siel.

PA013418PA013422

PA013519

PA013513PA013543

Tydens my tog het ek een of twee voëlspesies vlugtig gewaar, maar nie die tyd of spasie gehad om hulle behoorlik waar te neem nie voor die ander stappers hulle verwilder het. Ek was ook bevoorreg om ‘n wilde takboklam te sien en ‘n gestreepte veldmuis. Beide die bok en die muis was egter gans te vinnig vir my kamera, synde dat ek nou nie alleen en in stilte hulle kon waarneem nie. Hier en daar (hoofsaaklik op die stiller paadjie af) kon ek die mooi van Hallasan se natuurlewe darem met my kamera vasvang.

mosaic94bbf722973432a872f2287e9686615d1516313a

Hallasan is ‘n fris berg en om die krater uit te stap verg ‘n sekere mate van fiksheid. Dis in geen taal ‘n grap om by die 19km op een dag op en af te stap nie. Maar dis oor en oor die moeite werd, selfs saam met die leërskare om jou. Die krater is ‘n gesig om te aanskou en die natuurskoon pragtig. Ek dink egter as mens dit buite seisoen aandurf, sal die stap soveel lekkerder en meer betekenisvol wees sonder die hordes ander stappers om jou.

PA013492

In my volgende inskrywing vertel ek van nog ‘n pragtige krater en die indrukwekkende rotsformasies regoor die eiland.

Advertisements
17 Kommentaar leave one →
  1. Oktober 25, 2012 9:51 nm

    Sjoe Bib, jou foto’s is ongelooflik mooi!! Ek glo jy kon die gepaste Afrikaanse woord vind om uitdrukking aan jou frustrasie te gee met dié raserige spul Koreane!! 🙂

  2. Oktober 25, 2012 11:23 nm

    Dit was so pragtig… dankie vir hierdie blog , het nou op die koop toe geleer wat beteken Outannie in Koreaans!. Jammer probleem stappers sal jy oral kry , hier kla die mense ook daaroor.

  3. Oktober 26, 2012 7:28 vm

    Ek moes glimlag toe ek lees “besig om land en sand te gesels en elke denkbare voël en lewende diertjie weg te jaag wat mens sou kon waarneem”. Ek kan dink hoe jy moes voel – jy het dit egter goed uit jou foto’s gehou, pragtig afgeneem!

    • Oktober 27, 2012 5:33 nm

      Reinhardt, ek dink nie mense besef altyd watter uiterste geduld en frustrasie dit verg om hier foto’s te neem sonder mense daarin nie. Dit is as’t ware ‘n kuns opsigself.

  4. Oktober 27, 2012 4:04 vm

    Ek hou van die foto’s sonder die toeriste, veral laat dit mens die stilte ‘hoor’. Ek stem volkome saam oor wat jy se van die stappers wat slegs stap vir oefening en niks anders nie. Kyk, as ek in die Drakensberge moet gaan stap en dit gaan daar so – dan stap ek nie weer daar nie. Ek het dit ook al voorheen gehad dat jy op ‘n plek kom en jy besef die ‘ander’ is daar vir die verkeerde doel – dis uiters frustrerend. Ek het simpatie/empatie met jou.

    • Oktober 27, 2012 5:35 nm

      Soos ek hierbo genoem het, is dit glad nie maklik om menslose foto’s te neem in sulke omstandighede nie. Ek hard praat en die stapstokke kan nog gaan, maar hierdie stap-met-‘n-selfoon, kry my net eenvoudig onder.

  5. kyker permalink
    Oktober 27, 2012 9:00 vm

    Ek hou veral baie van jou foto van die kratermeer.
    Dit klink of jy erg moes konsentreer tussen die toeristegeraas deur om jou kamera te gebruik en ook die mooi van die dag te kan waarneem.

    Ek dink nou aan my laaste ervaring van die MacMac -valle en God’s Window naby Graskop, ‘n paar jaar gelede: Iemand het besluit om die uitsigpunte met vieslike draadhokke toe te maak. En daar was toe permanent ‘n spul smerige stalletjies wat swakgemaakte handewerk verkoop het, met mense wat sommer daar naby in die bosse bly en mors. Dit het natuurlik die atmosfeer van die omgewing heeltemaal bederf.

  6. Oktober 27, 2012 5:36 nm

    Ek is baie teleurgesteld om te hoor van die MacMac-valle en God’s Window. Ai….

  7. brieweuitdievreemde permalink
    Oktober 29, 2012 11:04 nm

    Boer, jou foto’s is regtig beautiful – en ek kan myself goed voorstel hoe baie moeite dit was om ‘mens’-lose foto’s te neem. Ek het twee keer Geum-san (buite Jeonju) gaan uitklim en was die eerste keer (‘n paar weke na my aankoms) regtig geskok oor hoe baie mense daar op die berg was. Ek het soort van verwag dit sal soos ZA wees, stil en betreklik ongerep maar die berg het gekrioel en gewemel….Onthou ook die stapstokke – ‘n bietjie OTT, het ek gedink 😉

    • Oktober 30, 2012 5:46 nm

      Dankie! Nee, ek moet se mens sukkel maar hier om van mense af weg te kom. Maar ek neem aan dit sou maar dieselfde gewees het in SA, as die land se hele bevolking gewoon het in ‘n gebied so groot soos die Wes-Kaap.

      • brieweuitdievreemde permalink
        Oktober 31, 2012 9:44 nm

        Dis waar.En die amper algehele gebrek aan aggressie in sulke groot groepe mense (oral waar ek gekom het) het my altyd baie beindruk. Van my studente het dit toegeskryf aan ‘jeong’ – weet nie of ek reg verstaan het nie.

      • November 1, 2012 9:58 nm

        Is nogal waar wat jy se. Die aggressie kom net na voor as daar Soju by betrokke raak. Maar dis nie gewoonlik die geval op berge en kraters nie. 🙂

  8. November 2, 2012 5:59 vm

    Die stapstokke is nou orals. Ek het verskeie mense onlangs met stapstokke ook in Provence, Frankryk raakgeloop. Nooit tik-tik-tik gehoor nie. Het seker maar rubber voetjies gehad.

  9. November 5, 2012 5:48 nm

    Dan lyk dit my dis meer ‘n internasionale fenomeen as uitsluitlik Koreaans of Oosters. Ekself sien nie soveel die nut daarin nie.

Trackbacks

  1. Ek sal altyd ‘n deeltjie van Jeju saamdra « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: