Skip to content

Die krater waar die son opkom en ander ontdekkings

Oktober 30, 2012

Seongsan Ilchulbong (letterlik: Sonsopkomspiek) is die tweede grootste vulkaniese krater op Jeju-eiland en geleë reg aan die oostekant van die eiland. Dit is een van Jeju se verteenwoordigende beelde en mens sien baie keer die volgende foto in toeristebrosjures en op webwerwe wat na Jeju verwys:

P9303274

As mens egter na Jeju reis, is hierdie nie die beeld wat jy sien nie. Want om hierdie afstand van die krater te verkry moet mens die lug in met ‘n vliegmasjien. Die sal jou nie net ‘n arm en ‘n been kos nie, maar sommer ‘n lewer, ‘n nier en ten minste een long op die koop toe. Dus moet jy maar, soos die res van die gepeupel, van onder af die krater uitstap en dan met die volgende beeld van die krater tevrede wees:

P9303245

Maar, moet mens nou bysê, dit gaan nie net daaroor om die krater (per slot van sake baie minder indrukwekkend as die krater bo op Hallasan) te sien nie, maar ook die pragtige uitsig wat mens het op Seongsanhawe en omliggende gebiede. Op die kort voetslaanroete (die krater is maar 182m hoog) kom mens ook die pragtigste vulkaniese rotsformasies tee en groen velde teen die hange waar perde rustig staan en wy. Van bo af is dit regtig prentjiemooi en dit maak die steil paadjie die moeite werd om uit te stap. Soos op Hallasan, het mens egter weer eens te doen met skares toeriste en bo-op die krater het mens skaars ‘n plekkie om vir ‘n oomblik te sit en die omgewing te waardeer.

P9303198P9303272

P9303229

P9303257P9303199

As mens egter wegstap van die krater, strandlangs in Seopjikopji se rigting, is mens weer op jou eie en kry mens ruim tyd om die krater op ‘n afstand te aanskou en foto’s te neem, met die mosbedekte swart basaltrotste wat die prentjie afrond. In die laatmiddagson is dit regtig ‘n besondere beeld wat voor jou oopvou. Miljoene jare hou Seongsan Ilchulbong al wag oor die ooste van die eiland en ek is seker oor duisende jare van nou sal die krater steeds trots staan teen die see en die elemente – ‘n ewige nalatenskap van die natuur se krag en majesteit.

P9303292

Maar dis nie net die oreums (kraters) van Jeju wat mens na mens se asem laat snak nie, maar ook die talle indrukwekkende rotsformasies, veral langs die eiland se suidkus, wes van die hawestad, Seogwipo. Hier tref mens talle uniekgevormde rotse aan. Eerste op die lys is die alleenstaande vingerrots, genaamd Oedolgae. Hierdie rots staan fier en trots in die see en is inderdaad ‘ n baie fotogenies. As mens met die paadjie verby die rots stap, net nog so entjie om die kus, kan in die verte ook die talle grotte gesien word waar die Japannese, tydens hulle kolonialisering van Korea, verdedigingsposte opgestel het.

PA023607PA023603

PA023595

Vyftien minute later langs die pragtige suidelike kuspad, tref mens die rotse van Jusangjeolli aan. Mens hoef net so ‘n entjie met die pad af na die see te stap om hierdie unieke gesig te sien. Hierdie is basaltkollomme wat gevorm is toe die rooiwarm lawa die koue oseaan ontmoet het. Daar is ‘n uiters korrekte wetenskaplike verduideliking wat gebeur het om hierdie kolomme te vorm, maar vir my is dit genoeg om slegs die perfeksie van die natuur te sien, sonder om my kop te breek oor hoe dit nou eintlik gebeur het. Feit van die saak, die swart kolomme lawarots staan soos ‘n klomp netjies omgekeerde potlode in die oseaan, simmetries perfek gevorm. Dit gaan inderdaad mens se verstand te bowe hoe die chaotiese mag van ‘n vulkaniese uitbarsting uiteindelik sulke perfekte rotsvorms kon teweegbring. Soos hulle in Engels se “the mind boggles”.

PA023619PA023620

PA023632

‘n Hele ent verder aan met die kuspad, neffens die berg, genaamd Sanbang, vind mens die kranse van Yeongmori aan. Hierdie rotsformasies kan te voet verken word, maar slegs tydens laagwater. Mens stap seelangs met kronkels en kinkels op die rotse en verwonder mens aan die canyonagtige formasies, gevorm nie net deur vulkaniese rotsvloei nie, maar ook die aanhoudende kragte van water en wind waaraan die rotse deur die eeue blootgestel was. Die vloeiende lae in die rotse en verskillende kleure en skeure van die rots is werklik besonders. Dit lyk ook of dit ryk viswaters is, te oordeel aan die aantal hengelaars wat stok in die hand, hoopvol op die rotse staan. Mens sien ‘n groot skool blinklywe net onder die oppervlak flink rondswem en weet sommer die see lewe hier.

PA023660PA023656

PA023676

PA023787PA023652

En skemerig in die verte, die wrak van ‘n Sjinese vissersboot wat tydens die onlangse tifoon op die rotse geloop het en die dood van verskeie vissermanne tot gevolg gehad het. En so word mens herinner dat die see sy lewe en rykdom gratis skenk aan die mens, maar dat hierdie skenkings ook soms teen ‘n dure prys kom. Want soms neem die see ook.

PA023646

In my laaste inskrywing oor Jeju-eiland, sal ek vertel van watervalle, wit strande, ‘n tuin van glas en ‘n herberg by die see.

Advertisements
11 Kommentaar leave one →
  1. Oktober 30, 2012 7:46 nm

    ” soos die res van die gepeupel” en daar borrel ‘n klipharde lag sommer so vir sommer oor my lippe !! ek het dit SO lanklaas gehoor 🙂

    Ek sal myself vir ure kan verloor in die stories wat daardie rotsformasies jou vertel!

    Soos altyd ‘n fees om saam met jou op reis te gaan BiB 🙂

  2. Oktober 31, 2012 1:13 vm

    Sjoe, daardie eerste foto is wonderlik mooi, ‘n mooi foto vir ‘n elektroniese speletjie [waar oeroue gevegte afspeel]. Ek kyk na die res van jou foto’s en in my gedagtes beleef ek daardie ‘gevegte’ – wonder nou of toentertyd sulke goed daar plaasgevind het.[dalk seerowers?] – verskoon my verbeelding, ek weet dis nie die beste nie – jou foto’s doen net iets aan my verbeelding, altyd so mooi/interessant 🙂

    • November 1, 2012 9:55 nm

      🙂 Natuurlik is daardie eerste foto ‘n foto van ‘n foto. Maar ek dink jy besef dit.

      • November 1, 2012 11:27 nm

        🙂 Ja, beslis geweet. Het aanvanklik gedink dis van ‘n ‘game’-site, ek was onlangs op so ‘n site. Was nogal interessant hoe werklik hulle daardie speletjies maak met ware gebeure/plekke ens. Die tema van die een waarop ek was, was ‘n WW2 een gewees. Hulle photoshop natuurlik daardie foto’s ook so dat dit so buitengewoon mooi lyk – juis soos die een.

  3. Flenters permalink
    Oktober 31, 2012 2:52 vm

    Mooi fotos.

    Ek hoop jy woon en werk daar met ‘n volgehoue waardering vir die pragtige omgewing en nie soos iemand wat altyd gedink het daar is nie ‘n beter vakansieplek as Margate totdat hy besluit het om daar af te tree nie.

    • November 1, 2012 9:56 nm

      Dankie! Ja, maak nie saak waar ek is nie, ek probeer altyd die mooi in die daaglikse sleur van die lewe raaksien. Die natuur is vir my ‘n wonderlike kuur.

  4. brieweuitdievreemde permalink
    Oktober 31, 2012 9:51 nm

    Boer, as ek reg kan onthou dan is daar ‘n fietsroete of so iets reg om die eiland – het jy dit meegemaak? (Fiets- of staproete?) En ek beaam wat Vlooi se: Lekker om so saam te reis 🙂

    • November 1, 2012 9:59 nm

      Jy’s reg. Jy praat van die Olle staproetes rgoor die eiland. Mens kan dae lank so stap. Sou dit graag wou doen, maar ek het beperkte tyd gehad en toemaar net ‘n krater of twee geklim.

  5. November 2, 2012 5:48 vm

    Daardie potloodrotse is nogal interessant. Dit is nou maar eenmaal so dat die natuur and baie mense nie so goed saamgaan nie.

  6. kyker permalink
    November 2, 2012 7:11 vm

    Ek lees alweer hoe jy jou mede toeriste jou verpes. Hehe.

    Dit moet baie interessant wees om die geologiese verskynsels in en rondom ‘n vulkaniese krater so an naderby te kan sien.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: