Skip to content

Ek sal altyd ‘n deeltjie van Jeju saamdra

November 5, 2012

Aan die suidelike kus van Jeju-eiland, in die omgewing van die stad, Seogwipo, is daar ‘n verskeidenheid pragtige watervalle. Nou is dit nie noodwendig die omvang van die watervalle wat ‘n besienswaardigheid is nie, maar eerder die spesiale natuurskoon van die omgewing waar die valle aangetref word.

PA023585

Cheonjiyeon waterval is geleë in ‘n pragtige park, waar mens met klippaadjies en oor klein bruggies stap tot daar waar die water na benede stort. Dis ‘n skone omgewing, omring met digte bosse en groot rotse, met die waterval wat die prentjie vervolmaak. As mens neffens die diep poel onder die waterval staan, voel mens sommer lus om in te spring, maar swem is ongelukkig hier verbode. Ek dink dis die perfekte plek om in die donkerte van die nag, as niemand kyk nie, te gaan skinny dip!

PA023572

Jeonjabong, nie ver van Cheonjiyeon af nie, is uniek in die sin dat dit enigste waterval in Asië is wat direk in die see stort. Dis ook die eerste keer in my lewe wat ek ‘n waterval sien wat vars water in soutwater stort. Waar Cheonjiyeon prenteboek mooi is, is Jeonjabong meer dramaties genestel tussen die omliggende kranse. Mens kan omtrent gemerseriseerd staan en kyk hoe die water in die see stort, terwyl die ligte windjie ‘n skaars voelbare ragfyn sproei oor jou waai.

PA023714PA023721

PA023699

PA023719PA023712

Neem mens die pragtige, kronkelende pad van suid na noord op die eiland, ry mens oa verby die glasmuseum, oftewel Glass Castle, om nou die amptelike naam te gebruik. Dis egter nie soseer ‘n glaskasteel, as wat dit ‘n uitgebreide glastuin is nie. Hierdie tuin lyk soos ‘n plek waar Alice in Wonderland tuis sou gewees het. Byna alles hier is van glas gemaak. Behalwe die pragtige glaskunswerke en ornamente, is die tuin vol helderkleurige glasblomme, glasbome en nog vele ander konstruksies van glas.

PA023701PA023720

PA023707

PA023705PA023711

Dit is eintlik ongelooflik om die verskeidenheid van voorwerpe te aanskou wat van glas gemaak is. Ek weet nie hoeveel ure en ure se glasblaas in die konstruksie van die tuin ingegaan het nie, maar die resultaat is manjifiek. Natuurlik is vele van die ornamente te koop, maar ongelukkig (en heel verstaanbaar) is die pryse ook manjifiek.

PA023736

As mens verder die pad noord volg, verby Hallasan, kom mens uiteindelik uit by die pragtige strande van Geumneung en Hapyeo, wat reg langs mekaar lê. Die sand is fyn en spierwit en die groenblou water is net so skoon en helder soos Jeju se lug. In die verte rus ‘n rotseiland en aan die rand van die strand staan skeefgewaaide palms wag. Mens wil net daar en dan op die strand gaan sit en in die helder water gaan baai. Voorwaar ‘n idilliese strand, maar ek ril eintlik as ek dink aan hoe volgepak die strande in die middel van die somer nie moet wees nie!

PA013385PA013391

PA023801P9303384

Van hier af is dit nie ver terug na my herberg langs die see nie. Hier, uit die stad, begrens deur klipmure en veld, kon ek elke aand aan die slaap gesus word deur die klank van branders teen die rotse. Hier kon ek elke namiddag sien hoe die sakkende son die wêreld karmosyn maak; die vissersdorpie se ligte in die nag; in die oggend die bleek maan en die daeraad wat wolke verf met skakerings van rooi. Ek was inderdaad besonder geseënd om hierdie eiland van kraters en klip in volheid te ervaar. Iewers binne my, sal ek altyd ‘n deeltjie van Jeju saam met my dra.

8 Kommentaar leave one →
  1. brieweuitdievreemde permalink
    November 5, 2012 7:54 nm

    Boer, ek is eintlik veronderstel om te lyk asof ek werk, maar jou inskrywings is net te interessant om op uit te mis🙂
    Die glastuin klink absoluut amazing, ek sou graag nog meer wou sien! Hoe groot is dit omtrent in vk meter? Word die glas op die eiland vervaardig of elders in Korea?
    En die eerste waterval lyk soos iets uit ‘n sprokie. (Wat die skinny dip aanbetref – hoe is die water?🙂 )

    • November 6, 2012 7:12 vm

      Ek wil hierdie foto’s eet, dis mooi en dit lyk ‘lekker’ – pragtige waterval-foto’s.

      • November 7, 2012 7:58 nm

        Nikita, ek het nog nooit van so ‘n dieet gehoor nie!😉

      • November 8, 2012 4:35 vm

        Wel, daar’s altyd ‘n eerste keer vir als in die lewe [lol]🙂

    • November 7, 2012 7:57 nm

      Wel…op die oomblik is dit effe koud vir die skinny dip!😆 Maar in die somer behoort dit hemels te wees. Ek is nie seker nie, maar ek vermoed die glaswerke is van oraloor en nie net van Korea nie.

  2. kyker permalink
    November 6, 2012 6:53 nm

    Dit lyk na ‘n besonderse mooi vakansiebestemming. Mens kry die indruk dat alles goed bestuur en in stand gehou word.

    • November 7, 2012 7:59 nm

      Jeju was vir my baie spesiaal. En jou indruk is korrek. Ek kry altyd die idee dat daar genoeg geld en wil is om die openbare spasies behoorlik in stand te hou en te verbeter. Ek dink die Koreane se belastinggeld werk goed vir hulle.

  3. November 8, 2012 10:40 vm

    Klink werklik na ‘n lekker plek vir ‘n vakansie. Daardie waterval by die see moet nogal iets besonder wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: